Knysna April 1960

14 – 23 April 1960

Die half-drie en half-vier busse vertrek Donderdag saam-saam kort voor half-vyf vol BT-Kaners, koshuistoebroodjies en ook slaapgeriewe vir die reis soos komberse, lugmatrasse en ander BT-Kaners. Voor ligdag die volgende oggend kom ons by ons kampplek kort duskant Wildernis aan. Ons kon ons darem van buite met die vuurtjie en van binne met koffie probeer opwarm.

Later Vrydagoggend, so teen nege-uur, het twee koffie-kaaimanne Ewie en Tielie ons kom wek. Toe ons oë eers oop is, sien ons die merkwaardige krom burg, die rustige rivier, die welige bosse teen die hange hoër op en die treinbrug en see net ‘n entjie verder af, het die kameras sommer aan die kliek gesit.

Manie se vriende het besef hoe belangrik die voorstellingsparade die oggend vir hom was en het hom net betyds daar besorg, al was dit nog in sy slaapsak en al moes hulle hom nog gou daar was.

Hierna het Jan Akker vir ons ‘n besondere boodskap vir Goeie Vrydag gegee.

Na Tielman en Martinette se sop vir middagete het ‘n buierige spul eers ‘n besondere flink (vir die lagspiere) parade onder sa-majaar Odendaal bygewoon. Daarna die Gala-agtige ent langs sand en branders tot in Wildernis gestap, waar kafees goed ondersteun is. Die aand – dood eet nommer een en die instelling van Manie, Chris en Jan driemans en skiete pan.

Na ete verbaas Hendrik Verwoerd ons almal deur die bekwame wyse waarop hy in die vuilgoedgat val en stel so die voorbeeld vir talle voornemende gatvallers. Die aand met die kampvuur word ook die eerste episode van die grootste, spannende nuwe serial, “Die Brooddief” aangebied.

Saterdagoggend moes ons vroeg uit om so sewe myl te stap en die busse op Knysna toe te haal. Party mense het blykbaar planne gehad om die busrit te benut: terwyl Piet Klassiek en Johan Smuts al veryniger teenoor mekaar raak in hul klassieke soektog na ‘n huishoudster, wys Mansil stilweg die een na die ander aansoek om die leë plek langs haar af. Helmüth mag nie eens gaan sit nie – hy is dan gekys! Reenen kry darem ‘n proeftydperk maar moes plek maak vir die voorsitter. As mens hoog mik, moet jy mos slim taktiek hê.

Die kampplek langs die lagune naby Buffelsbaai het baie rustig voorgekom. Tog sou ons baie gou agterkom dat hier dinge kan gebeur. Hier was allerlei dingetjies vir Dieter om te bestudeer, en om vir ons te byt: skilpadjies en veral ‘n vrolike varksog wat kom kyk het of ons na die Sondagmiddag maal nog kon beweeg. Maar wag, dis nou Saterdag en die voorsitter lê rustig en ontspan na middagbrood.

Maar toe skielik het die wa-laaiers met ‘n fanatieke Oom Hoon aan hul voorpunt Stormenderland Koning Willem gevange geneem en ‘n staatsgreep toegepas. Die skurk Lucas van der Heever kondig onder doodse stilte aan dat die walaaier-party beheer van die kamp oorgeneem het. Net voordat Oom Hoon as president uitgeroep kon word, het die voorsitter egter weer sy eie mag herstel en deur sterk optrede die orde verseker. Hy is bygestaan deur ‘n aktiewe mag van dames, gewapen met bekers water. Die opstandelinge is strawwe van harde arbeid opgelê.

Sondagoggend se diens is amper deur ‘n senuweewrak gehou. Gelukkig het Jurie darem betyds gehoor dat sy kweekskoolproffies nie meer diens toe kom nie. Die middag word weer Buffelsbaai toe gestap vir swem en Kafee. Toe ons terugkom, merk ons almal die sigbare resultate van die pas-gesmeë vriendskap tussen Oom Hoon en Trinkie. ‘n Ou bok lus mos ook nog ‘n jong blaarjie. Kyk byvoorbeeld hoe Oom Tee-hou nog sleë.

Die aand moes Corrie boet vir die middag se vergryp toe sy by die “batch”-pan gaan eet het: hulle het haar só gevoer dat sy in die hospitaal moes gaan slaap.

Maandagoggend moes ons gou uit die slaapsak rits en wikkel om die beraamde vier en twintig myl van die dag te stap. Oom Hoon se geselskap was die oggend baie gesog. By middagbrood het die wa-ryers weer by ons aangesluit en Suzette het vir hulle ‘n voorbeeld van energiekheid gestel deur ‘n nuwe soort duikvertoning – klere en al.

Oorspronklik sou ons nie net tot by Gouna-bosboustasie stap nie, maar die rustig komende koeitjie, die peerboom wat so nou en dan ‘n verbode vruggie in ‘n skoot laat val het en die pragtige sonsondergang met die Outenikwa-berge op die agtergrond en die fluweelgroen bosse hier naby, het ons dankbaar gemaak dat ons nou hier kon kamp. Heel luuks ook, want gou hoor ons:
“The maidens fair,
They wash their hair,
In the tabernacle square.”
So word die dames van wasfasiliteite voorsien.

Ja, en die aand was dit komitee-items. Onder dekmantel van ‘n kombers moes Willem eers verskeie stukke “evidence” verwyder, daarna volg items van hoë gehalte. Onder meer het die kokke ons getoon wat in die onderwêreld sal gebeur met BT-Kaners wat oortree – selfs al word hulle nie hier gestraf nie: Ulrich, wat voor die tyd skiet, sou vir Dalena onsigbaar wees as hy haar wil vra om saam met hom te sleë; Lukas met sy liefde vir ongeseënde middagbrood sou altyd ‘n onbereikbare sny brood en botter voor hom swewende hê; Janse Uys sou voortaan met Truida moet stap omdat hy die leier se pas wil forseer en Piet Venter wat die “ensovoorts” oortree het sou met sekere sokkies moet teruggaan bo-wêreld toe en die dames vir hom sien vlug. Professor vloekwoorderowski en sy tentekomitee het met trots ‘n nuwe “Magnifying Machine” (met tabernakelagtige voorkoms) aan ons gedemonstreer. Tot daar ‘n tegniese fout gekom het en die professor self in ‘n skreeuende baba verander is.

Teen tradisie het die wa-laaiers ‘n ernstige item aangebied. Dit was besonder geslaagd. Hulle en die tente-komitee het albei hul kondens verdien en geniet.

Dinsdag het ons deur die bos gestap. Sommige net skrikkerig vir olifante. Via die “groot boom” is ons tot by Diepwalle. Dié aand het ons unieke familie-items gesien, wat hoe later hoe kwater geword het, totdat in die Wiechs ‘n realistiese hoogtepunt bereik het.

En die nag begin dit mos sommer stort. Tog het die eerste toeriste kliphard begin organiseer aan allerlei items, om hulle vrees vir die onbekende wat wag, weg te steek. Woensdagaand was ons egter verplig om lampvuur te hou, dus moes die gebeure uitgestel word. Damesskiet het egter nog plaasgevind en veral Oom Theo moes dit ontgeld.

Weens die reën moes ons Donderdag maar by Diepwalle bly. Die flukstes het darem ‘n goeie ent, bos-in, gaan stap en die ander het Oom Hoon oorreed om hulle Knysna toe te neem waar hulle veral kafees en houtwinkeltjies goed ondersteun het.

Die aand voor skiet-tyd vlug die dames mos – sê maar vir die reën. Toe raak ‘n tweede damesskiet aangekondig, dit is mos skrikkeljaar en die dames moes self slee’s bou ook, in twee van die kamers in die ou huis. Die eerste toeriste se items, wat dié aand darem afgekom het, moes toe òf in altwee vertrekke herhaal word òf deur Jan Akker uitgesaai word. Terwyl die “seertoon” Jan Hoon en Evelyn koeldrank en koekies bedien, raak dinge al hoe benouder vir die eerste toeriste want ten spyte van die reën kon die verrigtinge nie langer uitgestel word nie. Almal is toe in die koue nattigheid uit en, soos altyd, was die lyding groot.

Vrydagoggend wou ons aanstap, maar weer het die reën ons vasgehou, en dit het weer ‘n lui dag van dorp toe gaan of in die kamp bly, gaan stap of in die kostent sit en stories maak, kondense kook en houtkerwe, geword.

Nadat Oom Hoon se twee en twintigste toer op paslike wyse gedenk is, is allerlei foto’s geneem. Komitee foto’s, soos die oggendbrood loaferrettes en Martinette binne in die kookbad, familiefoto’s, panfoto’s en kysfoto’s. Lukie moes glad ‘n wilde grotmantegniek toepas om Jakobie op haar plek te kry.

Dié aand het die weer vergoed vir die vaskeer van die vorige aande, want ons kon opkyk na die sterre terwyl ons sleë. Hier word toe vir oulaas na harte-lus ge-item, gekoning, gehekel, geboom-boom en gehond. En toe gesing om die vuurtjie tot ‘n hele paar “nag dames”. Daarna nog die onvergeetlike serenades in die bytende naglug.

Die volgende oggend is dit haastig oppak en tydens oggendbrood hoor ons al die gebrom van die busse. Ons vuurpyl die Omie, wuif die vragmotorryers vaarwel en bondel half traag die busse binne vir die lang rit terug. Té gou gaan die laaste ure verby. By middagbrood word ons aangenaam verras deur ‘n besoek van Oom Tjaain en familie. Hierna beweeg Jan Roos in die hoogste hemel van geluk en is dit asof hy gedurig die wind deur die paleis hoor. Later hou ons weer by ‘n padkafee stil en spandeer ons laaste geldjies.

Bo-op Sir Lowry’s Pas hou ons vir oulaas stil vir ‘n onvergeetlike gesig – die sterre bo en die liggies van die Kaapse Vlakte onder. Ongeveer half-tien draai ons by Dorpstraat in en in ons ore klink dit onvermydelik:
“Nog ‘n toer is verstreke ….”

Trudie Immelman en
Wilna de Wet
(Sketsskryfster)

Leave a Reply