Tuinroete Gala 1976

Gala ’76 sal nog lank in die BTK onthou word as die toer waarop die wa amper afgebrand het. Slegs die een-en-negentig toerlede sal egter ooit ten volle die wonderlike verligting in daardie “amper” besef.

Dit was ‘n ongelooflike toer – ongelooflik lekker en ongelooflik in die opsig dat so baie verkeerd kón gaan en nie hét nie. Daar was die brand, die afwesigheid van die leer, ‘n nuwe voorsitter en bestuur, ‘n onervare kosdogter en sketsskryfster wat sonder ‘n kosma na die kospotte moes omsien … en dan die weer!! Ná weke waarin die nuuslesers telkens wanneer hulle die weervoorspelling vir die Kaap lees, vinnig moes seker maak of hulle nie dalk Juliemaand s’n beet het nie, het ons die beste Gala-weer ooit geniet.

Vrydagoggend nege-uur, na ‘n gewag vir Tekkies en Nico, is die wa van Stellenbosch af weg. Van die onheilige dinge wat onder seil aangegaan het, sal mens liewers swyg, maar dat die son dit wat bo die seil was, goed beetgekry het, was baie duidelik aan Karen se rooi neus te sien!

Net vyf-en-twintig minute laat, vertrek die bus kort voor twee-uur vanaf die H.F. Verwoerd. Almal is in ‘n Gala-gees en sing so lekker dat daar enkelinge is wat wonder of hulle nie per ongeluk op die Universiteitskoor se bus beland het nie.

Die spierwit sneeu spotlag van die berge af en die doemprofete wat agterbly, voorspel ‘n aanklige koue en nat toer, maar ons lag en sing dit alles weg, want ons harte voel lig – ons gaan gala!

By Heroldsbaai is dit salig om saam tee te drink en die see in die agtergrond te hoor raas. Nadat selfs Lynette haar slaapsak gekry het, kry elkeen ‘n lêplekkie, en ten spyte van die onaardse geskree van die poue en die gestry tussen die “daggaborsie” en die “vrot gemors”, verkeer almal gou-gou in droomland.

Saterdag:
Met ‘n warm son en helder lug bo ons, is dit maklik om op te staan – veral as mens nie besef dit is nog voor ses nie. Die De Villierse en toekomstige De Villierse se naam-T-shirts maak hulle baie gewild onder die naam-lerende eerste toeriste.

Ons breek volgens oom Tjaain alle vorige eerste oggendrekords en val sommer vroeg reeds in die pad. Aanvanklik is die pad duidelik, maar dan loop ons iewers verkeerd en nadat ons deur ‘n kampie is waar honderde brommers almal besig was om ‘n aaitem te herhaal, ploeter ons verder die bosse deur. Op een plek het Rotjie en Reenen die voorreg om te besluit wie hulle help om oor die water te spring en wie hulle in die water in help.

Onder dennebome hou ons ons voorstellingsparade en almal vind uit hoekom Breda se oë van vroegoggend reeds so blink. Was daar al ooit so ‘n puik galery? Die arme SR-lede moet deurloop met: “Support the mentally disabled – vote De Jager and O’Kennedy!” Hel-ditsemse-dingese-Miem van Schalkwyk gee probleme, Lynette Webster word Spinniekopster, Lynn Curry word Kerrie en Rys, Piet Calitz word Piet Streaker en by Kinnie Steyn moet die galery erken – “ons ken-nie!” Die hoogtepunt is egter die troumars-komposisie onder leiding van die beroemde dirigent, Marius Crous, spesiaal vir Rhei-ei-ein-holdt en Riëtte.

Ons stap verder tussen die landerye deur en verkyk ons op een plek aan die silwerwit stamme van die reuse bloekoms langs die pad.

Pacaltsdorp met sy netjiese strate en huise, is sommer gou daar en ons veroorsaak ‘n opskudding. By elke huis staan ‘n hele laerskoolklas ons groot-oog en aanstaar. Enetjie met ‘n groot, rooi strik op die kop, vra verwonderd – “Oefen mevrou-hulle vir die groot stap?” Ons stap in Beethovenstraat af en kruis Lisztstraat, Haydn- en Mozartstraat. Ironies genoeg kom die enigste musikale begeleiding van ‘n dronkie en sy tweesnaar-blikkitaar.

Kort na Pacaltsdorp verdwaal ons weer en die arme voorstappers doen “bundu-bashing” in die ergste graad, terwyl die slotte voel asof hulle op ‘n nasionale pad stap. (Daar is tóg voordele verbonde aan ‘n groot toer!).

Gelukkig vir almal se magies, wat teen hierdie tyd al aan hulle rugstringe begin vasgroei het, stop ons eindelik vir middagbrood. Ongelukkig vir ‘n sekere Licorice-steler is daar ‘n dam naby genoeg om met klere, stewels en al ingegooi te word!

By die pragtige klein baaitjie met sy gladde ronde klippe, rus ons ‘n rukkie en klouter dan oor die rotse verder. Langs die pad verkyk ons ons aan die golwe wat telkens oor ‘n soliede rotsmuur slaan. Dan kom ons egter ook voor ‘n muur te stane – en een waarvan die leer wat in die verlede daar was, nie meer in ‘n werkende toestand is nie. Die noukeurige metings wat van vorige toere se foto’s gemaak is, was blykbaar nie baie akkuraat nie, en pogings om met ons eie leer oor te gaan, misluk. Met ‘n paar wel oor en arme Tokkie sopnat en bebloed, keer ons na Ballotesbaai terug. Dit kos sa-ka-pa-ka-krag om die bult uit te kom – dis nou as mens nie Helmien is wat bo-op die leer daar uitgedra is nie!

Die rit deur George met sy baie stopstrate is nie baie bevorderlik vir die wa-ysters nie, maar eindelik kom ons by ons kampplek op Saasveld aan. Die mans betrek die stoep en die dames vlei hulle op die groen gras neer, terwyl hulle onrustig na die wolke kyk.

Voor ete benut die meeste óf die stort onder die prieël, óf die krip in dameskamp en is dan reg vir die ingrawery. Die kokke ry Tekkies se pogings ‘n bietjie in die wiele deur, na aanleiding van die Septembertoer, te waarsku: “Oppas, Tekkies slee meisies vodde!”

Ons kampvuur die aand word die Koperkapel en die Grootbek-padda opgevoer en soos gewoonlik lag die ou toeriste net soveel as die eerste toeriste. ‘n Poging om ‘n brug tussen die hemel en die hel te bou, misluk, omdat daar aan die hemel se kant net tokkelokke (met draad “halo”tjies uit Flipenelsa) is, terwyl al die ingenieurs aan die ander kant sit.

Sondag:
Gedurende die nag val ‘n paar druppels en skei die dommes (wat onder die voertuie se olietenks invlug) van die slimmes (of is dit luies?) wat bly lê.

Die son is nog skaars op, toe bring die flukse feetjies en kaboutertjies al koffie en beskuit. Daarna staan elkeen teen sy eie tempo op – gelukkig vir die laatslapers begin oom Gys se nege-uur kerkdiens eers ‘n bietjie ná nege. Ná kerk word koeldrank gedrink en rustig verkeer, terwyl daar koorsagtig in die kostent geswoeg word totdat die bak Elsa eindelik in die krip gelaat kan word om af te koel.

Na middagete word die Elsa getakel en kom die moontlikheid van ‘n TV-reeks oor Elsa onder bespreking. Die sensorraad sal miskien die maak-proses nie deurlaat nie, maar verder kan mens begin met ‘n studie van die gretige uitsien van die Elsa, die ontvangs van ‘n groot bord vol daarvan, die vinnige tempo waarteen aanvanklik geëet word, hoe die tempo stadig afneem, hoe die oë glasig word, die maag opswel en daar op die ou end net ‘n leë bord en ‘n slapende BT-Kaner oor is.

Ten spyte van Elsa is dit ‘n baie vol wa wat later vertrek “gorge” toe. Vir dié wat wel die yskoue water aandurf, is die nou kloof en waterval ‘n bibberende, maar pragtige gesig.

Almal was hare en veral Sarina en Stephanie se salon kry baie aandag na hulle sukses met Sterretjie se kapsel. Raymond verlaat hulle met drie poniesterte – een in sy baard! Selfs meesters op die gebied moet egter hulle beperkinge ken, en hulle erken uiterlik dat Tobie se haardos hulle moses is!

Terug op Saasveld word daar jukskei en bofbal gespeel deur die meer aktiewes terwyl die minder aktiewes hulleself musikaal besig hou. Egugene se onmusikale fluitjie bring egter ‘n einde aan die sang en al die ouens wat ‘n dameskiet verwag het, moet verward skiet.

‘n Lewendige Sondag-aaitem-aand volg, met die kerkkoor wat sing, en Deon, Kosie, Chappie en Marlene wat sing en ghitaar speel. Reenen en Christien en die walaaiers sorg vir ‘n verdere onstigtelike aksie. Koos Schoonees lees ‘n stuk uit Tant Nelie se Veerpluime, terwyl Karen ons laat rol van die lag deur P.H. Nortjé se rugbywedstryd tussen die ouderlinge en diakens vir ons te laat lewe. Ons sien almal die goedige ouderling wat, as hy eers kwaad gemaak is, al wat voorkom (spanmaats en teenstanders inkluis) uit die grond loop en soos flenters agter hom laat lê!

Uitkenningsparade word vir die eerste toeriste ‘n nagmerrie van Sol en Gobbelé se rooi en wit gesigte. Sassie en Helmien se blou maskers, Pierre se Arabier-voorkoms en Breda se lang swart lokke en lastige blou snor.

Maandag:
Vir ‘n Wraakdag is die weer gans te mooi, maar miskien het die eerste toeriste dit nie eens opgemerk nie. Bessie-hulle, wat iets geheimsinnigs in die bos gaan doen het, skrik so groot vir twee ou toeriste wat vasberade op hulle afgestap kom, dat hulle glad nooit weer omgekyk het nie!

By die brug oor die Kaaimansrivier bak ons in die son terwyl Eugene en Breda tevergeefs in verband met die pont gaan uitvind -negentig mense is blykbaar ‘n bietjie te veel! Rotjie beproef die walaaiers se lagspierbeheer tot die uiterste en Kosie Slabber deel uit sy rype ervaring ons mee wat ‘n man in ‘n meisie soek en vice versa. Ha hierdie huweliksvoorligting weet almal van die drie M’s en die drie B’s.

Met die uitsondering van die slim slotte, verloor die ou toeriste die paadjie en Breda lei ons deur die bosse – alles spesiaal vir diegene wat in 1974 reeds dieselfde Gala gedoen het en nie daarvan hou om dieselfde stuk pad te stap nie.

By die groen heuwels bokant Wildernis verander Wim se van in Trapp en hy en sy gesin huppel (op ‘n BTK-variasie) uitgelate oor die graspolle.

Eugene en die voorste groep stap met die treinbrug oor die Kaaimansriviermond en almal ontdek tot hulle groot verbasing toe hulle deur die tonnels is – Victoriabaai lê dan net om die draai!

Wildernis se strand lyk skielik soos Clifton as die sonhonger BT-Kaners daarop toesak, in die branders baljaar en op die wit sand lê en bak. Daarvandaan is dit ‘n hanetreetjie tot by die kafeetjie wat sedert twee jaar gelede ‘n gedaanteverwisseling ondergaan het – die eienaars het seker geweet ons sou weer daarlangs kom toer!

Die sagte romantiese musiek lei tot ‘n statige dansery deur Stiaan en Karen – tot groot vermaak van almal. Maar selfs die musiek word stilgemaak wanneer “Eine Prosit” aangehef word. Raymond wys almal op die noue ooreenkoms tussen hom en die leeukop wat teen die muur hang. Willem Grootbek is vir een keer in sy lewe stil geskrik toe hy die leeukop teen die muur wil terugplaas en die musiek juis op daardie oomblik twee dramatiese akkoorde gee!

Op die groen gras voor die hotel vind ‘n rugbywedstryd tussen mans en meisies plaas. Ná die skrums moet die meisies se ore eers teruggedruk word na hulle normale posisie, en is al wat meisie is, oortuig dat mans wat rugby speel, definitief mal is.

Op pad na Ebb en Flow gaan dit jolig met die bal-spelery – Pierre en ‘n paar ander lê definitief dubbeld die afstand af. Marius maan elke keer as die bal net effens na regs neig: “Oppas vir die doringdraad!” Al koningende kom ons die kampplek binne en ons word van alle kante af aangestaar. Die storte kry gou groot aftrek – die rivier en enkele bootjies ook.

Die eerste toeriste vergader eenkant onder die bome – bedink hulle aaitems of moord? Die res speel alle moontlike speletjies – van bofbal wat met groot gekroek en vashouery gepaard gaan, tot vroteier en derdemannetjie – alles met net drie basiese reëls! In die chaos van die spelery veroorsaak Eugene verdere chaos deur sommer die fluitjie te blaas sonder om Spinnies aan te kondig!

Die eerste toeriste se aaitems is maar power. Die Geneefse konferensie met oom Tjaain Smith, Marius Crous Muzorewa, Eugene Crous Mugabe en oom Gys Muller Nkomo, maak ons almal aan die slaap en dwing Breda om maar tydens die aaitems saam met sy sleemaatjie te slee.

Nico probeer ‘n paar Alah-aanbidders versteur en word in die proses vir ‘n donkie aangesien – van wanneer af het donkies boggels?! Naas Rotjie se “revense”-aaitem, lewer Breda met sy lang-afstand-marshmallow-braaier die beste aaitem van die aand deur elke keer sy marshie aan ‘n hongerige dief te moet afstaan. (Hoe lei die spreekwoord – van die hand na die mond…!!). Gelukkig kom Tinie tot sy redding en kry hy ten minste een te ete. Na die Wraak begin Tommy en Stiaan met ‘n nuwe BTK-sêding deur te denk, en te denk en nie te kan denk hoekom hulle nog nie ‘n soen kon kry nie!

Dinsdag:
Met ‘n son wat vroeg reeds waarskuwings aan almal se neusvelle rig, val ons in die pad see toe. By die eerste “smoke-break” op die sand kry Tommy en Stiaan die soene wat hulle die vorige aand gevra het – Stephanie en Sarina se lipmerke was teen die aand se kant nog duidelik sigbaar.

Dit is ‘n warm en lang stuk sandstap, met Gerickespunt wat altyd ver bly. Toe ons eindelik stop vir middagbrood, suig almal vas teen die loodregte walle om die dun strepie skaduwee te benut. Van swem is daar nie juis sprake nie – mens kon darem rondspoel tussen die skulpe. Eindelik om Gerickespunt wag daar egter ‘n heerlike swem.

Nadat die meisies koes-koes aangetrek het, is dit ‘n hanetreetjie Swartvlei toe. Ongelukkig vir almal se dorstige kele, maar gelukkig vir Koos se koeldrankverkope, is daar net brakwater te drinke.

In die kostent heers daar krisis – tot die groenteskillers se groot vreugde is die pampoen skoonveld!

Dit word ‘n heel romantiese skiettyd met Karen wat die fluitjie blaas vir damesskiet toe Eugene en Sarina in die Volkspele-kring bymekaar uitkom.

Na die dag se lang stap en seer brand, is almal maar vaal en die aaitems nie baie lewendig nie. Marius laat ons egter kraai van die lag soos hy en sy ore en die “bucket” op en af gaan. Tobie word weereens vlieënier van ‘n vliegtuig met ‘n pouhok op en iemand se papegaai “wens en wens die ou vrou vrek.” Almal wens egter die ou grys merrie het ‘n vroeë dood gesterf!!

Baie laat die nag het ‘n paar darem die maanlig op die strand benut en eers bedwaarts gekeer toe die maan al agter die berg verdwyn het. Die koeie oorkant die draad, se oë het gulsig in die donker geblink en die meisies vrees vir die lot van hulle wasgoed. Lynn en Isabel is egter nie oor sulke nietighede bekommerd nie – hulle slaap heerlik met die wete dat hulle van daardie dag af hulle graad in Fisioterapie agter hulle name kan skryf.

Woensdag:
Die oggend het rustig begin. Die son het vroeg reeds gesteek en almal met ‘n lamheid getref – gelukkig! want net toe die voorstes al oor die bult en op die strand is, en net voordat die slotte wou vertrek, is daar skielik ‘n geskree – “die wa brand!”

Niemand wou dit glo nie, maar die donker rookwolke wat by die wa uitgetrek het, was eg en dit het vinnige aksie en emmers water gekos om die vlamme te blus.

Verslae het die paar van ons na die beskadigde bagasie staan en kyk – amper te bang om te kyk aan wie wat behoort, of liewers, behoort het. Die oorsaak van die ellende, ‘n “dooie” stuk brandhout, het eenkant gelê. Die ongelukkigheid oor die skade was groot, maar die dankbaarheid by die besef van wat kón gebeur het as die brand nie betyds ontdek is nie, was oorweldigend.

Die vol rivier bied die eerste probleem op die dag se stap. Sommige word deur gedra, maar die meeste swem maar deur. Terwyl daar op die “brandblussers” gewag word, vergas Rotjie en Karen ons op ‘n gewaagde aaitem waarin Rotjie aan Karen se pa moet verduidelik hoekom hy die b-b-boudjie soek!

Dis ‘n mooi stap – sandstap en rotse wat mekaar afwissel. Jeanette maak doodseker dat die son haar nie kan bykom nie, deur skaars ‘n vierkante sentimeter vel toe te laat om uit te steek.

Middagbrood word gehou in ‘n klein grotjie en “seconds” koeldrank is hoog in aanvraag. Ons bereik Goukamma met ‘n pragtige bospaadjie wat oor die hangbrug gaan. Terwyl ons wag vir bevestiging van ons kampplek, swem almal. Die brand-slagoffers sit egter mismoedig na verbrande rugsakke, sponsies en klere en staar.

Skiettyd is weer chaoties met ‘n onverwagte tweede dameskiet. Gelukkig vir sommige meisies skiet die helfte van die mans en elk geval!

Die komitee-aaitems en die kondensie word gewen deur die A-span kokke en stokers met hulle Dracula-gesin wat die Hills teister vir “lekker vars bloederige bloed”. In Tentekomitee se aaitem word Rotjie na ‘n bomontploffing in die pouhok amper deur die pouhokring onthoof. Na elke gevegstoneel met die Fillipstines moet regisseur-Fillipstine-Delightful-kommentator Marius eers weer Samson (Eugene) se skouers van sy elmboë af terugdruk na hulle oorspronklike posisie.

Donderdag:
Oorstaandag, en die oggendbroodjies wat gewoonlik ‘n skrikbewind moet voer om die mense uit die beddens te kry, word op ‘n vreemde manier gehelp – dis nie aldag dat ‘n professor en ‘n predikant mens met koffie in die bed bedien nie! Die uitstekende diens word voortgesit deurdat “seconds” brood selfs per “lilo” op die oorkantste wal van die rivier bedien word!

Buffelsbaai se heerlike strand is naby genoeg om na toe te stap (of te “hike” as mens slim is!). Ons neem die kafee oor – hoeveel biere het Nic en Kosie weggesit?! Na ‘n heerlike swemmery is ons terug kamp toe vir sop en brood.

Na ete luister ons na die gesamentlike ghitaarspel van Breda, Deon en Kosie. Die res van die middag verloop soos enige oorstaandag – rustig.

Vroeg reeds begin die manne ingrawe. Nico gebruik ‘n hele boek vol grappe om Magriet by hom te hou – geen wonder dat hy nie dink dis ‘n grap toe sy as spinnie aangekondig word nie!

Die “stew” vind groot byval – al moet die kokke en stokers mekaar later voer om hulle pan leeg te kry.

Sarina en Ina herhaal weer ‘n aaitem en “abseil” by Tekkies se tande af. Leon Jooste vertel al rokende om die vuur grappe en Tommy en Stiaan toon ons ‘n nuwe benadering tot aaitems – die aaitem word van weerskante van ‘n honderd meter afstand benader!

Rotjie en Kosie laat ons krul van die lag. Rotjie se barmhartige Samaritaan wat, nadat hy van sy transistor-radio beroof is, deur die vis ingesluk en uitgespuug is, in die boom aan sy hare gehang het totdat Delila dit afgeknip het en van wie daar op die ou end twaalf mandjies vol van oor was, span die kroon!

Die toneel word tradisioneel weer geaaitem, met as hoogtepunt die uitstrooi van die slotkis se totale inhoud. Ham Burger en die Goue Kam van Goukamma is ‘n flopera – jammer dat een van die hoofspelers slegs oor ‘n repertoire van twee note beskik!

Laatnag word daar eers vir Chappie gesing – gelukkig vir hom word hy nie in die rivier gegooi nie. ‘n Paar is egter mal genoeg om uit vrye wil te gaan swem. Toe moet hulle natuurlik eers van binne en buite ontdooi en dit word baie laat voordat oom Tjaain ‘n slag die laat-nag-koffiedrinkers stilmaak, en die kamp eindelik in droomland verkeer.

Vrydag:
Met oom Tjaain nie te gelukkig nie, begin die dag op ‘n effense valse noot, maar nadat die sjarmante kelner (Raymond) in Buffelsbaai se kafee almal se bestellings geneem het, voel almal weer beter.

Die rugbywedstryd waarna so lank uitgesien is, vind ietwat chaoties op die sand plaas. Met baie sand in die spelers se kele is die koue biere by Brenton-on-Sea baie welkom.

Dis ‘n mooi stap tot by middagbrood – nou hoog oor die bulte en dan weer seevlak op die sand. Ons eet middagbrood by ‘n fantastiese oorhangkrans waar ons ons verkyk aan die seemeeue se manewales. Die groepfoto word daar geneem – miskien ‘n bietjie onvolledig aangesien die noodhelpers besig was om Bessie te help.

Die effens moeilike paadjie om na “The Heads” toe, is darem die moeite werd – dis pragtig om hierdie massiewe rotsboë te sien en nog mooier om daar te sing en te voel hoe die klanke van ons stemme deur die rotse voortdreun. Die veel-gevreesde lagune is toe skaar knie-diep, en die uittrekkery amper onnodig. Die meeste van ons is egter maar koud en nat, en dié wat nie kans sien om soos Deon binne-in sy reënjas te verklee nie, is maar bly om op die wa te kom.

Voordat ons egter kampwaarts keer, wag daar nog ‘n verrassing vir ons. Ons stop by die klein Belvedere-kerkie en word vir ‘n rukkie binne stil. Die klipmure, die houtbanke, die glasvensters en beelde, saam met negentig BT-Kaners se gewyde sang, skep die regte atmosfeer waarin almal God dank vir ‘n wonderlike toer en Sy beskerming. Veral vir die laaste toeriste is dit ‘n paslike plek om dankie te sê vir baie jare se BTK en voorregte.

Die kontras is groot toe ons deur Knysna ry en ons “Ein Prosit” deur nie-blankes beantwoord word met die gee van die Swart-Mag-saluut.

Ons laai Bessie en haar seer been by die hospitaal af en ry Woodbourne toe. Daar het Nic reeds man-alleen die hele wa afgelaai en die ander wa-ryers het hulle by die groente fluks gehou. Warm storte en baddens is ongekende saligheid – selfs al vra ‘n man skielik van net langsaan of jy jou bad geniet!

Terwyl almal ‘n gedurige stryd teen die lastige en bloeddorstige muskiete voer, bou die manne ywerig slees. Die ernstige ingrawery word egter in die wiele gery deurdat daar twee harde buie reën uitsak. Dit lei die begin van ‘n chaotiese aand in. Tentekomitee sukkel om tente op te slaan en teen mekaar te skuif (sonder die hulp van Chris wat rustig iewers op sy “smoelorgel” sit en speel!) en die kokke word al boser omdat hulle kos lankal klaar is. Uiteindelik, na twee waarskuwings, blaas Eugene die fluitjie. Nie dat dit juis vreeslik saak gemaak het met wie jy geslee het nie, want ons het elfuur begin slee en drie minute oor elf het almal geslaap!

Rotjie, Kosie en Deon wend darem ‘n poging tot aaitem aan. As sukses egter aan die toekoorders se reaksie gemeet moet word, was hulle nie baie suksesvol nie. Al twee wat redelik wakker was, was Tekkies en Riana – Tekkies het darem nie verniet blikgewas nie, en boonop het hulle teen die harde tentpaal geslee! Na hekeltyd gaan almal buite om die vuur staan en neem ons afskeid van die laaste toeriste. Dit is moeilik om totsiens te sê aan mense wat deel geword het van die BTK en wat diep spore getrap het. Veral aan Sarina is almal baie dank vir baie wonderlike toere se kos verskuldig. Na godsdiens staar almal nog lank in die vuur waar Ina se grondseil, Sarina se sleepilblik en Isabel se stewels nog lank hulle vorm in die gloeiende vuur behou.

Min gaan direk slaap en dis ‘n groot groep wat Gottlieb en Jeanne en die bus met ‘n geluidlose koning begroet. Tot laat word daar nog gesels, ghitaar gespeel en gesing. Om die kookvuur word stokbrood gebraai.

As mens dit eindelik waag om bedwaarts te keer, voel jy lus om tentpenne by Tentekomitee te gaan leen om jou aan Moeder Aarde vas te anker sodat die muskiete jou nie met slaapsak en al wegdra nie.

Saterdag:
Na ‘n kort en onrustige nagrus word almal wakker met ‘n beter begrip van die Ou Testament – almal verstaan presies hoekom Farao vir Moses na die muskietplaag toegelaat het om uit Egipte te trek! Die papkokers se interessante Oats-Mabella pap vind nie baie byval nie – miskien het ons maar net te laat die vorige aand geëet. Nadat die kiste gewas is en die wa gelaai is, sit almal sommer rond en sing, en dis toe dat oom Tjaain opmerk: “Is Breda maar altyd so galant teenoor Sassie?!”

Net nadat oom Tjaain Eugene bedank het vir sy leiding op die toer en beklemtoon het dat die fluitjie nooit op die toer met venyn geblaas is nie, doen ‘Gene presies dit en beveel die laaste toeriste bars om in die kring te kom staan sodat hulle maan toe gestuur kan word. Iemand se opmerking “wat maak julle nog hier?” na die seremonie, laat almal lag en maak dit makliker om die nare knop in die keel weg te sluk en te vergeet wat daardie afskeid regtig beteken.

Dan is die toer verby en een na die ander groet en vertrek in alle rigtings. Die busryers lyk, volgens Rotjie, soos verlepte appelkosies, maar dit is dankbaar en gelukkige appelkosies wat daardie nag, na ‘n lang gewag vir die wa en die bagasie, elkeen sy koers kry en iewers ‘n gat in ‘n matras gaan slaap.

Tinie Muller
(Sketsskryfster)

You must be logged in to post a comment