Berghut-Boukamp September 1980

19 – 25 September 1980

Vrydag:
Ja-nee, sommer van die begin af beloof dit om ‘n hutbou-kamp so in tradisie te wees: die bus vertrek half (of te wel kwart oor) vyf; “die bus” is dié een wat met ‘n vorige besoek aan die berghut opgepak het en deur JP-hulle gehaal moes word (en dit kon ‘n mens wel deeglik hoor aan die ratte!).

Die klomp motorryers is al bo en die res stap rustig in die donker op, terwyl Neels terug is Stellenbosch toe om die bus te gaan bêre. Dis ‘n soel aand, daar’s aandblommetjies wat na lente ruik en als is net bergklimmooi (‘n mens is sommer lus en raak verlief!).

Bo gekom is dit uitpak en kosmaak. Die soel aand word ‘n donkerweeraand met pers blitse … (Gelukkig is daar ‘n dapper Vrystater wat die bang ou Boland meisietjies kan troos) en ‘n sterk wind klap die vensters oop en vir die res van die tyd moet ‘n swart sak maar die weer buite hou. Ons eet bietjie, sing bietjie, woel bietjie, maar dis vroeg al slaaptyd want môre gaan ons werk.

Saterdag:
Sê mos: egte Berghutweer – mistig, nat en koud. Met ontbyt kom Neels en Deon aan, net betyds om te begin werk. Ons dra helikoptervragte planke aan, in, uit en rond. Later moet Betsie, Briëtte, Jean en Fransie af om die res van die kos te gaan haal (arme goed kom natuurlik druipnat terug) en ‘n paar flukse manne pak die spaar planke in die sinkhut. Verrassing: Oom Bethal-hulle kom vir ‘n vinnige heen-en-weertjie nat-nat vir ons kuier. (Sien verder nommer H by die Sondagmiddagkommentare.)

Ná middagete begin die manne meet en pas aan die mure. Intussen word die skottelgoed gewas deur die twee fluksste blikwassers in die BTK se geskiedenis: Willem en Jannie. Ons ander ontspan bietjie op die slaapgoed; rus uit vir vannaand se slee.

Aandete is weereens besoektyd: Gustav Sahlertz en sussie Karen, Alet Swanepoel, Klasie Dykstra (Alet se ou-innie-army) en nuweling Wikus Britz waai saam met die reën by die agterdeur in. Die items kom maar druppel-druppel, daar word pannekoek gebak in die middel van die sleekring en later is daar ‘n demonstrasie van drop-eet (deur raai wie?).

Sondag:
‘n Lekker rustige (?) Sondag begin met feetjies en kaboutertjies wat ons wakker sing. Net voor kerk word daar begin met die fênsie-middagete van ‘n BTK-Sondag, o ja, en Klasie en Wikus wat in die halfpad-klaar damesbadkamer geslaap het, word uit hul slaapsakke geskud. (A nee a, waar’s die oggendbroodjies?). Deon hou vir ons kerk, en daarna word gesing so tussendeur die kokery.

Die volgende kommentare (in verskillende grade van leesbaarheid) is in die Berghut-joernaal versamel Sondagmiddag net na ete:

A. Eendag was daar ‘n voorsitter en ‘n sketsskryfster …. (hoe romanties!). Hulle reël toe ‘n berghutkamp (“for dubious reasons”). Hulle het die weer ook gereël – Koud en Donker! As gevolg van die donkerte kon ons nie alles sien wat gebeur het nie, maar wat ons gesien het, was genoeg. (Die arme eerste toeriste wat dit moes aanskou! Wat sou oom Tjaain gesê het?).

B. In teenstelling daarmee, dwaal Wessie rond met ‘n veraf uitdrukking in sy oë soos jy-weet-wat wat hout soek in ‘n teerstraat. Siestog, sy swot glo, of só laat sy hom verstaan.

C. Alet het vir Klasie kom wys waar en hoe sy hom al soveel maal verneuk het. Oor André – geen kommentaar.

D. Oppas vir die keer as Gustav ….

E. Sondagoggend sorg vir ‘n paar koue (padda?) storte in die mis – wonder of almal darem ‘n slag of wat ook skoner sal kom.

F. Kommentaar gesensor.

G. “The Fog” het ons hierdie naweek omring en geteister.

H. Die naweek’s net gebrande tekkies, lekker lê, ons wat nat- nat gaan kos soek onder die berg en tannie Audrey, oom Bethal en ‘n Aussie-vriending wat in Saterdag se reënweer kom dagsê. Poeding gisteraand (in die slees bedien) was heerlike rubber pannekoeke met “fillings” wat Klasie opgedra het. Ná kerk vanoggend begin Betsie met “little Indian kolletjies” en later ontaard dit in “groot Indian fights”, en die oulike “blond bomb” raak ‘n pikswart pikkenien.

I. Iiiissiit?! Die ander het gelukkig ook nie te goed daarvan afgekom nie. Veral sekere mense sal nog teruggekry moet word. Roet is nogal swart …. (B.B.)

J. Toe skrik ou Joe so groot dat hy ná ete vir ure skuur aan die blikke!

K. Aga-agga-agga!

L. En so met die eerste deel van die binnemuur klaar gebou, kom ons agter ons sal moet leer om weer by deure in en uit te gaan.

Sondagaand:
Die naweekkuier is vir die meeste mense verby en skielik is ons net ‘n paar.

Roll-call (in volgorde van gesitueerdheid): Pierre Lombaard, Ilse Krige, Koos Schoonees, Katrina Neethling (1), Ernst Conradie, Winie le Roux, Neels Muller, Deon van Niekerk, Fransie van Niekerk (geensins, selfs nie eens verlangs familie nie). Jannie Loubser (1), Willem Minnaar (1).

André Leuvennink en Estelle van Wyk het gaan kyk wat die Vratjie oplewer (?!!) – eerste keer in sy lewe wat André daar opklim!

Ons lê in ‘n kring. Party slaap, ander hou hulle uit die slaap uit met die onharmonieuse gesanik van BTK-liedjies. (As die voortbestaan van BTK-liedjies darem van nootvastheid afgehang het ….!)

Ons sit stilletjies en treur oor almal wat ons verlaat het so ‘n rukkie gelede: Maarten den Heijer, Jean Blignaut, Betsie van Niekerk. (Dié keer wel verlangs familie van Deon!) Joos van der Merwe, Briëtte Conradie, Jacomi van Niekerk (1), Wessie van der Westhuizen, Leslie Hibbert, Retief de Villiers en Johan van der Merwe. Gisteraand se natgereënde verrassingsgroepie is ook alweer weg en so byna-byna het Ilse saam met hulle verdwyn, (rugsak gepak en als – stout!), maar toe besluit sy daar sal darem te veel verlang word, en kom toe maar terug.

Maandagaand:
Vandag het die mans gewerk dat die saagsels trek en die mure opgeslaan van die damesslaapsaal. Die buitemure is voltooi, die damesbadkamermuur en die dameslaapbanke is half voltooi. Ons voel ons het goed gevorder …. Die meisies het dennebolle (akkers vir Estelle) gaan optel, maar is gou verveel deur die veeleisende werkie.

Die volgende persone het almal vandag iets eienaardigs aangevang:

Pierre: Hy het geswot. Hy het vir Ilse en Fransie rondgeja en taaigesmeer met aandete.

Ilse: Sy het vir Pierre rondgeja en taaigesmeer met aandete. Sy het chow-chow gemaak van die Nommer- Asseblief-worse wat Neels gebring het.

Fransie: Sy het vir Pierre rondgeja en taaigesmeer met aandete. Sy het die skottelgoed vanaand gewas.

Neels: Hy het wors gaan koop. Hy was by die huis en het sy gesig in warm water gewas.

Katrina: Sy het vir ons gehelp om houtstapels te verskuif. Sy is ‘n flukse meisie.

Ernst: Hy het heeldag help slaapbanke insit. Hy en Katrina speel kaart.

André: Hy en Estelle was nie vandag op Vratjie toe nie. Hy het baie hard gewerk.

Estelle: Sy het heeldag sit en wonder of werk eendag vir André baie belangrik gaan wees. Sy het akkerdoppe gaan optel.

[Intermezzo: Neels en Fransie hopie op Pierre en Ilse. Dit is nie mooi duidelik wie wat die meeste geniet nie.]

Koos: Hy en André speel skaak. Hy beweeg konstant tussen my en die enigste lamp in, en maak met ewe gereelde tussenposes verskoning daarvoor.

Willem: Hy en Jannie het ‘n muur gebou met mooi gapinkies teen die dak. Hy is nou nie hier nie, want hy slaap.

Winie: Sy slaap. Sy is ook nie met ons nie.

Jannie: Hy het ons reeds verlaat met sy fiets. Hy het ook hard gewerk.

Ek: Ek skryf die storie …. Ek verlang ook na Betsie, my anderhelfte.

Dinsdag:
Neels en Ilse waai vanoggend net na ontbyt, gedetermineerd om hulle akademie te gaan bykom. Die ouens werk heeldag teen ‘n verbysterende spoed, maar slaag nie daarin om die hele hut in een dag heeltemal klaar te bou nie. Hulle kry dit darem amper reg. Hulle word ook honger teen net so ‘n verbysterende snelheid, maar kosma Winie is reg vir hulle. Sy’t oorgeneem by kosma Ilse. Ons kry heerlike volkoring roosterbrode en vleis”patties” van Neels se “Nommer-Asseblief-wors” wat oorgebly het en poeding. Werk en eet, werk en eet net aanmekaar! Die aand is meer van ons redelik vodde en ons gaan slaap ‘n bietjie vroeër as gewoonlik. Ons vier meisies wat oorgebly het, Winie, Katrina, Fransie en Estelle wy die dameslaapbanke in.

Woensdag:
Dis die derde sonskyndag maar die eerste warm, perfekte sonskyndag en dis heerlik by die hut. En die ouens voel so ‘n bietjie minder lus vir werk, maar al wat werk is hulle, net een stryk deur. (Die Jeug van Vandag Werk Hard om Hulle Ideale te Verwesenlik!). Gistermiddag was middagbrood op ‘Reenen’ se voorstoep in die lekker sonnetjie, maar vanmiddag kies ons die koelste plekkie in die omgewing – agter die hut, voor die manne se badkamerdeur, in die skaduwee en ons gesels lekker stories oor hoe baie ons nou van hierdie ou hut hou en eet Winie se roosterkoekbrood en rooiworsies en slaai met ‘potente’ slaaisous van Estelle. Deon kry net die bak om uit te lek vir poeding, want hy is te vol bestellings. Dié dag kry die manne twéé keer poeding, want hulle het mos gewerk daarvoor. (Ek is nie so seker of hulle dit verdien nie, maar nouja, bestellings is bestellings!). Sonsonder is so vreemd mooi dat almal ophou werk en eers op die stoep gaan sit en kyk. Wolke trek verby met ‘n effense donderstorm maar dis verby nog voor dit begin het. Die Vratjie en Afrikaskop staan baie helder uit; ag ek kan tog nie beduie hoe dit gelyk het nie; ek wens almal was daar om dit te sien!

Die aand kom Bossie en Karin Minnaar – Hugo, Fanie Minnaar (‘n kleiner weergawe sonder ‘n baard), Margaretha Hugo (‘n kleiner weergawe met vlegsels) by ons aangesluit. ‘n Rukkie later het Koos Schoonees uitasem weer aangekom! Sy ‘lift’ het nie uitgewerk nie.

Wat werk betref, is die volgende voltooi: Die mure van die dameslaapvertrek, die damesbadkamer en hulle slaapbanke kompleet met leertjie en al; die mans se badkamermure, die muur tussen die kombuis (alias bosboustoor: die kombuis is nou dáár opgerig) en die mans se slaapbanke. Verder is die sinkstoor netjies reggepak en al die rommel is óf verbrand óf opgekap vir brandhout wat in die kelder gestoor is wat ewe-eens mooi netjies reggepak is. Daar is nou tesame met die vragte dennebolle wat die meisies aangedra het, oorgenoeg brandstof vir ‘n tydjie. Intussen het daar ook ‘n aantal sitbankies bygekom en die kelder het ‘n naam gekry: “Die Adriaan Du Pisanie Gedenkslee”.

Dit het so gekom: Woensdagaand sit ons vir die hoeveelste maal en sukkel om ‘patience’ te laat werk toe die houtgat so oopstaan en herinneringe oproep na April ’75 toe die, nou reeds bekende, lewende legende sy naam gekry het. Fransie was gewillig om die letters in te kleur en nou staan dit so daar met die inskripsie onderaan: Ontwerp en inkleur: * Van Niekerk en Van Niekerk 24.9.80.

Die aand slaap almal omtrent buite, heerlike aand, behalwe die nuwe aankomeling (Hutinspekteur Bossie, en andere) wat die manne se slaapbank beproef.

Donderdagoggend was dit net inpak, toesluit en die pad vat ondertoe ….

Ilse Krige,
Deon van Niekerk, en
Fransie van Niekerk
(Sketsskrywers)

Leave a Reply