Visrivier Canyons Julie 1975

Dit was moeilike tye – die keer toe die BTK die Canyons wou gaan stap. Maar wat, nie te lank na die bestemde tyd nie, was ons bussie gelaai en het ons die lang dag gevat.

Roelof het uitgevind (op die moeilike manier) dat dit beter sou wees om nie op jou geboortedag te verjaar nie. Dit het darem ook sy voordele – van na Van Rhynsdorp kon hy nie meer bestuur nie, want hy móés eenvoudig eers sy “Bollie” lees.

Die busryery is verder gekenmerk deur lang queues en ongeduldige manne. Ons wonder ook of Springbok se polisiemag al herstel het van die skok toe ‘n groep koningende BT-Kaners hulle in die middel van die nag getref het.

Sondag:
Die fyn sekelmaantjie was nog baie duidelik in die donker nag toe ons op ‘n plaas aanland vir ontbyt. Almal het maar sleg gevoel na die nag se min slaap, maar met ‘n koppie koffie en ‘n bord van die Canyon-special, muesli, om ons van binne, in die Suidwes-son om ons van buite te verwarm, het die lewe anders gelyk.

Ons het ons verwonder aan die interessantheid en andersheid van die klipkoppies en -rantjies om ons, en toe ons die eerste keer die ongelooflike gesig kry van die groot skeur in die aarde, moes die bus summier gestop word vir foto’s. (‘n Ander nood-stop is gedoen om Roelof se kosbare fudge van verplettering deur die koppelaar te red!).

By die uitkykpunt het die meisies agter die bus aangetrek – gelukkig is Japie ‘n ou BT-Kaner en swot hy boonop Medies! Daarna is die groepe se kos uitgedeel en het ons almal ontsaglike bewondering gekry vir Kosma Sarina wat alles so fantasties georganiseer het – daar was net niks verkeerd nie. Die eerste skok het gekom toe die rugsakke geweeg is. Almal het toe fronsend gestaan en dink: “Wat kon ek dan nog laat bly het?”

Die hele tyd deur het die Canyon steeds groot en magtig vir ons lê en loer, en met die swaar rugsakke ongewoond op die skouers, was ons moed baie laag in ons stewels toe ons met onseker voete die vreeslike steiltes af is.

Almal was dankbaar om onder te kom en op die wit sand langs die groen water van die Visrivier “uit te paas”. Die water was ongelukkig net te veel en te naby, en dit was nie lank nie, of arme onskuldige ek het met klere en al daarin beland.

Teen drie-uur is ‘n laat middagete genuttig en daarna het die meeste ‘n vergeefse poging aangewend om te slaap. Die een goeie ding wat die middag gebeur het, is dat die groep van sedelike verval gered is deurdat Boeka se broek se slip toegewerk is.

Met Jurgens-hulle se aankoms kort ná donker, was al sewentig eindelik bymekaar – tot Reinholdt se vreugde. Sleetyd was chaoties totdat almal plek gekry het, en daarna het die vaak oorgeneem. Oom Tjaain het ‘n stuk gelees uit “Witwater se Mense” en is daarna gehekel hoeveel van sy 28kg boeke is.

Nadat oom Gys die dag afgesluit het met aandgodsdiens, het almal redelik gou hulle slaapplekke opgesoek.

Maandag:
Die dames het by die vuur geslaap en vir die ongerief van ‘n papkokery in hulle slaapkamer, is hulle darem vergoed met rooibostee. Dat die meeste van die papkokers maar onervare was, het duidelik geblyk uit Gottlieb se benoude aankondiging: “Haai, pasop – my pap skiet!” Diegene wat traag was om te kom eet, het nie bedroë daarvan afgekom nie – inteendeel!

Die dag se stap was moeilik, want die rugsakke was maar swaar en ons balans nog nie lekker nie, maar ‘n mens kon jou so verwonder aan die kranse bo jou en die skoonheid van die Visrivier gedurig hier langs jou, dat die moeilik ook nie regtig moeilik was nie.

By elke “smoke-break” is daar aangedring op ‘n speletjie deur dié wat die Game moes dra, terwyl diegene wat dadels moes dra, weer net afsprake wou maak!

Tydens voorstellingsparade was daar skielik ‘n paar interessante persoonlikhede in die groep soos Anneline Kriel, oom Muis Giller, Dirk van Paradys en natuurlik Groot-bek Tek. Gerhard het ook uitgevind dat mens liefs nie moet spog op jou inskrywingsvorm nie – hy is aangekondig as “Gerhard Wagverdomp Roux – Ek is ‘n busbestuurder!!!”

By middagbrood het sommige vrygewillig en Tekkies teen sy sin geswem. Daarna het ons gestap tot by die Swaelbronne en toe net anderkant gekamp. Die manne het heerlike warm modderbaddens geneem terwyl die meisies alle beskikbare verbeeldingskrag ingespan het om hulleself te oortuig dat die water so kort onder die Bronne eenvoudig warm móét wees. Jurgens, weer, was vas oortuig dat dit sinneloos sou wees om te bad, aangesien Hans nie die verskil kon ruik tussen vuil kom en skoon Adri nie.

Roelof se fluitjie het die meeste meisies nog in die dameskamp betrap, en chaos het geheers toe die manne storm. Dié aand het almal lekker geëet en poeding gedrink.

‘n Geniepsige windjie het gou van elke slee ‘n mini-Sahara gemaak. Die wolke het bo ons toegemaak – asof die Canyon wou sorg dat niemand van buite kon sien wat hier diep in sy binneste gebeur nie. Die eerste toeriste onder leiding van Jacques het hulle bes probeer om hulle aaitems te lewer tussen die wind, sand en vallende druppels deur. Om alles te kroon is hulle ook nog soms deur swerms voëls uit die slees ontwrig. Tydens die uitkenningsparade het die nuwe tweeling, Eugene en Breda, met die lieftallige Georgina tussen hulle, die meeste probleme opgelewer.

Later het dit regtig hard begin reën en nadat alles verby was, het ons om die vuur sit en tee drink – nie lus vir die gesukkel om in die reën te gaan slaap nie. Uiteindelik het almal egter moedeloos maar gaan inkruip – en alles moontlik probeer om die reën buite en die warmte binne te hou. Sarina het die hele nag met haar arms buite die slaapsak gelê om haar grondseil styfgespan te hou. Dit het so kwaai gereën dat selfs die beste verbeelding ons nie droog kon verbeel nie.

Dinsdag:
As ‘n mens so nat en bevrore wakker word, voel jy om aanmekaar net te sê: “Een, twee, drie, dis ‘n puffel oggend dié.” Maar toe ons eers op is en die son begin skyn, kon ons dankbaar wees vir ‘n pragtige oggend en ‘n skoongewaste Canyon.

Die Canyons het plek-plek wyd oopgemaak, en as mens dan alleen gestap het, is jy aangegryp deur die oorheersende gevoel van eensaamheid en verlatenheid. En altyd was daar, hoog teen die blou luglyn, rotsformasies, soos beeldhouwerke wat deur die eeue heen deur ‘n Meesterhand daar uitgekap is.

Ons het vroeg by die kampplek aangekom. Terwyl daar gesellig kos gemaak is, het Eugene en Breda, die mees aktiewe lede van SLAK (Stywe Lyne Angling Klub) oorbevolking onder die Visrivier se geelvisse teengewerk.

Dié aand was dit dameskiet, en Adri was blykbaar so lank uit die BTK dat hy heeltemal uit voeling is – hy skiet toe sommer! Tydens ete doen Eugene se groep die Pink Panther-dans ter ere van die pienk marshmallows in die poeding.

Die hoof-aaitem op die aand se program, voorafgegaan deur Jurgens wat ietwat probleme met ‘n sekere kledingstuk gehad het, was die eerste (en laaste) episode van Swael Burger en die Rif van die Visrivier. Die twee boewe was Af en Tjop (Sterretjie en Eugene) en Koos (Japie) was ook daar met:
“Ek sal die tou wat sy strot omknel
met een kragtige hou afhel!”

Die stuk is natuurlik aangebied deur die Namibië Amateur Teatergroep (NAT) oftewel Suidwes Amateur Produksies (SAP) oftewel Herero Nasionale Produksies (HNP), later ook uitgebrei tot die Primitiewe Rehoboth Opvoerings Geselskap (PROG).

Woensdag:
Ons is kort ná middernag gewek en het nog in die halfdonker staan en kyk hoe die papkokers sukkel met die drie minute-kitspap – as dit glo sekondes te kort of te lank kook, word dit óf tameletjie óf sement.

Na ontbyt verbaas Roelof ons almal met ‘n ongewone “Hurry, hurry – ons stap oor ‘n halfuur!” Dit was ‘n mooi stap en die weerkaatsings in die lang blink poele, sowel as die klaende opstyg van die bergganse uit die riete, het almal aangegryp.

Die halfuur van die oggend was blykbaar vir Groep 3 nie genoeg nie, want hulle tande is eers heelwat later die dag in ‘n gemeenskaplike poging geborsel.

Nadat ons oor die nekkie gestap het (en skielik baie dankbaar was dat water net afdraand kan loop) het ons by die graf van Oberleutnant Thilo von Trotha gekom. Terwyl ons stilweg gewonder het oor die verhaal agter die eensame graf, was daar ook diegene wat onstigtelik wou weet of die gef. vir “gefrokken” staan.

Lank na die ander het Groep 4 van die middagbrood-plek vertrek. Al wat oorgebly het, was ‘n tweede graf met vyf visgeraamtes daarin (gebraten und gefressen 09.06.75).

Met die Vier Vingers nog elke keer daar as ‘n mens omkyk, was dit tog duidelik dat ons nader aan die beskawing beweeg – donkies, jeepspore en ‘n murasie met Piet Diener se verrassing.

Ons het ‘n heerlike kampplek met lekker badplek gehad. Tydens skiettyd het Adri, Hein, Jurgens en Roelof groot indruk gemaak met hulle netjiese dasse en strikdasse – ons hoop net Roelof kon Ina help om van haar frustrasies ontslae te raak!

Die aand is lewendige groep-aaitems gelewer. Boeka se “Varkasem!” het hom die naam P.I.G. Breath besorg; Gerhard met sy “Bê!!” was so onnosel dat, as sy IK ‘n punt laer was, hy (volgens Breda) ‘n plant sou wees, en die golwe waarop die Queen Victoria moes vaar, het telkens in ‘n goed-gemikte hopie uitgespoel. Maar dit was Groep 3 wat sing-sing met ‘n moord-flopera die eerste prys van een pakkie dadels (tweede prys: twee pakkies dadels, ensovoorts) ingepalm het.

Almal het besef dat dit ons laaste aand in die Canyons was, en wou dit so lank as moontlik vashou. Die gevolg was dat ons gebruiklike laat-nag billie koffie sommer baie bekers moes volskink.

Donderdag:
Slaap (salig!) tot amper sewe-uur voordat die wrede “opstaan” ons bibberende drome versteur. Marius verwesenlik ‘n ideaal deur te sorg dat die kaffertaxi een keer voor Jurgens klaar is.

Al singende aan “Heut geht es an Bord” begin ons die laaste skof. Ons het lekker maklik gestap, laaang “smoke-breaks” en middagbrood gehou, en toe die heel laaste stuk na Ai-Ais aangepak. Min van ons het besef hoeveel energie die blote gedagte aan ‘n yskoue bier ‘n mens kan gee!

Dit was ‘n jubelende-gelukkige groep BT-Kaners wat Ai-Ais daardie middag al koningende binnegeval het. Singend het ons op die stoep van die restaurant die lank-na-uitgesiene biere verslind. Die mense was so beïndruk dat ons “Ein Prosit” spesiaal moes herhaal vir ‘n foto.

Met Ai-Ais se stempel op ons nekdoekies het die BTK die badplek getref – en is gevind dat ‘n halfuur definitief te kort is om ons skoon te kry.

Tydens kampvuur het ons ‘n geïnteresseerde kring toeskouers buite-om die sleekring gehad. Marius se slim plan om een van hulle nader te sleep om na die monster te kyk, het gesorg dat ons R5 gekry het om vir poeding die volgende dag te sorg. Die koperkapel het weereens uit sy gat gekruip; Sterretjie het uitgevind dat dit vir Napoleen beter sou wees om maar oor te gee, en arme Estertjie het haar byna morsdood geskrik vir Spook Boeka met sy vreeslike slagtande.

Ai-Ais se tienuur stiltereël het die kampvuur bietjie kort gemaak, maar diegene wat nie dadelik gaan slaap het nie, kon nog ‘n unieke stil hopie meemaak – dit werk net so goed as ‘n Pink Panther-hopie!

Vrydag:
Vrydag was ‘n feestelike dag – feetjies en kaboutertjies het koffie en brood in die bed gebring en daarna kon elkeen doen wat hy wil. Sommige het (getrou aan die liedjie) ‘n bietjie elke kwartiertjie bo-op die grash by die terash laat verdwyn; of (soos Jan dit gestel het) die materiële voordele van die Westerse beskawing geniet. Ander het in die swembad baljaar (totdat Hendrik sy kop stukkend geduik het) en die heel fluksstes het die koppie langs Ai-Ais uitgeklim.

Die mense op Ai-Ais het ons aanvaar in die gees waarin ‘n pa aan sy seuntjie verduidelik het: “Toemaar, hulle is net studente!” (Dis nou behalwe diegene wat ons beskuldig het van diefstal van drie-en-dertig bierbekers).

Laat-middag het +16 van ons met groot sports (en lawaai!!) een van die gesinsbaddens betrek. Met Jeffrey om as chaperone op te tree, is daar gewas – van hare tot tone! Ronelle het selfs sover gegaan om vir Johan te skeer.

Die aand was daar weer die gewone spannende ingrawery en skietery. Tydens aaitem-tyd het Breda en Deon ons vergas op ghitaar-musiek en veral die Coke-advertensies het ons regtig kranksinnig gegrawe. Verder was daar ook Stoffie wat rooi-aas geëet het (dit ten spyte van ons reuse-pan tydens aandete!), Gerrit wat die Oukraalliedjie gelag het en Jacques met sy Clickety-Click-Bic. Maar die hoogtepunt van die aand was definitief Breda en Gottlieb se “Ou grys merrie” wat tot vervelens toe gesing is.

Lank na “Nag dames” het ons nog om die vuur gesit en gesels, koffie gedrink en marshmallows braai, toe dit onverwags toetrek en die donderweer toeslaan.

Die gepaardgaande druppels was nie baie welkom nie, en kort voor lank was al wat waskamer of opwasplek was, gevul met slapende BT-Kaners.

Saterdag:
Met uitsondering van Kinnie en Anne-Lize het Roelof darem daarin geslaag om almal wakker te kry. Sommer gou-gou was die bus gelaai en almal gereed om te vertrek – en toe moes ons agterkom:
Die ou blou bussie –
hy is nie wat hy was gewees…!

Na ‘n uur vertraging het ons Ai-Ais totsiens toegesing en die lang pad suidwaarts aangepak. Ons sou seker vinniger kon vorder as Roelof nie so bang was vir ‘n motorhek dat Eugene eers moes afklim en hom deurwys nie!

Op Springbok het ons by die predikant koffie gedrink en daarna in rekordtyd Van Rhynsdorp bereik – ook maar goed, want anders sou Old MacDonald se plaas definitief oorbevolk geraak het.

Dit was donker toe ons op Stellenbosch aankom, maar die sterre bo ons was nie meer so helder as wat hulle in die Canyons se pikswart nagte was nie. Met weemoed in ons harte het ons geweet dat ook die ervarings wat nou nog so vars en helder in ons geheues was, later deur ander dinge verdof sal word, en dat ons sommige sal vergeet.

Maar dan bly die woorde van P.J. Schoeman tog ‘n vertroosting:

“Herinneringe is die brandhout
vir die leë wintermaande
van verlange.”

Tinie Muller
(Sketsskryfster)

You must be logged in to post a comment