Sederberge September 1976

Vrydag:
Vrydagoggend is die wa deur ‘n handjie-vol walaaiers gelaai. Die wa is toe half twee uit Stellenbosch, maar nie sonder voorvalle nie. Hendrik het sy eerste chaotiese merk op die toer gemaak deur doodluiters om kwart oor een met sy bagasie by die wa aangepiekel te kom, met voornemens om die middag nog ‘n paar dingetjies in die dorp te gaan doen, en hom rustig voor te berei vir die bus se vertrek. ‘n Dramatiese kwartier later bevind hy hom op die wa, op pad na Algerië bosboustasie in die Sederberge.

Die bus het die middag vyfuur BTK-tyd uit Stellenbosch vertrek -dit wil sê ongeveer twintig oor vyf. Ons is weg uit Stellenbosch met die volgende formidabele lysie belangrikhede wat tuis vergeet is:
(a) Helmien se bagasie
(b) Koos se sleutels
(c) Die kleinkas se sleutel
(d) Kleingeld vir die kleinkas.

Langs die pad moes Roelof teen ‘n steil en lang bult die bus eers laat stop om af te koel. Almal het van die geleentheid gebruik gemaak om ‘n bietjie litte te rek, en gou agtergekom dat die bus se enjin, wat nog geloop het, ‘n pragtige samba-ritme uitklop. Daar was onmiddellik voorstelle vir ‘n sokkiejol, met die bus as ritmegroep.

Na een verkeerde afdraai, waar die bus ‘n goeie tagtig meter tussen “afgrond” en “wal” agteruit moes slinger, het ons half-tien in die kampplek aangekom. Na die gekoning en gegroet het ons almal saam ‘n koppie koffie geniet om die vuur, wat die wa-ryers reeds aangesteek het. Na die aandgodsdiens is almal slaapplek toe, en het ons gevoel: Die toer het begin.

Saterdag:
Ons is die oggend redelik vroeg op. ‘n Paar laatslapers was met aantreetyd vir ontbyt nog aan die rondskarrel en werskaf totdat Marie Smit hulle met ‘n goedgemikte beker water op hulle misstap attent gemaak het.

Na ontbyt is daar vinnig opgepak, terwyl die wat nie daarby betrokke was nie, solank saam gestaan en sing het. Toe ons gereed was om te vertrek, het Roelof ons eers saamgeroep en bekend gemaak dat dit Annemarie se een-en-twintigste verjaarsdag is. Sy is op ‘n paslike wyse gelukgewens. Party mans was so oorstelp van blydskap om haar onthalwe, dat hulle haar maar as net een keer geluk gewens het.

Ons vertrek toe met die bus na ons afspringplek, vanwaar ons na Heuningvlei sou vertrek. Nadat ons eers op die verkeerde plek begin stap het, moes ons eers weer in die bussie klim om ‘n ent verder weer te probeer. Ons is met twee uur vertraag, en het dus eers half-elf begin stap. Dit het ons later ‘n laat aankom by Heuningvlei gekos.

Ons het ons eerste werklike voorsmaak van wat kom eers gekry toe Voor-Warmhoek in sig kom. Met moeite en gesukkel is ons oor die rug. Op een stadium het iemand gekla: “Ja-nee. Lyk my die hele res van die toer is afdraend.”

Agter Warmhoek is ons teen ‘n heelwat vinniger pas af tot onder in die vallei waar ons, net anderkant die helder stroompie, middagbrood gehou het.

Ons het ‘n triestige middagbrood gehad, toe die reëntjie weer liggies begin neerstuif het, en ‘n bypassende “gallery” net voor ons geloop het.

Die rug wat ons net na middagbrood moes oor, was steil, en menige BT-Kaner se hart is met afgryse vervul by die aansien van die Groot-Koupoort wat oorkant ‘n heerlike diep vallei vir ons lê en wink het. In die bosryke klofie teen Groot-Koupoort het ons op ons eerste sederbome afgekom, en ons het ons verwonder aan die skerp, duur reuk van die gedroogde takke as hulle vars afgebreek is.

Amper bo-op Groot-Koupoort, met sy ysige Siberiese winde, het ons gesien dat ons redelik laat eers in Heuningvlei sou aankom. ‘n Groep van omtrent tien mense het toe van daar af vooruit gegaan om solank die kamp in orde te probeer kry.

Toe Heuningvlei in sig kom, was daar sommer dadelik nuwe lewe onder die voetseer klompie BT-Kaners wat met die stofpad aangestryk gekom het. Dit het soos ‘n droom gevoel om in die verte, nog effens wasig, die blougroen lusernlande, met safraan peerbome wit in die blom, te sien. Aan die linkerkant was die witgepleisterde huisies onder die bome, en op ‘n stuk grasveld het ‘n paar beeste rustig rondgeluier. Daar het ‘n tasbare rustige atmosfeer oor alles gehang.

By die bruggie, net voor Heuningvlei, het ons die varkasems gekry wat ook vir die naweek in die omgewing was. By die kampplek is Charles eers deeglik gekoning. Hy het ons vertel van mnr Abrahamse, wat vir ons toestemming gegee het om in die kerkgeboutjie, met sy afskorting-muur in die middel, te slaap. Mnr Abrahamse is sekerlik die spil waarom die hele Heuningvlei-gemeenskap draai. Hy is tegelykertyd skoolhoof, predikant, koster (en seker burgemeester ook!).

Nie te lank na die eerste groep nie, het die ander ook streep-streep daar begin aankom. Die laaste klompies mense het in die donker by die kamp aangekom. Ons het eers half-elf aandete geëet – in die agterste kamer van die kerk, wat as dameskamp gedien het. Teen die tyd was ons al goed honger. Die ete is verder opgehelder deur ‘n klomp wyn, wat Annemi se pa vir ons geskenk het, om haar een-en-twintigste verjaarsdag mee te vier. Die volgende aand het ons ook nog verder gevier aan ‘n klomp koek.

Met ‘n koor van “nag manne”, het die dames ons aan die einde van die ete duidelik laat verstaan: “Kyk, ons is moeg en gaan nou slaap. Verkas asseblief nou.”

Sondag:
Salig! ‘n Oorstaandag.

Ons is redelik laat deur die kabouters en feëtjies met koffie en beskuit in die bed(?) bedien. Nadat ons traag en styf op is, het die mans die berg ingevaar op soek na hout.

‘n Rukkie voor die kerk sou begin, is die kerkgeboutjie eers ontruim en die banke op hulle plekke neergesit. Die mense het in groepies begin aankom vir kerk – almal netjies uitgevat in hulle Sondagklere, en met netjies gekamde hare. Mnr Abrahamse het die diens gelei, en vir ons gepreek oor die lelies van die veld. Tydens die diens het ons ingestaan as kerkkoor. Na die diens het ons by die agterdeur uitgetroep, waar ‘n ouderling gestaan het en die geld sorgvuldig staan en tel het soos dit in ‘n hoed geplaas word.

Etenstyd – en al die ou toeriste hou wyslik ‘n plekkie vir die Elsa, wat nog van die rivier af aangebring moes word. Elsa bevat blykbaar een of ander bestanddeel wat inwerk op die normale mens se ooglede, want omtrent almal is koud gesit tot omtrent vieruur.

Later die middag vertrek Esther saam met Boeka se groepie terug Stellenbosch toe. Die finale arbeidsterapeute het mos nie vakansie nie. ‘n Ruk later daag Koos Schoonees op, met die verlore onmisbaarhede wat op Stellenbosch vergeet is ook by hom. Helmien leef toe vir die eerste keer op die toer uit haar eie rugsak.

Dié aand was die eerste skiettyd van die toer, en daar was chaos. Die koue slaai-aandete is ongemerk in die kostent voorberei, en toe Roelof half-ses die fluitjie blaas, bars pandemonium los. Daar was ‘n algemene stormloop van die mans- na die dameskamp. Toe Hendrik daar aankom, is almal daar reeds geskiet. Hy kies toe koers wasplekke toe, waar hy sy bril vergeet het, en kies die roete langs die damespouhok verby. (Die aand tydens hekeltyd het hy laat blyk dat dáár ook niemand was om te skiet nie). By die spruitjie het hy net sy bril gekry, en daarmee kon hy toe goed sien om by die kamp raak te skiet. Toe hy en Pierre gelyk op Estie, Annemi en Ottilie afstrom, kies Ottilie die hasepad. (Het Geo dalk nog nie geskiet nie?). Die aand slee Koos Kriel en Ursula met ‘n “waterproof”. Oom Tjaain lees vir ons voor uit “Witwater se mense”, en ons moet aanhoor hoe oom Schalk Lourens-hulle die hele Psalm 119 moes deursing. Annemi en Pieter het met pragtige fluitspel die aand opgehelder. Aandkoorlede Ottilie, Geo en Pieter het ‘n stukkie gewyde koorsang gelewer.

Na die itemtyd is daar eers uitkenningsparade gehou. George het vir sy derde toer sy verskyning gemaak, en niemand kon hom of Sarina se “Sarel Seemonster” uitken nie. Hendrik se identiteit is deur Anne verwar as gevolg van sy neusgate wat so groot lyk as hy onderstebo hang. Pierre het met ‘n goeie uitkenvertoning die kondensie gewen.

Die aand slaap almal weer in die kerkgebou, behalwe Tekkies, met sy platpunttent en Hans en Hennie van Daalen, wat hulle tentjie netjies regoor die afskorting tussen mans- en dameskamp opgeslaan het. Ek sou graag wou weet of Hans aan die manskamp se kant geslaap het ook. Ek moet sê dat Tekkies se tent al na die dameskant van die afskorting geneig het.

Maandag:
Ons is vroeg reeds op en reg vir Krakadouw. Met ontbyt het Sandra nog gesoek vir iemand om die sny brood waarvoor sy nie meer lus was nie, te eet toe Roelof die eerste toeriste waarsku dat hulle maar genoeg moet eet, ingeval hulle dit dalk “later” nodig sal hê. Sandra het skielik ‘n eetlus ontwikkel.

Vroeg reeds het ons al die verbleikte stamme van dooie sederbome teen die laer hange van die berg gesien. In die klofie, waar ons opgegaan het, het talle van hulle gestaan, met hulle saamgevlegte takke wat stramlittig, half onwillig, skuins grond toe wys. So ‘n rumatiekagtige droë sederhoutboom is een van die dinge van die Sederberge wat in ‘n mens se geheue bly.

Vir die berge self kon ‘n mens nie genoeg superlatiewe kry nie. Langs die pad het ons eers bymekaar gekom in ‘n pragtige skeur, en ‘n bietjie saamgesing. Toe is ons verder teen die berg uit, wat oral soos ‘n heuningkoek van die gate en skeure is. Van die maanlandskapagtige plato, bo-op die berg, af, het ons ‘n fantastiese uitsig gehad. Ons het ons staan en verwonder aan die ontsaglike loodregte kranse by ons voete, en eggo’s wat agt sekondes neem om weer by ons uit te kom.

Nadat ons die groepfoto geneem het, is ons die berg af na waar Charles met die wa vir ons gewag het. Ons het ‘n betreklik laat middagbrood by die wa gehad, en die walaaiers, en nog ‘n paar ander is toe saam met Charles Wupperthal toe.

Nadat die wa afgelaai is, het Charles teruggekom om die res op te laai. Nadat hulle middagbrood geëet het, was hulle nie te ywerig om weer te begin stap nie. Hulle het nog eers ‘n geselsie gehad met ‘n ou kleurling van die omgewing wat, na al sy klagtes oor die ouderdom, met ‘n geweldige pas weer koers ingeslaan het. Charles moes tot sy ontsteltenis sien dat al sy mense maar die eerste opdraend uitgeluier het, met die uitsondering van Marié du Toit en Hanli.

By die kamp het die eerste toeriste dadelik te doen gekry met rye stuurse manne en onheilspellende konstruksies wat opgerig word. Tydens sleetyd is ons toe ook vergas op die eerste toeriste se items. Riaan het ‘n paar van sy eie komposisies gespeel, en Willie Brown het ‘n stukkie eksegese probeer doen, terwyl hy behulpsaam moes wees om die lampysters in die harde grond te kry. Hanli moes Jaco as die “long legged woman dressed in black” om die kampvuur jaag. Tussendeur is die reëlmatige plof-plof van Jaco en Hendrik se skeie in die agtergrond gehoor.

Hierna is ‘n sekere seremonie afgehandel waarin Hendrik (twee keer) en ook Karin goeie stukkies oortuigingswerk gedoen het.

Ons het almal gaan slaap as ‘n hegte groepie vriende, met die wete dat daar nog goeie dae voorlê.

Dinsdag:
Die dag van die groot stap – Wupperthal na Driehoek, ‘n hele vier-en-twintig myl.

‘n Rukkie voor agt die oggend trek die groep BT-Kaners Wupperthal binne. Die skilderagtige plekkie se unieke atmosfeer is opvallend. Die witgepleisterde huisies, wat aan lusernlande grens, is deurkruis met Wupperthal se stofpaaie, met hulle koel lanings bome. In die middel van die dorpie staan die pragtige kerkie, waar ‘n klompie van ons ook in is. Reg het met die slotkis, met sy uitgehawende bandjies by die fabriek ingegaan, en met splinternuwe bandjies uitgekom.

Dit was gou duidelik dat ons die dag nog goed gerooster sou word deur die son. Tog het ons ‘n stywe pas gehandhaaf, met Hans, wat voor gestap het, wat blykbaar man en muis geïnspireer het om by te kom.

Middagbrood is gehou by ‘n yskoue stroompie, waar ‘n klomp mense hulle reeds ontwikkelde sonbrand ‘n bietjie probeer lawe het.

In Langkloof, net voor ‘n mens die berg weer moet ingaan om by Driehoek uit te kom, is daar ‘n klomp kleurlinghuisies. Daar het oom Tjaain blykbaar jare tevore foto’s kom neem, en vriende gemaak met die mense. Ons het daar weer in groepe van tien opgedeel, omdat ons toe weer in Wildernisgebied was.

Met die kronkelvoetpad is ons toe Gabrieëlspas oor. Bo-op die nek kon ‘n mens die pragtige vallei, waarin Driehoek lê, onder ons sien. Net onder die steil, laaste gedeelte van die pas is ons verby De Rif, en toe stap ons deur ‘n pragtige stuk rotswêreld. Hoewel ons moeg en seer gebrand was, kon ons nie anders as om ons te verkyk aan die fantastiese rotsformasies nie. Ons het deur ‘n towerwêreld van opgestapelde, aan flarde geskeurde rotsblokke gestap, wat telkens soos feekastele voor die voetpad opgedoem het.

Op Driehoek het ons ons eers verkyk aan die manewales van Racheltjie – die du Toits se mak bobbejaan. Vir Christa Roos was dit ‘n aangename verrassing om haar broer ook daar te kry. Hy het by die du Toits gekuier. Hy en sy meisie is toe ook genooi om hulle die volgende aand by ons te kom voeg tydens sleetyd.

Die aand was damesskiet. Min het die dames geweet dat dit nie die teken was dat hulle nou maar van hulle oortollige sleepille kon ontslae raak, soos sommiges wel gedoen het nie. Op ‘n slinkse wyse sou Koos ‘n besige aand se verkope gegee word as gevolg van ‘n tweede damesskiet.

Die aand, tydens sleetyd, het twee vlieë vir die eerste van vele kere om Roelof se mond geparadeer. Vaak-vaak het ons hekeltyd en aandgodsdiens gehou, en snork-snork met ‘n paar liedjies afgesluit – gelukkig met die vooruitsig van ‘n oorstaandag.

Woensdag:
Daar was ‘n algemene laatslaap – die oggendbroodjies moes met water intree toe dit tyd is vir ontbyt. Charles het vir ‘n tyd kom instaan as papkoker. Hy was loshande die vroegste op van almal.

Die weer was heerlik. Ons kon uitsien na ‘n lekker dag, onder die varsgroen eike. Die oggend is op ‘n heel rustige wyse verwyl. Agter die wa het ‘n paar groepe aristokratiese here hulle gewikkel in twee afsonderlike jukskei-wedstryde, wat stemmig genoeg afgeloop het vir Charles Fortune om kommentaar daarop te lewer.

‘n Aantal manne het ook nekdoekringetjies van sederhout gesny (Koos Matroos was seker die ywerigste), terwyl Reg met ‘n klompie repe Koedoeleer uit Wupperthal die leermodelle aangepak het. Eenkant het Riaan, Pieter en Breda beurtelings ghitaar gespeel, terwyl Annemi en Pieter ook ‘n rukkie met die fluite doenig was.

Vir middagete het ons sop gekry, wat heelwat kommentaar uitgelok het met die hoë peperinhoud wat oom Tjaain dit toegedien het. Na middagete is daar in groepies rondgesit en stories vertel, terwyl sommige ander ‘n horisontale uurtjie deurgebring het.

Die aand het ons “stew” gehad, wat ook beskryf is as ‘n roekelose samehaspeling van losstaande entiteite. Net na aandete het Racheltjie met haar mense gearriveer en volop vermaak verskaf. Die aand was komitee-items, en daar was oral groepies te sien wat in ‘n kring gestaan en beplan het, en kort-kort gekraai het van die lag.

In haar komitee se item moes dr Ursula aanhoudend haar pasiënt se I.K. probeer verhoog, maar sonder veel sukses. Toe Haas Das (gespeel deur die vermaarde akteur Koos Matroos) nie sy nuusskrywer se handskrif kon baasraak nie, is dieselfde metode met ewe min sukses op hom toegepas, deur twee buitestaanders. Die stokers en kokke se liefdesintrige het so verstrik geraak, in detail en by-intriges, dat dit tot stilstand gekreun het. Die kondensie is toe gewen deur Roelof en Breda met hulle Springbokradio vervolgverhaal, oor die huwelikslewe van Meneer en Mevrou Hoendermis: Die geheim van die wit sluier.

Donderdag:
Toe ons net na ontbyt met die wa die pad Sanddrif toe vat, begin die eerste mistigheid reeds deur die Sederbergpas se nekkie stoot.

Van Sanddrif af het ons te voet in die pad geval, verby huisies wat nog aan ‘n oom Leipoldt behoort (‘n familielid van die digter), en toe teen die steiltes op, reguit na die oopbekwolf wat in die krans bokant die Wolfbergskeure roerloos vir ons wag.

Oor die skeure kan ek nie veel sê nie. Net dit: Dit is ‘n móét vir elke bergklimliefhebber. Om die grootsheid daarvan te ervaar moet ‘n mens self daar wees. ‘n Mens voel telkens verdwerg as jy boontoe kyk, of op die sale met die geweldige rotsboë afkom.

Dit het ons omtrent ‘n uur geneem tot by die mooiste skeur. Almal het dapper die stukkie rotsklim tot by die mooiste skeur trotseer. By die donker(!) ingang was daar groot oomblikke toe Jaco vir Helmien deur die skeur lei.

Die aand tydens hekeltyd, moes hulle die gilletjies wat uit die skeur gekom het klassifiseer: óf as gilletjies van inspanning, om deur die skeur te kom, óf as gilletjies van genot.

In die skeure het ons in die grootste kamer op ‘n groot rotsboog gaan sit en eers ‘n bietjie gesing. Toe is ons verder deur die nouste gedeelte van die skeure, waar Koos Matroos blykbaar heelwat probleme gehad het met een klein gaatjie, waar ons moes deur.

Bo-op die berg kon ons sien dat die mis vinnig besig was om na die Wolfberg aangekruip te kom. Ons het dus teen ‘n stywe pas na die Wolfbergboog aangestryk. Die Boog was ook iets uniek. Ons kon ongelukkig nie baie lank daar rondhang nie, weens die gure weersomstandighede. Terwyl ons vir die agterste mense gewag het, het ons onder die geweldige rotsboog, uit die wind gaan sit en lemoene eet.

Net na middagbrood, net bokant Gabriëlsnek, is ‘n “flitspatrollie” saamgestel, wat toe teen ‘n geweldige pas vooruit gegaan het. ‘n Stuk pad wat Dinsdag die laaste groep van 3.00 tot 6.50 geneem het, is afgehardloop in 45 minute, met Jaco as hardnekkige pasaangeër. Die voorste manne is geïmponeer deur die wyse waarop Karin vasgebyt het, en by die voorstes gehou het. Onder, by die kampplek, was daar geen tekens van die effense stuifreëntjie wat vir ‘n kort rukkie met middagbrood uitgesak het nie. Nogtans het die tente soos paddastoele oopgespring. Riaan het blykbaar na die “flitspatrollie” weggespring, waar ‘n stewige pas gehandhaaf, want hy het nie lank na ons aangekom by die kampplek en handgegee met die tente. Almal was nogtans redelik vroeg in die kamp, ook Christa Botes, ten spyte van ‘n geswikte enkel.

Net voor aandete is Koos met groot gebaar oopgemaak “vir manne wie se sleepille uitgedun is”. Breda, wat Koos hanteer het, was egter deeglik bewus dat die aand ‘n verrassingsdameskiet sou wees – hy is vooraf deur Sarina geskiet. Toe Sarina die fluitjie blaas, was daar gou ‘n algemene geskarrel deur die dames wat nog nie geskiet het nie. Toe daag daar twee koel here met skouer tot skouer strikdasse op. Marie Smit het met ‘n vaart die eerste, wat reeds geskiet was, platgeloop en toe darem die tweede (Jaco) geskiet gekry. Nodeloos om te sê, het Koos ‘n tydjie van druk besigheid gehad na ete.

Na ‘n pitspoeg en volkspele is ons vroeg reeds slee toe. Met behulp van “The world’s greatest collection of clean jokes” het Jaco en Hendrik kort-kort ‘n paar nuwe dr Naacktgeboren items gelewer. Kroeg-items was aan die orde van die dag, en stram kroegdeure was die oorsaak dat ‘n waardige cowboy-held onderdeur moes kruip. Nadat ‘n item herhaaldelik herhaal is, is daar variasies opgemaak, waar Sarina se baard, en toe Hendrik se neusgate brommer nommer twee vertraag het.

Na “Nag dames” is Nico, Koos Kriel en Hanlie eers gegroet. Met hulle vertrek val Nico se Volksie se uitlaatpyp, waaraan hy die hele oorstaandag gewerk het, af en hulle moes toe maar met die gedreun en al Stellenbosch toe.

Almal het gaan slaap met die verwagting van reën, en nie veel hoop om die volgende dag Tafelberg te klim nie.

Vrydag:
Na ‘n bietjie reën en koue die nag was die weer die oggend heelwat beter en ons besluit toe om Tafelberg aan te pak.

Op die laaste plato’tjie, net onder Tafelberg, het ons vir die eerste maal te doen gekry met die koue yswindjie wat die dag daarbo gewaai het, en almal het vinnig gevis na hulle warm goed. Toe ons die skadu van die berg ingaan, het ons opgemerk dat die druppels op die grassies verys was. Hoe verder ons gestap het, hoe meer het die ys geword totdat elke grassie later vasgevang was in ‘n ysstokkie, en ligte kapok op die plat klippe gelê het. Dit was ‘n pragtige gesig om teen die helling af te kyk oor ‘n see blink ysvingers wat in trosse boontoe wys. Marie Smit en Reg het gou gesorg vir ‘n geveg met ysballe.

Ons was maar dankbaar vir die sonnetjie wat so lekker aan die voorkant van die berg geskyn het. Daar is ons in ‘n wye skeur in die berg teen stapels rotse op. Die laaste entjie, voor die plato op die berg, is ‘n stukkie rotsklim. Nadat ‘n paar mans op die berg sukkel-sukkel bo gekom het, het Charlotte ‘n ander styl probeer en is in ‘n kits bo uit.

Bo-op die berg het ons ons verwonder aan die ruwe terrein met sy vreemde rotsformasies. Veral die vlieënde piering het groot aftrek gekry. Ongelukkig het die mis vinnig opgekom, sodat net die eerste klompie mense in die vallei waarin Driehoek lê, kon afkyk. Almal kon darem die panorama Karoo se kant toe besigtig.

Na ‘n algemene gesukkel om weer af te kom by die stukkie rotsklim, moes een van die dames weer wys hoe. Die slag was dit Karin wat ‘n revolusionêre, maar hoogs suksesvolle metode probeer het, en in ‘n kits onder was.

Toe ons van Tafelberg onder by die plek aankom waar die middagbroodsakke gelos was, kry ons alles reeds reg vir middagbrood. Vier dames het vroeër afgekom en alles reggekry vir ete. Ons hoor toe van Valeska, wat op pad af ‘n duikslag probeer het, gelukkig sonder ernstige gevolge.

By die kamp moes ons, tot ons ontsteltenis, uitvind dat die kampblyers nie, soos ons vuriglik gehoop het, solank maar die kiste gewas het nie.

Die aand toe Roelof sy fluitjie (vir die soveelste keer) blaas, was daar ‘n vreemde gesig. In plaas van skiet, storm die manne vir die kosry. Eers toe Roelof sê wie die seën sou vra, word daar toe geskiet, en menige vraende uitdrukking van ‘n vroulike gesig word verwyder. Toe Jat du Toit en Wouter Heymann net na ete van Stellenbosch opdaag, is Marie en Charlotte loshande die meisies met die blinkste oë in die kamp. Hoe sê die advertensie: “Al wat ‘n kat nodig het is liefde en Epol.”

Die items was skaars. ‘n Seder Burger is darem opgevoer. Dit was eintlik snaakser toe dit beplan was as toe dit opgevoer is. Dit het natuurlik geëindig waar Seder die skurke slaan. Hulle is binne ‘n minuut meer keer platgeslaan as Arnold Taylor in sy hele loopbaan, en elke slag bo-op Tekkies se slee.

As die items nie tot hulle reg gekom het nie, het die sleëry daarvoor opgemaak. Hendrik was dié aand nie met een of selfs twee sleemaatjies tevrede nie. Hy het sewe gehad. Tekkies is die aand vir die eerste keer ondergekry. Na ‘n week waarin hy swaar op sleemaatjies was, het Magdel hom “vodde” geslee. Toe Valeska met Jaco klaar was, het sy met Reg aangegaan. Lank na “nag dames” het ‘n klompie nog om die vuur bly sit en koffie gemaak. Klokslag twaalfuur is Charlotte eers met haar een-en-twintigste verjaarsdag geluk gewens.

En toe sit ons daar en kyk na die vuur … en weet … nog ‘n toer is verby.

Saterdag:
Wat sê ‘n mens oor ‘n laaste dag? Ons het kiste gewas en opgepak. Nadat ons vir die Du Toits geserenade het en vir Charlotte geluk gewens het met haar verjaarsdag is ons vort.

Op die bus is gesing, baie geslaap, stories vertel en raaisels gevra. Die raaisel wat seker die meeste aftrek gekry het, was Jaco s’n oor sy tros grypende krom vingertjies. Ons het sing-sing Stellenbosch binnegekom en onder in Neelsie ons bagasie opgetel. Toe spat ons uitmekaar en sien uit na ‘n warm, stort/bad, baie slaap, die mobkerk en die reünie. Om mee af te sluit, wil ek net weer tradisioneel maar opreg, die Vader dank vir hierdie toer. Hy het ons bewaar, en Hy het dit vir ons moontlik gemaak om Sy natuur so te geniet.

Breda Ludik
(Waarnemende sketsskrywer)

You must be logged in to post a comment