Sederberge April 1967

Wanneer deur die bergklimmers-repertoire gegaan word, is dit die Sederberge wat die spesiale plek inneem, die móet en die herhaalde móet vir elkeen. Behalwe vir die voorreg, dus om weereens ware BTKaners te kon wees, kon ons weer die werklikheid geworde fantasie van die Sederberge met volle teue inasem.

Die rasendheid het reeds by die raserige toervergadering begin toe die kekkelende kokke kliphard amok gemaak het.

Vrydagmiddag wou die Combi eers nie kom nie, maar toe hy wel opdaag, moes hy spoedig weer terug om die agterblewendes te kry. Jaap en Dan maak dit toe die moeite werd en sorg vir ‘n “smart hike” – in ‘n groot motor!

By Hexrivier is daar afgesaal en met min vertroue na die bewolkte hemel beskou – sou ons die volgende môre weer ons gesigte sommer in die slaapsakke kon afspoel?

Die vroeg opstanery Saterdagoggend het suurlemoene ook onder die bome laat opskiet, maar spoedig was almal weer reg en kon Japie W. op die 1ste April die draak steek met sy drie-tandvurk. Om Verina en Koosie se ontwil het ons deur die sand teen die opdraandes uit geGala en menigeen het amper ‘n “break-down” sonder ‘n “smoke-break” gehad – en die volk het gemurmereer! Met middagbrood het Ben Bella se harem hul voetjies in die stroom gewas met gevolglike bevoeterde water.

Daarvandaan moes die hartseerkronkelpas aangedurf word, maar Piet sê net: immeg voogwaagts. Daarna gaan dit weer met dolle vaart afwaarts en elkeen moet net sorg dat hy saam met die paadjie sig-sig af tot by Algerië. Die wraak het blykbaar ook reeds begin inwerk, want Mariana soek net na haar swart togsak wat na ‘n hele soektog groen blyk te wees.

Sondagmôre “break” ons heerlik in die slaapsakke “fast” en die oorstaandag laat die mense nog verder slap trek sodat Erica later soos ‘n buitepasiënt lyk – dit was maar net een van die reriebird se rerieteite. Die middag is daar hard geskrop en Polla sommer gewin om verdere ge-“Polleerde” water te voorkom. Sondagaand se uitkenningsparade word toe chaotiese armyparade sodat menigeen na die storm verby was die armyouens aan hul voete wou vat om die tee uit te skud terwyl ander die akademiesie uit hul bekers gaan was het. Gaan weg ……… Toemaar, dit was vir volk en vaderland. As ons wou kon ons die dinkdorings op hulle gesit het!

So vroeg Maandagoggend moes ons roer dat toe Letteli haar tande borsel, het sy in die maan vasgekyk of het sy maar net so ver gedink?! Die kronkelpad teen Middelberg uit het hope die kortpad agter oom Jakkals aan geneem, maar Rooikappie het tog weer die beste daarvan afgekom. Bo-op Middelberg was dit ‘n museum van rotsige ongediertes sodat Peet ook af en toe sy mond moes toehou om iets te kon sien. Teen die lang afdraande het Etienne en Coen mekaar om die bos gelei en wonderlik was die verrassing van ‘n geselsende stroompie toe die tonge ook begin vasval in die sand.

Op Welbedacht aangekom is by die skuur eers vyf minute in stilte wel-bedag oor die swaarkry van ’65 en toe is daar inderhaas afgesit kamp toe waar “Coenetjie se winkeltjie” baie ronde hoekies gemaak het, gelukkig nie een blou oog nie, alhoewel daar hope in die que was. Die dames was skaars ingeburger toe dit skielik kom: Hier kom die army – kruip weg. ‘n Dame wat nog haar bad geniet het word raad gegee: hou jou lyf Moses en duik weg so diep moontlik.

Die komitee-items die aand was so flou soos ‘n eerste toerissie tydens die wraak.

Dinsdag was weer ‘n ware Safaridag en die vettes het aangesukkel. Selfs Piet moes met twee slotte sukkel – die slotsak en die geslotene, maar gelukkig was daar ‘n klipgordyn om die oo’s en aa’s uit te hou. Toe Joan by die tou kom het sy gewonder hoekom sy maar nie liewer meer pap geëet het nie. ‘n Onsimpatieke antwoord was waarom liewer nie minder pap nie. Tog was die vergesigte van Tafelberg tot verdieping van die gemoed.

Die simpatie was maar dun gesaai, want toe Koosie kla oor die muggie in sy koeldrank het “Auntie” hom gerus gestel dat hulle maar min drink.

Dié aand was daar weer baie in die pekel by die hekel. Jaap en Flip het ook weer hul “ducktail” streke op hul motorbikes uitgehaal, nadat Bok sy Napoleontiese fynvernuf geopenbaar het …. en Auntie Williams haar identiteit!

Woensdag op Sanddrif het die sanderigheid die drifte laat hoog loop sodat oom Jakkals die draai en oom Jakkals die swaai en die rooihonde die byt dat Joan, Cotie swaai. Toe die middagure begin krimp, is na die stadsaalrotse gegaan waar die oeroue wraakgesang van die olifante weerklink het. Peet was weer in sy noppies daar op die koppies sodat die dames nie veel tyd had om reg te maak vir damesskiet nie. Amper soos altyd, maar net ‘n bietjie erger was die chaos toe Els die fluitjie laat waai en “Hein” en Liza het hul hande vol gehad met al die probleme.

Wolfberskeure – geen menslike beskrywing is moontlik nie, omdat ons klein gevoel het, maar daarom des te meer ons Skepper kon prys.

Deur die skeurtjie het dit broekskeur gegaan, maar die meeste is veilig deur. Die meeste mense (dames) het so maer gevoel soos lanklaas tevore. By die Berg gekom het Stoffie Akkedissie se klip ook nog in al sy glorie gepryk.

By die kamp gekom is Joan vir oulaas eers gebad deur Peet sodat sy waarlik die stof van haar voete kon afskud voor sy terug is. Asof die manne se senuwees, veral Willem s’n, nie genoeg gehad het nie, het Elsabe met die fluitjie rondgepronk sodat die dames lateraan angstig begin rondkyk het.

Na die duisende kos het geblyk dat Elsabe en Flip die middag verskeie appeltjies te skil gehad het sodat almal hul in die appelmoes en katstert kon verlustig. Koosie het dit so geniét en genúttig dat hy naderhand net so rond soos sy oo’s was . Die tone sou behalwe vir al die rooi en geel en groen almara ook nog heelwat poeiertjies moes meng – goue ou Tone.

Pampoenkopskie het die lang slap item gered, maar nie besef dat die bom wel later vir hom ook sou ontplof nie. Met die opskop uitsleep is Elsabe ook úitgestóf.

Vrydag het dit nie gevoel of ons op pad na Syferfontein was nie, want die sand was moordend, die son brandend met ‘n windpompie wat met wind gepomp het. Die Maltese Kruis was egter beloning genoeg en toe nog boonop middagbrood en water.

Oom Chine se afdraandepad met sy enkele nekkie was egter ‘n kat met sewe lewens sodat dit dié laaste aand na al die hakke trap skoon tone trap in die kamp was. Die water het regtig gesyfer sodat die mishy washy net kon wishy.

Na die bevrediging van Sir Pyp tot Ridder van die Orde van die Knoop Saterdagoggend was daar net twee “possibilities” vir hom: Hy kon heel voor stap of heel agter – as hy heel voor gestap het was dit orraait, maar as hy agter gestap het …………..

Vroeg reeds moes ons met die laaste stap kruitjie-krap-my-nie’s tussen die einabossies en het toe maar bossietjie-bossietjie gespeel omdat ons nie weet watter een die krapwerk gedoen het nie.

Ook in die bus het die droogte geheers en was dit nie vir oom Jakkals se pink melk vir elk nie …….. goeie oom Jakkals!

Siertske Burema
(Sketsskryfster)

Leave a Reply