Langeberge April 1973

30 Maart – 7 April 1973

A Chapter of Accidents

Vrydag:
Die beplanning was puik: 01:30nm, vertrek die wa en wanneer die bus dan laataand aankom, hoef die deksels nog net van die kospotte afgehaal te word. Maar daar is alweer ‘n skroef los êrens en op die ou end bedien die busryers aandbrood aan die waryers.

Saterdag:
Die ou slapie was maar kort, maar dis so ‘n mooi dag dat almal lus voel vir die eerste stap. Jurgens sorg dat ons nou darem nie te vinnig wegtrek nie. Sommer by die nabygeleë plaashuis al hou ons “smoke-break” en Jurgens gee ‘n omgewingsleerles. Dis ‘n pragtige wêreld: ons stap heuwellangs en deur plantasies – plek-plek herinner dit ons aan die prentjies wat ons al van Switserland gesien het. By Gatboskloof in Tradouwspas hou ons middagbrood, min wetende … Vandaar ‘n gemaklike stukkie padstap tot by Southey Arms waar die bus vir ons wag en ons neem na die kampplek net buitekant Suurbraak. Koeie skrik ons meisies nie af nie, veral as hulle dink aan skiettyd – die badpoele word druk besoek. ‘n Mens moet net versigtig wees dat jy nie op pad terug weer vuil word nie. Daar was blykbaar by party ‘n bietjie twyfel oor die mans se pogings in daardie rigting – hoe anders is Charlotte en Alida se skoonmakery met sleetyd te verklaar?

Sondag:
Ons woon die diens van die Buffeljagsrivier-gemeente by, sommer as koor ook. Na die diens geniet almal koek en tee, en hou gelukkig matigheid voor oë, want hoender en Elsa de Lux lê nog voor. In die tussentyd het ‘n klein dramatjie hom afgespeel: ‘n Leër mans betrek die dameskamp om die meisies teen ‘n yslike boomslang te beskerm. Chris slaan op die ou end dood en sleep weg. Wilna en Janie bewys die laaste eer met ‘n grafskriffie aan “die een, die de meisies op hol had”.

Sleetyd is rustig – oom Theo het vir Charlotte geskiet. Die toer het klaarblyklik opvoedkundige doelstellings ook: hierdie keer is dit oom Theo met ‘n fisikales. Ons hoor onder andere tot ons groot verligting dat chaos ‘n wetmatige natuurtoestand is, niks om oor sleg te voel nie. Met die oog op die volgende dae bowendien profetiese woorde.

Maandag:
Dis padstap en ons gesels en sing lekker. Maar so nou en dan gaan die pad oor die rivier en die helpende hande wat uitgesteek word, blyk nie altyd so ferm te wees nie – of is daar dalk ‘n vleiender verklaring, oom Gys? Een van die boere langs die pad wonder seker nou nog wat sy wa getref het. Ag nou ja, ons het lekker “sports” gemaak. Ons kom in helder sonskyn by die groot opgaardam, ons middagbroodplek, aan. Teen die tyd dat ons loop, lyk dit heel anders en ons is nog nie lank by die kampplek op die Swellendamse bosboustasie nie, toe begin dit reën. Ons eet nog buite, maar selfs BTK-optimisme het perke en tentslee is ons voorland. Koos Eksteen se mense kuier die aand by ons – Francois se “items” en hulle reaksie is net nie in woorde weer te gee nie. Intussen sous dit aanmekaar en die eerste toeriste se benoudheid styg. Ai, hoe lekker droog en gesellig was die tente nie daarna nie.

Moenie dink dit was die einde van die groot dinge nie. Die nag word Huis Losbos, kompleet met primarius, huiskomitee, huislied en kreet, gebore.

Dinsdag:
Reën, reën, reën. En Willem lees uit Gen. 6:7. Die opskrif: Die Sondvloed. Maar dis ook ‘n groot dag in die BTK se lewe: ons eerste eie outomatiese pouhok. Net jammer die bruisende rivier maak dit ‘n bietjie moeilik om te gebruik.

Dis veronderstel om ‘n oorstaandag te wees, maar dis ‘n heen-en-weer geskarrel om kamp te verskuif. Party bly rustig in die tente agter, party ry wa, ander stap, maar uiteindelik is ons darem almal teen vyfuur die middag in die Streichers se skuur. Met ‘n tentatiewe skeidslyn tussen mans- en dameskamp begin ons onsself gerieflik maak. Melktyd is daar groot opgewondenheid, veral toe Loekie plegtig by ‘n bul plaasneem.

Chris is die aand omtrent uitgevat – die ander bestuurslede probeer ook goed lyk, maar wat, hulle kan nie by daardie vloothouding kers vashou nie. Nou wonder ons net, was dit voor of na Esmé hom geskiet het dat hy so ‘n metamorfose ondergaan het.

Woensdag:
Die son skyn en almal storm die rivier – dit bly maar waar: geen vir ‘n BT-Kaner ‘n wasplek en hy, of dan veral sy, is gelukkig. Teen halftien stap ons Swellendam toe en besoek die baie interessante museum. Die kafees kry nie minder aftrek nie, wie weet, dalk selfs meer.

Die middag gaan die tentekomitee en “volunteers” tente opslaan en daarna maak hulle ‘n kort uitstappie watervalle toe om darem nie heeltemal die stapkuns te verleer nie.

Dis nog steeds swaar bewolk, maar ons besluit om maar reg te maak vir die rugsakstap praat van chaos. Die aand is dit komitee-“items”. Tineke raak skoon verdwaal in die bos, en dis op die ou end die tentekomitee se bus wat met die kondens wegry.

Donderdag:
Jurgens sê halfses, Abel hou vol dit was twee-uur. In elk geval, dis nog ver van lig toe die plastieksakkies begin kraak soos ons klaarmaak vir die rugsakstap. En toe is dit alles puur verniet. Nadat Jurgens van besluite neem en weer verander sekerlik ‘n paar grys hare bygekry het, word die toerplan verander. Ons ry per bus tot by Southey Arms en begin vandaar deur Tradouwspas stap: onder ons die rivier met sy poele en pragtige plantegroei en bo ons die wisselende rotsformasies soos ons van die Swellendamkant na die Karookant van die berg beweeg.

Toe ons drie-uur se kant by die Eksteens aankom, besluit hulle dis teetyd. En nie sommerso nie! Daar’s koek en beskuit vir almal en met die wegstap kan ons soveel droëperskes neem dat daar die aand ‘n hele kooksel is om ons rugsakete mee op te vrolik.

Ons nuwe kampplek is oom Gys en tannie Magriet se plasie, Weltevreden – voorwaar ‘n gepaste naam. Dis heerlik om weer spasie te hê en ‘n oop hemel te sien, om van die geriewe nie eers te praat nie. Laat die nag jaag ‘n paar Karoodruppels die meisies sowaar die skrik op die lyf – almal raap wat beddegoed op en in ‘n oogwink het ‘n grootskaalse kampverskuiwing die huis in plaasgevind.

Vrydag:
Dit was net ‘n skrikmakertjie. Die berge is pragtig oop en ons gaan Misty Point klim. Ons ry per bus na Goede Hoop en stap vandaar met ‘n breë bosboupaadjie halfpad boontoe. Party van ons is maar skrikkerig vir die klimmery, maar dis ‘n geleidelike helling tot bo en Misty Point word ‘n hoogtepunt van die toer. Aan die Swellendamkant is daar die pragtige diep groen klowe en ‘n uitsig tot by die see, aan die Karookant het ons ‘n vergesig tot by die Bolandse berge.

Terug by die kampplek wag daar ‘n groot verrassing. Die tuisblyers het kiste en blikke gewas, alles wat te bedink is netjies gemaak. Kosma raak skoon in vervoering – Chris het selfs gesorg vir poeding. Om die kampvuur sê ons dankie en tot siens aan oom Gys en tannie Magriet. Daarna word geslee, sal ons maar sê om te vergoed vir al die tent- en skuurslees.

Saterdag:
Die bus vertrek weer eerste, maar hierdie keer is die bordjies verhang. Kort duskant Worcester, so teen halftwaalf, hoor ons net klap- en roggelgeluide en die bus is moeg, heeltemal moeg. Die bus staan nog skaars, toe is Roelof op pad agter die wa aan. En die groot wag het begin. Toe Chris en Roelof terugkom, word planne gemaak vir middagbrood en ons wag nog.

Middagbrood verby, en ons wag. Eindelik, kort na halfvyf, kom die nuwe bus aan. En nog is dit het einde niet. Tien volle minute sit almal opgesaal en wag: Hanna het ‘n onvindbare plek vir haar middagslapie gekry. Was dit nou maar net sy, maar toe gaan staan en sleep sy Emil saam – skandalige bestuurslid!

Die res van die reis verloop sonder voorval en kort na sewe-uur kom ons veilig op Stellenbosch aan, waar skoongeskeerde, blinkgewaste, netjies aangetrekte waryers ons inwag.

Dit was ‘n goeie toer, al het dit nie altyd volgens plan gegaan nie. Ons is dankbaar vir die beskermende hand van ons Hemelse Vader wat in dit alles met ons was.

Hanna McLachlan
(Sketsskryfster)

You must be logged in to post a comment