Sabie-Marieps Junie 1966

Gedeeltelik om vir die Bolanders te wys dat Donker Afrika eers ‘n hele end dieper in as Transvaal begin, het die BTK ‘n splinternuwe idee, om die Junie-koue te trotseer, die lig laat sien.

‘n Uitsonderlike toer was dit voorwaar van begin tot end, want waar het jy nou van BTKaners gehoor wat kwart oor nege reg is vir die vyf voor tien trein! ‘n Verskoning sal gesoek moet word; hulle het seker maar die voor met die oor verwar – maar net ‘n glips!

Nadat die trein oor die berge is anderkant Worcester is daar naarstiglik na olifante gesoek omdat die beskawing agtergelaat is, maar toe dit niks oplewer nie, het hulle hul tot die sitkamer teruggetrek om maar daar na die leeu se gebrul te luister.

Op Pretoria is almal volgens BTK-style in die beskikbare voertuie uitgegooi en menigeen moes sy lyf togsak hou. Die De Waals het geweet ons kom, maar hulle het nie geweet wat op hulle wag nie! Spoedig het die Blou Ark sy verskyning gemaak en die entoesiastiese waryers het geweet as jy eers daarin is aanskou jy nie gou weer die lig nie. Hope kranke waryers sou daar beslis nie die toer wees nie – dit was net pure van pyn verdwyn.

Selfs die stad Pretoria het vir die BTK nog genoeg wildernis gebied om die nodige brandhout te verkry en kort voor lank het gesykousde kokke onder elektriese lig die vet in die vuur gehad. Guillaume het kosma ook spoedig kaalkop die waarheid vertel toe sy dit later durf intrek – om te dink ‘n half nakende kosma; dit was te veel vir ons opvoedkundige georiënteerde S.O.D. Na ete was daar egter net oral blinkende glimlagte en almal wou net inry toe met die Ark – toemaar julle sou nog genoeg fliek! Die ontsteltenis was nie te groot by die ontdekking van die vergete spyskaart nie – daar’s genoeg variasie in gekookte, gebraaide en gestoofde bilharsias!

‘n Groot briefskrywery het toe gevolg vir die geliefde agtergeblewendes en Asjas was geensins bekommer dat elkeen ‘n woordjie of twee vir Driesman wou skryf nie – solank sy net die begin en einde kon skryf, want volgens haar lees sy ook maar net die begin en einde, want verder staan daar mos net nuus! Toe die mans na Duard vertrek het, het die dames na die gesuikerde koffie soet-soet in die garage verdwyn.

Donderdagoggend het die kaki’s toe soos die geskiedenis van ouds, sonder slag of skoot die stad ingeneem – die rooi vlag sou egter eers later gehys word. Twee – ses was almal in die bus en was die “alle bobbejaantjies klap julle handjies”, daar’s ‘n groot fees; want duisende “cookies” is van die “cookie jar” gesteel.

Witbank het ons met ‘n lang namiddag ingewag toe die bus die gees gaf – nou vir die fliek. Die omie van “do not disturb” het hom by sy fliek se moral gehou, maar gelukkig was die ander eienaar so oorweldig dat ons toe sommer ‘n spesiale vertoning kry. Toe hy eers besef het wat hy gedoen het, was hy seker dankbaar dat party goedgunstiglik 40c plekke geneem het – vir raparasie doeleindes. Met aandbrood (brood in die oggend – brood in die middag, brood met aandete) is besluit om ‘n grasklub te stig vir al die grasweduwees en wewenaars. Die reis verder was ook vol leë koekblikke en almal het in spanning gewag op Sabi se ligte -veral party.

Vrydagoggend is vroeg ontwaak en woudlangs gestap tot by die Mac-Mac poele waar ‘n vredige vreedsaamheid om die rante gevou het. Toe die groepfoto geneem word, wou Stoffie ook op sy eie shine -al moes dit dwarsdeur die modder – hulle sê mos “blikskottels” blink die meeste as dit met modder geskuur word. Al met die treinspoor langs totdat die seer en tam ledemate naderhand gevoel het of ‘n trein bo-oor hulle is, tot by Graskop tot groot ontsteltenis van die ander kampers. Die Ark het reeds gereed gestaan en ‘n seuntjie moes naderhand roep: “Ma, hier kom nog van hulle.”

Met kampvuur moes tant Koek se Botterhaan die mylmaat van die dag se veertien myle verduidelik. Dit moes seker seemyle gewees het, want dit het nie sonder knope gegaan nie. In die slees is holkant se bolkant gelê, terwyl ons vas geryp het.

Saterdag het almal ontdooi toe die sonnetjie sy kop lig. Verby die “Pinicle” en “Gods Window” waar die grootsheid van ons landswonders jou nog kleiner op die platerand laat voel het. By middagbrood is drie hoeras aan Guillaume gegee te danke aan die stilte as gevolg van sy afwesigheid. Nadat Stoffie en Piet de Waal besluit het om bietjie in die water rond te staan, het Duard vir Jean omhels, maar toe hy sy oë oopmaak het hy saam met sy eie Bilharsias geswem. Die gevolg was dat hy ‘n paar honderd tree agter die slotte moes loop, met ‘n dreigement aan Wina en kry toe reg wat Botter met min slotte kon regkry – hulle kom toe saam met die laastes in die kamp!

Die meeste van ons “tan” is in die rivier afgespoel, maar asof dit nie genoeg is nie, het Hester nog diep die nag in met vier lae kleding en ‘n paar komberse gaan bed.

Sondagoggend het feetjies in die dennebos rondgevlieg waarna ons in rustigheid die voorreg van alles om ons kon geniet. Na die heerlike varktjops en poeding sien Botter die aand kans om sy sleemaat slee toe te dra – manne kyk wat kan gedoen word!

Die te Blou lug-Maandag, het Coen sy kartonneus die dag laat opsit. Op en af het dit gegaan behalwe vir ‘n paar slangkrisisse tot by die rotsplaat waar generaal Botter sy beroemde toespraak gelewer het: “Ons stap nou.” Bo-op “The Peak” het die eggos weerklink en vir die eerste maal kon Letteli nie die laaste woord inkry nie! Verderaan is ons deur Knysna-bosse, Vrystaatse vlaktes en Transvaal, maar die tone het begin protesteer teen die agt myl wat eerder na ‘n omgekeerde oneindigheid se teken begin lyk het.

Die aand moes Grootwiel sy L.M. stasie afstaan sodat ons na die wêrelduitspraak in verband met S.W.A. kon luister. Damesskiet of te nie, die nag eis sy slagoffers.

Dinsdag het ‘n klomp op hulle hande die wêreld verken (anders is dit onmoontlik om met net wit tande en oë daaruit te kom). Verder het dit wishi-washi langs die rivier gegaan en die bedrywighede het uitgebrei na Ina wat haar prakties op Piet de Waal se baard gedop het. Dit was egter nie tevergeefs nie, want ‘n groot verwarrende damesskiet het gevolg sodat die hele Gericke-moderatuur die aand moes spin. Die verwarring het verder geduur en Etienne, Bella, Letteli en Coen se slee, met ‘n klimaks toe die Rerrie-bird die kêdens eis.

Woensdagoggend het die dames dit kalm gevat vir die volgende vyf myl vorentoe. Die sonnetjie het gedreig en die water en lukwarte by Burkesluck het baie gered, maar ons weet nog nie wat ons wag nie. Die slotte het solank maar die krankes per “lift” vooruit gestuur. Uiteindelik het ons egter die canyon bereik en het ons geweet – “die Hoogland is ons woning, die land van son en veld.”

Die nag se slaap het egter maar grillerig gelyk met bobbejaanspore en luislange om ons, maar wat – BTKaners vergaan mos nooit.

By die kamp was daar ewe skielik ‘n groot gewassery – Guillaume was net sy kop en toon en daarna was hy silwerskoon! Dit het naderhand ‘n deurmekaargewassery geraak, maar Letteli sê al verskil is net die water loop nie eers oor ‘n paar klippe nie. Die idee dat ‘n tent oor die wasplek opgeslaan sou word, het geen beval gevind nie, want dan sou ‘n mens “allover” moes was – en dalk vang Grootwiel ook ‘n tip.

Die aand was dit mistig, die skiete ook – die Bolanders sê egter dit reën. Die lampslee het die koning uitgegooi sodat uitsleep uit was. Ingeval iemand dalkie ‘n skuldige gewete had, kon hulle darem uitklim! Die petrollekkers het ook lekker spirit gegee sodat Guillaume glads vir Letteli wou luislang.

Toe ons Donderdag letterlik en figuurlik hul deur die mis opgestaan het was die opmerking “ons big, happy family of lunatics” heel gepas. Met die pad verby die menasie het sommige dit baie jammer gevind dat hulle nie geweet het “die kamp en die bar is bymekaar” nie. Deur die Bantoe-reservaat het die agtien myl as gevolg van die reën gekrimp sodat ons gou die kampplek gehaal het. Oom Gideon het egter duidelik gevoel dat die klomp BTKaners daar moes swem, sodat die bilharsias uitgeroei kon word!

Vrydagoggend was dit “früh morgens um half viere”, want na die hoenderkraai was dit “rise and shine”. ‘n Wasbak is vir die dames oorgedra en ewe vriendelik ook ‘n lamp – die gille was natuurlik van blydskap en dankbaarheid! Dis met elke oggend dat almal die pap in wording sien nie en spoedig het ons weer knie aan knie gesit met “nog ‘n toer is weereens verstreke van die ou BTK met sy heerlike dae.”

Op Lydenburg is die Personality gewa-wa en 2 – 6 was almal weer terug in die beskawing.

Siertske Burema
(Sketsskryfster)

You must be logged in to post a comment