Koue-Bokkeveld April 1972

Donderdag:

“Ja ou maat dit was ‘n lekker toer
Ver getree en diep geslee.
Voeg die wraak en skiete by,
Ja ou maat dit was ‘n lekker toer.”

En met sulke hoë verwagtinge het ons begin toer – alle aaklige akademie vergete. Tradisionele BTK tyd is die bus hier weg met ‘n klomp wraakbeluste ou toeriste en ‘n hele klomp naamlerende eerste toeriste. Lekker gesing – maar daar teen die steil Dasklippas uit het dit al hoe stiller geraak – alle eer aan Beitel wat die DAF bestuur het. Dit was al donker toe ons Zuurvlak bereik en die klomp koningende waryers het die hongerige aankomelinge met heerlike wors en brood verwelkom.

Vrydag:
Ai, so ‘n eerste nat opstááán ……… klink darem maar wreed en dis nie juis maklik om jou uit so ‘n nat slaapsak te wikkel nie, maar teen die einde van Hannes se heil besonderse Goeie Vrydag sangdiens, het dit al mooi oopgetrek. En toe het al tagtig van ons die Bluebird bestyg oppad Vlermuisgrotte toe en al stotend en vallend en singend en vol blou kolle het ons begin stap.

Middagbrood was op ‘n lieflike plek, maar die steil bult daarna het ons uitgeblaas! Oppad terug het die marathon-manne die wa verlaat en kamp toe gehardloop – het hulle nou geoefen vir die Comrades of dalk vir sleetyd! So ‘n sug van verligting by die eerste toeriste as die spanning van die eerste ingrawery en skiete verby is en ons eet in die slees.

Saterdag:
Met pa Prieur vooraan het ons teen ‘n moordende pas deur die mooi wêreld begin stap – al die rotse, die prehistoriese diere en die Romeinse forums herinner ‘n mens baie aan die Sederberge. Die bult na ‘n heerlike middagbrood het maar geknor en laatmiddag was al wat toerlid was rasend bly toe die kamp in sig was.

“Old Macdonald had a farm, hia, hia ho!” Daar was darem duisende sware sugte toe ons hoor dat ons nie by Visgat kon kamp nie en sowaar die agt myl wat ons sou moes stap na ‘n ander kampplek het meer geklink na tagtig myl! En toe was dit net fantasties toe die Van Der Huffels ons toelaat om daar op hulle mooi grond te kamp. Dit was omtrent chaos toe ma Elsie die fluitjie blaas, maar ons meisies het darem baie wys geword uit Saterdagaand se hekeltyd. Dit is wel uiters raadsaam om Lip-Ice te gebruik as Gert Vrey jou sleemaatjie is en volgens Tokkelokkie klim en stap ‘n meisie soveel beter as sy verlief is.

Johan Melville het daardie dag wa gery en kon toe net nie wag om uit te vind of Elsa darem goed gestap het die dag.

Verder is Tertia ten volle onderrig in die kuns om nie tee op haar sleemaatjie se kombers uit te mors nie.

Sondag:
Heerlike laat slaap en ontbyt in die bed, ‘n lieflike diens deur Jurgens. Let wel die pens “choker” het solank die funksie vervul van ‘n predikant se boordjie. Toe laai die spanning darem op voor die gróót middagete van hoender en Elsa!

Jors en Frans Krige het agtergekom dis heerlik om die kosma se arms af te lek as dit vol Elsa is.

Baie versadig het ons geslaap en geswem en ‘n “Men’s Boutique” opgerig ter wille van die skoonheid van die manne se hare en baarde.

Met skiettyd het ons agtergekom hoe ‘n bekommerde buro Chris en Dorothy was – tevergeefs het hulle gesoek na die orige meisie wat nie ‘n sleemaatjie gehad het nie. Of miskien was dit ‘n man wat twee meisies geskiet het!

Maandag:
“Eine Seefahrt, die ist lustig,
Eine Seefahrt, die ist schön.”

Net in dié geval was die “grosse Fische” BT-Kaners gewapen met lilo’s en binnebande en dit was nou een groot fees van lieflike poele, rotswande, varings, disa’s én blou bibberende BT-Kaners en duisende blou kolle waar die stroomversnellings ons benerige skedels een oor was.

Menigmaal moes reddingsbote soos Tokkelokkie se Titanic aan hulpelose meisienoodkrete gehoor gee. Die slotte het middagbrood eers laat bereik en toe was dit nog ‘n lang “boulder-hopping” stap. En daar is Chris Dooner toe so “smart” dat Dorothy heeltemal been-af raak oor hom. Die laaste twaalf het toe ewe braaf en singend: Bobbejaan klim die berg ………. die berg in die donker aangedurf.

Ons was darem verlig toe Prieur en Abel ons kom haal en nege-uur het ons nog al koningende die kamp binnegekom. Na ‘n ernstige pleidooi van Tey-O waarin hy met groot erns verduidelik het dat die voorbereidings nie deeglik en betyds gedoen kon word nie, is die wraak uitgestel tot die volgende aand!

Dinsdag:
Dis oorstaandag met lekker swem, ‘n pragtige waterval en appels en appelkarretjies en natuurlik die voorbereidings vir die wraak.

Die aand het ons negentien kuiergaste – gelukkig is daar baie “stew”. En die aand toe die kokke en die oude dames uitkyk toe sleep hulle natuurlik die jong man uit! Maar sien die ouer oom was toe te sterk vir hulle. Jan Bosch was die aand in sy element met een van die meisiegaste as sleemaat. Sy bosboustudies sluit blykbaar wildbewaring en spesifiek jong bokkies in! Danksy die walaaiers se deeglike voorbereidings kon die eerste toeriste hul staal toon en verwelkom ons agt en twintig nuwes!

Woensdag:
Eers ‘n berg oor en toe ‘n heerlike rivierstap. Al swerwende het ons by ‘n laat middagbrood aangekom lááánk daarna toe kom daar so ‘n vreemde figuur aangestap in so ‘n blou sweetpakbroek en toe blyk dit ‘n baie benoude tannie Joan te wees wat net keer en sê: Ek het in die water geval, maar moet ‘seblief net nie vra hoe ek gehelp is nie. Maar sien toe kon ons nou nie help om Pierre Haumann se broek te herken nie. En toe na langelaas het Johann en Elsa opgedaag – skoen se punt se neusie ……….. Ons begin dink ons kan die skatkis rêrig maar herdoop na die sleepkis!

Woensdagaand het die manne darem gepomp vir damesskiet. Tokkelokkie was kompleet met strikdas en al om tannie Joan te imponeer.

En daar is dit toe nooit damesskiet nie – en chaos het geheers! In so ‘n sandslee was dit toe komitee-aaitems en daarby toe die onmisbare stofopskoppende motorfietse en Lizzie wat toe onderwags verjaar.

Sondagaand by die “mob” – kerk moes almal eenvoudig vir Jan komplimenteer op sy pak – al die wysigings en aanpassings was beslis ‘n sukses!

Pedro en Amigo – die leiers van die Meksikaanse walaaiers – het toe heel uitheems voorgekom. Neem kennis Tey-O. Sakkie sê: “The correct pronunciation is shat!”

Donderdag:
Drie “Hou Koers’e!” vir die walaaiers! Herstel: Drie hou koerse’e vir Stefan. Joe! Dit was darem maar aftjop teen daardie steil, droë bulte uit! “I want to teach the world to sing in perfect harmony” met baie groot verlange het ons darem gedink aan so ‘n blikkie Coke, of ‘n liter lemoensap of sommer net water! Noodgedwonge is die Safari Squad onder leiding van Tey-O en Tokkelokkie gesing met die kenwysie:
“Wish me luck as you wave me goodbye.”
en so het self die agterstes ‘n wonderlike, waterryke middagbrood bereik. En toe sê Sakkie nog dis so ‘n uur na ‘n uur en ‘n half se stap kamp toe. Ons moes darem geweet het Sakkie sal nie langer as vyf minute stap nie!

Rustig het ons kiste gewas en gebad en na ‘n spanningsvolle ingrawery was dit eindelik skiettyd. Die verloofde man, Abel, was blykbaar onder die indruk dis damesskiet, want hy het darem só moeite gedoen met sy voorkoms en daar rondgepronk soos ‘n pou. Baie aaitems en baie hekels en laat koffie en láát slee en volgens sekere gerugte het die houtkappers ‘n paar maats bygekry met al die vaak mense!

Vrydag:
En voor ons ons waar kom kry het ons onder wakker koorbegeleiding Porterville genader en was die toer verby! Daaraan moet ons nog toevoeg ‘n feestelike aand by tannie Joan aan huis en sommer ‘n driedubbele: “ Rooi en geel en groen Amara ……..” vir ma Elsie wat verloof geraak het.

En nou is dit ook iets van die verlede en dink ons terug aan die drie Wishies-Washies! vir die blikwassers, die koersvaste walaaiers, die láááng stappe, die blink water, die mooiwees (en dit sekondeer die tente-komitee!) en die wonderlike kameraadskap. Vir dit alles en nog meer kan ons met dankie sê aan ‘n Vader wat vir ons die jeug en die genot daarvan gee!

Esmé Brink
(Sketsskryfster)

Leave a Reply