Skoonste Kaap September 1983

Die plek: Kaappunt; die tyd: agtuur; “Een …. twee …. drie …. VUUR!” Nee, dis nie een of ander Midde-Afrika vuurpeleton nie, maar die benoude aansporing vir ‘n paar meer brawe manne wat die vraatsige kees van ons eerste oggendbrood probeer verwilder -terwyl die dames veilig en droog (dit was mistig) in die bus sit en toekyk. Dié onwelkome lid van die Beukes-familie is gelukkig voordat ál die broodjies verwoes kon word, verwilder en na “wat die oog nie sien nie ….” is daar tentatief broodjies uitgesoek en kon ons begin opstap na die beroemde Punt van Afrika.

Asof sy aarbeikonfyt-ontbyt nie goed genoeg was nie, moes Ta tydens ons stappie terugkeer om hom te help aan Enna Steenkamp se sleepille! Nou ja, op só ‘n goeie begin kon daar net verbeter word en alle tekens was daar, dat Kriel en Bester se “Vetpret Toere Edms Bpk” nog verskeie noemenswaardighede sou oplewer.

Teen die tyd dat ons begin stap het, het die son reeds verskyn, en het ons visioene begin sien van ‘n reënlose week. Tot middagbrood het ons ‘n amperse Gala-stap, al langs die strand gehad. Veldblomme het die wêreld vol gestaan, ‘n lus vir die oë. Pieter Muller, die aanvoerder van die Naweektoeriste het ons rus-rus in sy bakkie gevolg.

“Toer onderhewig aan veranderinge” het onder aan die kennisgewing gestaan en ons het dit deeglik ondervind. By Sirkelsvlei was daar nie diere nie, terwyl daar by die Theefontein-slaapplek ‘n oorvloed van vlieënde insekkies was (lyk asof die vlieënde Hollander aangeteël het). Aanvanklik was almal egter heel opgetoë oor die terrein, opgewonde oor die wilde arend en later heel opgeswel van die bye! Waar wie gesteek en wat deur wie gesê is, sal ons nie nou sê nie. Daar was egter net een uitweg: ‘n ander slaapplek!

Mnr Wright, die baie vriendelike Fauna & Flora-man, het ons gelukkig gou gehelp en ons kon ons op ‘n eksklusiewe piekniekterrein vestig vir die aand en oorstaandag. Die gesteektes kon hier hul wonde lek, daar is kos gemaak, geskiet, ge-item, geslee en geslaap.

Sondagoggend het aangebreek met ‘n paar dik lippe en tot ‘n opgeswelde oog. Gelukkig het niemand kwaai nagevolge oorgehou nie en Riaan Cloete, wat só deurgeloop het dat hy nie kon slee nie (gelukkig vir die Bachies) was weer blomfris.

Met Tobie Beukes in die nabyheid, het byna elke toerlid een of ander tyd dié vraag gehoor: “Kan jy brug speel?” Jan Bester het die oggenddiens gelei en daarna moes ons net wag dat die hoenders in die pot hul lê kry, voordat ons kon aansit vir ‘n feesmaal. (Raai wie was een van die kokke?). Intussen het Kosma Henriëtte de la Bat en Voorsitter Neels Muller voortdurend geheimsinnige toggies onderneem na die oewer van die spruitjie.

Die fiksheid-maniak, Pieter Kriel, het ons na ete vinnig deur die pre-Elsa-oefeninge geneem en daarna het ons so sit-sit sit en Elsa eet. ‘n Ondervinding wat gelukkig vir minder-maniakke, hoogstens een maal per toer voorkom! Net ná ete is ons vertel van die WORTELVROTTE. Dit het só gebeur: Neels het ons diplomaties meegedeel dat ons nié van die stroompie se water moes gebruik nie; ons sou glo die volgende dag sien hoekom nie. Pieter M. het dit óf nie gehoor nie óf dit ‘n vet ‘ig’ gekap en het wél sy bord in die genoemde stroompie gaan was. Die reuk het hy afgemaak as ‘wortelvrot’. Dié wortelvrot, kan egter praat, soos Neels M. en Pieter K. tydens hul “reckie” agtergekom het. “Angus, bly nou stil, mammie wil praat!” Afleidings? Gevolgtrekkings? Maak jul eie oor wie of wat WORTELVROTTE is!

Dié wat nie al brug-spelende agter die skadu aangetrek het, of heel oukapapee was na Elsa nie, het die middag na Scarborough gestap. Dis nou nie dat die water daar koud was nie, maar daar was maar net ‘n páár vuiles wat dit nodig geag het om te swem. Die res het hul enkels gebaai en dié wat nie vervoer gehad het nie, het teruggestap want vyf dames is die maksimum wat ‘n sekere geel bakkie kon behartig, na ‘n stuk of agt mans geen indruk op hom kon maak nie!

Teen Maandagoggend was Sondag verby en had almal van ons nekdoeke. Die naweek-toeriste het ons reeds vroeg verlaat, maar die ‘verbrande’ Priscilla Botha kon darem eers ‘n splinternuwe nekdoekie kry.

As opvolger vir genoemde pre-Elsa-oefeninge het die Du Preez Gimnasium met sy verpligte verslankingskursus begin – ‘n Werklike opknappertjie so vroeg in die oggend. Gelukkig raak bestuurders nie opgewonde as sommige mense voor die pas-gevatte bus instap nie.

Ons is Boskloof op, Vlooiberg verby en het met verlangende oë gestaar na heerlike sleemateriaal op Kommetjie se plaaslike ashoop. Tobie se nazïsties-georienteerde oë het geskitter ten aanskoue van Kobrakamp – daterend uit die Tweede Wêreldoorlog. In ‘n kanonstelling het ons middagbrood geniet en ons tweede groot lag van die toer gehad. Ons was nog rustig die mooi vuurtoring aan die bewonder toe benoude gilletjies vanuit die huisie opgeklink het. “Seker een van die middagbroodjies.” Ná ‘n rukkie verskyn die verleë gesig van Jaap de Lange, die onvlieënde Hollander in ‘n opening en hy vertel ons toe dat hy ge-wha! het vir ‘n niksvermoedende bruin seuntjie. Dié het seker gedink dit was sy laaste oomblik op die planeet. Foeitog!

Op Kommetjie het André Bester en Arnold Muller reeds hul draaie geloop gehad en ‘n onskuldige meisie, soos twee ware voornemende bedienaars, na haar huis vergesel. Die poskantoortannie was duidelik beïndruk met Neels se gehawende, betjapte nekdoekie en ons kon almal een tjappie ryker word.

By die Von Jurhoff-karavaanpark het ons ons eerste warm water kon belewe. Nadat die kool gehaal en gekook is, het almal behalwe sommige welriekende stokers, met skoon lywe en blink gesiggies in die slees ingespring. Weliswaar kon Catherina Neethling, teen alle Coke-weddenskappe in, nié daarin slaag om vir Tobie (wat belowe het) wakker te hou nie! Teen slapenstyd het Jaap de Lange sy goedjies gepak en huiswaarts vertrek. Tot ons ontsteltenis moes ons ontdek dat slakke ‘n voorliefde vir bagasie het en het ons vieserig ander slaapplekkies moes kry.

Teen Dinsdag se opstaantyd het Amanda du Plessis met weëmoed moes erken dat sy ‘n arme slakkie vergruis het in haar slaap. Nie almal het haar simpatie gedeel nie. Dit was ‘n prag van ‘n dag en die strandstap het mooi skatte opgelewer: die Kakapowrak en ‘n groot swerm flaminke. Na nóg ‘n onderonsie met ‘n kees, het ons Chapmanspiek bestyg.

Bo-op, uit die wind uit, is die meriete van konfyt vs Bovril bespreek, maar wát die brood ook opgehad het, alles het in ‘n oogwink verdwyn.

Pieter wat voorgestap het, se “al met die kontoer langs, tot bo-op die nekkie” het die mense aan die “praat” gehad. Gelukkig het Tobie darem ‘n verdwaalde doedelsakspeler gehad om hom af te koel. Naby Silwermyn het Neels en Alba ons begroet met welkome nuus. Ons is geneem vir ‘n rustige stappie om die dam en vir elke denkbare behoefte is daar langs die pad vertoef. Gelukkig kon ons daar slaap; wys jou net, soms moet jy juis nié deur die regte kanale werk nie!

Na ‘n laterige aandete is daar ywerig geslee en ge-item en weereens moes ‘n oningeligte eerstetoeris met Napoleon kennismaak. Gelukkig het niemand probeer om ‘n olifant te was of sy tande te borsel nie!

Die koel weer van die vorige nag het ons gewaarsku en Woensdag se “Oooopstaan!” het al die tentloses (darem droog) in die bus aangetref. So in die eendeweer moes ons inpak en ‘n oggendpappie afsluk. As ons tóé geweet het wat ons twaalf en ‘n half uur daarna geweet het, sou alle moontlike busbestuurders gelyk aangebied het om die bus om te neem na Tafelberg.

So in die mistigheid is ons verdwaal – verdwaal weg van Silwermyn en na ‘n paar ‘omkere’ kon ons in ‘n flou sonnetjie verder stap. Ons toggie het langer geneem as waarop ons begroot het en na middagbrood was die ‘sports’ oor en het die klimmerasie begin.

Skeleton gorge sou ons sekerlik geïntimideer het as ons nie verskeie aanmoediging gekry het nie: “You still have to go up quite a long way” van ‘n Engelse dame en “Golly” en “Heck!” van ‘n bruin seun.

Mens word darem dors van so ‘n gestap en nadat Neels, ten spyte van dreigemente nie die verlore koeldrank kon opspoor nie, moes hy die hand in eie boesem steek en self die drinkgoed aanmaak.

Skemer het ons nog altyd op pad gevind. Oom Tjaain was nie meer opgewonde oor die uitsig nie, en grappies het begin opraak terwyl die aanhangers van die “Ons haat Pieter Kriel-Agentskap” gegroei het. As mens by ‘n lopende neus, seer voete, koue vingers, ‘n leë maag en verskuilde gate in die pad kon verbykyk, was dit eintlik ‘n mooi aand. Glukkig het elke BT-Kaner twee voltydse beskermingsengeltjies byderhand en toe Neels teen negeuur die Bergklubhut se deur oopskouer, was dit nét betyds. Sug …. sug! Warmte, régte matrasse en ‘n droë plekkie.

Binne rekordtyd is die kos gekook en so al slapend het niemand agtergekom dat die twee kilogram rys drie maal aangebrand het en dat die Toppers ‘n ekstra smakie gehad het nie. Tot die groentehaters het met genot weggeval aan die wortels en ertjies. Met hangende ooglede het niemand nog kans gesien vir slee nie en die meeste het net aan die on-prosaïse “stewels-uit” gedink.

Geen stoere Calvinis sou ‘n reguit gesig kon handhaaf toe daar tydens aandgodsdiens ‘n rustige gesaag van ‘n moeë BT-Kaner opgeklink het nie. Aan kampverdeling is daar min of meer gehoor gegee en net Neels, Pieter en Jan Bester het vollyf, en Arnold van der Spuy half-lyf in dameskamp geslaap. Só met ‘n toon naby ‘n kop of met ‘n knie in die rug het almal darem ‘n plekkie gekry en nie eens vir die kleinste snorkie was daar ‘n plek nie!

Van die beloofde “liggies kyk voor slapenstyd” het daar niks gekom nie. (Almal was lights-out na die stap!).

Die laaste dag het aangebreek en na Oats met al die oorblywende botter in, het ons opgeruim en met gevoelige voete die laaste entjie aangepak. Tóé eers kon ons sien dat ons engeltjies werklik gisteraand ‘n besige tydjie moes gehad het. Oral langs die pad was daar tekens van Wortelvrotte en Carel Schnetler het geduldig al hul gemors loop en optel.

Bo-op die berg het ons weer met ‘mense’ kennisgemaak en ná ‘n saamgesqueezde groepfoto is ons in twee sarsies na onder. Om Marienne de Bruyn se kapitalistiese stelling te gebruik “Ons moet vir elke kyk 10c vra, dan word ons vinnig skatryk!” Mens het naderhand begin wonder of ons vuil was of iets ….! (Sommiges van ons kon egter al na ‘n uitgestorwe ras begin lyk het).

Koppe het geknik-knik op pad terug Stellenbosch toe. Die toer was verby en die spore gelê vir nog Vetprettoere in die toekoms.

Hoop net hulle sien die regte vlieënde Hollander.

Catherina Neethling
(Sketsskryfster)

Twee besondere natuurgedigte – oor die “Kaapse Dokter”

Boerneef sien die Suid-oos so:

Hoe waai die Sedoos oor Tafelberg
so lieflik wit maar alte omgesukkel – mensag!
Ons murmureer verniet, ons moet dit maar
verduur
as Sedoos so rondrol so sy nou daar rond
rol rol rol
moet ons dit maar amelewe verduur
Sedoosse wolk is so wit soos sneeu
die see meeu hang wit en swets teen die wind
See meeu wit teen Sedoos wolke se wit
is wit wat kantelwaai en swets innie wind
en sedoos wolke is so wit soos sneeu
maar dat hy nou so omgeëllie waai
en mens en meeu so bitter laat pelielie
– Mensag ons!

Suidoos

Ek druk die skiereland se groot hol kas
van berge en valleie teen my vas
en pluk daaruit die diep dreun klanke
en tussen seë en los misbanke
Trap ek so lekkerlyf my askoek pas

(D.J. Opperman)

Leave a Reply