De Mond-Infanta Gala 1975

Halfpad teen Sir Lowry’s-pas staan ‘n vragmotor met seile oor sy bak getrek om die inhoud teen die reën te beskerm. Net toe daar ‘n groot sleepwa-affêre van voor af kom met ‘n seilskip daarop, loer een van die inhoud uit en merk droog op: “Gits, as die mense darem al met bote begin rondry, voel ek nie meer te veilig op die wa nie!”

Maar wat, selfs wapperende seile en vallende druppels kon die entoesiastiese wa-ryers nie onderkry nie. Na ‘n verdwaal-draai tot by Struisbaai (spesiaal om die Oriental Pioneer te besigtig) kom ons eindelik by De Mond aan. Die wolke lyk nie te belowend nie, en ons slaan maar, met sterk teenkanting van die wind, en gebrekkige kennis, die tente op. Weens totale gebrek aan water geniet ons ‘n droë aandete. Toe Niek-hulle met ‘n paar emmers windpomp-water daar aankom, begin ons dadelik tee maak. Geeneen van ons het egter ‘n krieseltjie hoop dat die bus voor middernag daar sal wees nie – ons weet mos al teen dié tyd wat gewoonlik gebeur….

Ten spyte van ‘n gewag vir Altyd-laat Dirk van Eeden, daag die twee busse egter op nog voordat die teewater kook. In ons opgewonde koningry van die bus, vergeet ons heeltemal van die onvriendelike oom en sy heilige walletjies. Die stowwerige busryers word begroet met die “wonderlike” nuus dat die vars water ook maar brak is, maar wanneer die water so ‘n bietjie deur die blare is, en elkeen met ‘n beker rooibostee om die vuur staan, is almal tevrede en gelukkig.

Nadat Roelof met godsdiens afgesluit het, is ons bed toe, en nie te lank nie, of die optimistiese buite-slapers word deur ‘n reënbui na binne gedryf. Dan volg daar ‘n nag wat bestaan uit min slaap en baie wapperende seile. Totdat Gottlieb met ‘n tenthamer die meisies se tente bietjie stewiger aan Moeder Aarde geheg het, was niemand baie seker of hy binne of buite geslaap het nie.

Sommige van die eerste toeriste dink dit is alles deel van die Wraak – hulle weet nie….!!

Saterdag:
Met dik koppe en toegeswelde oë lyk en voel niemand die oggend asof die lewe hulle goed behandel nie. Gelukkig is dit maklik om van die hond-in-die-mond-gevoel ontslae te raak – mens drink net ‘n bietjie water en dan baklei die brak en die hond so kwaai dat daar van plaak op jou tande geen sprake is nie (jy’s gelukkig as jy nog tande oor het!).

Die wind waai eenstryk deur en spoedig word die nuwe middelpaadjie-mode vir beenhare deur almal nagevolg. Seker vir die eerste keer in die geskiedenis spring die dames-pouhok Tentekomitee voor – hulle skree nog dat hy gaan val, toe lê hy lankal plat!

Oor die papkokers se sterk sout koffie sal ons maar niks sê nie. Hulle wou blykbaar baie seker maak dat dit sterk genoeg sal wees om die wind te trotseer – elkeen moes maar vir homself ‘n stukkie afbreek.

Al beurende teen die sterk wind begin ons die eerste dag se stap. Dit is ‘n lang sandstap en daar is min om mens se aandag af te trek. Die enkele seemeeue wat so onnosel is om te probeer vlieg, sukkel self maar om weg te kom en die toppe van die duine staan eintlik tuit soos die wind die sand wegwaai. Spoedig is almal se bene lam van die sand en elkeen swets in die stilligheid op “die simpel BTK wat ook alewig in die verkeerde rigting wil stap!”

Eindelik halt Marius vir ‘n “smoke-break”. Verlig soek almal die skuiling van die rotse op – net om uit te vind dat die wonders van die natuur geen einde het nie: dit reën toe sand!

Voorstellingsparade word gehou met ‘n onstigtelike koor bo-op ‘n klip. Die oormaat dokters en wordende dokters is nie baie gewild nie; Chris Meyer word natuurlik Miskruier; Sadie de Vos word de Jakkals; en ons wonder of Chris Eksteen, jy-steen, ons-steen; Helletjie Hemelman en Johann Melk-maar-die-koei-wil-nie, nie dalk om naamverandering aansoek gaan doen nie.

Naby Waenhuiskrans kruip ons deur ‘n nou gaatjie en bevind ons dan in ‘n reuse-saal. Almal is verstom oor die grootsheid van die grot en die skoonheid van die branders wat skuimend by die bek breek. Ons sit heimlik by die gedagte daaraan dat daardie branders mens dalk daarin kan vaskeer.

Die kafee-winkeltjie op Arniston word oorval deur dorstige BT-Kaners wat net belangstel in iets koels en nats vir die keel. Met die kampplek eindelik gefinaliseer, is middagbrood gou-gou reg en toe Kosma Sarina na haar idiotiese mondeling by ons aansluit, vind sy ons bo-op die hoop bagasie – ‘n lui massa waarvan die wind die laaste greintjie energie weggewaai het. Saam met haar kom die nuus dat Emile nie meer kom toer nie – weens sake binne en buite sy beheer. Ai, dis jammer hy kan nie net vir hekeltyd by ons wees nie!

Na ‘n rustige middag en aandete, word ‘n poging tot Volkspele om die duur vuur deur die energieke Spinnies gelei, maar sonder veel sukses.

Die wind boikot die paar aaitems wat daar wel was in ‘n groot mate en die Spinnies sorg vir verdere storings. Die “Toneel” word weereens opgevoer, maar dié keer met soveel klem op die “sideshows” dat niemand juis vreeslik begaan was toe Eugene die lepel in die emmer steek nie, oftewel die dak skop nie.

Tydens die uitkenningsparade maak die eerste toeriste nie die vooruitsigte vir hulle wraak ligter nie – sommige kan dan nie eens onderskei tussen mans en dames nie.

Sondag:
Saligheid is om wakker te word wanneer feetjies en kaboutertjies ‘n emmer koffie en ‘n bak beskuit bo jou rondswaai. En om dan, wanneer jy effens wakkerder is, te besef dat die son skyn en die wind ophou waai het. En dat dit Sondag op ‘n Gala is.

Na kerk verkeer almal rustig in die son – dis nou behalwe die kokke wat ywerig om die vrugteslaaibak vergader was. Die gevolge van beide groepe se aktiwiteite word spoedig duidelik – die liedjie in verband met die rooi neusies word van toepassing op die son-aanbidders, en die kokke is so vol dat hulle sukkel om na ete hulle vrugteslaai-en-roomys-pan leeg te maak. (Gelukkig is Jeanne ‘n baie hulpvaardige blikwasser!).

Die middag gaan verby soos enige Gala-Sondagmiddag. Daar is diegene wat lê en slaap of ander uit die slaap hou, die stappers, die swemmers, die rond-snuffelaars, en hierdie keer, ook die grot-besoekers.

Terug by die kamp word Koos, na aanleiding van die intellektuele weergawe van die Toneel, geopen met: “Jacobus open terstond. Kom doen u daaglikse lekkergoed-inkopie.”

Voor skiettyd die aand wil Spinnie Martha van Roelof weet of hy haar asseblief sal waarsku indien dit dameskiet gaan wees “sodat sy by die regte man kan staan.”

Na ete volg ‘n opwindende bordspin met lang Sakkie as skeidsregter. Hy moet natuurlik heeltemal afbuig om te kan hoor of die klem op die “he” of op die “be” is. Op die ou end is dit arme Adriaan en Jean wat met die hele spul borde sit.

Sleetyd is baie stil behalwe in ‘n oorvloed ghitaar-aaitems (sommige selfs in stereo aangebied). Sakkie kan net nie oor die Spinnies se gevrektheid kom nie. (Is Irene dan so ‘n slegte sleemaatjie?!).

Die kampvuur word halfpad onderbreek deurdat Tentekomitee eers vir die dames ‘n tent gaan opslaan. Sarina gebruik haar kansom Niek se sleepille te probeer vaslê. Die gevolg: Eugene sit met ‘n plat-gehopiede beker en Sarina met ‘n anorak met ‘n ongewensde “slip”.

Die laat-sleër word kort voor middernag bed toe gedryf deur ‘n paar vallende druppels.

Maandag:
Die raserige papkokers gee aanleiding tot nie te vriendelike liedjies van die kostent-slapers. Gelukkig oorleef die pap darem die beledigings en kan ons na ontbyt, met Roelof en Elsje vooraan, by die groep ongemagtige toeriste, die pad aandurf.

By die Kleurling-vissersdorpie met sy ou skilderagtige huisies word daar eers gekoning, en dit is moeilik om te sê wie die meeste verskrik was, die hoenders of die klonkies.

Dis weereens ‘n sandstap-dag, met die wit duine op linkerhand skerp afgeëts teen die donker van die dreigende wolke. In die visvywers wat, onmoontlik soos dit ook lyk, tog deur mense gebou is, kan mens jou verwonder aan die klein seediertjies.

By Ryspunt, waar daar van die Clan McGregor nie veel meer sigbaar is nie, gaan kyk ons na die huisies wat van wrakstukke gebou is.

Daarna is dit nie meer te ver na Skipskop waar ons middagbrood hou nie. (Raad aan voornemende eerste toeriste – moet liewers nie op die Wraakdag floppies vaslê nie!).

Van daar ry ons met die wa na De Hoop. ‘n Kennisgewing wat skiet verbied, lei tot die vinnige besluit dat die manne maar strikke sal moet stel tydens ons verblyf op De Hoop.

Ons het nog skaars die plek deurgekyk of die eerste druppels val. Gelukkig vir Tentekomitee kon ons in die gerieflike “bungalows” intrek.

Na Roelof se gespeel met die fluitjie kom die dameskiet nie onverwags nie. Die enigste probleem was die klomp mans wat hulle van die uitgrawery onttrek en eenkant gestaan het.

Die eerste toeriste se aaitems is so droog dat die natuur besluit ‘n bietjie reën is nodig. Na die nat Wraak is Martina nie die enigste van wie besondere kaartleesvernuf geverg word nie.

Dinsdag:
Oorstaandag, maar ons slaap nie te laat nie, want kort na ontbyt val ons agter mnr Butcher in die pad – of liewers, in die modder. Na ‘n lang nat stap deur die vlei, kom ons by die vlermuisgrot aan.

Vir baie is dit die eerste noue kontak met hierdie sinonieme van die Satan. Die donkerte, die stank en geskree van die duisende aaklige klein diertjies dra nie juis by tot die aangenaamheid van die ontmoeting nie. Nog nooit het vars lug so heerlik geproe as wanneer mens weer buite kom nie. Na aanleiding van die geur wat aan almal vasgekleef het, was almal dit eers – dit was ‘n “mislike” uitstappie!

Die terugrit met die wa is nie van die voorspoedigste nie – teen elke bult kos dit sommer baie mooipraat. Dit is dus al ná half-vier voordat ons met groot ywer op Ina se heerlike sop en brood kan toesak. Dieselfde ywer word aan die dag gelê waar daar gequeue word vir storte.

Aangesien stewkook deur niks aangejaag kan word nie, word besluit om maar te gaan slee en dan halfpad te eet. (Goeie besparing op sleepille!). Dit is die aand vir komitee-aaitems, maar nadat Jan-hulle met hulle puik drama oor die vlermuisgrot die vloer gehad het, is dit so duidelik dat Tentekomitee die kedênsie sal wen, dat die ander aaitems maar halfhartig gelewer word. Veral die kokke en stokers is baie verlig toe, vanweë die reën, besluit om tent toe te gaan in die afsluiting – die Swanemeerballt-cum-opera het nog nie ‘n einde nie!!

Na die afsluiting is daar natuurlik weer ‘n groepie wat om die vuur sit en marshmallows braai en koffie drink – dis nogal gerieflik as die waarnemende kosdogter ook een van die goddeloses is!

Woensdag:
Vir oulaas geniet ons die weelde van warm water en wonder pessimisties of ons rugsakke na die eerste paar kilometer nog so lig sal voel.

Almal behalwe Tentekomitee, walaaiers, houtkappers, kosma en kosdogter is met die eerste vrag weg na Koppie-Alleen. Later is die kampplek darem al driedubbeld skoon, en nog steeds geen teken van Sam en die wa nie. Ons sit maar op die kiste waar die kostent was en luister na Sakkie en Breda se malle liedjies. So in die stilligheid wonder elkeen waar en wanneer die wa gebreek het – en kry ‘n glimlag by die gedagte aan die oormaat opinies in die ander groep!

Met die tee net mooi aan die kook, kom Mellvill, Sam en die wa eindelik daar aan. Die wa ly blykbaar aan ‘n oordrewe regverdigheidsgevoel, want hy breek op omtrent presies dieselfde plek as met die voorste klomp – nog ‘n stywe end vanaf Koppie-Alleen.

Met ‘n ronde drie-uur-agterstand begin ons kort voor twaalf-uur stap – en hét ons nie gestap nie! Ten spyte van die wind en Johann se stywe pas, kon mens darem nog rondkyk en die skoonheid van die veld raaksien. Sommer so in die kaal sand was daar orals klein spatseltjies kleur. Op die middelmannetjie hier net langs ons stewels was telkens nuwe rangskikkinkies fyn blommetjies te sien. Na amper drie uur se stap is gestop vir middagbrood. By gebrek aan brood eet mens oormaat konfyt, en hoewel al die hol kolle nie gevul is nie, is ons dankbaar vir wat ons wel gehad het – rooibostee het in elk geval nog nooit so lekker gesmaak nie!

Die rugsakke was swaar en die pas kwaai, maar ons sou daardie stap vir geen geld ter wêreld wou mis nie. In die vlak poeletjies verwonder ons ons aan korale wat van kleur verander, anemone, krappies en soveel meer. Teen skemer is dit opvallend hoedat die grys wolke aan die see ‘n grou-groen kleur gee. Die swart duikers se vlieg oor die skuimende branders pas volmaak in by die prentjie.

Na die lang stuk sandstap is niemand egter spyt om te sien dat die spore wegswaai van die see af nie. By Hamerkop is tannie Magriet en Elsje in volkome beheer van sake en Tinie en Sarina besluit om die aand af te vat.

Een van die mees chaotiese skiettye volg toe Roelof die fluitjie blaas terwyl sommige mense nog in die see en die meeste meisies nog bo by die huise is.

In groepe van tien word eers die sop verslind, en toe, in volkome duisternis, Bully beef, koring en wortels. Die poeding volg as ‘n salige afsluiting.

Ons maak weer geskiedenis met die kortste slee in baie jare – presies ‘n halfuur waarin niks gebeur het behalwe dat Paal halfhartig uitgesleep is nie. Na “Nag, Dames” verkas die meeste dadelik na hulle slaapplekke. Vir diegene wat nog langer geslee het, was daar die beloning van fosfor op die strand en heerlike middernagtelike rooibostee – om nie van Deon se Russiese kakao te praat nie!

Donderdag:
‘n Paar druppeltjies gedurende die nag skei die goed-toegerustes van die kansvatters soos die verstandige en onverstandige maagde. Maar wat, met ‘n bord muesli en provita agter die blad, is almal weer vol moed vir die dag. Want sien, DIE SON SKYN, EN DIE WIND WAAI NIE!! Nog nooit is ‘n normale verskynsel soos ‘n helder son en blou lug so intens deur negentig mense raakgesien en waardeer nie.

Met ‘n kort stap voor ons is almal daarop uit om soveel as moontlik van die natuur in te drink. In elkeen se hart is daar ‘n spontane loflied tot die Skepper wat alles so oneindig skoon gemaak het. Die wit van die branders maak ons oë seer, so helder en suiwer is dit waar dit skuimend teen die donker swart rotse breek, met die diepblou van die see en lug altyd op die agtergrond.

Langs die pad dwaal ons in twee grotte in en staan verstom voor die wonderwêreld van stalagtiete en stalagmite. Die druppeltjies wat orals aan die punte blink, is al bewys dat die groeiproses van eeue steeds voorgesit word.

Middagbrood word by ‘n pragtige boog gehou. Jacques en Breda stel hulle vistermanvernuf op die proef – gelukkig vang Breda darem ‘n kolstertjie en red sodoende hulle eer.

By Noetzie aangekom, is daar geen teken van die wa nie – en dus ook geen kos nie. Almal swem maar, lê in die son, vang vis – ag, enigiets om weg te kom van die onoorkomlike probleem dat drie pakkies sop, ‘n bietjie melkpoeier en ‘n paar pakkies Game defnitief nie genoeg is om negentig BTK-mae vol te maak nie.

Ons laaste sprankie hoop word vernietig toe Breda en Gottlieb, wat uitgestuur is om te gaan bel, terugkom met die nuus dat die wa nie voor môre-oggend by ons sal kan wees nie. Almal staan verstom; die honger knaag skielik meer intens – en toe kom Sam en die wa met flitsende lig triomfantelik oor die bult!! Te oordeel aan die stormloop vir Koos was ons twee maande laas by kos – kort voor lank is daar skaars nog ‘n muis of ‘n mielie oor!

Om alles te kroon, gaan die son pragtig oor die see onder, en die woorde van P.J. Philander word elkeen van ons s’n:
“Ek dank u in die stilte
en die skrede tot waar ek nou kniel,
vir die aalwynrooi wolke agter die bulte
en die aandrus in my siel.”

Ten spyte van ‘n laat ete en slee, lewer die aand die beste aaitemry op. Suster Anna stig amper brand met die yskas se liggie; Breda ondervra ‘n “dame” oor haar rookgewoontes; en Martina voer snaakse aksies in die kerk uit. (Marius is nou nog oortuig dat daar ‘n plassie lê op die plek!). Waar die “ou grys merrie” weereens aangedurf is, lê daar sonder twyfel twéé plassies!

Nadat die bestuurspartytjie luidrugtig met “Opstaan!” afgesluit is, is daar nog ‘n groepie wat om die vuur vis braai en koffie drink, en eers bedwaarts heers toe die fyn sekelmaantjie oor die bult verskyn.

Vrydag:
Die dag begin aanvanklik bewolk, maar nie te lank nie, of die wolke (en mettertyd ook ons neusvelle) wyk voor die son, en dit word ‘n pragtige dag. Vir oulaas bewonder ons die skoonheid van die kus.

Die Sterkfonteingrot oortref almal se verwagtinge. In die flou lig van ‘n paar kersies voel ons soos ontdekkingsreisigers in ‘n wonderlike fantasie-wêreld. Nog nooit het dit so rég gevoel om die “Onse Vader” met wawyd-oop oë te sing as juis daar nie.

Na ‘n laaste heerlike swem en middagbrood by die see, stap ons vir ‘n rukkie nog langs die kus en kies dan binneland langs kortpad na Infanta. Langs die pad lê ons besoek af by twee uitlanders wat een of ander kontak met skepe moet behou. Namens die ander slotte, baie dankie aan Paal vir die biere wat hy daar losgepraat het!

Verdwaal-verdwaal deur ‘n pragtige stuk veld, kom ons eindelik by die kampplek op Infanta aan. Die enigste wyse van skoonkom is ‘n koue stort wat, volgens Breda, nie baie ekonomies is vir mens se seep nie – dis net ‘n paar hale oor jou hoendervleis-lyf, en die seep is opgerasper!

Die gewone laaste-aand-ingrawery vind plaas en Niek en Gerhard verduur die meeste spot. Sarina jaag die senuwees verder op loop met haar fluitjie en ‘n verleidelike “Hallo, julle!” Klaarblyklik was die spanning anders hoog tussen die kokke en stokers – hoekom anders moes die arme blikwassers so hard sukkel met aangebrande koring en vrugte?!

Net voordat kampvuur die aand begin, daag die “Elite” op – geklee in lang rooi rompe en strikdasse. (Hét dit nie later snaaks gelyk toe kledingstukke uit sekere slees begin waai het nie!).

Vanweë Theuns se onvermoë om die teewater met die duur hout aan die kook te kry, begin hekeltyd eers ná middernag. Daarna volg die afskeid van die laaste toeriste en dit is reeds half-twee voordat oom Gys se “Môre, dames!” die kampvuur beëindig.

Saterdag:
In ‘n spesiale hekeltyd net voor ontbyt, moet Lieschen lastige vrae oor haar slaapplek beantwoord. Ander is maar te dankbaar dat niemand wil weet hoe hulle dan weet presies hoe laat Roelof se wekker afgegaan het nie!

Die wa word vir oulaas gelaai, groepfoto’s geneem, laaste toeriste gevuurpyl, en dan word die terugtog aangepak. Met die bagasie eindelik afgelaai en die tente en kiste veilig in ons nuwe stoorplek in die Langenhoven-Studentesentrum, is die toer skielik verby, en elkeen gaan huis toe met ‘n hart vol wonderlike herinneringe en dankbaarheid teenoor Hom, die gewer van alles wat goed is.

Tinie Muller
(Sketsskryfster)

Leave a Reply