Witsand-Gouritzmond-Gala 1980

21 – 29 November 1980

Kinders van die son, sand en see
Slaak ‘n suggie sommerso tevree’
Sing somerstories in die suidweste wind
Verruil ou Stellenbosch
om skulpies op die strand te soek en vind.

Vrydag:
Ja-nee, dis alweer tyd vir eerste dinge eerste – ‘n volle week langs die suidelike strande van die Afrikakontinent. Vroegoggend vertrek die wa. So tussen Stellenbosch en die Breëriviermonding by Witsand kry die son die waryers lekker beet.

Die bus vertrek vieruur uit Stellenbosch, net ‘n uur laat. In Somerset moet eers teruggebel word oor pouhokke en die slotkis wat vergete gebly het en die nuwe gesigte skud maar net kop oor die vreemde woordeskat. Dis stikdonker toe ons die kamp binnekom …. én heeltemal bewolk. Gloeiende verbrande gesigte kom deur die donker aan om ons te koning. Kosma Ilse maak eers seker dat kosdogter Mariette nie vir Pierre te goed in die bus opgepas het nie en Mariette maak weer seker dat Ilse nie te goed na Braam gekyk het op die wa nie.

Die tentekomitee moet hulle storie ken, want die aanslag van die dames is reusagtig met hulle hope bagasie. ‘n Derde tent word benodig, net vir ingeval …. Die weke van reën op die Akker het ons goed voorberei en ons verwag beslis ‘n nat toer

Maarten, Jean en Corisa arriveer midde in Deon se nooienstoespraak waar hy organiseer en verduidelik aan ‘n skare van negentig toeriste. Dan soek almal vinnig slaapplek.

Saterdag:
Die eerste oggend is almal mos altyd vroeg op, vanoggend selfs voor die son half-ses opkom. Geen probleme vir die oggendbroodjies nie. Dit word ‘n heerlike dag. Ons het reën verwag en dis sowaar heelpad sonskyn. Op ‘n kol word met voorstellingsparade weer ou koeie uit die sloot gegrawe en heelparty moet dit ontgeld. Dit gaan weer oor ‘joggers en die SRC Mental Institution’ word goed verteenwoordig. Gaandeweg verdwyn die vreemde eenkant gevoel as jy die ander ouens se kinkels en kabels leer ken en agterkom elke ou het ook maar sy eie nukke en snikke.

Iewers keer die see ons vas teen die kranse en ons moet hoog bolangs verbystap. Van al die reën in die opvangsgebied van die Breërivier het hy ‘n lekker massa water die see ingestoot. Hier van bo af kyk ons oor ‘n wye bruin waaier wat myle tot op die horison uitgestrek lê, geskei van die helder groenblou seewater met ‘n hele streep wit skuim.

Dan is dit aanstap Duiwenhoksrivier toe waar ‘n geduldige omie van min woorde en ‘n baie rustige agt-man bootjie ons op die oorkantste wal besorg by Puntjie met sy snaakse ‘kapstokhuisies’. Eens op ‘n tyd, lank, lank gelede het bruin vistermanne daar gebly – dis ‘n sprokiesplek waar hekse en kabouters behoort te woon met voetpaadjies kruis en dwars tussen die duineruigtes, skoorsteentjies met dakkies op en braaivleisplekke. Die kleinhuisies sit in ‘n ry op die rand van die kranse en kyk uit oor die twee oseane.

Ons kampplek is ‘n afgetrede karavaanpark vol duwweltjies. Almal lê eers ‘n rukkie poegaai en wens vir ‘n druppeltjie water, maar iemand versteur gou-gou die rus met ‘n harige twaalfpotige bobbejaanspinnekop. Die mense kry koers na dameskamp doer op die haaivlakte en manskamp naby die wasplek. Wat ‘n lekkerte: mans en dames deel die kleedkamers! (saam met bosduiwe en swaeltjies.)

Hanlie Vink word deur haar ouers afgelaai. Kokke en stokers is aan die gang, die mense sing en die manne grawe in.

Dis eerste toeriste se item-aand en sonder dat enige ou toeris dit hardop erken, vaar hulle gladnie so sleg nie. Die spinnies het duidelik probleme vanaand …. hulle sit tjoepstil om die vuur – verskrik, miskien met reg, want dis wraakaand vir die arme lot eerste toeriste en selfs die professore moet deurloop.

Sondag:
Sonskyn, feetjies en kabouters maak ons wakker met koffie en beskuit.

Voor kerk sit ‘n klomp orige ouens op die ou trokkie en bespied al wat ‘n meisie is wat in- en uitloop by die wasplek. Hulle het heelwat te sê totdat ‘n teeninsurgensiepoging geloods word. Die ouens trek holderstebolder van die trok af en laat spaander oor die wye oop vlaktes. Francois wil nog padgee toe spring hy reg voor ‘n vol straal sopnat water in wat Hanlie uit haar billie skiet. Natuurlik moet sy dit ontgeld, maar met haar oomblik van glorie was dit heeltemal die moeite werd.

By boskerk is die prediker oom Gys – hoog in die takke en die gemeente ‘deur die blare’.

Kosma tel probleme op met ouens wat ‘self’ hoendernekkies gaarmaak, maar kort-kort kom raad vra en die kostent raak oorbevolk. Langs die kostent lewer Deon en Ronel met twee kitare Sondagmiddagkonsert en by die kookvure is daar groot doenigheid rondom fynhoender en geelrys. Middagete word ons genadiglik gespaar van Elsa en die nuwe toeriste moet hulle nuuskierigheid bêre tot ‘n volgende toer. Naweektoeriste Maarten, Corisa en Marie moet na aandete die aftog blaas.

Die aand se items is rustig, maar daar’s ‘n geoefende span spinnies wat deeglik van die een aand se vryheid gebruik maak. Met volmaan skelm agter die wolke verskyn huwelikspare voor ‘n Nederlandse kansel en selfs die spinnies word goed verteenwoordig. BTK in sy volle glorie – amper helfte van die toeriste is paartjies! Marie is weg en Frikkie staan ewe sedig in háár plek langs Johan en Adriaan in Maarten se plek langs Jean.

Opmerking: Later die heugelike vakansie maak Maarten seker dat daar nie weer so ‘n fout insluip nie en hy sorg self vir ‘n blink steentjie aan Jean se vinger! Puntjie se mistieke betowering laat sy invloed geld. Bossie en Karin se wittebrood in hulle slee is vir die res van die toer na die maan, want die lampe gee probleme en Bossie moet aanmekaar rondspring.

Die aandkoortjies herleef en Ronel en Nelleke se kore is saam eerste vir ‘n kondensie met ‘Shozoloza’ en ‘All things tells a story’ wat die deurslag gee.

Maandag:
Al wat oorbly van rugsakstap is die kosgroepies, want ons rugsakke ry weer wa. Middagbrood is in groepies op die rotse. Na ete sorg ‘n paar haastige hardlopers vir groot probleme. By middag ‘gamebreak’ is daar kans vir swem en die ouens speel een of ander uitheemse sandkrieket met ‘n dryfhoutkolf.

Daarna is dit net ‘n hanetreetjie en dan is ons op Blombos waar Erik wag en belowe die wa is ‘net ‘n entjie’ op teen die duinepad met sy dik, los sand waar ons rugsakke in die bloedige hitte wag. Ons word die vorige Blombostoertjie se groot reën gespaar en dis ‘n heerlike aand. Ons kan die gawe mense se stort en wasbak gebruik en het ‘n ‘loo with a view’. Almal staan rond by die kookvuur en kyk hoe die son ondergaan tussen die skuimende branders.

‘n Klomp ou items word uitgegrawe en die spinnies is rustig aan die slaap. Antoinette word vir die soveelste keer gehekel, maar sy het oom Tjaain permanent ge-‘wangle’ sodat selfs die verwoestende walaaiers nooit ‘n antwoord uit haar kan dwing nie. Al haar geheime is veilig. Sandra kry ook ‘n lekker hekel en haar geheim is uit. Toe sy sê hoekom sy nie môre-aand ‘n spinnie wil wees op haar laaste slee-aand nie, raak Joos ‘n bekommerde ou …. of hy maak asof hy effe bekommerd is. Die Vrolike Volstruise maak hulle verskyning en daarna slaapsakke toe.

Dinsdag:
Ons is bly die Landrover doen vanoggend ons werk om ons rugsakke duinop te neem, wa toe. Ons stap net ‘n rukkie en stop by ‘n windgatrots waar groepfoto’s geneem word, films en films vol met ‘n hele span professionele fotograwe.

Ons stap lekker vinnig sonder die beslommernis van swaar rugsakke en ons kan lekker lang ‘gamebreak’ hou by die mooiste plek op die toer: Pletzen, met ‘n plat, swart rotsplaat wat effe terasse maak waaroor die see oral watervalletjies stort.

Op Jongensfontein het ons ‘n heerlike blyplek en in manskamp verrys ‘n kleurvolle tentedorp. Die kafee word druk besoek en die ouens kry kans vir branderkanory.

Almal verwag dameskiet en volkspele word georganiseer. Sandra se plannetjies is gesmee! Sy en Ronel keer vir Joos vas in die wa, maar hy vlug volkspele toe. Toe hy uiteindelik sy lot aanvaar, red Deon die situasie met mansskiet.

Sandra, in spinniemondering en haar begeesterdheid geensins gedemp nie, roep ‘n vendetta uit. Dié aand saai dáárdie spinnies verwoesting in die sleekring.

Maar eers raak konvenor Kobus Visagie heel opgewonde toe sy kamermaat, Kameraad Mugabe Retief en andere, sy blikwas-squad join’. Na Maandagmiddag se vrywillige ooreising, is Dinsdagaand s’n teësinnig en gedwonge.

Woensdag:
Sandra, Ronel en Aletta roep ons ‘met zeer betraande oogen’ vaarwel toe. Die walaaiers stel ‘n rekord op vir oplaai: vyf-en-twintig minute en dertig sekondes! Dis ‘n halwe dag se stap Stilbaai toe. Middagbrood is op oom Tjaain se voorstoep. Toe hy nog ewe rustig sy Minotokaboompies wil natgooi, gryp die manne die tuinslang sonder veel seremonie uit sy hande en die oggendbroodjies kry dit waternat van allekante.

Ons wou nog met ‘n groot gedoente deur die Kafferkuilsrivier swem, maar die water is vlak en ons loop deur. Kort daarna is dit bewolk.

Die Hotel Bellevue word binnegestroom. Glasies klink en Smiley laat lewe die klavier. Daar’s ‘n grootskaalse geselsery en dansery. In die kroeg wil een ou sommer weet hoeveel ‘girls’ daar in die toergroep is en wil sommer ‘n dans reël vir die aand, maar dis veiliger in ons eie ou sleekring …. of ís dit?

Vanaand is die langverwagte damesskiet. By komitee-items gaan daar nie veel aan nie. Die oggendbroodjies loop weg met die kondensie na ‘n streep mammie-mammie grappe. Die tee is halfpad uitgedeel en dan gebeur waarna ons al so lank uitsien – lekker goeie ou reën en sleetyd is daarmee heen.

Donderdag:
Ons staan oor op Stilbaai. Dis heeldag bewolk, maar reën darem nie. Die see is vaal en deurmekaar en daar word niks geswem nie. ‘n Jukskeitoernooi verg minstens 95% konsentrasie van 85% van die manne vir omtrent 90% van die dag. Middagbrood kom en gaan met Frikkie en Estie wat stil-stil sop kook.

Tussendeur kook die kokke en stokers ‘stew’ in spanne. Kaartspeel trek ‘n groot skare, veral toe Jack Voetsek word en Queen ‘Howzit Gorgious’ en King Lê daar jou galpil’! Ace bly plathand ingooi vir fisiese motivering.

Na die oorstaandag se uitrus word daar aanmekaar ge-item. ‘n Klomp sielkundige probleme steek kop uit, maar dis die menere met die grootste probleme en die minste kennis wat allerhande wyshede kwytraak oor die huwelik en verwante sake. Gustav is oor die kop geslaan met ‘n jukskei en sien dit aan vir sy hondjie, Adriaan en Frikkie ontpop in ‘n uitstekende dubbelpaar vir item.

Iewers aan die kant van die sleekring hoor Frikkie wat die boete is vir wederregtelike twee keer slee met dieselfde meisie. Toe hy hoor dis ‘n uitslepery op sy sitvlak om die kampvuur, is sy kommentaar; ‘Is dit maar AL?’ So asof hy regtig jammer is hy het nie maar ál die aande met Estie geslee nie …. soos Braam sou sê: “Nou weet ek darem nie!”

Vrydag:
Oggendbrood met ‘n sifreëntjie in jou pap! Gustav met sy supergeorganiseerde walaaiers, slaan alweer die rekord vir oplaai; vyf-en-twintig minute! Dan’s dit langpad seelangs na Gouritsriviermond. Ons stap heeldag in die misreëntjie verby Preekstoelrotse en Geelkrans se rotskloutery.

Dis versigtig ‘boulderhop’, want sandrotse verbrokkel sommer onder jou voete.

Sandbastionne toring langs ons op en hoog bokant draai ‘n berghaan en sy maat. Swartrugmeeue en duikers sit soos wafferse ‘wagters op die mure’ waar hulle broeiplekke is. Sandvalletjies stroom af tussen pilaartjies en oor geute, uitgekap deur dwergkransbewoners lank terug in die dae van meerminne en seedrake.

Ons wens almal vir ‘super grip-non slip’ skoensole, maar met hierdie ‘super slip-non grip’ rotse het g’n mens ‘n kans nie. Middagbrood is onder ‘n sandkrans wat bak staan. Sandvalletjies val nog steeds en tannie Magriet moet net keer of ons eet sandkonfytmiddagbrood.

Ons stap Bloukrans verby en van ver af waai Erik en Kobus vir ons op die strande waar ons paadjie amper by Ystervarkpunt eindig. Ons kry die bus bo-op die duin. ‘n Mens staan vir oulaas en loer af by die duinekranse oor die laaste stukkie sandstap waar rye spore doer onder langs mekaar lê, hier en daar klaar weggevee deur die branders. Jy’s skielik sommerso onkant gevang en verbaas om te besef dis die laaste rytjie spore van die toer.

In Gourits se karavaankamp is die walaaiers se aflaairekord twaalf minute. Dis net betyds, want daarna reën dit strome water. ‘n Paar mal ouens gaan swem, maar dit lyk eerder na ‘n strafparade en hulle is baie vinnig terug. Hulle is heel waarskynlik die enigste mense wat gesien het hoe lyk Gouritsriviermond by die see.

Allie kook sy allikrukke op die kookvuur in die reën, maar aandete word in die hotel gekook. Almal is opmekaargebondel vir ‘n kermisbedslee onderdak in manskamp. Daar is min ernstige pogings vir items en niemand neem beslis die twee André’s ernstig op toe hulle Koper Kapel beetpak nie.

Die reën gee mooi kans vir die laaste toeriste om iets op die vuur te pak vir die BTK-vuurtjie wat nog jare lank moet brand. Hendi gee ‘n klomp geblokte foto’s van die Berghut se beginjare tot sy huidige gedaante. Kosbare stukkies menswees splinter af soos gebreekte glas en kom sit diep in ons harte vas, sodat onthou altyd ‘n bietjie seermaak ….

Saterdag:
Dis laaste oggendstories van inpakkerasies, kiste was, groepfoto’s neem, hotelbaas en kafee-oom koning, maan toe stuur van ou toeriste en dan trek ons weg ….

Op pad het die wa nog eers ‘n bietjie drama – die wa-reling glip sommer af by ‘n knik en as Doen nie vir Ingrid vasgehou het nie, het sy sowaar saam afgewip.

Die wa is meer as ‘n uur voor die bus op Stellenbosch. Onder by die BTK-stoor is dit vir ‘n wyle minder verlate en dis ‘n deurmekaar groetery, ‘n soektog na al jou pakkasie, ‘n rondbellery vir ‘lifts’ en dan’s dit na ‘n rukkie alles weer stil.

Die aand is ‘n paar hongerige oorlewendes by Pitzeria verenig vanwaar almal se paadjies vêr uitmekaar skiet, sommige na die meer verantwoordelike werkende gelederes en ander bly agter om volgende jaar se vreugdes en flops op die Akker te belewe.

Fransie van Niekerk
(Sketsskryfster)

Leave a Reply