Montagu April 1953

Ja almal van ons sal saamstem dat nog ‘n baie hoge toer agter die rug is. Alles het sommer voor die wind gegaan en ons kon dit baie geniet.

Vieruur Vrydagmiddag was almal in die bus behalwe Miss Ross wat besluit het om maar liewer halfvyf eers te kom. Gou-gou was ons buite Stellenbosch en het die sewe-en-tagtig BT-Kaners weer hulle liedjies laat weergalm. Die reën het almal maar ‘n bietjie benoud na bo laat kyk, maar ook dit is gou-gou afgeskud en vir die res van die toer kon ons nie lekerder weer gehad het nie. Eindelik het ons die aand op die kampplek net voor Robertson aangekom waar ons die eerste nag geslaap het en almal van ons was dit eens dat dit hoogtyd was, want die bekende BTK-siekte Lamboudia was toe al reeds ‘n algemene verskynsel. ‘n Heerlike verrassing was die tente wat klaar opgeslaan was en die wonderlike boontjiesop kon ons seker nie gekry het nie.

Die volgende oggend stap ons vandaar deur Robertson en Ashton tot by Kogmanskloof waar Jakkals en Kameel ook sommer die aand al genoeg werk gehad het, want baie was teen die tyd al taamlik voetseer. Hier is die Sielkundige buro wat op ‘n vorige toer ontstaan het weer in die lewe geroep en Ockert as psigoloog (eintlik meer ‘n Kwaksalwer as iets anders) kon waardevolle raad gee. Veral Hessie het goeie raad vir haar liefdesprobleme ontvang en ook oom Theo wat blykbaar maar sukkel om verstand in sommige van sy studente in te prop. ‘n Splinternuwe idee het by Hessie ontstaan (Ockert sê hy kom) om ‘n skiet buro in die lewe te roep. Persone wat nie geskiet is nie kan hulle gaan aanmeld en hul sou dan konfidensieël van sleemaats gehelp word. Ockert en Jakkals het die mans s’n behartig en Kameel die dames s’n.

Sondag is beslis ‘n dag wat deur al die dames in besonder onthou sal word. Nog voordat die son uit was, het elke dame die geluk gehad om ‘n beker heerlike koffie te kry. Tjaain Smit en Jean Piaget wat dit op so ‘n meesterlike wyse berei het, en vir die wonderlike verrassing verantwoordelik was, was beslis die helde van die dag. Snaaks tog dat Toffie en sy manskappe so jaloers was. Die dag van verstaan is deur almal baie geniet.

Maandag stap ons deur Montagu tot by De Kruis. Die middagbrood langs die pad was seker van die lekkerste wat daar nog was. ‘n Oud-Matie het ons verras met ‘n kis tamaties en ‘n paar bottels bier (yskoud) wat deur al die mans (en veral die tokkelokke?) baie verwelkom is. Teen hierdie tyd het ons ook al kennis gemaak met die karakters in die serial en vir die res van die toer was hierdie item een van die hoogtepunte. Die sakie het ‘n bietjie ingewikkeld geword en die beste vir die jong immigrant naamlik Ockert was maar om die lepel in die dak te steek. Lise en Annemarie was so hartseer dat hulle werklik gehuil het!

Dinsdag was ‘n dag met ‘n stywe stap en almal was bly om by mnr De Villiers se plaas waar ons gekamp het, uit te kom. Sommiges het langs die pad so ‘n bietjie afgewyk en deur drade geklim en teruggekom met sakke wat gevuld was. Gesteelde vrugte smaak darem tog die lekkerste.

Die gasvryheid en vriendelikheid van die De Villiers’ was baie opvallend en ons is oorlaai met appels en ook melk. Die komitee items het weer groot hoogtepunte opgelewer veral die baster feë-verhaal van die kokke en stokers wat dan ook die blik kedens losgeslaan het. Die hekse was so uitstekend dat mev De Villiers eers haar kinders moes gerusstel dat hulle nie werklik is nie.

Woensdagaand was die eerste toeriste aan die beurt en is hulle weer op die gebruiklike wyse ingelyf. Damesskiet was weer ‘n groot sukses.

Donderdag stap ons deur Barrydale tot op die Tradouwpas. Na middagbrood het ons ook die Boesmantekeninge gaan besoek waar ‘n baie bekwame trillerige gids by name H.W. van der Merwe ons ingelig het. Almal van ons was dit egter eens dat die Boesmans gerus nader aan die pad die tekeninge kon gedoen het.

In die pas waar ons die nag geslaap het, was daar beslis meer plek vir swem in die heerlike swemgate as vir slaap. Sommiges moes die nag soos vlermuise teen die rotse deurbring. Daar was die aand ook nie plek vir slee nie en tot die blydskap van sommige dames, want hulle het gepanic dat hulle nie skiete gaan kry nie.

Toffie en Ockert het beslis nie aangenaam ontwaak nie, want Hessie, Magriet, Helena en Esther het besluit dat hulle darem die twee wat so laat in die Kostent slaap moet gaan uitsleep. Vir die res van die dag was dit net, julle weet nie wat op julle wag nie, maar Toffie en Ockert kon nie veel uitrig nie as behalwe die paar dorings wat die aand in die uitslepers se beddens was.

Die mooiste stuk van die toer is Vrydag afgelê. Die pad verder deur die pas en die klein dorpie, Zuurbraak, was beslis die moeite werd om te voet af te lê.

Ons het lanklaas sulke mooi natuurskoon gesien en die seer voete en stywe spiere is vergeet. Die aand het ons op Buffeljachts op mnr Langenhoven se plaas oorgestaan en die laaste aand was al weer daar.

Die melk wat ons gekry het, het die pap sommer eersteklas laat smaak.

Die laaste aand het daar ‘n slinternuwe idee by Ockert ontstaan naamlik BTK-liedjies per poskaart. Vir Jeanette Truter is “Hans kom vandag na my” aangevra, vir Tjaain “In de land van de Chinesen” en nog baie ander treffende voorbeelde vir ‘n hele paar van “you know who”. Mnr Langenhoven se perd was ook hier baie populêr en het baie aftrek gekry.

Die volgende oggend vroeg-vroeg is ons daar weg en is die laaste skof per bus afgelê. Toffie en Ockert het heelwat vermaak op die bus met hul items verskaf. Toe ons Stellenbosch die middag bereik het was almal moeg en honger, maar ons was seker dat ons ‘n heerlike toer meegemaak het. Orals was ons getref deur die mense se vriendelikheid en gasvryheid. Ja, nog ‘n baie lekker toer het aan die einde gekom, maar aan alle goeie dinge moet daar mos ‘n einde wees.

Ilse Andrag
(Sketsskryfster)

Leave a Reply