Koue Bokkeveld-Visgat April 1976

Vrydag:
Opgewonde en lus vir die week wat voorlê, vertrek die bus vol BT-Kaners laat Vrydagmiddag van Stellenbosch. Gedagtig aan die wyse woorde van die liedjie:

“Wat kwel jy jou vriend oor ‘n syfer of twee?
Kom sing saam oor lente en lewe.
Die proffies het wysheid, ons laat hul daarmee
want ons het die lente, die lewe …”

skuif almal die akademie op die agtergrond. Dit is heerlik om sommer net te gesels, te sing en mekaar te leer ken. Voordat die bus op Porterville stop, weet die meeste darem min of meer watter name op watter banke sit.

Porterville se kafee word oorval. Die TV-program val nie in almal se smaak nie, maar dien tog vir die inspirasie vir die aankoop van die draaiboek van “Beau, die Ontembare”. Die meisies word daarna in kennis gestel dat hulle kan kom vir ‘n oudisie vir die enigeste vroulike rol – die slotgedeelte moet dan twee keer gedoen word!

Met selfs Tobie en sy roomys eindelik in die bus, laai ons gou by die dokter serum teen die “verskriklike volop en gevaarlike” skerpioene op, en durf dan die steil pas aan. En was dit nie ‘n kwaai pas nie – Abré moes selfs die bus om die draaie “reverse”!!

Eindelik kom ons by Suurvlak aan waar die wa-ryers ons inwag. Terwyl ons om die vuur staan en tee drink, wonder ons oor die wa-ryers se prioriteite – met baie moeite het hulle slees gebou, maar van pouhokke was daar niks te sien nie!

Marius praat ons nie juis moed in nie – volgens hom is wat so lekker is van die volgende dag se “smoke-breaks”, die feit dat hulle so skaars is. Synde die lampeman, belowe hy die meisies lig – net wanneer ons dit wil hê. (Teen die einde van die toer was Alta die bewys van sy uitstekende lampeman-skap – sy het permanente lampies in haar oë gehad!).

Voordat Eugene afsluit met godsdiens, laat hy ons besef dat elkeen ‘n aandeel tot die toer moet maak om dit ‘n sukses te maak. En toe ons gaan slaap, met die sterre so helder en duidelik bo ons, is dit elkeen se begeerte om presies dit te doen.

Saterdag:
Ontnugtering is wanneer die water wat die vorige aand in die donker so lekker gesmaak het, die volgende oggend in die daglig aaklig groen en slymerig lyk! Eugene is blykbaar baie lus vir slee – hoekom anders ‘n “Kry julle borde en kom queue” by ontbyt?! Die meisies kry darem ‘n queue deurdat Abré verjaar. Ons stap padlangs deur die pragtigste omgewing met die mooiste rotsformasies. Hier en daar speel ons “Follow-the-leader” onder die klippe deur. By die eerste “smoke-break” word ‘n voorstellingsparade gehou. Kompetisie tussen twee ewe swak galleries maak dat daar met min oorspronkliks vorendag gekom word.

By middagbrood is die dam se water net te naby en te aanloklik -danksy Nic se rugbyduik is Charlotte (de Villiers) spoedig met klere en al in. Niemand het baie moed vir die berg wat voorlê nie. Slegs die uiterste optimiste glo nog in Eugene se beskrywing van die “nekkie” wat ons moet oor!

Na Jaco en Boeka se woeste bulgeveg in die skaapkraaltjie, “suffer” ons die bult uit. Die donderweerwolke, eers spierwit en pragtig, word later al donkerder en dreigender, en dis nie lank nie, of die eerste verfrissende druppels val. Sit-sit en gly-gly is ons ‘n vieslike afdraand af en daarna verder in ‘n pragtige klofie. Na die lang dag is niemand spyt om die wa te sien nie. Die bad in die rivier is koud maar heerlik. Net jammer van die onsekerheid oor die kampverdeling, of hoe, Riëtte?!

Net voor ete is dit die eerste skiettyd en iemand moet eers vir Georg (ons Duitse uitruilstudent) verduidelik wat aangaan. Gelukkig vir Alta, maak Koos darem oop, anders het Koos Buys haar seker die hele aand Disprius gevoer – hy het aanvaar dat “sleepille” ‘n tikfout is en eintlik “slaappille” moes wees!!

Die aand is aaitems maar skaars en die hofsaak waarin Irene moet verduidelik hoedat sy deur ‘n “tap-tap” teen die kostent-venster geskiet is, is die hoogtepunt. Die aanklaer is nou nog oortuig dat sy eintlik met ‘n mot moes slee. Op grond van Boeka se puffelgat-getuienis word sy wel onskuldig bevind, maar ‘n besluit word geneem dat skiet in die vervolg óf mondeling óf hand-tastelik moet geskied.

Uitkenningsparade lewer onderskeidelik baie probleme en baie vermaak (afhangende van watter kant mens dit beskou). Afgesien van die verwarrende familiebande wat volgens die eerste toeriste bestaan, sal die herinneringe aan Boeka en Hendrik al wat eerste toeris is, nog met angsweet laat wakker skrik.

Vol moed maak almal reg vir buite-slaap, maar die weer besluit anders en Tentekomitee kry werk.

Sondag:
Voordat die feetjies en kaboutertjies nog hulle verskyning kon maak, is die hele kamp reeds wakker danksy Marius se gelag. Dis maar koud en ons staan moeilik op. Veral die manne sukkel – met Marié so vroeg reeds in die manskamp. Nadat die gemeente die sleekring gevul het, en Willem die koster versoek het om die brood te verwyder, lei hy die oggenddiens.

Middagete behels soos gewoonlik hoender en Elsa. Laasgenoemde veroorsaak aanvanklik uiters atletiese aksies in die poging om die borde leeg te kry, en daarna uiters onatletiese gebrek aan aksies as gevolg van die leë borde en vol mae.

Laatmiddag gaan swem sommige (te oordeel van die temperatuur, moes hulle breinskade as gevolg van Elsa-eet opgedoen het!). Marius se salon is hoog in aanvraag. Daarna word die lug gevul met die oefenpogings van die vier Sangfees-kore wat naarstigtelik liedjies oefen vir die aand se program.

Die ingrawery voor ete is baie erg en verwarrend – en ‘n hele aantal beland in die Buro. Buro-skiete lewer egter wel opwinding, want Tekkies loop Annelise byna uit die grond en Sapa skiet vir Jacquelien dat die bord sommer uit haar hande val!

Die weer lyk nie te belowend nie en die manne skuif die damestente teen mekaar. Volgens Japie het daar tydens die verskuiwing die interessante kombinasie van gilletjies van benoudheid en gilletjies van lekkerkry uit die tent gekom. (Elkeen moet maar self besluit vir watter soort Charlotte en Tekkies onderskeidelik verantwoordelik was!).

In ‘n relatief rustige tentslee (natuurlik sonder ‘n druppel reën!) lewer die kore hulle uitvoerings. Deon se koor vind uit dat die aanvangsnoot verkieslik reg moet wees, anders is “alles” dalk “eitel”. Verder was Georg se klarinet-oefennote soms op snaakse tye binne die tent hoorbaar, en het Gottlieb-hulle dit nodig geag om “Drink to me” omtrent tien maal op top-volume buite die tent te oefen!

Na oom Piet se hekel-aaitem vroeër die aand is almal vasbeslote om alle onheilighede in die BTK uit te roei en te sorg dat “die volle waarheid en net die waarheid” in die vervolg sal seëvier. Die hekel oor Henk se “pullover” is so erg dat Karen en Willem buite die tent moet gaan lag. Reinholdt ontvoer glo deesdae vir Riëtte tydens skiettyd – hy het egter darem ‘n keuse gehad tussen haar en die blou vragmotor! Charlotte slee saam met Tekkies – blykbaar weet hy nou al hoe! Om saam met ‘n Duitser te slee, maak mens honger – hoekom anders knibbel Ronél so aan Georg se oor? Stephanie moet vrae beantwoord oor liggies in die opening van haar broekspype – dit kom daarvan om saam met ‘n lampeman te slee!

Nadat Eugene die volgende dag se stap nie baie rooskleurig geskilder het nie, is almal redelik gou bed toe.

Maandag:
Diegene wat in of naby die kostent geslaap het, word baie, baie vroeg deur treine en sementmengers gewek. Almal voel uiters belaglik-onnosel om in die donker en koue, met dreigende wolke bokant, baaiklere aan te trek!!

Met alles in plastieksakkies, en plastieksakkies in plastieksakke, ensovoorts. val ons eindelik in die pad – die eerste toeriste deeglik bewus van die donker koue toekoms wat op hulle wag!

Ons stap sing-sing tot by die rivier. Visgat lyk donker en nie baie verwelkomend nie. Nie te lank nie, of operasie Lilo-Opblaas moet begin. Ons onervarendheid moet daarin bewys dat die meeste reeds met die “te-water-lating” papnat word.

Aanvanklik al bibberende en later al bevrore, gaan die vloot lilo’s en binnebande toe die kloof af. Ten spyte van die koue verkyk ons ons aan die prag en skoonheid om ons. Rotswande strek by plekke loodreg aan weerskante op. Dan word die Canyon ‘n nou, donker poel met ver bo die lug – eers grou en onvriendelik, maar later blou met ‘n welkome vriendelike son.

Soms jaag mens resies en speel tot jou arms te lam is om aan te gaan. Dan weer is dit salig om sommer net op jou rug te dryf en te lê en kyk na die pragtige disas wat so onverwags oranje-rooi teen die watervalletjies groei.

Rotse, stroomversnellings en watervalle bied vir die malles en waaghalsiges geen probleme nie – net heerlike onophoudelike uitdagings … en blou skene!

By middagbrood was ons hare, lê in die son, en verslind soos honger wolwe die botterlose brood. Te gou na die luies se sin verskyn Reinholdt en Riëtte eindelik en val ons weer in die pad, oftewel stroom. Almal behalwe ‘n paar stroomversnelling-liefhebbers, blaas hulle lilo’s af en boulder-hop verder.

Laat-middag kom ons so stuk-stuk (en stukkend-stukkend) by die plek aan waar ons die voet van die berg moet uit. Behalwe vir die feit dat die berg definitief ‘n nommer twaalf platform-skoen aangehad het, maak die eina-bossies verdere kunswerke van ons bene.

By Boskloof aangekom is die kampplek egter reg, en met oom Gys en Ina (Dagha!) en die wa-ryers om ons te verwelkom, voel almal wonderlik. Koos, sowel as die kiste appels en reuse kan melk, is baie baie welkom. Ons bekommernis oor die +20 slotstappers neem toe namate dit donkerder en later word, maar toe hulle eindelik ‘n kwartier voor middernag in die kamp aankom, het hulle nog genoeg energie om te koning. Die meer as drie uur in die donker teen die berg uit met die onsekerheid met elke tree, is egter ‘n ervaring wat niemand gou sal vergeet nie. Nadat die kosbakke leeggeskraap is, is ons ‘n groot klomp wat, ten spyte van die vaak en moegheid, nog om die vuur sit en gesels en rooibostee drink – sommer bly om almal weer saam te wees.

Bewus van ‘n lamheid in elke spier van jou lyf, is dit salig om op jou slaapgoed neer te val – en spoedig nie meer van enigiets bewus te wees nie.

Dinsdag:
Wat ‘n salige oorstaandag – sommige kry selfs ontbyt in die bed. Almal gaan bad in die riviertjie. Die meisies toon besliste nudistiese neigings wat tot groot ontsteltenis aanleiding gee toe die manne rustig oor die hangbrug stap. Oënskynlik het hulle die uitsig bewonder, of dalk bly staan om te luister na die simfonie van smekende en benoude gille?

Swem en stew-kook is die middag se hoof-aktiwiteite. Langs die kookvuur word die kultuur beoefen deur Deon en Jeanne se ghitaar-spel en ‘n roerende voordrag van “Beau, die Ontembare”.

Teen skiettyd begin Jaco en Hendrik-hulle met ‘n nuwe BTK-sport -jukskei. Dit is ‘n groot sukses, behalwe vir die kere wat die spel onderbreek moet word om eers die skeie in die bosse te gaan soek!

Om een of ander rede verwag almal ‘n dameskiet en die spanning laai op toe Sarina die fluitjie blaas – egter net om te vra of iemand nie dalk haar flitsie gesien het nie!

Die kampvuur behoort dié aand aan die eerste toeriste onder
leiding van Abré. Dat hulle aaitems nie altyd so suksesvol en boeiend was nie, blyk uit die aktiewe jukskei wat agter die sleekring plaasgevind het. So tussenin lewer Adriaan egter ‘n aaitem deur ‘n appel aan ‘n stok te probeer braai – met die noodwendige gebrande gevolge.

Na die Wraak is almal skielik baie lus vir aaitem. Marius en Eugene lewer die Koperkapel op algemene versoek – en toe móés Sarina en Ina natuurlik weer ‘n aaitem herhaal! (Ek glo egter nie hulle sal weer probeer om dit in Engels te doen nie!!).

Wim se liedjies laat ons krul van die lag, en om alles te kroon, kom Sapa boonop met “Arme Swart Katjie”. Miskien was dit maar goed vir ons lagspiere dat Eugene besluit het die plathond moet wag.

Na die oorstaandag is almal egter uitgerus en sit ons nog lank om die vuur en koffie drink.

Woensdag:
Nadat oom Gys en tannie Magriet ‘n afskeid-koning gekry het, begin ons stap. Almal is in ‘n koning-bui en die hoenders en volkshuisies moet dit ontgeld. By die rivier gekom, wil Jaco ons wys hoeveel van sy oervaders se bloed nog in hom steek en hy kies sommer koers teen die kranse af.

Onder in die rivier begin die springery. Evel Knievel-waagstukke word aangegaan om droogvoets van klip tot klip te kom, maar op die ou end is almal tog met stewels en al in die water in. Onder leiding van Willem stig ses van ons die PRSK (Pro-Rivier-Stappers-Klub) wat onverskrokke enigiets aandurf – hetsy rivier, bos of klip. Boeka begin dadelik met ‘n teenaksie – volgens hom staan BTK vir Boeka Tarzan Klub!

Kort voor middagbrood tref die ramp oom Piet – hy misgis hom met die lengte van ‘n sprong en beland pens en pootjies in die rivier. Toe hy weer sien, kan hy nie meer sien nie, want van sy bril was daar geen teken nie.

Later die middag word die Towergat betower deur BTK-sang. Vir veiligheid kamp ons die aand nie in die rivier nie, maar wel op ‘n vlakte by ‘n groot ou akkerboom. As gevolg van die eenrigtingvloei van die enigste stroompie was dit vir die mans nie nodig om seep te gebruik nie – hulle kon maar net wag vir die meisies se badwater om by hulle te kom.

Voor aandete vind ‘n paar spannende jukskei-wedstryde plaas. Wonderwerke gebeur nog, en ‘n “glips” verander soms selfs in ‘n pan-lê! Die singery om die kookvuur maak die bewegings van sekere mense (of die gebrek aan beweging ten spyte van die rook) baie interessant om dop te hou.

Miskien was dit die feit van dameskiet, die gevolg van die lewendige volkspele, die dag se lang stap, die lekker kos, of sommer net luiheid wat tot gevolg het dat aaitems maar skaars is. Behalwe vir Jaco so psigiater-aaitem met dr. Naaktgeboren wat telkens diagnoseer dat almal iewers in hulle ontwikkelingstadium ‘n knou gekry het, is die eerste (en laaste) opvoering van die vervolgverhaal “Beau, die Ontembare” die enigste hoogtepunt van die aand. Hierdie drama “eg uit die lewe self; waarin u uself sal herken” lewer egter snaakse situasies op aangesien die spelers nog nie baie vertroud met die draaiboek was nie, en soms het ‘n spesifieke boef al klaar platgelê nog voordat hy ‘n hou van die “lang donker man” (Willem) kon ontvang. Geeneen van die meisies kon aan Willem se vereistes voldoen nie, en op die ou end is die gesogte rol van Klaartjie Venter aan Jaco toegesê.

Donderdag:
Asof die nag se nat-dou nie genoeg is nie, moet die oggendbrode nog die manne natgooi ook. Sapa is blykbaar banger vir water as wat hy skaam is …!! Die oggend voel almal óf goed óf goor, maar met die krankes op die wa, val die res sing-sing en fluit-fluit in die pad. Dis ‘n maklike en mooi stap, met lekker lang “smoke-breaks”. In die tradisie van Klub-vorming word die BBG (Berg Ballet Geselskap) met Puffel Gira in die hoofrol, gevorm.

By die middagbrood-plaas aangekom, word ‘n ou motorwrak eers ingeneem. Elkeen het ‘n toevoeging te maak om hom meer reisvaardig te probeer maak, maar toe ons met hom klaar is, is daar nog minder van die arme wrak oor. Die rommel wat daar rondlê, laat nuwe talente na vore kom – Jaco is heeltemal ‘n bedreiging vir Uri Geller (as almal net hulle oë lank genoeg toe hou!!).

Na middagbrood probeer almal ‘n slapie vang, maar die pogings is nie baie suksesvol nie – grappe en mae vir kussings is nie ‘n goeie kombinasie nie.

Die wa neem ons Suurvlak toe – waar die meisies nie baie tevrede is met die badkamer nie. In die eerste instansie is die bad se prop blykbaar verstop, tweedens neem Irma skielik baie foto’s en derdens word Piet en Gawie skielik die fluksste waterdraers ooit!

Deon vind dat die pragtige sonsondergang ‘n effens romantiese gevoel laat ontstaan wat sy ingrawe-metode baie tot voordeel strek. Nic, weer, vind uit dat dit beter is om eers te skiet en dan te vra of die meisies reeds geskiet is – anders spring iemand jou dalk voor!

Dis komitee-aaitem-aand, en ten spyte van die walaaiers se interessante vliegtuig met ‘n Boeka-pouhok as hoofattraksie; die oggendbrode se nat chaos en Abré en die tentekomitee se Ahoe-aaitem, is dit die kokke en stokers, of liewers, Willem as El-zing-dorey-zing, wat met sy appeldoos vol R1-note en sy stywe boordjie die kondênsie ook nog wegdra.

Vrydag:
Vrydag is sinoniem met frustrasie – behalwe vir Piet wat onverwags ‘n heerlike koek op sy mondigwording ontvang. Die lang queues by die pouhokke dui baie duidelik daarop dat die virus wat, volgens die dokter, in die lug is, ‘n redelike vatplek op die groep gekry het. Almal wat kans sien vir die stap, is egter gou-gou op die wa en weg.

Na ‘n laaang wag by die hek – waar die tyd verwyl is met “hop-scotch” en spiesgooi – daag Eugene-hulle op met die nuus dat die man met die sleutel Kaap toe is en dat ons dus nie kan ingaan nie. Eers is almal baie boos en die verskriklikste wraakmetodes word hardop bespreek, maar kort daarna lag ons baie lekker toe die wa sommer óm die hek ry!

Dit was ‘n steil en moeilike pad, en dis nie om dowe neute dat die gerug nou nog die hele Porterville-plato vol lê dat die BTK sommer die vragmotor om die draaie dra nie (om nie eens te praat van die storie dat ons die wa oor die hek getel het nie!). Tydens middagbrood by Winterhoek word die Love-at-First-Sight-Club van Henk aan almal voorgestel. Ere-lede (vroulik) is baie nodig om die lede die nodige lewenservaring te gee. As teenvoeter vir LAFSC word LFAWC gestig – Love-for-a-While-Club.

Die flukses vertrek kort na middagbrood na die Hel – en land toe by die Tronk. Na ‘n vreeslike gesukkel, volg almal later die Tekkies- en Du Pisanie-Fan-Clubs se voorbeeld en gaan terug.

Tydens ‘n heerlike swem-bad in die rivier was Willem selfs sy hoed. Marié, as ere-lid van LAFSC, open ‘n luukse salon waar ‘n man se hare vir hom gewas word terwyl hy rustig op ‘n lilo dryf.

Terug by die kamp is almal baie dankbaar om die vure reeds aan die gang en die kos aan die kook te kry. Dit is dus nie lank voordat die ingrawery begin nie. Laaste aand ingrawery is nooit baie subtiel nie, maar Adriaan vat soos gewoonlik die koek deur reguit vir Lila te sê: “Kom staan nou hier by my – kan jy nie sien ek grawe by jou in nie?”. Vir die minder openlikes is Eugene se fluitjie die teken vir geweldige rugby-aksies – as Inge ‘n rugbybal was, was Boeka, Sapa en Gawie definitief Springbokke!

Nadat die manne hulle sleemaatjies slees toe gedra het, word die aand ingelei deur drie statige pare wat op stigtelike wyse om die vuur loop en toe op onstigtelike wyse die hoofslee ‘n stortbad gee.

Dis ‘n lewendige aand vir aaitems. Die Plathond word ge-aaitem totdat Willem se tong so uithang dat hy amper daaroor val. Suster Sêra slaag wraggies daarin om in Chris te pas om te kyk of die liggies binne die yskas nog brand.

Die hoogtepunt is egter Visgat Burger en die T (Tap) van BTK. Vis en Gat (Eugene en Adriaan) is die twee boewe – Gat natuurlik met slippers aan. Toe hulle met lilo’s en al teen die watervalle probeer opgaan in die proses om die “tap” te gaan steel, stem almal met die ongelukkige Gat saam: “Die storie wys my niks!” Hulle slaag egter daarin om die rivier te laat opdroog, tot Visgat en sy waters se groot verbasing, want sien, hulle het die toer ge-rekkie en besluit niemand sal kan vrekkie!

Na “Nag dames” is niemand lus om te gaan slaap nie, en dis ‘n groot klomp wat nog deel in die onwettige laat-nag koffie. Marié en Henk is so aktief dat hulle na ‘n sarsie “push-ups” die appelboord daar naby gaan besoek – hulle keer egter te gou na die rustiger sleërs se sin terug. Pons en Jeanne besluit dié aand om liewers in die kostent te slaap. Die rede: ‘n Klein swart diertjie met ‘n baie skerp angel in Pons se slaapsak!

Saterdag:
Gelukkig vir die laat-sleërs staan ons eers baie laat op. Ons was gou die kiste en almal is bly om vir oulaas Sapa se “Blikwassers, kom hier!” te hoor. Op die bus terug probeer Marius sy bes om van Koos se oortollige Chomps ontslae te raak, totdat die agterbankers hom stilmaak met: “Hou nou op met jou Chomp, verdomp!” Op Porterville word die kafee weereens oorgeneem. Ons sang is blykbaar nog beter advertensie as TV (of dalk is dit Adriaan se toebroodjie wat die mense so laat staar het!).

Ten spyte van vreeslike Pink Panther-hopies, Wim se liedjies en ‘n skakery van die bus deur drie wrede gemaskerde mans, kom die bus darem veilig op Stellenbosch aan. Dis lekker om weer op Stellenbosch te wees, maar nie lekker dat die toer verby is nie. Ons steek ons hartjie egter goed weg en gaan vir oulaas mal – doen Volkspele en ‘n huppelende koningry in Neelsie se hoofdanssaal.

Toe kry almal hulle bagasie in die nat kelder, ons afskeidsgroete sterf weg, alles word weer stil … en nog ‘n toer is verstreke.

Tinie Muller
(Sketsskryfster)

You must be logged in to post a comment