Langeberge September 1979

Charlie se wa is rooi en wit geverf met ‘n splinternuwe blou seil. Dis ‘n gala-wa so uit die land. ‘n Hele reeks ander voordele kan ook nog toegevoeg word: op die wa kan dit donker word, benoud word, gehopie word, geslee word: ge-BTK word. ‘n Winderige kampplek wag vir ‘n moeë klompie BT-Kaners. En toe almal begin om hulle snoesig te maak, stuit dit die wind voor die bors. Hy gee sy misnoeë te kenne deur ‘n paar boompies rond te gooi. Tobie, die kragman, red Neels van ‘n gewisse ondergang deur ‘n drieman groot boom vir ‘n hele paar sekondes lank in die lug te hou tot Neels darem ‘n kansie het om uit te kruip. Neels het lank reeds vir homself gesorg. Deur die nagwindjie gesus, raak die klomp eindelik aan die slaap. Die volgende dag is langstap en padstap Suurbraak toe, met reeds ‘n voorsmakie van die duisende mooi wat voorlê.

Suurbraak: Ag nouja, nouja. Die eerste toerissies kry hulle nekdoeke en wapentjies en hulle sê so mooi dankie soos eerste toerissies lanklaas gedoen het. Tee en koekies word bedien om die okasie mee af te sluit. Sondag word oorgestaan. Oom Bethel hou kerk en gesels met ons oor die natuur wat sug. Ons besef hoe wonderlik dit is om in harmonie saam te leef met God se natuur. Ná middagete word daar Elsa ge(vr)ëet. Peter het aan homself en ‘n hele paar dametjies heelwat bewys. Ook die voorsitter bring sy kant deeglik. Die middag word daar tou gespring, geslaap en so aan. Dis toe dit aand word dat die items begin: Die spinnies kwyt hulle deeglik van hul taak en laat ‘n paar manne net bontspring vir hulle sleepilblikke. En toe: “Kaysera, sera, what ever will be, will be …”

‘n Dag gemaak vir stap breek Maandag aan en ons is vroeg uit die vere. Halfnege vat ons pad en kort voor lank draai ons weg van die teerpad af die berge in. Die walaaiers het die teerpad verkies. By ‘n onoorkomelike stroom stel Minette die voorbeeld en dra Pierre daaroor. Anderkant hou ons ‘n knieknakkie terwyl ons wag vir die wa-laaiers wat toe al teen hierdie tyd net ywerig besig was om te haaik. Ilse en Renate word omgepraat om die res van die toer te bly. (Ons wonder nou nog wie het hulle agterna weer teruggepraat.)

By die stoppelland het die koeitjies en kalfies ons lankal verwag en kom ons gasvry tegemoet gehardloop. Ag, en ons voel so welkom. Maar toe hulle ons van naby sien, steek die besies in hulle vier spore vas – dis mos BT-Kaners dié. Toe is ons op met die paadjie. Pierre is terug om die walaaiers te gaan help. En doer onder in die plaaspad sien ons toe kakie en rooi. Die rivier was nog tussen ons, maar BT-Kaners kom altyd weer by mekaar uit. Onder die bekwame leiding van oom Bethel stap ons al langs die Buffeljagrivier af tot ons ‘n groot stomp kry – en vir Joos. Lekker kaalvoet trippel ons deur die stroompie. Toe wag ons nog so ‘n kwartiertjie of wat vir Neels en Pierre wat gaan Buffels jag het. By die wal uit, hardloop menige Heidi’s die boer se huis tegemoet. In die walaaiers se groot spore loop ons toe tot by hulle. Middagbrood word by die dam gehou, waarna daar eers gou “touch-rugby” gespeel word. ‘n Leë koeldrankbottel was nog altyd ‘n groot aantrekkingskrag vir die BTK-manne. Ons stap toe deur die dam op pad na die bosboustasie. Dis ‘n pragtige paadjie wat ons daar bring. By die oop kol gras waarop die paadjie uitloop, word daar eers natgegooi en helaas ‘n verlore mannepouhok bewonder.

By die bosbouhut gekom, word daar net haastig sleekring gebou. Al wat in die pad is word uit die pad gesit – so ook die Volkswagen. Dit alles vir Neels en Alet om lekker te kan slee. Die volgende dag word daar Swellendam toe gegaan. Nekdoekies word getjap deur ‘n oorblufte poskantoorklerk en daar word weggelê aan tjips en koeldrank en mosbolletjies. Die middag speel die manne jukskei en die wat wil, gaan kyk hoe lyk Duiwelskloof. Ná nog ‘n heerlike ete van die kosma en kosdogter, jaag die reëntjie ons ewe kontant na binne. En aangesien ons so nóu verbonde is aan mekaar, besluit ons om almal in die voorkamertjie te slee. Uit die hoek uit word daar vir Jonas gebel. Ook Idi Amin kry sy kans om deeglik deur te loop. En selfs vir die flouste meisiegrappies word daar hartlik geskater. Met die klink van die aandlied, skyn die sterre varshelder buite.

Woensdag vat ons die kronkelpaadjie al tussen die dennebome deur. Ons klim op en op tot bo in die wandelpad. (‘n Voorsmakie van die opte wat nog sou voorlê.) En sommer so tussen die heide deur stap ons met ons stewels en ons gedagtes die een na die ander. Die bergwind vat ons vars in die gesig en die vlaktes ver onder is op lê-loer vir ons. Soos die paadjie kronkel, so kronkel ons en ons weet as ons doen net wat hy vir ons sê, kom ons daar. Die Heidihut verwelkom ons met dennegeur en sagte beddens. Middagbrood word geëet en ‘n uiltjie of twee geknip. Toe word daar verder gestap al met die zig-zag langs. Toe Leeurivierpiek hoog bo ons troon, hardloop ons berg-af en wind-op plaas toe. Wat was Archie en tannie Audrey se teleurstelling groot toe hulle ons sien – die koffiewater was nog nie aan die kook nie!

Dis ‘n heerlike kampplek so op die kluitgrond rond en ‘n sleekring duisend word gebou. (Dit moet ons darem die manne ter ere na gee: party van hulle kán slee bou!)

Die komitee-items en die ou ryk boer van die omgewing (mnr Finkel-iets) weier om met sy baie geld ‘n Mercedes te koop. Hy hét mos twee pragtige goedjies (donkies) hier by hom. Hendrik ry met sy bende al om die vuur, al om die vuur. En as iemand moet doodval, val ‘n ander een dood en as iemand nie moet doodval nie, val hy dood. Dis ook hier dat Alet Joos se pyp rook dat die dampe so staan. Nouja, die kondensie gaan toe vir die baas van die plaas.

Ag, en voel so ‘n rugsak lekker stewig op die rug. Kyk dan net hoe sit hy. Hy’s darem swaar né. Man, ek wens ek het een soos jy gehad. ‘n Mens kan baie meer in hom laai. Die meisies sing in ‘n kring terwyl die wa gelaai word – hierdie keer heelwat ligter sonder die rugsakke. En toe: ag nouja, nouja …. Dis agtuur en dis op. Dis nege-uur en dis op. Dis tienuur en dis op. Dis elfuur en dis op. Dis twaalfuur en dis op. Dis eenuur en dis daar.

Die oom se lemoentjies word verwelkom met elke knieknakkie, (of liewer met elke inmekaarsakkie). Die paadjie zig-zag en ons zug-sag. Maar ons vat hom en ons hou hom tot bo uit. En as ons nie kan aanhou nie, hou ons uit! Daar word langasemstories gesels al teen die helling op en kortasemgrappies vertel so regs met die klofie langs. Nou en dan laat ‘n protea jou vergeet van die moeg. En skielik is jy ontslae van duisende frustrasies. Jy voel dof maar jy ervaar kraakvars: die blommesprei oor die berg, veral so al langs die klofie af, die geilgroen van die gras en die helderblou hoë berglug, die vertes, die nabydruppeltjies, die skrape op die bene, die uitgetrapte stewels voor jou. Jy loop en jy kyk en jy haal asem en jy hoor en jy sien en jy ruik en jy weet jy lewe voluit. En jy’s dankbaar en bly.

Nouja, optes is daar vir aftes. Nog nooit het “buns” en “guns” só koninklik gesmaak nie (aldus Elize en Marié). Met die rugsak reeds deel van jou, stap jy luilekker met die gladdepad langs na die nag se kampplek. Daar word gebad en kos gemaak in groepe. Daar word ook poeding gemaak en gedrink. Vernuftige manne bou ‘n verstokte sleekring. Dié aand kom die items een vir een oor ons koppe. En Richard steel hoenders en Marié word die hoenders in en Marijke het koedoebiltong in die slee. Oom Hendrik is die ster van Richard se item.

Die volgende oggend kom ons agter ons het bo die wolke geslaap. Terwyl die mis ‘n sleepsel maak bo in die kloof, stap ons in die geelson by die nekkie uit. ‘n Groepfoto word geneem en dis toe die BT-Kaners op Joos se kamera afstorm dat hy (die kamera) heeltemal oppak en net woes begin foto’s oormekaar skuif daar binne. (Miskien moet ons nie weer ‘n toerfotograaf se kamera bestorm nie.) Die wat wou, gaan klim Misty Point. Middagbrood word in die warmte by ‘n stroompie gehou. Toe vat ons die laaste ent pad kampplek toe.

Ons stap reënskadukant van die berg en die water is helder en die sewejaartjies lyk heel anders. Dié wêreld hier weet niks van sy maat anderkant die berg nie. Kleipaadjies word droë klippaadjies en asof hy skaam is vir wat hy ons kan bied, verras hy ons met twee yslike damme. En toe vat ons twee yslike swemme. Bovlakte lê en wag vir die BT-Kaners. Die hele BTK skud vere reg vir die laaste aand. Daar word vir oulaas lekker gekook (wortels ook) en daar word op ‘n tradisionele manier ingegrawe. (Hendrik se koffertjie het nie verniet onoopgemaak al die pad saamgekom nie.)

Die gevreesde rampokkers doen hulle intrede en die spoggerige dames in hulle aandrokke doen hulle passies. En word daar toe geskiet!

ITEMS! zzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzzz – ag nouja. En Alet gaan kuier vir Klasie en Pierre gaan kyk of die liggie in die rooikis brand en Joos knyp sy baard vas in die koelkasdeur. “What ever will be, will be …”

Dis drie-uur en dis opstaantyd. “Ja-ughhhhhhhhhhhh”: Hendrik se kommentaar. En weereens: Kaysera, sera. Met ligdag toe die reënboog die berg se voet gaan verf, skud die groot ou wa Bovlakte se modder van sy bande af. En ‘n natterige, narerige, benouderige, vakerige, laggerige klompie BT-Kaners hou uit agterop. Richard doen een stryk deur besigheid en Koos floreer. Toe uiteindelik sing ons: “Nog ‘n toer is verstreke van die ou BTK …” en om mee af te sluit: “Kaysera, sera …” Noujatoe …..

Betsie van Niekerk
(Sketsskryfster)

Leave a Reply