Franschhoek September 1952

Dis Vrydag, 19 September 1952, en lieflike, maar ietwat warm Lenteweer trek ‘n klomp mense met kakieklere en rooi nekdoeke en nóg heel voete oor Helshoogte. Die kampvuur brand die aand op Pniel en Helgard slaan ‘n blikkie kedens los as wenner van die name ken-wedstryd. Die nag briek Martie weer woes en net ‘n boom red haar van ‘n gewisse bad in die kabbelende waterstroompie. Die volgende oggend egter is almal weer op die been en in die pad. Dié keer onder ‘n hittige son.

Lanklaas was daar so ‘n lang uitdraaipad soos dié na Champagne. Eers daar agter is alles weer blink. Die geledere word aaangevul deur ‘n groot aantal gaste wat die naweek by ons kom deurbring. By die kampvuur maak Rensie haar debuut in die lekker-lag-kuns.

Die vroeë oggendure van Sondag, 2 September verloop rustig behalwe vir Sonia. Die wrede mensheid gun haar nie die ekstra ure van rus nie. Na die oggenddiens, deur Helgard gelei, rus almal. Kragte word opgebou vir die middagete. Nadat almal in meerdere of mindere mate herstel het van die Groot-Eet en die gaste enigsins die skok en die uitputting wat met blikkewas gepaard gaan te bowe gekom het, gaan almal op uitnodiging van mnr Hugo op ‘n uitstappie bo tussen die plantasies. Die res van die middag en die aand verloop rustig.

Maandagoggend begin helaas met afskeid en weke gevoelens en eindig met ‘n beenaf-kosmoeder. Antjie vind dit ook nodig by Bierrivier om te adverteer vir ‘n paar sterke arms. Die aand hier by genoemde plek lewer dan ook dieptes en hoogtes op. In die einste plek open O.G. Malan en kie (Mercia ons) hier hulle sielkundige kliniek wat tipe sielsprobleme op diepgaande wyse ondersoek en nog dieper raad daarvoor voorskryf. Dié nag waai daar ‘n hoë wind en Neethling swaai die tenthamer hoog. Gelukkig oorleef almal die wind en ook die manne se tentpen inkappery.

Vanweë die reën ry ons Dinsdag deur Villiersdorp en val ‘n ent anderkant die dorp in die pad. By Stettyn aangekom, vind ons dat ons die nag met spoke uit die jaar 1777 gaan deel. Desnieteenstaande en tewens my die dames ‘n “parlour” op. By middagete doen Elsa ‘n belangrike aankondiging. Die kans van die toer word die mans aangebied. Hulle kan die voorreg geniet by Fresia (dié dame van die toer op te sit teen die geringe bedrag van drie sleepille). Die spanning styg dus asook die waarde van sleepille. Tienie bied slegs twaalf sleepille aan vir die uitvee van die waenhuis en aansoeke stroom in.

Na die aandete is die vuur daar. Fresia word oorlaai met attensies. Ockert, die opportunis gryp die gulde geleentheid (en die ander se geleenthede ook) met beide hande.

Pieter neem egter die sakie te letterlik op en arme Fresia se lap-bene moes dit ontgeld toe hy op haar sit! Hannes Meiring is egter die gelukkige man wat die prys vir al haar skoonheid verower, nadat Toffie egter tot ontsteltenis van die skeppers een of meer arms verwyder het.

Die aand besoek ‘n groot aantal gaste die kampvuur en is getuies van ‘n bleekstollende toneel “Die spook van Stettyn” laat ‘n bloedstreep agter hom en tussenin alles “swot” Toffie tussen die koskiste. Tienie se voëltjie gaan fluit-fluit short. Die Kliniek sit sy werk voort met die uiters moeilike geval van Hannes Venter. Ten spyte van die maanlig slaap die spoke toe rustig, maar Helena se konflikte kom woes tot uiting en die nette skop paartie dat dit ‘n naarheid is.

Die volgende oggend gaan die pad seer opdraend en by middagbrood word daar uitgekap met brood eet. By Louwshoek word Toffie en Johan in ‘n toestand van ekstatiese lagbuie aangetref oor die snaakse name wat die mense en een man in besonder in daardie geweste sou hê. Woensdagaand bring nog besoekers en helaas ook afskeid van mede-toeriste! Dit reën nog sag en Magic Mary speel ‘n belangrike rol by stook en vuurmaak.

En dis mos toe Donderdagoggend wat die tentekonvenor meen dat hy iets snaaks bespeur by een van die tente. Toe die skemerte toesak vind in die stilte ‘n sielsverheffend plegtigheid plaas. Juffrou Robra het die eer om die deur van die monument oop te sluit en Mietsie wys in! Pandora, jy leef in ons herinneringe.

Die middag open Ockert, Flip le Roux, Antjie en Susie ‘n eersteklas skoonheidsalon. Hulle spesialiseer in hare was, skeer en die versorging van die hande. Die fooie is die geringe som van agt sleepille; die thrill word kosteloos geskenk.

George is die held van die dag en tree met ‘n Kiss Kurl uit die stryd. Hard luck! Hy slaap toe die Kiss Aal uit voor dit sy verjaarsdag is.

Die dameskliënte stel hulle meer geredelik in die hande van die spesialiteite met redelik goeie resultate.

Die aand breek met siddering en bewing vir die sotte aan. Almal oorlewe egter die Dopery tot hulle eie verbasing.

En toe is dit weer Vrydag. Die slag trek ons deur Rawsonville en sommer reguit deur die Kafee na Du Toitskloof waar ons dit uitkap by ‘n rondawel. Die middag en oggendbrood wen toe die kedens vir die komitee items. Almal is teen die tyd reeds sag-weelderig en baie vuil en die uur van afskeid kom nader. Rudi se baard lyk steeds baie belowend.

Die mans serenade, die kampvuur gaan dood en die son kom op vir die laaste dag. Die laaste middagbrood word gekenmerk deur ‘n algemene skaarste aan hout. Mnr Hoekstein se bus word net een groot stem soos ons sing. Neethling sluimer sag in op die wysie van “Slaap my Kindjie”.

En toe is ons al op Stellenbosch. Eers word daar gewas en geskeer en geselfs en daarna koeldrank gedrink. Elkeen vat sy ou bondeltjie. Die toer is oor.

Hester Heese

Leave a Reply