Riviersonderend September 1971

Vrydag, 24 September:
“Hartlik geluk en baie welkom” aan almal wat besluit het om die vakansie weer saam te toer. Dit was nou sommer weer “van de bestes!”

Die wa het soos gewoonlik weer tradisioneel stiptelik BTK-tyd vertrek, dit wil sê héélwat later as wat oorspronklik beplan is. Die bus het net vyf minute laat vertrek, en hierdie buitengewone gebeurtenis het toe sommer vir Sakkie en Tjoi aangespoor om die medetoeriste te vergas met spookagtige arias in die “Sy-verlaat-my-trant”. By die kampplek naby McGregor aangekom, moes die arme waterdraers vind dat die water amper ‘n daguitstappie ver is.

Saterdag:
“O what a beautiful morning” of hoe René? Ek meen, dit gebeur nie elke dag dat Jurgens vir ‘n meisie koffie in die bed bring nie! Ons sal nie vra hoe oud jy nou is nie, maar ons hoop jy het sommer baie lekker verjaar.

Ons stap ‘n pragtige pad, maar word ongelukkig vir ‘n rukkie deur lastige muggies gepla. Kitta, ek sêkondeer: ek gee nie om vir die lastige goed nie, maar wie sê hulle het nie dalk hondsdolheid nie? Op BTK kan enigiets ‘n mens tref: van brullende leeus tot piepende muise, dus is hondsdolle muggies glad nie buite die kwessie nie. Ons moet tog onthou om volgende keer vrywaringsvormpies te laat teken.

Die lekker pad waarmee ons begin, hou toe sommer skielik op, en moet ons op die breë weg verlaat en voortgaan op die nou weg. Met die bewindsverandering het die nuwe regering besluit dat die ou regering op die verkeerde pad was, en het die ou paaie verlaat om nuwes te bewandel.

Langs die pad kry ons ‘n eselskakebeen, en Simson (alias Tokkelokkie) besluit om die aand ‘n item te maak met Simson en die Filistyne. Vanselfsprekend moet die eerste toeriste natuurlik “volunteer” om Filistyne te wees. Simon lyk die aand met sleetyd ook net lus vir die bloed van die Filistyne en kyk hulle goed uit, maar ai! daar is ook altyd ‘n paar Delillas wat die hart van klip in ‘n hart van kaas laat verander.

Oom Tjaain het die oggend vooruitgestap en ons kry hom met middagbrood by ‘n pragtige poel. Naby Greyton het Jurgens met ‘n donkiekarretjie opgedaag om die verjaarsdagmeisie te kom haal. Die donkies ken die pad huistoe baie goed, en toe Jurgens hom weer kom kry mis hy die hekpaal met ‘n paar sentimeters, en staan die donkies in hul eie agterplaas. Met ‘n gesukkel van die ander wêreld het die donkies weer die pad gevat. Die reis het amper wéér rampspoedig geëindig toe die twee donkies twee ander donkies gewaar en mal begin balk en na hulle begin hardloop. Paul Andrag kan die gebalk baie goed naboots. Hy sê ons moet vir Rudolf vra hoekom die donkies na mekaar hardloop as hulle so ‘n gebalk hoor, want Rudolf het glo twee donkies. A-nee-a, Paultjie, dit is darem nie nodig om vir Tillie en Liesel as donkies te bestempel nie!

Die tantes van die omgewing is volgens Jurgens glo glad nie so konserwatief as wat hulle met die eerste oogopslag lyk met hulle voortrekkerkappies as hulle die bohelfte van die dubbel deur oopmaak nie, want nooi hulle ‘n mens binne, dan staan tante daar in haar langbroekgewaad met haar kuise voortrekkerkappie.

Abel-hulle het die aand die O.B.K. amptelik bekendgestel met die bekende motto van “Ons brul kaas!”

Asof Jurgens die dag nie genoeg gehad het van donkies en alles wat daarmee saamgaan nie, moes hy die aand weer die donkie in ‘n “item” insleep. Die arme donkie se gesondheid was egter nie te wel nie, en sy geleerde seun wat pas van oorsee teruggekeer het, waar hy onder andere baie kennis van die “wild girls” opgedoen het, het sy vader wetenskaplik meegedeel dat die oorsaak van al die moeilik ‘n knoop in die derm is. Ek neem aan dat daar meer as een knoop moet wees, want die donkie het baie eienaardige knoppe op sy rug gehad.

Christine, Suzanne en Ben het daarna die plaasitem weer ‘n nuwe glorie gegee. Bogenoemde item het toe vir Hoffie en Theo aangespoor tot ‘n baie oorspronklike “version” van “The Rain in Spain”. ‘n Bietjie raad aan die rokers (pyprokers uitgesluit): kyk Hoffie en Theo eers goed deur voordat julle volgende keer sigarette met of sonder filter koop. Ek moet sê die filter bring nogal ‘n groot verskil in die lengte van die sigaret mee!

Sondag:
Wat ‘n salige ontwaking is dit nie op elke toer as die feëtjies en kaboutertjies sorg vir koffie en beskuit aan al die “medetoeriste” nie. Wat die komitee-manne betref: hulle was toe darem nie lus vir eiers en gebraaide kuiken nie, maar Gerrit sê die gegeurde roereiers het vorentoe gesmaak.

Sondagoggend is ons na die Sendingkerkie op Genadendal. Kabouter het glo van plan verander wat haar huweliksdroom en die predikant van die Sendingkerk betref. Sy glo nie in integrasie nie. Ook in die sendingkerkie word apartheid tot in die fynste besonderheid gehandhaaf, en sit die mans en vrouens apart. Oom Tjaain en Tieks het glo langs mekaar gesit in die kerk, maar dit is verskoon, want hulle was albei grensgevalle.

Jors het onophoudelik na die oorkantste gallery gestaar. Wat is só interessant? Nee wat Jors, jou storie van die bars in die muur en jou waarneming van ‘n kakkerlak wat telkens sy kop uitgesteek het, kan jy maar vir iemand anders gaan vertel, hoor!

Na ‘n vreedsame middagete en té veel Elsa-de-Lux het almal rustig geword. Maar die stilte het nie lank geduur nie, en Elsie en Annemarie het Jurgens en Tokkelokkie goed die kop gewas. Die gille wat dié twee manne gelos het toe die meisies koue water op hul heethoofdigheid uitgegooi het, was die naaste wat die piepende muise aan brullende leeus gekom het.

Kort daarna het “Captain Finkelstein” gearriveer – hartlik geluk, en baie welkom in ons midde “Captain”!

Baie dankie aan die eerste toeriste vir jul bydrae tot ‘n puik Sondagaandprogram.

Die O.K.B. en die res van die toergroep was ook besonder bevoorreg om dié aand te kon inskakel op ‘n geheime uitsending van Radio D.S.A., waarin besonderhede van persoon X van Reygerlaan 9, meegedeel is.

Maandag:
Stap vanaf Genadendal. Mooiweer en matig, met enkele miskolle in die oggend (Toemaar, ons skimp op niemand nie!). Sig swak (Adri, waar is jou veërs?), maar dit het later opgeklaar. Elsie, was jy nog Maandag ook in die knyp, of is jou noot maar so hoog as jy sing? In elk geval, ons het baie lekker gesing, en dit het die pad sommer baie korter gemaak. Met middagbroodtyd het ons uitkenningsparade gehou. Marietjie sê darem dat al vermom Riaan hom ook nou hóé goed, en al sê al die ander dat hy op ‘n druppel water soos Abel lyk, Riaan haar nie sal kan flous nie. Abel, sal jy dan dalk vir ons kan verduidelik hoe jou optrede teenoor Marietjie van Riaan s’n verskil, dat Marietjie so goed tussen jou en Riaan kon onderskei?

Ons het die middag reeds taamlik vroeg by ons kampplek aangekom, en nadat ons kakao gedrink het, het die ou toeriste die nodige konstruksies vir die wraak verrigtinge opgerig.

Alhoewel Christine haar darem ten minste op hierdie dag “stil” moes gedra, het sy alle perke van vermetelheid oorksrei toe sy reguit, sonder om te blik of te bloos, op die mans se badplek afgestorm het. Christine wat was jou waarnemings: blaar of blew? Sy sê dat dit die enigste keer was wat sy een van die brullende leeus met stomheid geslaan gesien het.

Die aand was dit weer eens ‘n onvergeetlike wraak, veral vir die eerste toeriste. Die arme Ben was toe voor die tyd só op sy senuwees dat hy sommer in die klas kamerverlaat het.

Met hekeltyd was daar ‘n baie interessante vraag aan Adri: Hoekom het hy vir hom ‘n snor laat groei? Adri se antwoord was dat hy dit lank voor die toer reeds laat groei het; en dat daar ‘n goeie rede agter die snor was. Ek stem 100% saam Adri – jy sit mos agter daardie snor! Later die aand het iemand gekla oor die teeblare, en het ons tot die besluit gekom dat Adri wel in die toekoms sy snor nuttig kon gebruik om die teeblare te sif.

Dinsdag:
Die oggend het ons in ‘n misreëntjie gestap, maar dit was toe lekker koel en het ons die steil bulte nie so erg gevoel nie. Net voor middagbroodtyd het ons op die Erasmusse se plaas aangekom. Tey-O verkies die BTK-meisies se “natural look” bo dié van ander meisies wat “swaar op Plascon” is. Die nuutgestigde L.S.K. het dan ook hier hul volkslied baie melodramaties aan die res van die groep bekend gemaak. Solank “love” net ‘n “beautiful song” bly, sal die L.S.K. lede nie moeilikheid met die D.S.A. lede optel nie. Dit is nogal opvallend om daaraan te dink dat die L.S.K. se liefde toe net tot die “beautiful song” beperk gebly het.

Dan wil ons ook net graag van George en Hettie weet: Wat se alleen-etery is dit in die stoor? En dit nogal droë bokkoms! Ons weet dat Hettie nou wel volgende jaar op Citrusdal gaan skoolhou, maar is dit nou regtig nodig om die saak so geheimsinnig te maak? Of was julle twee dalk bang dat as die ander julle bokkems sien eet julle kanse op ‘n skiet die aand nie baie goed sou wees nie?

Sakkie se skerp arendsoë is onderskat, en het die waryers dié dag nie vrygespring nie, met die gevolg dat Sakman die aand net “Aantree” kon skree, en die waryers tot dwangarbeid moes oorgaan. Die panne het glo nie één daarna weer so geblink nie. Ja-nee, dit lyk my as dit móét, kan Sakkie sy medemens tot groot dade aanspoor. Hou net die blinkkant bo!

Liewe tyd Jaap, wat het dan gebeur of wil jy hê moet gebeur dat jy dié aand so gretig was om vir Helen te skiet. Sówat van ‘n sprong toe dit nog net lyk asof Dolfie die fluitjie wil blaas het ek nog nie vantevore gesien nie. Dit is nogal eienaardig hoe vinnig party manne se reaksies op BTK toere kan word!

Tokkelokkie was wel later spyt dat hy nie maar die standbeeld-item tot op die einde help deurvoer het nie, want dit het daartoe gelei dat hy, nadat hy met die kokke klaar was, ‘n toonbeeld van die nuutste “wet look” was.

Woensdag:
Oorstaandag by Kaaimansgat. Dolfie het die oggend ‘n uitstappie na die Waterval gelei en ‘n paar het ook na die Stalle gegaan om die perde te gaan besigtig. Ja-nee, Dolfie moet maar sy twee donkies bring – hulle sal glo heelwat by hierdie perde kan leer. Nie dat ons dink jou donkies is onnosel nie, hoor, maar selfs ‘n donkie raak nooit te oud om te leer nie!

Christine het die sopkoking só geniet dat sy net nie die kookbroek wou uittrek nie. Dit is darem nie sommer elke eerste toeris wat bevoorreg is om ‘n kookbroek aan te trek nie. Sy kon haar darem ‘n oomblik van die kookvuur losskeur om saam met Riaan op die bootjie te gaan ry. Christine bly maar lief vir die naakte waarheid, want op die trippie van haar het sy weer ‘n paar haal voëltjies besigtig.

Die middag het ‘n stuk bui reën uitgesak, maar almal het so lekker gesing, dat hulle nie eers by “It ain’t gonna rain no more, no more” uitgekom het nie.

Nadat die reëntjie bedaar het, het ons die appelstoor besoek wat dan ook vrugbare dividende gelewer het waarmee ons ons innerlik versterk het. Ons het ook die koelstore besoek, en Hein sê dat ons dit dalk hier vir ‘n sleeplek kon bespreek, dis so lekker koud daar – wat het koue dan met ‘n lekker slee te doen Hein?

Die aand was dit natuurlik stew, stew en nogmaals stew. Sinoniem met stew is natuurlik komtee-items, of is dit nou komitee-item. En veronderstel dat die briefie se inhoud die D.S.A. se konstitusie was. Ja-nee, Tey-O, dit was seker skokkend! Na die walaaiers se item kon hul sleemaatjies hulle seker terugverwelkom met ‘n “Hartlik geluk en baie welkom!”

Donderdag:
Stap vanaf Kaaimansgat na die Tol. Ja-nee, daar was genoeg stof vir die studieveld (of is dit nou bosveld) boskultuur om ‘n doktorsgraad te behaal.

Met die lekker singery was die skrape en snye sommer gou vergete.

Die aand by die kampplek aangekom was dit ‘n vrolike reunie van Bethel, Bethel, Bethel en Bethel. Die komitee-items is voortgesit en Hoffie het die kokke behoorlik laat “afchop” met sy item. Dat Hoffie se grootte hierdie keer onderskat is kan gesien word in die huidige toestand van sommige kookysters. Hoe sê hulle nou weer? As ‘n mens nie slim is nie, moet jy sterk wees. Ons kan ‘n “version” maak wat meer op Hoffie van toepassing is: As ‘n mens nie groot is nie, moet jy swaar wees!

Dat sommige komitees se oorspronklikheid ‘n laagwatermerk bereik het, is duidelik te bespeur in die feit dat die plathonditem nou al vir ‘n komitee-item moet deurgaan. Die toenemende Engelse element se invloed op Stellenbosch is ook duidelik waarneembaar in hierdie item, want waar die hemel vroeër name soos “Wagter”, ensovoorts gehad het, is dit mos deesdae “Fido”.

Vrydag:
Waar dit die vorige dag bos-op-bos was, was dit nou vlei-op-vlei. Ons kan gerus die aanbeveling doen dat die elemente volgende keer meer eweredig versprei moet word oor die twee dae se stap. Skote Petoors! maar die aalwyne en sy verskillende spesies is darem maar mooi, of hoe?

Skiettyd is dié aand taamlik onverwags, maar Jan Bosch is gelukkig genoeg om vir Christine te skiet. Ou Jan jong, jy moet darem oppas, Christine is ‘n gevaarlike meisie, al is sy lid van die D.S.A. Jan sê hy gee nie om nie, en was tot “oor sy ore toe bly” om haar te skiet. Ek wil nou nie snaaks wees nie, maar dit is die eerste keer dat ek die uitdrukking “tot oor jou ore toe bly” is, hoor. Ek het dit nog altyd as tot “oor jou ore toe verlief” gehoor.

Baie dankie Sakkie vir jou gediggie, en in besonder vir die manier waarop jy dit voorgedra het. Dit is goed as ‘n mens jouself so kan inleef in jou kuns.

Saterdag:
En so breek die laaste dag van die toer aan. Die stap is pragtig en vorm die klimaks van hierdie heerlike toer. Foeitog, net die arme “ou krokke” sê die toer kon liewer “pyne-sonderend” genoem word. Om almal op hoogte van hul gesondheidstoestand te hou, is ‘n bulletin kort-kort uitgereik. Hoe later, hoe kwater, en hoe verder die dag se stap gevorder het, het groter die getalle van die ou krokke geword.

Middagbrood by Tweede Waterval, waar Bethel, Bethel en Bethel, weer by die geselskap aansluit. Voordat ons ons kom kry wat ons al weer op die wa luidkeels op pad terug na Stellenbosch. Ja-nee, wat kwel jy jou vriend oor ‘n “syfer van twee?” Kom sing saam oor lente en lewe!

By skuilhoek aangekom is die kiste en Annemarie toe gewas.

En so kom alle goeie dinge tot ‘n einde, en moet ons weer uitmekaarspat om te akademiseer.

Baie dankie maats vir ‘n baie lekker toer. Dit is hier op BTK wat ons leer wat ware vriendskap is. Dit is eers wanneer ‘n mens soggens in die berge wakker word en die sonopkoms dophou, dat ‘n mens saam met ‘n Dawid van ouds kan sê dat hy wat die Here vrees is “soos die môrelig by sonsopgang, ‘n môre sonder wolke as deur die glans ná die reën grasspruitjies uit die aarde kom” –
2 Sam 23:4.

Engela Heymann
(Sketsskryfster)

Leave a Reply