Witsand-Gouritz Gala 1983

Dis as die jaar so end se kant toe staan dat ‘n tinteling hier in die maag van elke voornemde gala-toeris begin kriewel. Die ou BT-Kaners herken dit. By eerste toeriste skep dit ‘n gevoel van aangename afwagting. So was dit weer in 1983 en terwyl die eksamen nog in sy laaste doodsnikke was, het ‘n groot groep gelukkige Maties die opbruis en oorloop van duisende tintelinge ervaar. Op ‘n lieflike sonskyndag het ons voorlopig weggery van eksamenprobleme, uitslae en afskeidneem-van-die-bos, om eers behoorlik te gaan voete vind (tussen die blase deur) langs die kus tussen Witsand en Gouritz.

Die paar wa-ryers was al aan die kosmaak toe die res van die familie in die bus opdaag. Die vreugde van wedersiens en die vooruitsig van nuwe vriende maak, het in ‘n uitbundige, amper chaotiese “koning” tot uiting gekom. As ‘n voorsmakie van die lekkerkry wat wag, het kosma Priscilla Botha en kosdogter Anna Linda de Wet almal op hul tuisgebakte brood getrakteer. Dit het gemoedere lig gemaak en oor en weer naamleerdery het plek-plek al fluks gevorder. Elkeen was so versonke in sy bord kos en die nog vreemde persoon voor hom, dat die klomp wat met die Universiteitsbussie gekom het, maar in stilte afgeklim en by die kosry ingeval het.

Na ete is die meeste van ons kopkussings toe, maar dit was al laatnag toe ‘n finale rustigheid eers oor die kamp gedaal het.

Die son het warm-welkom geskyn toe ons ons eerste dag se stap aanpak. Ons het ook sommer dadelik met die sand kennis gemaak en taktiek om lam kuite te voorkom is vroeg al oor en weer uitgeruil. Teen middeloggend was dit tyd vir voorstellingspara- de en hoewel die “Peanut Gallery” deesdae begin sukkel met nuwe beskrywings vir ou toeriste, (skimp), het hulle vinnige oorspronklikheid met naamverdraaiery groot vermaak verskaf.

Groot was die opwinding toe oom Flip? ons so klompies-klompies met sy motorboot oor die rivier gehelp het! Almal het elke rit met groot belangstelling dopgehou – party wou tog so graag iemand in die water sien val óf ten minste net sien nat word. Surria Steenkamp, Ilne Greeff en Deon van Niekerk kon die spanning nie hanteer nie, en het liewer heen en weer oor ‘n tennisbal geveg. Annelize Ungerer het oorkant die rivier vir ons gewag en daarvandaan het haar toer saam met ons begin.

Na ‘n warm sandstappie en stewige opdraendjie was die vooruitsig van water en rus nie te sleg nie. Helaas! Die brakwater het direk in jou gesig geblaf sodra jy dit wou probeer drink. Party het gevolglik maar net lippe natgemaak en begin uitsien na teetyd. Die son was ook nie vreeslik genadig nie en die aand in die slee was die “Lip barrier” en “Fridge” sterk in aanvraag (veral nadat Arnold Muller so mooi vir almal gelees het wat die ware funksie van “Lip barrier” eintlik is).

Daar is lekker ge-“item”; Barry de Wet het onder andere ‘n waardevolle stuk van sy anatomie verloor deurdat Piet Muller die verkeerde skroefie losgedraai het. Braam Hanekom en Gustav Sahlertz het vir oulaas ‘n nuwe “serial” begin en siener Neels Muller het “groot dinge” vir “Braam-Braam-Braam” voorspel.

Bessie Bouwer moes agterkom dat dit nie so ‘n goeie idee is om Duitse masels op ‘n toer saam te neem nie. Die gevolg was dat sy spesiaal Woensdagoggend moes ophou toer om dit (die Duitse masels) terug te neem Stellenbosch toe.

Miskien het sy en haar Duitse metgesel geweet wat wag, want die oggend is laaank uitgerek voordat ons vir middagbrood kon agteroor sit. Die ouens het later knaend geweeklaag:

“Stop Pietie, stop!
Pietie willie stop nie.”

Dit is egter verbasend hoe vinnig die klaers herstel het toe die krieketkolf by middagbrood uitgehaal is. Op die ou end was dit omtrent net die middagbroodjies wat nie veldwerk gedoen het nie.

Dié van ons wat nie swemklere daar gehad het nie, moes na ete onsself op ander maniere met die water besig hou. Hier volg nou ‘n vriendelike waarskuwing aan alle toeriste wat van voorneme is om weer saam met Tielman Roos te toer: gooi hom met ‘n bekertjie water nat en hy en sy spelers gooi jou met die hele see. Vra gerus vir die mense wat ondervinding het.

By Blombos aangekom, het ‘n mens begin bekommerd raak oor daardie verspeelde energie tydens middagbrood. Ons is die stywe bult op na die wa toe met meer as net ‘n bietjie hoop dat ons nie weer nodig het om hom af te kom voor die son sak nie. Almal behalwe die waterdraers was verheug toe ons bo-op die bult kamp opslaan, want die steilte het ons van vars water geskei.

Aandete het in kosma Priscilla se eie woorde potensiaal vir ‘n “geweldige effek” gehad en nog voor sleetyd is die kostent “Windhoek” gedoop.

Te middel van ligte reëngevaar het eerste-toeriste-aand soos gewoonlik spanningsvol en vol interessanthede verloop. Met valse bravade het die eerste toeriste dapper ge-“item”. Surria Steenkamp en Seugnet Naude se “Dr Piet Muller” en Tertius Carinus (alias Knersus) se “Wurmpie” het veral reaksie uitgelok. Ten spyte van alles was dit dertig hoogs verligte nuwe toeriste wat heelwat later in die aand moes regstaan om gelukgewens te word. Die WRAAK was verby en uiteindelik was hulle ook deel van die trotse nekdoekie-brigade!

Woensdagaand se laat kuier het Donderdagoggend se opstaan maar moeilik gemaak. Party van ons se sleemaatjies het nog van die vorige aand se slee af vás geslaap en dit was met groot gesukkel dat die wa uiteindelik gelaai is. Afdraens af was almal se energie skielik weer oorvloedig. Die streep na die watervoor toe moes, van bo af beskou, seker sterk herinner het aan ‘n duisendpoot wat probeer polka.

Die mooiste dag se stap het op hierdie manier vir ons aangebreek. Die ongelooflike rotsformasies in die see en die spel van die branders daar rondom is byna ‘n te grootsheid om in woorde vas te vang. ‘n Waterval in die see en ‘n gordyn van sproei-skuim wat telkens opskiet en aftuimel in halfmaanverspreiding is immers nie ‘n gesig wat mens elke dag sien nie. Dit was moeilik om ons daarvandaan los te skeur. Net Gustav Sahlertz se woorde, dat ons ons nou in ‘n “orgie van warm water” kon gaan begeef, het Jongensfontein se aantrekkingskrag laat seëvier.

Die kafee met sy koue koeldranke, die telefoonhokkie en die Tonekis het hard gekompeteer om die besigste te wees toe die kamp uiteindelik staan. Tot en met aandete (wat eintlik laat-middag-ete was) kon jy seker wees jy sou BT-Kaners by een van die drie plekke kry.

Die Pitspoegkompetisie na ete het in ‘n titaniese stryd tussen oom Bethal Muller en verdedigende kampioen Barry de Wet ontwikkel. Robert Laurie se aanskoulike pogings en Francois de Wet se onortodokse tegnieke het darem gehelp om die spanningslyn laag te hou. Die aand was blykbaar aan die Mullers se kant, want oom Bethal het vir Barry onttroon en seun Corrie het na ‘n uiters spannende bordspin finaal die stapel skottelgoed aan Seugnet Naude oorhandig.

Nadat ons in die sleë saam met Jan Bester gaan uile jag het, saam met Piet Kriel se stap gesink het en uiteindelik in hekeltyd by Shakespeare se “Romeo en Juliet” gaan draai het, was die slaapsakdons ‘n welkome gevoel om die lyf.

Vrydag se dagbreek het vir sy eie verrassing gesorg. Alhoewel dit oorstaandag was, het die son vroeg-vroeg reeds menige toeris wat nie sy slaapplek die vorige aand met oorleg gekies het nie, uit sy laatlê-voorneme gebak. Diesulkes was gevolglik voordag al aan die krieket speel, tot ergenis van diegene wat wel bedgemaak het met implementering van oostelike en westelike beskermingskonstruksies.

Soos dit maar met oorstaandae gaan, kon elkeen die hele dag sy eie gang gaan. Daar is in die son gelê, gesing, kaart gespeel en tussendeur is die kafee, telefoonhokkie en Tonekis steeds druk besoek. Trix de Wet en die son het ‘n hewige ontmoeting gehad waarin eersgenoemde ongelukkig tweede gekom het – laat dit vir elkeen ‘n les wees!

Met die aankoms van Betsie van Niekerk, Alba Muller en Joos van der Merwe was aandete gereed. Die “stew” was soos altyd ‘n treffer en het tot inspirasie vir ‘n bedrywige aand gelei. Surria Steenkamp en Douw Steyn het skoonskip gemaak in die Tiekie-draai kompetisie, terwyl Bramina en Franswáá met die komedieprys weggetiekie het.

Niemand in die sleekring is toegelaat om aan die slaap te raak nie, want die aand was propvol lewendige “items”. Daar is plooitjies uitgestryk, Jan Bester het skoolhoof gespeel, die “serial” het dramaties op ‘n bloedstollende gil geeïndig, ons het Staal Burger en sy vriende ontmoet en nog baie ander “in dier voege”. So tussendeur dit alles het die tente-komitee se reputasie geleidelik afgeneem as gevolg van die feit dat hulle summier geweier het om die gevaartekens van die weer raak te sien.

Almal het hulle reggemaak vir ‘n rustige halfdagstappie wat Saterdagoggend sou laat verbysnel. Met Barry vooraan het niemand meer ‘n verskoning gehad om “Stop Pietie stop” te sing nie. Gelukkig het die neem van die groepfoto by die rotsboog en middagbrood by Ninkie Smith-hulle se strandhuis in Stilbaai genoeg tyd gegee om Vrydagaand se verlore slaap in te haal.

Om by ons kampplek uit te kom, het die meer waaghalsiges (of luies) deur die rivier geswem terwyl die ander om gestap het. Vir die swemmers was daar nog ‘n gratis stukkie vermaak toe Braam Hanekom in die kano “te water gelaat” is.

Gestort, gestewel en gespoor, is die meeste van ons laatmiddag in egte BTK-tradisie op ‘n verkenningsparade na die Stilbaai Hotel. Piet Muller se klaviertalent en die televisie se krieketkommentaar het luidrugtig gekompeteer. Die Stilbaai-Hotel was miskien nie heeltemal so spyt om ons rugkante te sien nie.

Saterdagaand was komitee-item-aand. Die wa-laaiers het die “kondensie” gewen, danksy skollie Jan Bester, maar teen dié tyd het Vrydagaand reeds behoorlik sy tol geëis. Slaapslee was aan die orde van die nag.

Dit was die flukse feëtjies en kaboutertjies se taak om almal Sondagoggend uit die dons te kry. Uiteindelik was almal darem in ‘n gesellige kring saam, en kon oom Bethal vir ons kerk hou. Dit is altyd lekker om so in die natuur saam Bybel te lees. Die teksvers uit Openbaring en die boodskap van “die deur in die hemel” het puik by ons omstandighede aangepas.

Voor middagete moes almal wat nie deur Kosma ingespan is nie, help briewe vou en koeverte lek om die BTK-administrasie op datum te kry. Ons is darem beloon met ‘n puik middagete, waarvan die meeste te veel gehad het. Menige mae het die ooglede toegetrek en daar was net ‘n paar mense wat wakker genoeg was om skulpies te soek, te swem en te probeer “wind-surf”. Lesley Hibbert het vir die middag by die “familie” kom kuier en maar min van ons wakker aangetref.

Sleetyd-rus is versteur deur verskeie gille vanuit “serial”-oorsprong en nog meer “verskeie kamele”. As gevolg van laasgenoemde is hekeltyd vervroeg om die woestyn-effek te verbreek. Die hoogtepunt van die aand was aandgodsdiens en sang in ‘n hegte kring om die vuur. Die grootsheid van die atmosfeer het dit moeilik gemaak om jou liggaam te gehoorsaam en slaapsakwaarts te keer. Baie het tot laat laatnag nog gestaan en sing.

‘n Mens word altyd teen die laaste dag van ‘n Gala gewaarsku. Almal het hulleself dus gepantser voordat die stap kon begin, maar soos gewoonlik was niemand goed genoeg voorbereid nie. Wat ek eintlik bedoel is: Wie kan nou teen duine, wind en gepaardgaande sandstorms kompeteer? Die pragtige uitsig en derduisende stalagmietjies moes hard probeer om te kompenseer vir hierdie frustrerende faktore, veral toe hongerpyne ook deel van die totale aanslag begin uitmaak het.

Ons het so reg onder die son gaan middagbrood hou – dit is ook seker vanweë die arrogansie dat Moeder Natuur die bye op ons gesit het. Net toe ons na middagbrood die duine wou verruil vir die see, het hulle ons gepak – miljoene van hulle! Die ergste van alles was dat hulle veral gekonsentreer het op party van ons en dit was maar ‘n bitter pil om te sluk (vir die gepaktes) dat ander so lig daarvan afgekom het. Dié teer puntjie moet liewer uit die annale van die BTK gehou word ter wille van die voorkoming van verleentheid vir die Tone-meisies van komende toere.

(Toemaar, “dokters” wat hul pasiënte se probleme verstaan is altyd gewild! – Red.)

Die vriendelikheid van Staaf en Henry het die staproete korter gemaak, want die bus en wa het net ‘n entjie verder gestaan en wag om almal Gouritzriviermond toe te neem. Nadat elkeen hom verlustig het in die plaasomie se heerlike vars damwater, het ons die pad gevat karavaanpark toe.

Die laaste aand het baie vinniger aangebreek as waarvoor ons harte en gevoelens begroot het. Terwyl ons aan die begin van die toer soveel nuwe vriende by die BTK-familie bygekry het, moes ons nou afskeid neem van liefling-broers en -susters wat die groep moes verlaat.

Ou toeriste het na die indrukwekkende seremonie met swaar harte gaan slaap – afskeid is nooit lekker nie. Vir die eerste keer die week het dit in die nag gereën – so asof die natuur saam wou huil oor die einde van die toer.

Voorsitter Piet Kriel kon Dinsdagoggend vir die eerste keer op die toer die voorreg smaak om die oggendbroodfluitjie te blaas terwyl almal al gereed in die ry staan. Die besef dat alle goeie dinge ook ‘n einde het, is by almal ingeprent – en hierdie einde was naby! Met die kiste gewas, bagasie gelaai en afskeid geneem, kon die bus sy neus in die rigting van Stellenbosch se roepstem draai. Aan die einde van hierdie besondere toer kon elkeen in sy hart sing:

“Nog ‘n toer is verstreke van
die ou BTK ….”

Sylvia Vorster
(Sketsskryfster)

Leave a Reply