Verkorte Obiqua April 1979

Slegs vyf-en-dertig Maties kon daarin slaag om hulself los te skeur van die akademie en die studieverlof gedeeltelik te omskep in ‘n verkorte Obiqua-toertjie. En wanneer BT-Kaners weke se energie en uitsien na die toer in slegs vier dae moet inprop, gebeur snaakse dinge …

Die klippaadjie af na Happy Valley betoon geen genade vir die ouens wat die kiste daar moet afdra nie. ‘n Bedagsame Joos plant sy lampe oral langs die paadjie en van die kampplek af lyk dit soos feesgangers wat aankom. Lekker honger van al die harde werk en so deur al die singery heen, eet ons heerlik aan die broodjies van kosma Minette en haar sussie Sassie. Voorstellingsparade volg en die eerste-toeriste maak kennis met die toekomstige stadsklerk van Put-sonder-Gat. Ten spyte van Pierre se vriendelike waarskuwing die vorige aand, is Hortence se eerste woorde Saterdag-oggend met opstaan: “Dis dan nog donker …” Ons eet van oom Tjaain se pap en ‘n paar van die ouens maak seker dat Tillie se kop nie weer sal draai na ‘n entjie se stap nie.

Toe Neels se “ons stap nou” weerklink, vat ons die klippad met mening. Ons loop en kyk af oor die Wellingtonvallei en baie van ons besef: dít is waarvoor ons lank reeds wag. Met die afdraai op die kleipad, kom ons hulle teë – plate sewejaartjies wat vaak sukkel om oop te gaan. Ander staan reeds in volle glorie en blink in die vroegson. So met Tobie en Adriaan se politieke relaas in ons ore, kom ons skielik op die sprokiespoele af. Hoe vertel ‘n mens vir iemand anders hiervan? Versadig van die koel mooiheid, stap ons verder die kloof op. Die steiltes raak knaend en ons knieë lam, maar toe ons uiteindelik by die Slanghoekafgronde aanland, word alle moeg eensklaps vergeet en staan ons verstom oor dié deel van die skepping. Of ‘n mens dit mooi kan noem, is ‘n vraag. Miskien sou “groots” of “duiselingwekkend” meer gepas wees. Toe die grootste kyk verby is, gryp elke man (hulle bly maar soos klein seuntjies) na ‘n klip om die hoogtes af te slinger. Ver onder hoor ons hoe die klipklap weergalm. Dit is reeds hier dat Hannetjie die moontlikhede van ‘n vryval oorweeg, maar besef dat die nadele groter sou wees. Natuurlik brei Adriaan uit op hierdie nadele ….

Met die terugkom, koning ons vir Tienie en Jacques wat op pad is na die afgronde. Middagbrood word by die water gehou en die natuurlike verloop van sake is dat ‘n paar meisietjies bedroë daarvan afkom. Die kort entjie klippad van die oggend, word skielik lank en knaend. Die koel rivierpoele by die kamp laat ons egter gou ons moegheid afskud, en uitsien na die aand se slee. Na ‘n heerlike ete word daar in die slees geklim, en begin die chaos. Die regtervleuel van die sleekring veroorsaak voortdurende konsternasies as gevolg van die kombinasie Tillie, Neels, Aletta. So tussendeur die gewoel lewer die katte van Happy Valley ‘n uitstekende item en word hulle telkens weer ge-“encore”.

Dis vir baie van ons goed om weer om die kampvuur onder ‘n vars sterrehemel ons Skepper te loof met ons aandgesange.

Dié aand maak Kosma byna nie ‘n oog toe nie en paradeer sy reeds van vroegoggend af op en af met haar oë turend in die rigting van die pad. Toe ons ander Sondagoggend wakker word, vou die mis ons knus toe en gee ons rede om ons om te draai vir ‘n tweede slapie. Die Kabouter kom laterig omdat hy sowaar eers vir die ouens gaan koffie gee het. Hy moet nog leer. Na kerk (gelei deur André), arriveer Pierre. Die son breek deur (vir Minette letterlik en vir ons figuurlik) en dit word swemwarm. Na ete word daar op tradisionele maar onkonvensionele manier rivier toe gegaan. Indrukke van dié konsternasie van agter ‘n klip in die rivier: angswekkende gille van louter plesier, Joos se stewels trek deur die lug, Louise klim druipstert uit die poel, Hendrik draf vlugvoetig oor die klippe en nog etlike gille volg. Stilte, ‘n waterslag en ‘n gelag … So is onse maniere!

Terwyl omtrent almal tog nat is, word daar besluit om die swempoele te besoek. Na ‘n luilekker middag volg ‘n heerlike kampvuur. ‘n Paar toeriste vertrek net nadat ons begin slee het, en die kamp word aansienlik rustiger. Toe ons egter begin dink dat ons van die ergste ontslae is, hoor ons uit die verte: “Hier kom die gevreesde rampokkers alweer, niks op dees aarde kan hul meer keer …” ‘n Chaotiese sleëry volg waartydens daar etlike hopies gemaak word. Terwyl Pierre en Deon slee, kruip hul sleemaatjies weg. O die opwinding van soek! Met hekeltyd moet Hannetjie en Christien verantwoording doen van hul sonbad. Elfuur sê die wyse oom Tjaain nag dames, en as baie van ons geweet het wat die volgende oggend vir ons wag, sou ons sekerlik ‘n yslike blaas op die hak (soos Sabet) verkies het.

Vroeg-vroeg die volgende oggend soek ons al die paadjie Tierkloof toe. Lieb ondervind probleme om Sassie met die fluitjie in toom te hou. Dis goed ons kon nie van onder af sien hoe hoog ons moes klim nie. Tierkloof is so mooi, dat ons meeste van die tyd nie die styl klim agterkom nie, alhoewel ons hier en daar moet klouter teen die hange uit. Op een plek sien ons waterdruppeltjies soos towerliggies uit die lug val. Lieb moet egter sorg dat die groep bo uitkom, en ewe taktvol wys hy Sassie daarop dat sy later kan gaan druppeltjies vang. In Tierkloof is dit werklik ‘n geval van “lost horizon”, want wanneer jy dink die einde is in sig, doem daar net nog ‘n horison voor jou op. Ons loop stadig oor die los klippe. Dan is ons bo en honger. Ons eet stokbroodjies. Weereens is die uitsig fenominaal en ons verwonder ons aan sulke grootsheid. Die teruggaan gee probleme en dit is eers ná drie dat ons die Obelisk-klofie vind. Dis styl af, maar so nou en dan gly ons oor ‘n graspol en wens dat die hele pad so salig kon wees. By die Obelisk moet ons eers weer op; die kranse is nogal hoog en die rotslysie nou. Hannetjie vind dit goed om maar liewer haar gesig in haar hande weg te steek en te huil totdat die ouens haar oor die ergste help. Dis ‘n nimmereindigende tog af na onder. Hier en daar word ons pad opgekikker deur die reuk van ‘n reuseprotea of ‘n skaam grondrosie. Ons mik vir die paadjie en toe ons daar kom, begin die son al vinnig water trek. Die wat baie werk het, haas hul vooruit en die ander (wat ook baie werk het) stap rustig en bekyk die hoogtes waar ons vandag was. Nie lank nadat ons die berg af is nie, trek die mis ewe selfsugtig ‘n digte sluier daaroor. Ons loop die laaste end pad met die wete: dis goed om só moeg te wees.

Dié aand gee die eerste toeriste ‘n vervolg van Pierre en Deon se ego-item waarin die manne gedenk en gedenk en gedenk het. Nadat die eerste toeriste BT-Kaners geword het, vier ons dit met koekies en koekies.

Dinsdagoggend twee-uur ruik ‘n paar BT-Kaners reën. (Tog snaaks hoe dié sintuig van ‘n mens ontwikkel.) Hier en daar gooi een hom toe onder ‘n grondseil en bou ‘n ander ‘n skuiling. ‘n Paar onervarenes en ook ervarenes reën egter die oggend sesuur nat. Dis eers toe dit heerlik sous dat die tentekomitee aanstaltes maak om die tente op te slaan. Van nou af is dit die gewone heerlike reën-chaos: nat klere en slaapsakke enne helder oordag sleëry enne koffie en beskuit vir middagbrood enne reën, enne reën. Soos gewoonlik is dit glad nie waar alles eindig nie. Dirkie se motorfiets verseg om pad te gee van die kampplek af en Pierre se motor toon dieselfde neiging. Dis net die getroue ou Charlie se wa wat BT-Kaners nog dwarsdeur die jare op wonderbaarlike plekke gekry het – selfs terug op Stellenbosch!

(Sketsskryfster)

You must be logged in to post a comment