Kleinmond Gala 1960

25 November – 5 Desember 1960

Die nagmerrie-eksamens het al reeds geskiedenis geword, en ‘n uitbundige klomp gestewel en genekdoekdes laat twee tamaai HOEKSTEEN-busse se wiele soos dameskoshuis-fietse s’n lyk – pap!! Almal is B.T.K.-gereed en Danie het selfs sy Sederberg-pleister- pêts verruil vir ‘n sierlike rooi-met-wit-kolletjies-lappie wat Marcil met sorg daar vasgemanoever het.

Ewe goedsmoeds het die busse ons in die haaikaalvlakte op ‘n KRUISPAD afgelaai en daar het die voorosse staan en sukkel om uit te vind wie tog die “Koekie uit die Koekie-bar” gedêps het, totdat die agterosse ook eindelik in die kraal was.

Die afdraende was net mooi op sy lekkerste, toe Generaal Jan halt! geroep het vir middagbrood. Hannes Cronjé se brein, wat ‘n paar jaar nie met Universiteitsprobleme geworstel het nie, het gerook soos hy gesukkel het om al die vreemde nuwe B.T.K.-manne te onthou. Hoekom moet altwee die toontjies-dokters tog lang vlegsels hê?!!!

Eindelik land ons op Monteith, ons eerste kop-neerplaas-plekkie, en onder die dennegeur moes ons hard probeer om sonder gom in die slee’s te kom. Hier het Tillie vir ons sommer van die staanspoor af gewys dat hy regtig uitstekend kan lamp vashou vir Chris, toe hy helder teaterligte verskaf het vir Freek, die Boef, om die eerste episode van die gewilde nuwe vervolgverhaal – Die Serial – in te lei.

Vrydagoggend was ons reeds vroeg op en wakker en onder die gombosse het Chris die rondte van Vader Cronjé gedoen om almal aan mekaar bekend te stel.

Op pad na Palmiet, wou iemand ons skiet op “Ou Bos”-Farm, was die “baboons” ge-”arm”. Maar Lisa se soen het die ding gedoen en met Oom Tjaain se geduld kom ons tog oor die bult en kamp lekker op Palmietrivier saam.

Elke “item” het daardie aand natuurlik ‘n aap met ‘n asgaai of ‘n kees met ‘n kettie bevat, en in die Serial het arme Freek die Boef, net sterk mededinging van die Baboons gekry om die guns van Sheila – Oom Skoon Hoon – te hou.

Toe die Baboons en die Boys nou so na willekeur mekaar se plekke ingeneem het, het party mense ook sommer dikwels by tant Elsabé gesit en dan eers vaderlik aan “Frekie” se handjie gevat, terwyl hy baie verontwaardig vir “Henk” vermaan om nie sy basie in die gesig te lek nie.

Onderaansporing van die Kanniedood-Chrism, het die ywerigstes ‘n “hoogtetjie” in die nabyheid aangedurf om Kleinmond uit die hoogte uit te kon bespied. Só steil was die “hoogtetjie” egter, dat ons almal met ‘n helling van 60 daar op en af moes stoom. Om darem ons balans te hou, het ons met een arm Noord en een arm Suid daar af geweegskaal! Naderhand loop ons nie meer nie – ons word geloop – so erg dat Helgaard glads beenaf geraak het. Daar, op die warm teerpad, moes ons wag vir Willem, die slot en Katinka, die sleuteltjie, om die lafenis nader te bring sodat Helgaard die Kamp kon haal.

Wat ‘n teleurstelling het arme Piet se poeding nie daardie dag opgelewer nie! Die gevolg? Elke dag moes daar toe, voor die blik vrugte oopgemaak word, gesing word:
“Ons weet nie, ons weet nie wat ons mag nie
Die inhoud, die inhoud van die blik,
Dit sal ons nog moet sluk.”

Sondag het ons die diens op Kleinmond bygewoon, met dankbaarheid dat ons ook te midde van al die gewoel vir ons vir ‘n oomblik kon buig voor die Gewer van al dié voorregte.

Sondagmiddag se beetwater smaak darem maar oes as ‘n mens so ‘n lekker rooi stropie verwag!!

Om die volgende oggend die reën te pypkan, moes ons soos blits uit ons slaapsakke rits en baie knap raakvat om die dreigende weer uit te oorlê. Gelukkig het die druppeltjies darem toe nooit hulle manewales op ons uitgehaal nie.

Tot op Kleinmond het ons gestap en dáár voor die Oranje-kafee verkoel een klomp hulle loopapparate deur hulle te ontskoen, terwyl ‘n ander klomp hulle kele verkoel met roomys.

Die sandstap na Hawston, het almal se tonge grond toe laat trek, behalwe natuurlik Piet Hugo wat gedurig gesandduin het en dan weer die souterige sweetdruppeltjies gaan meng het met ander souterige druppeltjies.

Niemand bring mos papier en potlood saam as hulle gaan B.T.K. nie, en daarom het Oom Hoon maar die klomp krulplant, nerf-af skoene gebruik om groot B.T.K. in die pad uit te spel. Maar ons het baie blitsig ons besittinkies opgeraap, want die teerpadstap na Onrust, het ons onrustig gemaak om ons kaalvoete se onthalwe.

Op Onrust is dit verbied om ‘n mens soos ‘n mol te gedra en allerhande ander taktieke moes die mans toe bedink om ‘n gerieflike gaatjie te laat ontstaan, waaruit die komitee-“items” toegejuig kon word. Wie sal dan ooit vergeet watter smarte arme Danie Petunia moes verduur, want elke keer as haar minnaar haar liefdeswoordjies deur die gaatjie in ‘n muur sou toefluister, was daar ‘n wolk voor die maan! Die takke het die kondens verdien met hulle voorstelling van wat alles kan gebeur as daar ‘n derde amptelike landstaal – B.T.K.-taal – op die toneel verskyn.

Nadat ons ons reeds voor Hermanus se melkery soos babatjies begin gedra het, het ons verder gekruip na Voëlkklip, want nou was ons al baie goeie ondersteuners van die liewe toontjiesdokters. Die toontjies moes nou ook begin hartjies dokter, want die eerste-toeriste het al danis krankement begin voel. Gelukkig het gawe vriende uit Hermanus juis daardie dag vir ons roomys gebring, om hulle so ‘n bietjie vooraf te laaf. Hammie was ook op sy stukke, want Gouda het ook mos getoer en hy het ‘n puik vertoning gelewer met die waterdraery vir dié belangrike geleentheid.

Voëlklip het baie waterski-talent opgelewer, soos bv. ons Groot Generaal Ja, Chris en natuurlik ………… Hammeltjie!!!

Net hier laai Piet Venter vir hom ‘n hele harem op ‘n skip om ‘n hareng op te pik. Met Howard se uitstekende fotografie, is die “haring” darem só vergroot dat ‘n mens kan sien dis ‘n vis.

Koue rillings en opgehou asems is daar veroorsaak deur Oom Philip en sy togadraers wat, na hulle uitvoering op Hermanus, die BT-Kaners kom toesing het. Ons kon maar net “dankie” sê, want vir so ‘n groot opoffering is daar nie woorde om waardering mee uit te spreek nie.

Die spinnies is op Palmiet ewe skielik van die stowwerige ou rak afgeglip en die hele kampvuur op horings geneem. Die arme kampvuurhouers moes net spook om hulle in toom te hou. Maar boontjie kry sy loontjie en spinnie kry nie altyd haar sin nie en die volgende aand was die spinnie iets van die verlede: die onder-op-die-lys mans moes elkeen twee meisies skiet en om dié “triple”-slee’s rustig te laat verloop, moes die veelwywers net vinnig sleepille voer. Maar ………….. die …………… spinnies kom terug en hulle wou nie langer wag en op Gansbaai, voor die ingang van die Kelders, is omtrent eenparig besluit: die spinnies kom terug net die volgende dag!!!

Op Gansbaai kon ons koeldrank as lafenis kry teen 7d – 6d vir die koeldrank en ‘n ekstra pennie vir die koudgeit!!

Uilkraalsmond was ons laaste uitspanplek en daar het die een tog te lekker vir die ander gelag waar hy met die een arm in die by moes staan en stort, nes iemand wat in ‘n tjokkenblok-vol trein ry.

Dié Sondag het ons koue nagereg sonder wynsous gekry – seker die invloed van Bombomski van die Battaljon vir Toer en Korrupsie in die Sederberge, wat die alkohol so afgekeur het.

Net voor ons Maandagoggend vertrek huis toe, is daar ‘n sedige plegtigheid, ter ere van al die nuwe hegte vriendskappe, afgehandel. Onder hulle geledere was mense soos Willem, Tielman en Jan, Chris …………….

Die paar wat op vakansie sou vertrek om nooit weer as studente die Ou Akker te besoek nie, is met onwillige harte weggevuurpyl. Die gevoel wat by hulle moes opgekom het, is iets wat net ons ou klompie khaki-en-rooietjies sal verstaan – ons met ons wit wange, pers lippe en harte wat wens dat ‘n ieder en ‘n elk en ‘n inkelte volgende jaar en die jaar daarna en daarna nog hier kan wees om saam te sing:
“Waar die see se branders skuimend
teen die breë rotse slaan ……”

Elna Uys
(Sketsskryfster)

Leave a Reply