Briewe uit die Hel April 1982

Die Hel
via Matjiesvlei
Sondag

Liewe Ma

Ek skryf nou maar vir Ma, want ek doen niks nie. Dis oorstaandag, daarom stap ons nie vandag nie.

Dis henguit warm hier. Die sweet tap ‘n mens eintlik af. Ma moet ook nie skrik as die papier na paraffien ruik nie. Die waentjie wat ons bagasie vervoer het, het dit amper nie tot hier gemaak nie. Die paraffienblik het dit glad nie gemaak nie. Nou ruik ek na paraffien en my goed ook. Maar Ma hoef nie te skrik nie, die ander ruik na kerrie en party na grondboontjiebotter. Ek het my darem goed gewas, tot agter die ore ook.

Ma, gister het ek gesien: daardie prentjie van De Breede Weg …. dis sommer nonsens. Die pad Hel toe is maar smal en moeilik. Dit loop al met die Gamtoosvallei af. Neels Muller en Reenen Barry vertel dit was altyd die hoofpad dorp toe. Die mense hier het hulle droë vrugte in sakke op die donkies se rugge vasgemaak, die donkies met hulle koppe rivieraf staangemaak en dan die donkies ‘n skop gegee. By Matjiesvlei het die mense die donkies voorgekeer, die sakke afgehaal, die donkies omgedraai, stroomop, en weer ‘n skop gegee. Die donkies het glo soos telegramme heen en weer gehol. Neels sê geossileer; maar ek dink nie ons sal ons osse op die plaas so kan leer nie.

Ma, ek het nou gesien wat is kys, ma. ‘n Mens hou heeldag handjies vas, jy giggel en jy vergeet jou matrassie, en dan’s jy laat vir ete.

Sê groete vir Pa, Ouboet, Ousus, Kleinboet, Kleinsus en al die ander ook.

U liewe seun

Boetie

NS: Ma hoef nie bekommerd te wees oor behoorlike toesig nie. Oom Pierre Lombaard is ons toerpa. Sy hare is weliswaar nog nie grys nie, maar hy lyk darem na ‘n verantwoordelike onderwyser.

Seweweekspoort
Maandag

Liewe Ma

Ek skryf nou maar, want ons sit en wag sonder ons bagasie. Ek dink die bakkie het vandag soos die paraffienblik gemaak, of liewer, dit nie gemaak nie. Nou sit ons hier sonder niks en wag vir iets. Maar ons kan dit vat. Ons is mos nie sissies nie. Ons het darem ‘n vuur. Ek het my warm trui vergeet. Toe sê ‘n ander ou vir my, laat dit nou vir jou ‘n les wees. Toemaar ma, ek sal nie weer nie.

Gisteraand het hulle gesê, ons gaan vandag met ‘n leer uit die Hel uitklim. Maar iemand moes die dêm ding gesteel het. Gelukkig het een van die ouens in die Hel ons ‘n paadjie gewys. Dit gaan net op en op. Nou noem ons dit maar die leer. Dit was vreeslik warm vandag. Toe raak ons water later op. Toe drink ou Frikkie Wentzel amper sy “suntan lotion”. Hy sê dit help vir brandboudjies ook.

Van bo af lyk die Hel baie mooier as daar onder.

Ons sit nou maar hierso om die vuur. Dis maar koud en dit het al gereënt ook. Maar ek word nie mismoedig nie, want een ou het gesê: dit gaan nog lekker word hier. Die oom hier het net akkers, kluite en turksvye. Toe gooi ons mekaar maar met die akkers. Die oom sien toe ons is honger en toe gee hy vir ons appels. Jy kan maar sê, jy sou vir ons turksvye ook gegee het, as ons nie vir onsself gevat het nie.

Ma, hier’s so ‘n ou, hy gooi sulke Engelse woorde tussen sy Afrikaans. Gin hond kan dit verstaan nie. Dit klink so iets soos: “smack ‘n tekkie, flip ‘n kuif, lekker spurf omie, ek sê howzit”. In my dag des lewens het ek nog nie van so iets gehoor nie.

Johan Zaaiman het ‘n raaisel gevra van ouens in die woestyn wat hulle arms laat afsit het. Marienne vra toe hoekom sal ‘n mens dit doen. Piet Kriel sê toe, as ons langer hier sit sal ons sien. Toe vind ons uit hulle het hulle arms geëet. Toe sê Jan: Nooit in die lewe van katte. Maar Johan Taute was nie babekommerde seun

Boetie

Amaliensteyn
Woensdag

Liewe Ma

Ons sit hier in die reënt en dis weer oorstaandag. Gister het ons in die poort afgestap. Ons het nie eens een heks gesien nie. Maar Neels sê daar is sewe van hulle.

Ons het nou weer niks te doen nie. Nou gooi die ouens maar bottels na ‘n tentpen toe. Die ouens sê aanmekaar dat hulle gaan bars. Ma hoef nie bang te wees dat die bottels sal breek nie, want hulle is eintlik van hout. Nou noem die ouens dit jukskei.

Gister het Jan vir Frikkie gesê dat Frikkie ‘n skewe ou is. Toe sê Frikkie hy gaan vir Jan met ‘n vetighnôr kap. Hy het hom darem nie seergemaak nie.

Die houtkappers het almal so ‘n uitdrukking van houtsoek in ‘n teerstraat in hulle oë. Waar sal ‘n mens dan nou ook hout vir vuurmaak op ‘n sendingstasie kry? Gister het die houtkappers ‘n vet kans laat glip om hout in die hande te kry.

Toe ons nog in die poort afstap, kom daar toe ses volkies met bondels hout agter ons aan. Hulle sing toe vir ons aanmekaar: Hier sit die manne …. Toe raak ek vies, want ons sit toe ure, ons stap toe al ‘n barshou. Toe draai ons om en sing vir hulle: De Magtige Koning …. Hulle skrik toe so, hulle laat hulle hout sommer net daar lê en hardloop. En ons het nog nie eens by die stukkie van …. Wij zijn de heersers der aardt …. en willent ook zijn in de hel …. gekom nie. Hulle moes groot geskrik het, want toe sing hulle net Psalms en Gesange agterna.

Vandag kon ons weer bad ook, ma. Die stroompie was sommer so in die oopte, toe kon ons net ons grootste detail was.

Saans hou ons sleetyd. Dan sit almal opgedruk in die tent en ‘n paar ouens spring rond in die middel. Dis seker oorlat daar nie vir hulle sitplek is nie, of so iets. Daarna moet ons hekeltyd hou. Ek was maar erg benoud ma. Maar dis toe al die tyd nonsens, of bog soos Pa sou gesê het, want hulle hekel nie rêrig nie.

Groete

U gewraakte seun.

Oppie Bus
(Moenie ‘n brief hiernatoe stuur nie, Ma!)
Vrydag

Liewe Ma

Ons is nou weer op pad terug.

Gisteraand was dit die laaste aand. Toe trek ‘n klomp van die meisies hul smaart aan. Smart beteken ‘n meisie leen ‘n skirt en trek dit tot onder haar arms op. Maar daarvoor moet jy eers bad. Dis hoekom Frikkie nie kon smart wees nie.

Jan was toe ook smart. Hy het sy nuwe hemp en nuwe broek aangetrek. Sy kakiebroek lyk nes Pa se werkbroek. Die ander ouens was ook smart. Die een het ‘n hoed opgehad. Sy hoed lyk nes Ma s’n, net hoër. Hy kon dit net hier dra, want hier is nie deure nie.

Vanoggend het hulle gesing. Nog ‘n toer is verstreke van die ou BTK. Ek weet nie wie dié ou is nie, maar hy het seker al baie getoer, want hulle het ‘n lied vir hom gemaak.

Ma, ek wil nou nie dit of dat sê nie, maar ek wil dit sê, dit was nou wraggies ‘n Helse toer. Frikkie sê dit was f l i p p i n (weet nie wat dit beteken nie) lekker.

Dink aan my wanneer ek die toets skryf waarvoor ek die vakansie moes leer.

Groete

Boetie (Wessie van der Westhuisen)

Leave a Reply