Tuinroete Gala 1979

Vrydag:
Dis al weer amper Desember en die rooi wa staan onder by die stoor met ‘n bonte versameling van rolletjies en bolletjies en wag vir ‘n klomp vaak waryers.

Natuurlik is daar weer ‘n een en ander wat verslaap, maar eindelik is almal ingewurm en nesgeskop – en weg is ons! Ontbyt en eerste bene-rek is op Robertson (buíte die dorp, ga!) Van daar af vang die sonnetjie ‘n man so alanie-eenkant en ná middagbrood bly die reën ook nie uit nie. Op George moet Kosma en Kosdogter eers laaste inkopies en bestellings doen en dan’s dit: Saasveld!

Dis yskoud en reënerig en die manne draai met die tente en dinge, maar eindelik is ons gesettle en om die wag korter te maak, speel ons Kukie-jar en wê-la en so aan tot die slaaplus te veel word.

Die sestig plus busryers vertrek intussen net na middagete (en die bittere afskied van Briëtte en Abbatjie word met ‘n hout-oog uitge’check’!. Dis ‘n goeie tegniek, dié geafsienery, want nou’s dit tickets vir enige planne wat hulle mag gehad het!).

Amper-middernag word die klomp busryers hallo gekoning deur half-aan-die-slaap waryers. Ná lekker warm koffie het Pierre ‘n woordjie te spreek. En dit reën. En hy praat. En dit reën. En hy bid. En dit reën. Ag nou ja.

Dié toer se oggendbroodjies openbaar besondere oorspronklikheid, hulle fnuik die laatslapers met ‘n briljante plan – waterpistooltjies!

Saterdag:
Vroegoggend al word die eerste toeriste ingelig en gewaarsku, want hulle weet nie, hulle weet nie ….. En net hier op die heel eerste dag begin die stryd tussen Joos-hulle en die dolle met die broekies. Hans van Dalen en sy vrou en twee mini-BT-Kanertjies kom haal ons vir ‘n sirkelroete deur die woudbosse. Dis ruig en mooi en groen. Dis bobbejaantoue en geelhoutbome. Dis ‘n amper-tropiese Tarzanwêreld dié.

By ‘n oop kol in die bos moet die ‘galery’ voorstelwerk doen, hulle kwyt hulle ongewoon goed van hul taak. Dingetjie en Dynamite word aan niksvermoedende nuwelinge voorgestel, daar’s ‘n David (Hall) Du Pisanie en ‘n goose-met-die-ding-om-die-kop.

Nog ‘n bietjie vreemd, so voel-voel tussen die baie van ‘n byna-honderd-toeriste probeer elkeen sy plekkie kry.

Middagbrood is by poele water (ongelukkig!) en hier begin ook die daaglikse prosedure van iémand in die water gooi – hoef nie eers te raai watter twee eerste in was nie, ten spyte van die meisies se vasberade plan om saam te staan. Ergste van alles: niemand het eers moeilikheid gesoek nie, hulle was die onskuld self.

Op pad terug, weer verby die swart spookbome langs die jeeptrack ontdek Joos sy pyp is weg. Hewig ontsteld dreig hy al wat meisiemens is, maar nee, uitkom is min!

Terug op Saasveld bied Hans se vrou ons hul badkamer aan. Ongelooflik!

Saam met aandete kom Johan Schutte aan op sy duim, net betyds vir items en WRAAK. Fransie maak Joos se hartjie sag “Ek wil my Ma hê!” en hy’s nie eens vies oor sy pyp nie!

Sondag:
Die sonnetjie was toe te vinnig vir die Feetjies en Kabouters en ons gaan haal koffie die kostent. Met die gevolg dat Fransie die hele spulletjie wat op die heining gesit het, van hul troontjie laat tuimel en sy self soos ‘n vlermuis moet klou om nie te val nie. En Koos kry ‘n warm koffie-bad!

Floors hou vir ons kerk onder die bome en daarna is dit rondsit en wag vir die middagete: fynhoender, en Roomys van George af.

Luilekkerlê onder die bome, of skaakspeel, totdat almal energiek genoeg is om te gaan swem. En weereens moet die arme juffroutjies met hul joggerbroekies deurloop. By die swempoel kom daar ‘n binneband te voorskyn en die sports begin. Die rustiges gaan sit in die sonnetjie op die ‘beauty-galery’. En soos gewoonlik is daar ‘n een en ander wat dit moet ontgeld, onder andere Tobie se klere. Terug by die bus is daar weer ‘n klomp bô-jane wat besluit die dak is aantrekliker as binne en hulle beland so amper hoog in die takke!

By die kampplek stig Alet en Hannatjie en Else ‘n skoonheidsalon: André en Hendrik en Eswee word die kop gewas en ge-‘adore’ toe die proses klaar is.

Pierre het gedink hy stel onskadelike eerste-toeris spinnies aan vir Sondagaand en daar misgis hy hom toe. Vermomde spinnies bedreig die sleekring en eers toe hy al die hele sleekring deursoek het, kry Floors sy verdwene sleemaatjie in die gemaskerde geledery. Dis die aand vir kuns-items: die kerkkoor kry ‘n anneks en Bets en Deon voer die hartseer-mooi Wupperthalliedjies op. En Abba word gebraai omdat sy nie haar tweede naam wil sê nie.

Maandag:
Vandag se dag is propvol. Ons stap van Saasveld af, weer deur die bosse en al met ‘n grondpad langs tot by ‘n laagwaterbruggie waar droogbly min is (en weereens onverdiend!). Bulkop en ‘n entjie teerpadstap tot waar ons die treinspoor vat. Balanseer al op die spoorstaaf langs deur die tonnels, oor die brug. En die see is doer onder weer die tipiese somerblou van ‘n gala. By Victoriabaai draai ons om, terug spoorlangs, weer eens oor die hoge treinbrug …. en so amper-amper word dit ‘n onheilsdag. Daar is toe ‘n trein op die ‘verlate’ spoor: ‘n prentjie-lokomotief, groen en swart, maar nog altyd trein! Wessie en Sabet kom asvaal geskrik en pikswart geroet uit een van die tonnels en arme Lydia word op die brug vasgekeer. Die stoker was nou wel vies, maar almal darem veilig en klein Adriaan wat vir Lydia gaan bystaan het, is die held van die dag.

Middagbrood is op Wildernis se strand waar die manne jukskei speel en Neels water toe gesleep word deur ‘n paar vasberade (en op die ou end papnatte) dames.

Die middag word daar nog by ‘n sekere kafee gepan om ‘n bak roomys en daarvandaan is dit rustig stap teerpadlangs. Stap so groepie-groepie en sing of gesels of dinkstap sommer net stoksielalleen. Daar is droomhuisies met geel deurtjies en malvas, of ‘n egte houtchalet of groot strandpaleise, mens kannie genoeg kyk nie!

Ebb en Flow het ‘n verrassing: ‘n waterswaai! En warmwaterstorte (vir die eerstes). Die aand se spinnies koop vir Pierre om en hy laat hulle hul gang gaan: ‘n Regte klomp woelwaters wat by die manne ingrawe en die oggendbroodjies se wapens gebruik as afdreigmiddel. Maar ‘n nuwe anti-spinnie middel, naamlik die plathand word beproef en is toe ongelukkig pynlik suksesvol. Tillie kla sy het opgeswel!

Hekeltyd onthul Joos se aktiwiteite van die dag toe hy die bus rondgery het: Hy het sowaar Admin gebel om Abba se naam uit te vind – wat toe glad nie so erg was nie Abba Hugo Louw, beter darem as Kakebenia Gouwsina! Dié aand reën dit toe wel – dis maar goed ons het daai tentekomitee sover gekry om genoeg tente op te slaan!

Dinsdag:
Sommer vroeg-oggend al beland ‘n arme onskuldige oggendbroodjie pens en pootjies binne-in die rivier en dit wás so koud. Hartelose mansmense! Ons stap weer ‘n rukkie teerpad en toe vang die 10 h-sonnetjie ons teen die duine. ‘n Tipiese Gala-dag met ‘n laaang sandstap en voëls, rye-rye spore, genoeg tyd om baie te dink en baie te gesels. Ai, dis mos die lewe. Sandkranse. Boskranse. Jukskei saam met middagete-sommer-iewers en ‘n swempie net om af te koel.

Die laaste stukkie na Swartvlei toe is klipperig en daar aangekom, wag ons vir die walaaiers om af te laai. Daar is baie tyd, elkeen doen sy eie ding. Dis ‘n swemmery, ‘n baddery, ‘n
sokkerspelery, ‘n balstelery.

By die kosmakery is daar ‘n sprake van Wurms in die wortels (wat ‘n wolhaarstorie was!) en natuurlik moet Betsie die fluitjie blaas vir damesskiet toe almal deurmekaar volkspele speel. Sabet trek aan die kortste end – want Brenda was te vinnig vir haar. Chaos! En Adriaan sit af met twee meisies op sy hakke. Vanaand Pan die Kokke en Stokers – en tussen-in vlieg Gert en Joos amper-amper in mekaar se hare.

Die item van die aand is Pierre en Deon se ou grys merrie – juggg. Twee lastige spinnies Christien en Noëline word in ‘n net gevang en vasgepen. Dit het gewerk – vir ‘n rukkie! O ja, en Floors word gehekel oor die tegnieke wat hy ontwikkel het – om ‘n meisie te leer soen!!!

Woensdag:
Die oggend is maar gryserig aan die begin, maar die seeruik in jou hare, in jou klere, sommer net oral óm jou maak dit weer ‘n dag propvol somervakansie. Dis ‘n interessante stap dié dag, want vroeg-vroeg al moet ons deur ‘n riviermonding waad. So hier en daar word ‘n paartjie opgemerk wat alte dikwels saamstap want so ‘n uitgerekte slangstap is ‘n goeie verskoning vir agterraak. Vir middagbrood tussen rotsplate en skulpies moes ons water saamdra en later die middag draai ons land-in ná die neem van groepfoudies. Die tweede spesialiteit van vandag is toe Goukamma se pont. Die hangbruggie is te lendelam en dié wat nie wil deurswem nie, kan vlotry. Die kampplek is net op die oorkantste wal met één armsalige wasbak en toilet vir al die dames en net so vir die mans. Ag nou ja ….

Daar is nog baie tyd vir ‘tan’ en ‘lilo’-ry (al ooit probeer om pont-pont op ‘n lilo te speel?).

Die aand met ingrawe-tyd span ‘n klomp ouens saam teen Leslie – en toe’s dit dameskiet!! Dié aand word “Bubbles” weereens bekendgestel en eerste toeris Deidre bewys haarself nogmaals as ‘n uitstekende itemer.

Donderdag:
Lekker ou oorstaandag en ‘n kansie vir laatslaap. Nou het daar ‘n moderne euwel in ons BTK-geledery ingesluip: Betogers! Hendrik is die rampokkerleier en hulle betoog vir middagbrood by Buffelsbaai (net ‘n grys karton plakaat aan ‘n lampestaander gehaak!) en hy kry sy sin.

Almal sit af, elkeen op sy eie tyd, na Buffelsbaai toe, ‘n hele +5 kilometer ver! Dis buite seisoen, dus neem ons Buffelsbaai se enigste restaurant op horings, ons prosit met ‘n bietjie, sing, gaan mal! Uitspan oppie strand: swem, tan, stort weer ‘n slaggie in warm water!Met die teruggaanslag verskyn daar ‘n paar goeie siele en so te sê almal kry ‘n “lift” terug.

Die kokke en stokers het intussen agtergebly om stew te maak, maar konnie baie besig gewees het nie, want toe Joos terugkom, is sy tent in ‘n tenk omskep – met ‘n ou vissie én ‘n ou krappie. Konsternasie! Die sondebokke Louise en Lydia sit toe bó in ‘n boom en dít kon hy nie laat verbygaan nie, hulle moes altwee papnat daarvan afkom.

Die eerste ongeval van die toer is Eswee wat sy voet oopsny op ‘n glasstuk in die rivier en die medics sien nie kans vir die operasie nie, toe word hy liewer dokter toe gevat.

Komitee-items is heel vrugbaar, maar tannie Magriet en die middagbrode stap weg met die kedênsie met hul personifikasie-item.

Vrydag:
Dis weer baie vroeg wikkel vandag, want dis oppak en aanstap. Ilse en Eswee ry bus saam met Joos en die stappers koning vir Pierre totsiens.

Ons kry weer koers Buffelsbaai toe op hierdie grys môre en daarvandaan strandlangs na ‘n idiliese mooi Brenton-on-Sea en sy rustige hotelletjie. Hier geniet ons die tweede biertjie van die toer en stap verder met die allermooiste verlate kus langs. Dis heuwels en heuwels en heuwels groen, dis alleen-strande en see en skouspelagtige branders teen die rotse.

Die tweede ongeluk van die toer is Winie wat by een van die sandkranse val. Niks ernstigs nie, maar hulle neem haar liewer terug. Brenton toe.

Die mooi van hierdie laaste stapdag bêre mens diep weg, dis spesiaal. Ook middagbrood onder op die rotse is besonders, want om daar te kom, gly jy met so ‘n semi-ravine tot onder!

Die drie Verster-broers kyk vir Gawie Hugo en niggie Hortense Barry uit (dis darem “all in the family”, hulle moet ‘n ogie hou!) en die twee lok toe ook ‘n “rooi en geel en groen amara” uit.

Ná nog ‘n stukkie kusstap is dit weer deur tonnels en gangetjies en bosse en dinge sommer vir ‘n laaang ent – tot Knysna in sig is. Hier moet ons water-in en al langs die lagoon se kant stap tot by die kampplek by Brenton-on-Lake.

Daar aangekom, is dit kiste was en regmaak vir die nag. Nat sokkies word aan die draadheining opgehang soos feesvlaggies; daar is een yskoue buitestort maar nie veel het die moed om dit aan te durf nie.

Die geagte tentekomitee jaag vir Hannelie Marais in ‘n ‘flat spin’ met ‘n gedrapeerde dooie slang in die pouhok.

O ja, en moenie vergeet nie: dis dié aand van die toer en daar is drie verleidelike juffroutjies en vyf verloklike manne, spesiaal net vir skiettyd.

Die aand is bietjie hartseer, baie mooi en propvol slapende sleemaatjies! Maar vir die vasbyters is dit onvergeetlik. Die streepweerkaatsings op die rivier, die laat-koffie en stories en serenade-wandeling voor slaaptyd. En mens wonder soms: hoekom kan lekker nie net ‘n bíétjie langer wees nie?

Saterdag:
‘n Opregte laaste dag: oppak en inpak, laaste toeriste maan toe stuur, grassade pluk, foudies op die jettie. Dis wa-ry en koning as die bus verbykom; dis bus-ry en kaart en sing en slaap.

En as ons terug is op Stellenbosch en elkeen groet en elkeen gaan sy eie koers, vat jy tóg ‘n stukkie toer saam: ‘n tjappie op jou nekdoekie, ‘n handvol skulpe, ‘n grassaad, ‘n film vol foto’s, of sommer net ‘n kopvol onthou.

Ilse Krige
(Sketsskryfster)

You must be logged in to post a comment