Tsitsikama Gala 1973

23 November – 1 Desember 1973

Die liedjie sê mos:

“Waar die see se branders skuimend
teen die hoë rotse slaan,
In die maan se silwer skynsel,
sal die BT-Kaners gaan.”

Ons hét ook in die maanlig die wa bestyg – 05:05vm. Vrydagoggend. Maar selfs dít kon nie afbreuk doen aan die na-eksamen vakansiegees wat onder die klompie waryers geheers het nie. Met Roelof aan die stuur is ons gou op Kylemore waar Sam oorneem. Ten spyte van die petrolkrisis was ons gou op Swellendam. Vandaar vorder ons vinnig tot op George waar die massas en massas groente wat opgelaai word, ‘n eienaardige “leemte aan spasie” laat ontstaan. Ons is vroeg op Keurboomstrand en spoedig is die wa afgelaai, die kostent staangemaak en vier ons Deon se “geheimgehoude” verjaarsdag met ‘n waatlemoen. Die poging deur die manne aangewend om die meisies te besmeer loop gelukkig op ‘n mislukking – of is dit nou ‘n harde val uit! Die warm storte maak ons “slaggereed” vir die koms van die bus.

Die bus daag net voor donker op – nadat hulle die oggend al ‘n ekstra uur buite Swellendam verwyl het in ‘n “gebroke” bus. Vir die eerste toeriste ‘n gulde geleentheid om die duisternis nuwe name te leer ken. Die gekoning verloop taamlik jolig want met almal bymekaar is almal dit eens dat Gala ’73 begin het.

Die rustigheid voor ete was ook iets van die verlede met Coert en Esté – en natuurlik ook Kandas – se aankoms. Na ete was dit die BT-Kaners se sang gemeng met die gedreun van die branders wat die lug gevul het. Na ‘n lang stap op die fosforbelaaide strand is dit heerlik om met die geluid van aanrollende branders in ons ore aan die slaap te raak.

Vyfuur Saterdagoggend begin sommige mense en dinge al te woel: die papkokers en die plastieksakkies. Almal word egter finaal uit die slaap geruk deur Jan en sy gevolg se wrede Op…….staan!! Ons is tjop-tjop klaar en sing heerlik saam terwyl die walaaiers die wa laai. Hulle was egter nie koersvas genoeg nie en moet aangehelp word deur ‘n paar dames vol planne!

Ons val vroeg in die pad en begin alreeds ‘n voorsmakie kry van al die lekker wat nog op ons wag. Dis drukkend warm maar heerlik om weer te gala en die lang treintjie van kakie en rooi oor die bultjies te sien gaan. Ons vorder gemaklik oor die “vuisgrootte” klippe en die hier-en-daar sandstrandjies. Die slot en sy aanhangers hou hul soveelste “smoke-break” en na ‘n paar inspannende klipoefeninge deel hy ons mee dat die liewe slotkis gesluit is en dat die sleutel weg is. Volgens Adri ‘n baie eenvoudige probleem vir hom om op te los. Al wat hy benodig is ‘n lekker groot klip!!

By die eerste amptelike “smoke-break” word Jan se geheue deeglik getoets – hy onthou byna al negentig se name. Rasend honger kom ons by die riviermond aan en middagbrood is behoorlik ‘n lafenis na die koue swem. Selfs die brak “seconds” koeldrank verdwyn vinnig.

Die reën bly egter nie weg nie en dis ‘n vaal Nature’s Valley wat ons begroet. Die tentekomitee het ‘n goeie konvenor en al die tente word opgeslaan – selfs ‘n spesiale tentjie vir drie eerste toeriste. Tóé het hulle nog nie geweet nie! Met die lekkende dak is tentslee ons voorland en die damestente – soos gewoonlik -ondergaan ‘n algehele gedaanteverwisseling. Die aaitems word in triplikaat gedoen om almal tevrede te stel, maar nogtans verloop die aand rustig.

Die uitkenningparade wat volg stel wrede eise aan die senuwees van die eerste toeriste en gee hulle ‘n goeie voorsmakie van die WRAAK! Willem slaag amper daarin om hom toe te spin in Tertia se wit lokke – ongelukkig word hy verraai deur sy swart stoppels. Hekeltyd word ongelukkig nie in triplikaat gedoen nie – die gevolg: ‘n baie rustige tydjie. Die manne verwyder hul karkasse eers na tannie Magriet se soveelste “Nag Manne”.

Die belofte van feetjies en kaboutertjies wat koffie en beskuit sou bring was net halfpad waar, want die pragtige Sondag word begroet deur die geruis van plastieksakkies. Vir die meisies was dit toe maar “self-service” by die goed ingerigte kombuis.

Onder die bome luister ons na oom Gys se inspirerende boodskap. Die dag se vreugde word aangevul deur ‘n uitstappie in die pragtige woude – boom nommer 708 geniet spesiale aandag!

Die heerlike middagete verloop spannend – alhoewel Elsa de Luxe nog voorlê kry die hoender nie min aftrek nie. Die kosbare Elsa gaan byna verlore in die stormloop. Met apologie aan Steven, dit was inderdaad “smaak so lekker”! Lê-lê begin ons dan ook sing en Esté vul die rustige sang aan met haar ukelele – ás sy nie soos ‘n dieselenjin te kere gegaan het nie. Hoe later hoe vaker – toe Emile dan ook later die inhoudsopgawe wil begin sing verkeer almal al horisontaal.

Skiettyd laat die senuwees die hoogte inskiet. Met Jan uithuisig speel Roelof en Kabouter kat en muis met die fluitjie – met die gevolg dat damesskiet almal onverhoeds vang. Chaos, chaos! Ons kosma met haar “romantiese neigings” op ‘n Sondagaand. Na ete lees Marius en Koos aan die geesdriftige gehoor uitputtende “Pink Panther” stories voor. Vir sulke puik aanmoediging het die gehoor ‘n kondens verdien! Coert se interessante praatjie word onderbreek deur die luide aankoms van die koorlede en nog laatkommers – Proppie, Tey-O, Moppie, Stephan en Petrus. Die rusdag nader sy einde en Emile sluit af met godsdiens. Voordat “Nag Dames” slapenstyd aankondig soek die psalmgesang swewend die stilte van die nag op.

Sonder die geskal van ‘n wekker om jou te herinner aan ‘n agtuurklas begin Maandagoggend met die gebruiklike vroeë gevroetel en byklanke. Dit was ‘n kommerlose, sonnige dag vir die ou toeriste, maar vir die nuwe toeriste het die dag van kwarantynskap aangebreek. Die manne begin vroeg reeds uitkyk en gedienstig en gedwee tou hulle agter Hein aan. Min wetende!

Die heel laaste sandstrand kort anderkant Nature’s Valley kry lewe en die see loop oor van die swemmende en plassende massas. Ons loop onder pragtige bome, afgewissel deur die klipstrandjies. Die drukkende hitte laat ons kort-kort lafenis soek in die koel water. Energiek en versadig na ‘n lang middagbrood is die yslike bult vir ons poeding. Bo verwonder ons ons vir die soveelste maal aan die asemrowende kranse, die reuse skuimwit branders wat hulself te pletter loop teen die ruwe kus en die eensame gefladder van ‘n seemeeu. Ons rus vir oulaas op ‘n klipstrandjie voordat die lang swaarkry na Marine Drive aangedurf word. In die bloedige hitte is almal bewus van wat bo op ons wag – geen water vir die waterliefhebbendes, net ‘n waterkar vir die droë kele en die kos wat moet gaar kom.

Die pragtige uitsig alleen het die geswoeg die moeite werd gemaak! Selfs die ete word onderbreek om die mooi sonsondergang te aanskou. Dis ‘n heerlike WRAAK aand. Die oorblyfsels van die aandete word goed gebruik in Roelof se grusame brousel. Tey-O en sy makkers had die eerste toeriste heeltemaal op hol met hul galg. Oor die WRAAK self swyg ons maar – ons hoop net Japie het al opgehou hardloop. Saamgehurk om die kampvuur kom dan ook Jan se sonderlinge versoek om asseblief soggens later te slaap.

Toe ons dan ook Dinsdag teen ‘n redelike uur ontwaak, waai daar ‘n koue windjie en grys wolke versier die hemelruim. Dis Gerrie se verjaarsdag en nadat die “queue” by hom verby is pak die dames die sangbundel en alle “kanonagtige” liedjies word meesterlik uitgevoer. Na vyftig minute se stap bereik ons die riviermonding – en dit wás ‘n koue swem in die vroeë môre. Die kampverdeling was reeds in volle swang toe Ursula haar verskyning maak – reg bo-kant die mans kwartiere. Volgens hulle probeer sy nie eens om weg te kyk nie!

Ons kom weer uit op ‘n mooi oop rug bokant die see, met ‘n pragtige uitsig oor die pad wat ons gekom het, en dit wat nog voorlê: ruwe hooglande, helder inhamme en ‘n bleek, gladde see wat oorgaan in massiewe skuimwit branders teen die kus. In Wit-Elskloof hou ons ‘n lekker lang middagbrood.

Die aand kamp ons op Oakhurst en gelukkig vir die tentekomitee is daar genoeg onderdak toe die eerste reën uitsak. Voor ete beloer die mokkels van ‘n klomp stokers en kokke die singendes -en ingrawendes – deur die ogiesdraaddeure en ry baie se voorgenome planne in die wiele!

Ons slee in lae in die mans se “dormitory” en dis ‘n aand van “well” aaitems. Met Esté en Mokkeltjie in die voorste gestoeltes is alles onder beheer, maar agterlangs….! Bob Foster en Pierre Fourie lewer ‘n hele vier dae voor die groot geveg ‘n spesiale vertoning. Alhoewel Tey-O twee keer langer is as Hoffie en Tey-O telkens los bo-oor Hoffie spring, tree Hoffie (alias Pierre) as die oorwinnaar uit die kryt. Emile had een en almal in vervoering met sy stil aaitem en Willem bevind hom later in ‘n sogenaamde “speneergrip” waaruit hy met moeite bevry word. “Boswill en Wilkie” se eie Koos bewys dat hy nie noodwendig sy sitvlak nodig het om op ‘n kis te sit nie – sy arms kan hy net so goed gebruik. Die teendeel word volmaak gedemonstreer deur Marina.

Woensdag is oorstaandag en terwyl die sonnetjie telkens deur die wolke breek stap ons na die bosboustasie Lottering waar ‘n bosbouer-omie ons die digte bosse in neem na ‘n yslike hol geelhoutboom. Een vir een kruip ons in en in die lig van die flitslig sien ons ‘n vlermuisie ver bo ronddraai. Die oom vertel ons meer van die ou boom wat hyself ontdek het en hoe daar vroeër jare by die saagmeulens gewerk is. Jan smeek hom byna om ons tog net weer uit die oerwoud te bevry. Op Coldstream bly die poskantoor en kontantwinkel bedrywig totdat ons die lang pad Oakhurst toe aanpak waar die son groot aftrek kry. Ons bring die middag op ons eie manier deur – sommige dames besoek Lisbeth se haarsalon en hier en daar was darem ‘n groepie wat komitee-aaitems geoefen het, met skaterlagte wat ‘n aanduiding gegee het van die hoë gehalte wat verwag kan word.

Die aand se “stew” was koninklik. Die talle panliedere het dan ook verkondig dat die kokke se poging nie vergeefs was nie; onder andere die volgende:
1. Hallo Pan,
Ba-bye stew,
Ba-bye rys,
We’re going to eat you now. (2)

2. There goes the stew down in my throat,
we smell the onions – oh yes we do!
We seek for stewbones right in the meat,
and now we’re going to eat the stew!

Na aandete is daar ‘n woeste gemaal en geskarrel soos daar Volkspelerwys geskoffel word en die chaos word verdaag tot Donderdagaand. Die pragtige sonsondergang is weer deeglik onder die etendes se aandag gebring – met verwysings en herverwysings!

Die aaitems was toe ook van ‘n hoë gehalte. Die kondenswenner van die aand was egter die kokke en stokers se “Koue Bloed in die Stroom” – aangebied deur die Coldstream Floperagroep. Skoonma se rol word meesterlik deur Elric vertolk en hy sing dat hoor en sien vergaan. Ons sluit af en word aangeraai om maar vroeg te gaan slaap vir Donderdag se stap na Stormsriviermond.

Ons staan dan ook sesuur op om betyds te weer vir Tey-O en sy walaaiers. Die tentekomitee is egter ‘n bietjie vertraag weens die groot waglys by die moderne pouhok langs die hoofpad. Tydens ontbyt loop Esté weer oor van komplimente – Emile word beskryf as ‘n “puik varkie” en Elric as tog “so dik en dom”. Na Esté en haar “joedelgroep” se kenmerkende “joedel-groet” veroorsaak ‘n blinkgeskeerde, vertrekkende Gerhard dan ook dat sommige dames ongevraagd by hom gaan “queue”.

Ons kruis drie riviere en dit verloop heeltemaal droog van lyf. Middagbrood langs die malende Kleinbosrivier het ‘n paar slagoffers geeïs wat nie uit eie vrye wil die koue water wou trotseer nie. Die vretende honger veroorsaak dan ook dat die floppie-eters in hul doel misluk – blikke was is dan ook hulle voorland.

Die laaste stukkie na Stormsrivier loop ons naby die see oor die rotse. Die pragtige waterval met sy groot bierpoel skuim wat in die see stort maak dit traag vir ons om die heel laaste stukkie van die toer kamp toe aan te pak. Ons talm al langer om nog vir oulaas al die prag herinnerings in te drink, en bo verwagting het die voorstes nog die krag om dit in rekordtyd af te lê en boonop nog vir Esté en Kandas te koning.

Die groot lus na kafeekos laat die restaurant spoedig verander in ‘n miernes – al singende en teleurgesteld oor die afwesigheid van roomys.

Ons eet laat ná ‘n spannende ingrawery en tienuur klim ons in die slee’s – en wat ‘n fees van ‘n sleeplek! Die harde gedreun van die branders bring al hoe meer die besef dat die toer ook al sy einde nader. Dis nie eintlik ‘n aand vir aaitems nie. Die klomp uitslepers gebruik hul laaste greintjie krag om vir Tey-O uit te sleep langs Marguerite.

Laataand word die skatkis van BTK-tradisies oopgesluit en die kys-formulier word gelees deur ds Emile. Die agt gevalle BT-Kaners wat daardeur gegaan het: Jan, en Tineke, Hoffie en Annamarie, Emile en Hanna en Roelof en Ina bring weer die besef: Ja, nee, net voor solang het duren willen nê!

Vrydagoggend begin rustig en na ‘n tydsame oggendete vertrek ‘n swaar gelaaide wa na die ou Stormsrivierpas. Op Roelof se versoek – teen 5c per persoon ekstra – neem Sam ons na die asemrowende Stormsrivierbrug. Daarna stap ons ‘n ent deur die pragtige ou pas. Sam laai ons later weer op en aan die bo-punt van die Uitkyk-trail laai hy ons af. Met ‘n mooi uitsig oor Stormsriviermond daal ons af na die hangbrug wat enigeen se hartklop sal laat versnel. Na ‘n besoek aan ‘n strandlopergrot sak die eerste reëndruppels bo verwagting uit. Met deurweekte voorpante bereik ons die triestige kampplek. Die groot nat laat ons daar en dan besluit om op te pak. Na ‘n laat middagbrood en ‘n uiters vroeë aandete – om presies te wees 04:15nm – is ons ook spoedig opgepak en gereed om te vertrek. Dis ‘n hartseer klomp wat van mekaar afskeid moet neem om die vuur en ook van agt-en-twintig BTK-maats vir wie die as van verlate kampvure ook nou meer geword het as die vure wat nog voorlê.

Op tradisionele wyse vuurpyl ons vir kosma Esmé en sy gee die leisels oor aan Tineke. Die sonderlinge afskeid en loodswaar harte ten spyt het dit nogtans ‘n afskeid gemaak om nog lank te onthou.

Die senutergende rit teen die seepgladde, bemodderde pas uit word meesterlik oorwin deur Hennie, Sam en mannekrag – maar nog was dit einde uit! Die dood eenvoudige busvenster kon Stephan se gewig nie weerstaan nie, en groot was sy verbasing toe hy met venster en al langs die pad bly staan! Paula het ook glad nie bedroë daarvan afgekom toe sy uit die bewegende bus gespring het nie!

Met jolige sang maar met die vuur van die toer reeds verstreke bereik ons ou Stellenbosch vroeg Saterdagoggend.

Met harte vol dankbaarheid oor ‘n wonderlike toer en met dank teenoor die Skepper van alles is Skuilhoek spoedig netjies en verdwyn ons een-een. Miskien na ‘n mistroostige koshuiskamer – miskien na die uithoeke van ons land. Maar met gedagtes terug aan ‘n wonderlike toer; groot etes; die lekker saamsing; plaende bosluise; rooi-neuse; die lekker reën en les bes die nuwe vriendskapsbande wat gesluit is.

“… Maar ons kom terug na Matieland,
net om te BTK.”

Sarina du Plessis
(Sketsskryfster)

You must be logged in to post a comment