Franschhoek-Rawsonville-Bainskloof September 1955

“Walaaiers, Hout-en-Water!” Hierdie bekende uitroepe het soos soet musiek in die ore geklink en die besef tot ons laat deurdring dat ons nou werklik weereens op toer is.

Skugter het die maan oor die Pieke geloer om te sien wat daar by die Bosboustasie aangaan met Piramus en Thisbe en al die ander goed wat nog ge-item is nie!

Saterdagoggend is ons swoegend voort en moes eers so ‘n bietjie asem skep bo by Assegaaibosnek. Daarna het die lang voor gewenste afdraende uiteindelik gekom, maar eina tog die dorings, veral as ‘n mens soos Mietsie afgaan.

Middagbrood is in die kloof gehou en die res van die middag het dit spring-spring die kloof afgegaan, en is die gekabbel van die stroom kort-kort onderbreek deur ‘n gil, want dis water en klip en ‘n ysige glip, dis al.

Die aand is ‘n begin gemaak met die eerste episode van die “serial” en het Ryk Kolwer (alias Koos), sy listige planne aan die werk gesit.

Sondagoggend het “oom” Tjaain sy rondte met koffie gemaak en is die diens later die oggend deur Danie waargeneem. Die middag kon diegene wat hul middagslapie wou opgeoffer het, ‘n besoekie bring aan die swaaibruggie +2 myl van die kampplek af. Al Sondag reeds het Marie seker gemaak dat niemand haar Woensdagaand in die wiele sou ry nie. Arme Hennie, dat sy jou skoonheid met so ‘n “Brutus” het kan bederf.

Maandagoggend het ons blou (van die koue) begin in neerdalende reënvlae. Ten spyte van die reën en sterk wind, was dit ‘n lieflike dag deur klowe en ‘n Blommeparadys. Selfs die bobbejane het die groepie mense kopskuddend agterna gestaar, veral die snaakse ou wat voorgeloop het.

Die volgende oggend het ons moed ‘n bietjie gesak toe dit nog kort-kort gereën het, maar solank as daar ‘n vuurtjie, stemme en donkies is, kan ons mos onsself ammuseer. Dit was darem ‘n doenigheid toe die sonnetjie skielik deurgebreek het en moes mnr Hoon se vragmotor swig onder ‘n sestig stuks se gewig tot ‘n ent duskant Villiersdorp vanwaar daar verder geslenter stap is met pakke lekkers, roomys en alles wat eetbaar is onder die arms. Die verdere stap na Kaaimansgat het ons weereens hande laat saam slaan, om te dink dat die wêreld darem so lieflik kan wees. Net jammer dat dit nie weer appeltyd was nie!

Fluisterende groepies het daarop gedui dat dit die aand weer komitee items sou wees. Surita se groepie groenteskillers met

Day as die Wortelbruidjie het die blik kondens gebuit en het Tjaain vir Surita gewaarsku om die kondens uit haar slee te hou, aangesien dit dalk mag “caramel”.

Woensdagoggend is koppe traag onder die komberse gelig en het selfs die wortelbruidjie gekla dat dit so ‘n bitterlike koue nag was. Woensdagaand het weereens belowe om interessanthede op te lewer – soos Leentjie sou sê nadat sy die hele ry afgegaan het, “ben hy geschoten”. Die eerste toeriste het ‘n puik program aangebied en menige kop het verskrik orent geruk by die aanhoor van die Magtige Koningin.

Donderdagoggend het ons met die geur van varsgeplante uie voortgesukkel en orals het die plaasmense hul werk vir ‘n oomblik gestaak en die bonte spul aangegaap. Die dag het Tjaain ons weer gelei oor nekke, klowe en helder waterstrome. Net jammer Sep het so ‘n konsternasie by die helder waterstrome veroorsaak toe hy by middagbrood so na-aan die dameskamp gaan rondklim het.

Menigeen van ons sal seker Stettynskloofdam onthou. Vir die waterdraers was dit ‘n ware Paradys. Elsien was blykbaar baie lus vir sleepille, want om darem vir tien sleepille met klere en al te swem! Dis nog nie die ergste nie, maar hoe die kaalvoet Conradies en ook ander, glad sonder enige betaling die ysige water met klere en al kom trotseer, bly ‘n raaisel. Hierdie massa water het selfs vir Mietsie inspireer om ook haar voete te was. Asof die mense toe van nog nie genoeg van water gehad het nie, gaan keer Lotz nog ‘n blik water op homself om en dit nogal die water wat vir Koos bedoel was.

Vrydag by Goudini moes ‘n hele paar mense tot hul spyt uitvind dat hul “tan” in die warm bad agtergebly het. Die aand se lampvuur gehou en na so ‘n paar “items” was die bed net die lekkerste plek.

Die volgende oggend se stap na Bainskloof was voorwaar ‘n ondervinding en kon selfs lastige reëndruppels en vol riviere ons nie keer nie. Ou Eric wat die vorige aand by ons aangesluit het, se mond het natuurlik nie vir ‘n sekonde stilgestaan nie. Hier het ook ‘n nuwe toeris hom tot ons midde gevoeg naamlik ‘n viervoetige hond. Hy het seker nog nie besef hoe baie hy sou moes “item” nie. Kyk nou maar net byvoorbeeld hoe het hy die Witlies “item” gered toe Brian met die blikkie kondens weggeraak het.

Na die lastige reënbui het die sonnetjie sommer ekstra mooi die volgende oggend geskyn. Tjaain was sommer weer in sy element, want dis mos broodpoedingdag en Tjaain was verantwoordelik vir die sous. Ons wonder nog of dit nie daardie sous is wat ons almal so vaak gemaak het nie. Arme Maat het mos die middag onder die verkeerde indruk verkeer dat die C.S.V. kamp agter een van die hutte is. Snaaks dat Jean hom nie reg gehelp het nie! Die
aand het Herman en Sep ook dan so ‘n smakie gehad van die Magtige Koning en arme Rudi wat net vir die aand daar was, moes dit ook ontgeld. Die middernagtelike “serenade” het ‘n mens sommer weemoedig laat voel. Dis tog jammer dat al sulke mooi dinge soos BTK-toere tot ‘n einde moet kom.

Maandagoggend was daar egter nie meer ‘n greintjie weemoed nie en het ons mekaar sommer na links en regs “ge-magtige Koning”. Theuns sal ook seker die oggend nie lig vergeet nie.

Na die laaste middagbrood wat bo by die Hotel gehou is, het die klowe weerklank gegee soos daar verder gesing, gelag en ge”item” is in die busse.

In Stellenbosch is die Uitspan se roomys voorraad met ‘n stuk of vyf-en-twintig dele verminder en na elk ‘n sug van voldoening geslaak het was daar nog een salige gedagte. Oor nog so ‘n paar weke toer ons weer saam.

Leonie Pienaar

DIE BTK IS VROLIK

GESKRYF EN AANGEBIED DEUR GILBERT & SULLIVAIN

(ALIAS KOOS EN C.P.) September 1955

O, die BTK is vrolik
en die BTK is bly,
Ja op toer voel niemand olik,
want ons stap deur velde vry.
Holla-ie, holla-o, holla-ie-a, ie-a, ie-a,
holla-ie, ha-ha-ha.

Die kos laat ons monde water
Ja, ons aptyt is so groot
Tot die voorsitter steel later
van die onklaar middagbrood.
Holla-ie …. (ensovoorts)

Sawens as die skemer duister
moet elk man ‘n meisie skiet,
Want al singend wil ons luister
na elk item en elk lied.
Holla-ie …. (ensovoorts)

En as jy nie soggens opstaan,
word die water jou woning,
of lê jy by die meisie aan.
Dan word jy gou gekoning.
Holla-ie …. (ensovoorts)

Reën kan ons gees nie blus nie
ook al lek dit hier en daar
Ja, op toer kry ons geen rus nie,
selfs al lyk ons tone naar.
Holla-ie …. (ensovoorts)

You must be logged in to post a comment