Kleinmond Gala 1955

Ons het weer voor Hamelhof versamel. Ou BT-Kaners het mekaar luidrugtig gegroet – agt-en-twintig eerste toeriste het die spul verwonderd staan en beskou. Ons en die bagasie is op die vragmotor en in die twee busse ingebondel en ten spyte van sterk teenkanting van die wind se kant, het ons by ons bestemming aangekom. Dit was ‘n entjie anderkant Grabouw, vanwaar ons ook begin stap het. Die aand het ons by Monteith gekamp, maar ons het nie almal so maklik die plek gekry nie. Party het so ‘n bietjie verdwaal, twee toekomstige padwysers het sommer baie verdwaal, maar teen kampvuurtyd het ons darem almal ‘n rusplek in die holte van ons rug gehad.

Die eerste kampvuur, was maar stillerig behalwe toe die lui ou bangbroek boer, alias Koos, dit byna nie reggekry het om vanuit die jong denneboompie op die verhoog per ongeluk op die leeu se rug te val nie!

Saterdag was nou sommer ‘n heerlike dag, maar min het ons geweet dat dit ons laaste kans sou wees om goed te badaand. Ons het egter die kans goed waargeneem, of die kans het ons goed waargeneem, sodat Jaques en Luella glad later met verseëlde lippe moes rondloop. ‘n Mens weet ook nie watter ander bronne van hitte behalwe die son werksaam was nie.

Dit was mooi al dan die berge en langs die Palmietrivier. Die bruin Coca-Cola-water was die rede daarvan dat die slotte baie laat by middagbrood aangekom het, maar hulle klere was al droog teen daardie tyd.

Teen Saterdagaand het twee eerste toeriste alreeds agt-en-tagtig mense se name geken. Monica Uys en Lenie McMaster moes die blikkies kondens kry, maar die ou toeris Koos het die name so goed geken dat hy een blikkie vir Sibella Morkel gegee het en hy het ook nie sy fout herstel voordat sy lippe so goed met Marie Conradie se lipstiffie kennis gemaak het dat hy die volgende dag nog ‘n gesonde kleur gehad het.

Sondag is ons na Kleinmond se kerksaal. Die susters van die gemeente was nou wel nie almal tevrede net ons voorkoms nie, maar ons het darem stil en stigtelik sit en luister (veral na die orreliste).

Die vergrote Marioniet familie het Sondagaand hul verskyning gemaak. Kirstin se Klaas, die vader van almal was natuurlik daar, bygestaan deur Sakia en Katryn, wat nou weer van haar kramp herstel het, maar darem nog nie geheel en al fiks was nie, die lang, skraal stywe been. Henk onder C.P. se vuriges, ‘n bobbejaanmannetjie, Adoons onder “lyding” van Theuns, ‘n hond wat sy stert (en agterpoot) kon waai as Kirstin hom aanspoor en Doemsie, Leonie se nuutste skoothondjie. Dit was ‘n jolige verskeidenheid.

Sondagaand moes ons alreeds ons bedde naby die lente tiek en Maandagoggend het die vaalgrys lig party laat besluit om die berugte sandstap vanaf Kleinmond na Onrust met reënjasse in plaas van baaiklere gewapen, aan te pak. Die Mond was vol en baie het tot onder hul arms nat geword, maar met behulp van ‘n sandbank en ander duistere metodes het party heeltemaal droogkinds daarvan afgekom.

Onrustrivier het lankal vanweë hoorsee of vanweë herinneringe aan die bitter ondervindings van die vorige jaar, ons almal se harte met angs vervul, maar ons was van plan om die sandvlooie dapper te trotseer. Of hulle ontsag vir ons getalle gehad het, en of dit ons vervloekinge was wat soveel krag gehad het, maar Onrustrivier het die krag van sy naam verloor!

‘n Gedurige mistigheid met motreën by wyse van afwisseling het die reënjasse handig laat inkom op pad van Onrust na die Mond by Voëlklip. Op Hermanus het ons natuurlik eers die kafees ingeneem en party was slim genoeg om hul skoene op die vragmotor te los. Op pad was die dubbeltjies slim genoeg om in die teer voetsole te steek.

Middagbrood is in ‘n stortbui reën gesmeer, maar ons kon darem nog die aand buite kampvuur hou.

Woensdag is goed begin met koffie in die bed – die meisies het hierdie keer die goeie voorbeeld gestel. Die voorsitter en die tesourier het eerste aan die beurt gekom en kon wakker word met ‘n warm blik koffie dreigend bokant hul koppe.

Daar was allerhande ideale vir swem, maar die meeste van hul het doodgevries. Die middag was daar ‘n uitstappie in die klofie op; die water het nie alleen by die mooi waterval afgestort nie, maar ook ons reënjasse se waterdigtheid beproef.

Daardie aand het dit eers harder gereën en die inlywing moes uitgestel word. Die manne het darem nie kans gesien daarvoor dat damesskiet verval nie, en daar is formeel geskiet vir slees of te wel saampers plekke in die twee tente wat vir die doel bymekaar opgeslaan is. Buite het dit gedonder en geblits en binne het ons of byna versmoor of natgedrup onder die lek onder die lasplekke van die tent, maar ons het heerlik gesing en ge-“item” en geëet.

Van Donderdag moes ons nog ‘n oorstaandag maak. ‘n Paar yweriges het darem óf die klofie óf die berg uitgeklim. Die wind was wreed maar die uitsig onverbeterlik.

Donderdagaand kon ons dit eindelik uithaal op die eerste toeriste. Hulle het so goed op ons waarskuwings gereageer, dat Tjaain die kringetjie benouder om die vuur eers in die rondte laat loop het, sodat almal eers die skouspel kon waardeer. Daar was reënjasse en baaiklere en dit nogal op so ‘n koue aand. Elaine se deurskynende flou plastiese jas het handig ingekom bo-oor Stelle as blou baaikostuum en kon darem die hoendervel in ‘n mate bedek!

Vrydag moes ons in die reën verder. Die sand vanaf die Mond tot by die Kelders was baie lekker hard en al het party nie meer ‘n droë draadjie aangehad nie en het omtrent almal se reënjasse deurgereën, was dit nogal nie ‘n onaardige stap nie.

Ons het eers die hotelbaas by die Kelders se koffie gaan opdrink en daarna ons eie gemaak. Selfs die ekstra brood wat Leonie ingepak het, was nie genoeg om die knaende honger te stil nie.

Een groep is vanaf die Kelders en die ander vanaf Gansbaai per vragmotor tot by die mooi kampplek van Uilkraalsmond.

Saterdag het dit maar weer gereën, maar so tienuur het ons darem in die pad geval Danger Point toe om die vuurtoring te gaan besigtig. Middagbrood is eers gehou en daarna het ons nie wenteltrappe in ‘n warrelende wind bestyg – die meisies al klouende aan hul rokpunte. Die leuse het die wat binnekant hul geslaan het, pragtig begroet, maar niks langer en skraler gemaak nie – tot party mense se grootste teleurstelling.

Saterdagaand het Gladys haar laaste vertoning gegee. Leonie moes die ruiker oorhandig maar wou dit nie heeltemaal plegtig genoeg doen nie, sodat Gladys maar die leiding op haar moes neem – tot Theuns se groot ontsteltenis.

Die “serial” het op ‘n fiasco geëindig. Die “Stupid Prince” moes volgens voorskrif op een van die “elite” susters ‘n kok, verlief raak, omdat hy die volgende jaar kaptein van die BTK sou wees. Hy kry nie juis iets reg by Leonie nie en om hom so ‘n bietjie lewenswysheid te leer, moes hy saam met die jolige blikwasser gaan werk. Daar raak hy toe deur middel van stemming besluit of sy nie as sketsskryfster op die bestuur kon kom nie. Die stemming eindig toe gelykop en die “serial” kon nie voortgegaan word nie.

Sondagoggend was daar weer die gewone aantal dom mansmense wat hulle gelate deur bloeddorstige meisies laat skeer het. Daarna het ons kerk gehou, met Willie Cillie as predikant. Daardie middag se broodpoeding was die beste in die broodpoeding geskiedenis en die aand het ons nog boonop macaroni en vleis gehad.

Sondagaand was die aand van alle aande toe ons hartroerend afskeid geneem het van die ou toeriste wat vir oulaas saamgetoer het. Maandag kon die verleë Kirsten nog die Orde van die Knoop ontvang en so is ons huistoe – darem baie bly dat ons hierdie groot bang en nat Gala-toer kon meemaak!

Heloïse Conradie

You must be logged in to post a comment