Knysna September 1964

“Wie wil saam die Knysnabosse met ons loop?
Wie wil ook die toue saam met ons swaai?
Hoor, die olifant brul;
Roep julle, kom julle mee?”

Reg olifante, hier kom ons 74 man sterk. Presies om 3.55nm sluip die ekspidisie Stellenbosch uit in hul blou Odendaal-Safari gelaai met geheime wapens, rooi doeke en ivoorringe. Teen skemeraand word daar die eerste keer halt geroep by Buffeljags (-wil darem nie sommer die eerste aand al deurdruk tot by Olifantjags nie). Daar word die modus operandi oor ‘n beker koffie en ‘n sny brood bespreek, en so indrukwekkend is die beraad dat verbygangers oorbluf op die brug stop om seker te maak dat dit nie die Russe is wat aanval nie.

Vroeg op die toer, sommer op die bus al, laat Elaine ondubbelsinnig blyk dat sy op die rak verkeer. Gawie en sy Kombi vol aanhangers het intussen vinnig aangestoor Mosselbaai toe om ons saam met die vragmotorryers op die Punt se kweek te verwelkom. Die enkeles wat net voor slaaptyd na die grot onderkant die vuurtoring geklim het, het daar by die see en die sterre een van die mees sielsverheffende ervarings van die toer gehad.

Met die gekrys van meeue het Saterdag oop en blou oor die bont hopies en slapende bondels op die groen grasvlak daar langs die see gebreek. Selfs die miljoene grassprinkaantjies in die koffie en konfyt kon die oplaaiende geesdrif nie demp nie.

Deur die Tuin van ons land is die reis voortgesit – slegs onderbreek vir Bernard se vlugtige besoekie aan sy (nie uithuisige!) tannie. Kort na ons aankoms op Knysna is die hele dorp aan die raai oor wat ons is. Ockert weet dat ‘n mens met die hoed in die hand deur die hele land kom, en met sy armoedige volgenlinge vermurwe hy die hardste harte. Eben met sy leerbroek-“pose” kom heelwat kaler daarvan af: daar word 10c van hom geëis vir ‘n glas water. Toe ons die hele plek behoorlik op olifanttande het, verdamp ons net so skielik weer na die skilderagtige Noetzi-strandjie. Daar blyk onomstootlik die gewigtige rol wat die dames kan speel wanneer mans hande in die hare en ‘n bus in die modder sit.

Met die seesand nog tussen die tone begin ons stap oor berg en woud en langs rivier, selfs oor boomstomp en stroom. Toe ‘n koei kwaai in Eben se rigting kyk, wéét die meisies op sy hakke op onverklaarbare wyse dat dit ‘n bul is, en waai lugtig oor die doringdrade.

By die wa-aflaai op Edenburg waag Diet sy lewe vir Siertske, maar ‘n olifant vlieg oor sy dapper hoof en laat ‘n wit spoor vir die res van die toer. Vlieënde wit olifante is hier nie die enigste makabere verskynsels nie: Peppie grawe ‘n vuilgoedgraf en slinger algaande doodsbeendere uit die gat boontoe. Verder kook Mrs Venter dié aand haar eerste eiers.

Terwyl Tinus se kerk Sondagoggend aan die gang is, braai die kokke (en hulle die vleis) gaar. Die ete is dan ook so reg in die Sondagtradisie en Hans hóú van poeding, soseer so dat hy homself eers na vele uitputtende probeerslae wankelrig van die grond af lig om sy manne halfhartig tot by die vleiskis te dryf.

Die uitstappie na Brackenhill was nie energiek genoeg nie en die kindertjies begin ‘n woeste balspel totdat Boetie Jan se kleurtjies en sussie Eben se sokkie sopmat gemors is. Ou oom Hans is nog so besig met die poeding dat hy eenkeer glad mis trap.

Kort voor skiettyd word ‘n paar bevoorregtes vergas op ‘n demonstrasie van vroulike strategie sodat Almero uit volle bors kan sing:
“O die moeilikheid is liefde;
Sy ly gebrek aan skoene ………”

Na die gebruiklike uitkenningsparade merk weerburo Dave ‘n kondensasie in die Conradieslee en ag dit gerade om ‘n Brand-waarskuwing uit te reik.

Dit sou seker effens onvanpas gewees het om Almero se liedjie Maandagoggend weer te sing, want Willemien het darem regtig verjaar. Terwyl ‘n paar omies die dam skoonmaak vir die volgende BTK-groep wat Knysna sal besoek, marsjeer die olifantjagters op Ben se swaaiende stok die bosse in, elkeen sterk bewapen met twee skerp oë. Die aanvanklik pragtige weer word nou sporadies bedreig deur miskolle langs die kus. Die oerwoudreuse bly net buite die gesigsveld. Sonskyn op die pad en skadu’s in die woud; so bereik ons Diepwalle.

Om die een of ander rede was die komitee-items hier in die stinkhoutwêreld maar bra mistroostig. Die kokke se ernstige, moraliserende Lieberstein-item met Peppie in die vroulike hoofrol, moes die eerste prys aan die pienk olifant afstaan. Miskien vanweë die besliste koersvastheid en intuïtiewe rigtingsvasberadenheid wat hy gedurende die dag geopenbaar het toe selfs die grootbul van die trop in dorings op allerhande dwaalweë verstrik geraak het.

Die dames begin hulself al verhard teen oom Emil se “nag dames; wel te ruste” en moet met besliste “Goodnight Ladies” bed toe gestuur word, gevolglik is daar maar min van hulle wat Dinsdagoggend sien hoe die sterre deur die boomtoppe heen vervaag. Dit raak ook al ‘n gesukkel om die bagasie en die walaaiers bymekaar te kry.

Dis ‘n dag om jou te vergryp aan die natuurskoon van die inheemse boswêreld en veral aan die bobbejaantoue, sodat daar ‘n paar ongevalle is (gewoonlik meer val as iets anders) in gevalle waar Peppie nie eers die breekkrag van die tou getoets het nie.

By middagbrood gee ‘n paar mense se sindelikheidsgevoel die deurslag en gaan hulle met haas onbegryplike dapperheid die swempoel in. Hier in die diep skaduhoekie van die aarde in waters wat glinster van ewige koue en stilte spat die seepskuim nou en Fiefie spartel daar rond met haar spanielore.

Met die oog op damesskiet word die mans se hare reeds opgetooi, en Almero begin ‘n lysie opstel van al die meisies wat geswem het. Wikus kom die aand van die pastorie af terug sonder sy snor. Toe hulle merk dat ons “stew” gaan kry, is dinge effens deurmekaar en skiet die mans van pure senuweeagtigheid te vroeg op ‘n vals alarm. Toe hulle die fout agterkom, weier sommige hardkoppig om hul eerste skiete terug te trek.

Die stokou items (soos die plathond) stuur die meeste sleërs droomland toe, maar ‘n skielike “motorbike”-wedren verseker die einde van alle slaap, Nico se beker en Henry se R3,00-sigare.

Woensdagoggend kry ons koffie in die bed en vleis in die pap. Hans se lankgesweerde wraak teen die oggendbroders het eindelik ‘n hoogtepunt bereik toe hy die reeds deurnat Elza van sy slaapgoed af terugsleep rivier toe vir ‘n tweede en algehele onderdompeling. Ook Duard se kalfsleerbroek maak kennis met die Dieprivier se water.

Met byle gewapen skep ‘n klein groepie kultuur in die nuwe natuur en kap ‘n breë pad oop vir Almero se grootste val na die klipperige stroombedding.

Die voorbereidings vir damesskiet sluit onder andere die was van menige manlike bos hare in, en die winkel veil vandag sy eksklusiewe lekkers vir die spesiale man uit. Die punt van hoogspanning word bereik toe die dames by die queue vir die verrassing beveel word om te skiet, en dit verloop verder in ‘n chaos van verwarde gevoelens toe hulle met een of twee uitsonderings botweg weier om die lysie dadelik in werking te stel. Hulle leer egter ‘n deeglike les deur die verdere verwikkelinge tot sleetyd.

Terwyl die sinistere beuelklanke van die “Last Post” deur die middernagtelike stilte skrei en die wouddiertjies verstyf van angs vir die onbekende, die groot nie-weet, word die soete wraak voltrek.

Met ‘n traan in die hart en ‘n flits van baie herinneringe het ons afskeid geneem van Eben en stil geluister na die sang van die koorgroepie. Ook toe hulle later kom “serenade” was daar ‘n warm gevoel in die hart en die oë.

‘n Toer sonder ‘n nag van benoude “Tente-komiteeee!”-stemmetjies uit die dameskamp is geen volwaardige toer nie. Donderdag het grou en nat gebreek oor ‘n verwese groepie langs ‘n rokerige vuurtjie en oor ‘n plaat tente vol vies BTKaners in nat beddegoed. Nadat ons almal (behalwe Diet wat sy been oor Joan gebreek het) gou Kruisvallei toe gestap het vir ‘n koppie warm koffie, het ons maar die hele middag in en uit die tente beweeg namate die reën en sonskyn mekaar afgewissel of vergesel het. Die eendeweer het Peppie geïnspireer tot sy “all out; last one a duck” item. Die spinnies het die grootste voordeel uit die lampslee getrek omdat hulle verlof gekry het om hulle in te grawe “op enige plek wat lekker is”.

Na ‘n ysingwekkende vragmotorrit bied Vrydag weer ‘n lieflike sonskynuitstappie. Terwyl die voorstes nuwe weë baan in ‘n woeste wêreld, raak die slotte (M.J. en Soma) buite aksie en buig die dag verder rustig sodat hulle selfs die botterlose middagbrood misloop.

Die pastorie op Knysna word nog steeds knaend besoek, so ook die plaaslike geneesheer. Die sug maar net: “Hier op aard is net klipsteenhard.” Met groot asemophou word die bus tot by die kampplek gebring.

Om 12.15 klim ons in die slees. Hans het gevra vir ‘n skiet wat wil slaap, en kort voor dagbreek roer die ou groot kakie-jas weer vir die eerste keer en begin hy naarstiglik na sy pyp en tabaksakkie soek. Dis glo die langste wat hy nog saam met ‘n meisie geslaap het. Wat items betref: niemand weet wat daar aangegaan het nie (veral die dames se eindelose affêre).

Van vroeg Saterdagoggend af moes die tente-komitee hulle oor ‘n tentpen werk en toe nog later vir Hans amptelik om verskoning vra omdat alle noodsaaklikhede waarvoor hulle verantwoordelik is nie betyds opgelaai is nie. Te midde van die gesukkel met probleemwalaaiers soos M.J. moes die vrag weer ‘n tweede keer afgepak word om Ma Elsa se sleutels uit haar rugsak te kry.

Nog voor Knysna al tref ‘n slag die vragmotor: daar bars ‘n band en die bus moet alleen die gevaar van moontlike houtvragmotors om die draaie trotseer.

By die Kaaimansrivier werk die middagbroders vir die laaste keer en vind ook die laaste onderdompelingseremonie plaas toe Marié Botter-hulle te veel steur in hulle slapie.

In die vaak ure ná die middagete is dit omtrent net die bestuurder en sy geselskap wat met ongelooflike wilsinspanning daarin slaag om mekaar wakker te hou. In die later namiddag is daar egter ‘n hele paar uitgeslapenes wat hulle klankbydrae (musikaal of andersins) in die stuurkajuit kom lewer. Leon se oorskot-winkelvoorrade kry nou groot aftrek aangesien die kafees ver uitmekaar is.

In Du Toitskloof speel ‘n grootse drama af met Ben en Wikus in die hoofrolle. Bernard red ons almal van ‘n gewisse dood deur daarop te wys dat die parkeerliggies van die bus liewers moet brand. Die deursettingsvermoë van die werktuigkundiges (of van die diesel deur die pypies?) word op die lang duur beloon.

Om twaalfuur ry ons die slapende Eikestad dankbaar binne, versadig van indrukke wat ons mettertyd sal verwerk en assimileer as deel van onsself om dit in die skatkamers van die gees weg te bêre vir latere vreugdevolle herinneringe.

Corrie la Grange
(vir Sketsskryfster)

Leave a Reply