Atteqwa September 1975

Niemand het veel van hierdie toer verwag nie. Die naam was niksseggend, die toerprogram het gelyk na padstap – ‘n mens kon sommer die Klein-Karoostof ruik. Gevolglik was dit ‘n Kleine Gideonsbende van vyf-en-twintig wat Vrydagmiddag halfvyf Niek se bus-wa beman het. MAAR:

“Alles is veel voor wie met veel verwacht
het leven houdt zijn wonderen verborgen
totdat het ze, opeens tocut in hun hoogen staat.”

Binne ‘n ommesientjie, het almal mekaar se name geken. Daar was nog baie voordele: almal kon sáámgeniet aan een grap, en elkeen kon vir hom ‘n bed prakseer. Ten spyte van Niek se behendigheid as busvlieënier, sou die nagrit lank wees.

Teen Twaalfuur het die bus tot stilstand gekom voor ‘n plaashuis…. en dáár was oom Theo, Helgaard en Roelof. Roelof, wat reeds die Mullers se gasvryheid ervaar het, het bekommerd gefluister: “Maak of julle honger is!”

Was dit gesellig daar in die sitkamertjie met die dansende kerslig teen die mure. Daar was sop en brood vir twéé Gideonsbendes. Vir tannie Britz het daar skielik ‘n lig opgegaan: “Nou weet ek waarom Helgaard so skugter was vir my dogters se geselskap – hy is ‘n getroude man!”

Om te dink dat daar nog mense is, wat ‘n student as ‘n mens en nie bloot as ‘n massa-verskynsel beskou nie.

Die slaapplek was ‘n bos met ‘n stroompie. Die toer was nou op sy eerste bladsy oopgeslaan.

Saterdag:
Voëls en sonstrale het ons reeds vroeg laat wakker skrik. Na oggendete, was daar oom Theo se “Berggansverrassing”: afgerol met woorde en wysie kompleet. Dit was net padkos, om stap-stap aan te sing. Ná dankie-sê vir die nag se gasvryheid, het ons in die pad geval met: “Die Berggans het ‘n veer laat val ….” Die wysie het al goed ingesink teen die tyd dat ons Herbertsdale binnegegaan het. (Die wêreld was.) Die ooms het op hul grawe gaan leun om ons agterna te kyk, en Herbersdale se tannies het deur hul spensvenstertjies geloer. Heinrich het die kleurlinggemeente se basaar ondersteun, terwyl die ander in die “van-alles-en-nog-wat-winkeltjie” rondgedraai het.

Die pad anderkant Herbertsdal, loop oor groen koringlandheuwels …. met ‘n agtergrond van blou berge en wolkestapels. Ai, die wêreld wás ‘n lushof. Irene en Jaco was nog op die dorpie, besig om kennis te maak met die inwoners. Geen tannie het hulle blykbaar genoeg vertrou om ‘n koppie tee aan te bied nie, en die twee het dors-dors (byna te laat!) by middagbrood aangekom.

Melkhoutessenbosch, ons oorstaanplek, was maar ‘n hanetree verder. Anton Muller (nie menéér nie!) het nie eens omgegee dat ons in sy afwesigheid sy plaas ingeneem het nie. Dit was in alle opsigte ‘n ideale kampplek, met sagte kweek, ‘n spieëlgladde bergwaterdam met eende; o ja, moenie vergeet van die volstruis en beeste nie.

Dit was die aand van Danie en Tersia se “bobo”-item. Vir die oningeligtes en ingewydes. Die bestanddele van “bobo” is: donkerte, ‘n kombers (twee nuuskierige oë), ‘n verleidelike vrouestem en waaiende klere. Dis al.

Sondag:
Watter dawerende stem en klingelende melkemmers versteur ‘n mens se rus so vroeg op ‘n Sondagmôre? O, dis Tokkie die kabouter en sy feetjies met koffie en beskuit. Nou ja, die doel heilig die middele (sê hulle). Die son het terselfdertyd deur die oggendmis gebreek, en alles was oortrek met doudruppels wat skitter.

Op spesiale uitnodiging van die predikant, is die bus met BT-Kaners om halftien kerk toe. Haai, maar die klomp het afgesteek by Ters se deftige kerkklere. Die mans kon darem gerus daardie middag vir haar onthef van die blikwastaak.

Die kokke het vinnig weggespring met die hoender en die Elsa – veral Jaco was later natgesweet. Geen wonder, dat ‘n koel idee hom te binne geskiet het nie: “Kom ons neem die Elsa vir ‘n swem in die dam!” ‘n Paar minute later was die vierkantige vlekvrye staalbak al dobberende op die deinings: met vier koppe wakend daaromheen. Die eende het verwonderd toegekyk. Toe ons na ‘n halfuur se sonbak begin terugswem, was die Elsa skoonveld. Arme Heidi se oë het gerek: “Die Elsa is nie so ‘n skade nie, maar wat van die duur bak?!” Die verligting was groot, toe ons eindelik ‘n blinkerige hoek onder ‘n doringbos gewaar.

Die ete was baie rustig, buiten vir Tersia se oog, wat elke keer wou uitspring as sy na Niek kyk. Irene het weer met groot genoegdoening haar twee gulsige kuikens – Jaco en Roelof – met Elsa ingeprop. ‘n Luilekker middag van slaap en swem en sonbad het hom uitgestrek. Stilte het oor die lemoenboord toegesak, met tortelduiwe en ‘n koel bergluggie.

Alles was gunstig vir ‘n heerlike kampvuur. Annemi het ons betower met haar dwarsfluit-serenade onder die sterrehemel. Professor Piet het hekeltyd vir die res van die toer laat opvlam. Nee wat, alle duiwels onder in stille waters kan so uitgewis word. Elkeen moet sy plig as suiweraar van die BTK nakom. Oom Theo se “droë” lesing oor Newton se aandeel in die fisike, het almal gekielie; veral toe hy beweer dat Newton in een opsig verkeerd was: Die krag tussen teenoorgestelde geslagte neem af, namate die een party se massa toeneem.

Maandag:
Die stofpaadjie, al kronkelend langs die voet van die berge, was nog nat van die dou toe was ‘n singende ry BT-Kaners al oppad. Vanwaar die vrolikheid? Ag, ek dink dit was blomtuinveld, die storieboeklandskap met herkouende koeie teen groen landerye, en die rooidakhuisie omring deur doringbome.

Teen tienuur was die Gouritzrivier se bruin modderwater voor ons voete. Die rivier het vir hom ‘n diep poort tussen die berge uitgevreet – en hierlangs was ons “oggend” se stap. Niemand het besef hóé lank hierdie oggend sou uitstrek nie. Al die klim en klouter, sweet en son, het gemaak dat selfs die meisies by die eerste rusplek met oorgawe vir die bruin water geplons het. En…. toe sien ons sowaar regte bergganse. Dit was genoeg om die liedjie heeldag in ‘n mens se kop te laat ronddraai.

Teen twaalfuur was daar ‘n bottelnek – om droog oor die rivier te kom! Daar was twee “gevare” enersyds die gladde klippe en andersyds klipgooiende BT-Kaners. Emma en Emile het dit byna-byna reggekry as dit nie vir die laaste glibberige klip was nie. Toe het dit regtig gelyk asof hy deur baie diep waters gegaan het.

Die kloof het draai op draai aanhou kronkel nes daardie tuinslang-lange koperkapel wat ver Heleen so hoog in die lug laat spring het. Die son het genadeloos gebrand (vra maar vir Heidi hoe dit voel om stokalleen net in ‘n swembroek oor die klippe voort te sukkel). Die honger het ook geknaag. Eindelik, eers teen halfdrie was die kloof se laaste draai … én die blou bus sigbaar.

Die bus het ons gebring tot by ‘n kampplek op die Cloetespas – heerlik beskut tussen dennebome en varings. Oom Theo het die meisies se guns gewen, deur die “Theo Scheffler-badplaas” vir hulle uit te kap tussen die bosse.

Daar was wraak in die lug, sonder dat ‘n woord gerep is. As mens toevallig naby die blikwassers staan, kan jy die bang vlinders hoor fladder. Gelukkig was dit ‘n helder sternag, en daar was hierdie keer geen “rain” by die pyn.

Dinsdag:
Af en af met die Cloetespas, en ons was net betyds vir tee en koeldrank (of whiskey?) in die Britze se tuin. Daar was vraagtekens in die lug, toe ons hoor dat Roelof ons gaan verlaat op ‘n geheimsinnige sending na Kimberley. Teensinnig is die kêrel op die stoepie “gehelp”, en Jaco het bekend gemaak dat dit eintlik die sending van die diamant sou wees. Vir oulaas kon hy ‘n klapsoen van die dames ontvang, en ‘n nat afskeidsomhelsing van Ters. Iemand was weer met ‘n tuinslang byderhand.

Steiltes het voorgelê oppad na Haelkraal, maar ná die opdraandes was die groenheid en die blomtapyte twee keer so mooi. Dit het my herinner aan MER: “… want die vroe-somerwindjie speel gedurig oor almal, en almal dans en koes en lewe en skitter asof van blydskap en opgewondenheid.”

Bo-op ‘n bult het oom Theo sy rugsak afgehaal vir middagbrood. Die sementdam se groen water was darem baie aanloklik, en Jaco het menige meisie met toutjieshare daarvan laat afkom.

Klam mistigheid het toegesak terwyl ons afdaal na Haelkraal. Wat ‘n gesig om op af te kyk: witgeskeerde skape teen die donkergroen bulte en die rooidakopstal met die uitgestrekte graswerf.

Vir die meisies was daar ‘n droom-badplek: ‘n stroompie uit ‘n sprokie, kompleet met ‘n witklippie-bodem, hangende wilgertakke, “maiden-hair” en wit varkblomme. Charlotte het soos ‘n nimf in die water weggesak …. met die nodige koue-gilletjies.

Oom Johnsie en tannie Muriel het die kampvuur bygewoon. Al was almal moeg na die sewentien myle van voetslaan, was daar darem af en toe iets op die planke. Swael Burger in die Herb van Herbertsdale, het die toneel oorheers, met sy pogings om vir arme Roelof te red van die twee skurke Hael en Kraal.

Wie sou nou kon dink dat oom Theo hom sou uitlaat vir ‘n hofmakery by Herbertsdale se oujongnooi?!

Die nuus van ‘n pannekoekboom wat iewers op die plaas groei het monde laat water. Ons kon ons oë nie glo toe daar regtig halftien ‘n stomende skottel opdaag nie. Vrugte is mos nie warm nie!

Woensdag:
Die wind het gehuil, en ons oë was om ‘n duistere rede dikgeswel. Ons durf egter nie laat slaap nie, want die vorige oggend se natgooi-episode was nog vars in die geheue.

Volgens Jaco, sou die dag soos volg verloop: “Baie rustig, met kouse-was of so-iets.” Na middagbrood was daar net kombershopies sigbaar, met hier en daar ‘n kaal hakskeen of sokkie wat uitsteek.

Tydens aandete, rondom stomende “stew”-borde het die komitee geheimsinnig begin koukus oor geskikte items. Kort-kort het ‘n veelseggende lagbui opgeklink van die walaaiers en waterdraers se kant. Heinrich het besluit om hom in twee items te betrek – dan is sy kanse op die kondensie mos twee maal so groot!

Oom Theo moes van veto-reg gebruik maak, aangesien drie lede van sy paneel direk betrokke was. Die “Faan se bus’, met Jaco as regisseur, was die gelukkige wenners.

Donderdag:
“Opstaan!” “Belaglik! Dis nog nagdonker. Wat besiel hulle om ‘n mens halfses in die nag te laat opstaan?! Wat te erg is, is te erg.” As meisies nie so ‘n groot vrees vir water gehad het nie, het ons sekerlik bly voortslaap.

Om die kookvuur het ons vir Jaco speels onder kruisverhoor geneem. Hy wou net verseker dat ons ‘n baie rustige stap met lang “smoke-breaks” kon hê. Professor Piet was hom simpatiek gesind met die woorde: “Uneasy lies the head that wears the crown”.

Die windjie het gesny deur murg en been. Al singende het ons ‘n stywe pas aangeslaan, beurende teen ‘n wind, wat ons van die pad af wou blaas, en beurende teen opdraendes. Teen halftien het ons omgekyk, en daar ver op die horison, was Mosselbaai se punt sigbaar. Naby soos die kraai vlieg, maar ‘n goeie dag se voetslaan.

Die paadjie het begin kronkel tussen dennebome en pragtige veldblomme en proteabosse deur. Oom Theo het ‘n stywe pas volgehou, totdat ons petrol teen twaalfuur begin min word het. Die koue-honger het ons voete laat sleep. Op die plaas Ruiterbos, het ons onsself voor die waenhuisdeur tuisgemaak. “Dink net hoe lekker sal ‘n koppie koffie nou smaak!”

Die bus was laat. Angstig het ons teruggedink aan die onbegaanbare paadjie; wrede steiltes, en skerp draaie. Maar Niek het die onmoontlike reggekry!

Wat maak BT-Kaners as ‘n haelbui uitsak terwyl hulle besig is met broodsmeer? Vra maar vir Karen – hulle trek glo hulle reënjasse uit, om die brood mee droog te hou.

Nou moes ons onderdak vind vir die nag. Ons skuiling was ‘n sink-en-klip geboutjie, met “hier-en-daar ‘n gaatjie waar die wind deur suis”, maar almal was bibberend tevrede. Na Heidi se stomende sop, was almal warmtevrede. Ons behoeftes was op die laagste vlak (Emma se sielkunde) naamlik kos en warmte.

Annemi en Jacolien het die stokers en kokke begelei met fluitspel, en Irene was bly toe die son uiteindelik die damespouhok in skaduwee laat.

Die koue en varkkaiings het dalk die energie verskaf vir al die lewendige items. Op Jacomien se aandrang, het selfs die “plat hond” aan die beurt gekom. Heinrich was só boosaardig, dat die geleerde Hollandse heer se hond geen kans gehad het nie. Ons het selfs ‘n regte vampier in ons midde gehad. Maar die wolke het weer begin lek, en ons moes onderdak vlug.

Vrydag:
“Sterkte vir ‘n glyerige, gevaarlike pad, Niek!” Ons woorde was nog nie koud nie, of die agterwiel was vasgesuig in ‘n modderwal. Die uitlaatgas het blou gehang in die koue oggendlug, maar alles vergeefs. As dit nie vir die meisies en stootpoging was nie….

Die Atteqwa-pas het almal verras. Dit was ‘n voetpaadjie deur pragtige sewejaartjie-en-heide bergveld. “Laat my langs die heide wandel” het deur ‘n mens se kop gedraai. As jy omkyk, was daar hier ‘n sewejaartjie in ‘n hoed of knoopsgat, en dáár ‘n takkie heide in die hare.

Die reënerigheid het ons planne omvergewerp. Ons kon nie sonder skuiling oorstaan nie, en Heidi se plan: terug na Haelkraal se skuur (en pannekoekboom) het algemene byval gevind. ‘n Tweede saak moes beslis word; naamlik die tussen ryers en blyers. Alles is haarfyn uitgepluis en die ryers het die meerderheidstem gehaal.

Soos een man, is Heidi se bevele uitgevoer: was en skuur en stook en vee. Ongelukkig vir die kokke, verbrand ‘n haastige hond sy mond. Die vlamme het ‘n bietjie te boosaardig aan die wors en aartappels gelek, met die gevolg: baie kaiings en ontevrede blikwassers. Net Jacolien het sing-sing gewerk. Ek wonder waarom?

Die kampvuur was ‘n groot sukses … en rustig genoeg daarby. Daar was ‘n dom bruid, wat nie geweet het dat linoleum ‘n skeermeslemmetjie stomp maak nie; en ons het gesien watter valse voorwendsel ‘n bodemlose bad kon wees. Emile het weer trein gery op sy unieke wyse.

Groei daar dan melkterte ook aan ‘n pannekoekboom? Dit was te lekker om waar te wees.

Nadat Jaco vir oulaas deeglik gehekel is oor sy ortodokse slee het oom Theo afskeid geneem van sy laaste toer. Ons het almal besef, hóé geheg ons aan hom geraak het, en hoeveel van homself hy aan ons gegee het op hierdie toer.

Saterdag:
Vrydag en Saterdag het inmekaar gevloei, want om middernag was die bus gelaai, en elkeen aan’t wegtuimel. ‘n Uur later het ons vraend wakker geskrik. Waarom staan die bus? Niek en Danie se bekommerde stemme kon net een ding beteken: ‘n stukkende bus! Geen werktuigkundige kon opgespoor word nie. Elkeen het maar teruggesak in sy slaapplek.

Annerie se oggendbroodwekker het met ‘n laaste asem iewers afgegaan. Verdwaasde gesigte het orentgekom. Rondom ons was stofpad en winderige koringlande en verlatenheid. “Leonie” het darem nog ‘n bietjie “post toasties” en kondensmelk opgelewer. Vir die res van die dag, het Heinrich se “Koos” die klomp aan’t lewe gehou. Die soetheid het naderhand gebrand in mens se keel. “Lekker is beslis net ‘n vinger lank.”

Intussen het ‘n gawe boer, oom Herklaas Meyer, sy oggend opgeoffer om naastediens te lewer. Danie en Niek is saam met hom Mosselbaai toe.

Vir die res: ‘n dag van gedwonge rustigheid. Daar was darem ‘n paar alternatiewe, soos slaap, lees, koffie-water probeer kook in die wind, tande tel en tone tel. Teen drie-uur was Danie daar met die troostelose nuus, dat die vroegste bus Sondagmiddag twaalfuur van Stellenbosch kon vertrek. Tersia het gelate opgemerk, dat die bus (as hy dan al opgedaag het) vir haar sommer by die Taalfees moet aflaai, waar sy die rol van Liewe Heksie moet vertolk. ‘n Ander een het bygevoeg, dat ons teen daardie tyd nes die arm Afrikaners uit die depressie-jare sou lyk.

Vyfuur het daar stilweg ‘n bus op die stofpad afgedraai. Opgewonde het ons die “Skote Petoors” onderbreek, en die waarheid ingedrink. “Drie hoera’s vir oom Herklaas!” Voel skipbreukelinge só wanneer ‘n reddingsboot op die horison verskyn?” Ons bestelling van vier brode en een bus is voor die deur afgelewer.

Ai, die vreugde van ‘n bewegende bus! Ai, die genot van brood met “bully beef.” Ai, die prag van ‘n rooi sonsondergang deur ‘n busvenster!

Die toer het Saterdagnag om halftwee voor Skuilhoek geeïndig. Elkeen was trots en dankbaar oor elke kosbare ervaring wat ons saam kon beleef. Bo alles was daar die helder wete: dat God se planmatigheid en alwysheid, sterker is as die noodlot.

“Die hart van die mens dink sy weg uit,
maar die Here rig sy voetstappe.”
(Spreuke 16)

Truida Schneider
(Sketsskryfster)

You must be logged in to post a comment