Stilbaai-Witsand Gala 1986

Vrydag, 28 November ’86 en nog ‘n BTK-toer lê voor.

Anine reken toe sy sal ‘n bietjie later opdaag, maar toe ry die wa wél twaalfuur en sy moes maar so ‘n minuut oor twaalf op die wa spring. Die bus het eers kwart oor vier die middag vertrek: Riversdal toe!

Die wa-ryers was al heel tuis in die dorp na ‘n koffietjie by die Hoekkafee toe die bus eers ná donker daar opdaag. Na aandete en aandgodsdiens het ons gaan slaap.

Saterdag en ‘n dag van pret en plesier wag! Die bus en wa het ons ‘n hele entjie oos van Stilbaai afgelaai – of so het Barry gesê. Na ‘n paar uur tussen die bosse, takke en drade deur het ons darem veilig op die sand beland. Uiteindelik kon die stap langs die see begin. By gamebreak – sónder game – het ons ordentlikheids praatjie – mét die gebruiklike vermanings gehou. Oom Bethel het ‘n staatsgeheim van die manskap laat uitlek. Dames, die mans moet blykbaar die boodskap subtiel oordra dat ons nie sleepilpapiere in die slees moet rondgooi nie. Die walaaiers het ook die tweede waarskuwing aan die eerste toeriste gerig – die eerste waarskuwing was een maand, ‘n paar dae, ‘n paar uur, ‘n paar minute en etlike sekondes gelede. Middagbrood en rooi koeldrank het na ‘n ruk gevolg en toe weer met die sand langs tot in Stilbaai – aai, waar’s die bosse van vanoggend?

Op Stilbaai het ons die karavaanpark binne gevaar. Die wa was al afgelaai en ons kon gou gaan swem en lank gaan wag om te stort. Die ou dames moes maar terugstaan en spin sodat die eerste toeriste die sleëry kon bevoel.

So van ‘n uitputtende aand het ons nog selde beleef. Lank na “nag-dames” was Henny nog agter die gans aan. Sien die walaaiers besluit toe maar die gala is nog lank en hulle sal vir Tannie T spaar. Die ou vyfrand gansie moes toe maar plaasvervanger wees om in al die items op te tree. So in die middernagtelike ure besluit die gans mos hy wil nie langer met sy neus in die water en krummels sit nie. Hy laat ook nie op hom wag nie en vat toe die pad. Dis toe dat Henny hom agterna sit en étlike sekondes later inhaal.

Sondagoggend het die feetjies en kaboutertjies ons wakker gemaak met koffie en beskuit. Toe die son so begin vat aan gister se brandwonde was sommige vinniger uit die bed as Dannie T, wanneer tannie Miems hom gewoonlik met water wakker maak.

Tienuur het ons ‘n erediens gehou met oom Bethal wat as predikant opgetree het. Na die diens het die kitaar en ‘Pieta’ die groenteskillers se siele versterk, sodat ons later ons liggame kon versterk.

Na die hoofmaal is daar eers ‘n pitspoegkompetisie gehou. Die beamptes moes die pitte wat klaar gespoeg was optel, afwas en weer aandra vir die volgende rondte. Oom Bethal kon sy heupaksie nog nie heeltemal vervolmaak nie, en S.S. se pit het te veel wind weerstand gehad, Barry het sonder skaamte gekroek en toe is Gawie as amptelike wenner aangewys.

Na dié ruskans het ons verder geëet. Anine, Sariaan en Ernst het met die Joyce ‘n tweede waarheid gedemonstreer: Wie eerste is sal laaste wees en wie laaste is sal eerste wees.

Die middag het ons maar rustig verkeer totdat nog ‘n paar BTK-ners en ook tannie Miems opgedaag het. Dadelik was daar ‘n paar eerste toeriste ywerig aan die sing – hulle het toe dit ook nog nie geweet nie.

Ook onder leiding van tannie Miems het die spinnies ‘n bietjie handuit geruk in die sleekring. Hulle het omtrent amok gemaak met die watergooiery. Dit was so erg dat Dannie T met ‘n duikbril en snorkel moes slee – shame sy arme sleemaatjie!

Die aand het darem sy kwota hekels ook opgelewer. Piet sê toe mos vir Helen agter in die bakkie trou is “a durty job that has to be done.” Helen wat het jy dan nou weer gemaak?

Maandagoggend is ons vroeg op en vroeg wakker nadat ons deur die rivier van Stilbaai-Oos na Stilbaai-Wes geswem het. Aan die westekant het ons gou in oom Tjaain se tuin onder die tuinslang gestort en droë klere aangetrek. Hierna het die voorstellingsparade gevolg. Die peanut-galary het kort-kort vir “Blerry ou Barry” gevra wanneer kry dit dan klaar, maar hulle was baie op hulle stukke, veral met Hennie Kotz-é-krokkodilletjie.

Die dag se stap het voorgelê. Ons het omtrent die heeltyd op vissermanspaadjies langs die see gestap. Die see en omgewing was ru en strak, maar tog ongelooflik mooi. In die loop van die oggend het Barry ‘n geselsie met die eerste toeriste gehad en daarna het die res van die groep hulle gekoning. Teen dié tyd was tannie Miems se rugsakkie ook al vol klippe – dié dat sy so ruimskoots met die water gewerk het. Gelukkig het ons darem toe nog nie volkspele gedoen nie.

Ons het aangestoot tot op Jongensfontein se kampeerterrein waar elkeen toe gedink het vir ‘n skadukol onder ‘n bos. Son onder die bosse het ons toe middagbrood gehou. Daarna was die algemene aktiwiteite maar weer slaap en stort.

Die walaaiers het sommer vroeg al begin kyk. Dit het Nicky geïnspireer om ‘n hele week se stort en skoonmaak vooruit in te kry.

Die aand van die wraak het aangebreek. Terwyl die ou toeriste die sosiale slee en die eerste toeriste se items geniet het – ja wel, party van die items – het die eerste toeriste hulle sleepille met moeite ingewerk. Liezel Pauw en Lukas Mienie het net betyds opgedaag en nouja, almal weet opreg wat daarna gevolg het.

Dinsdagoggend vroeg het dit begin reën en die tentekomitee moes bontstaan om die tente so gou as moontlik op te slaan. So drup-drup en op party plekke sommer in dubbele lae het ons weer geslaap. Later is die slaap ook ‘n bietjie afgewissel met sing, stort en eet. In die loop van die middag het almal darem meer aktief geraak met die strandtennis, volley ball en frisbee.

Na ete het Joyce die fluitjie geblaas vir damesskiet. Die walaaiers het besluit hulle batch toe maar saam met die spinnies – praat van vry in die bondel! Dit was ook die aand van komitee-items met tannie T as genooide gaspeler in al die produksies. Jannie het toe sommer die hoofrol in tannie Miems se item oorgenaam toe hy háár in die mangat gooi. Gelukkig het tannie Miems darem nie op die vliegtuig se vlerk beland nie.

Woensdagoggend is ons weer vroeg uit die dons. Die kus tot by Blombos was baie interessant en vol verrassings. Gelukkig was die groot, plat rotsbanke vol water anders sou ons sowaar volkspele gedoen het. Tannie Miems het toe besluit die sand sal net so goed werk – nou ja – laat ons nooit mismoedig word nie!

By middagbrood was daar sowaar ‘n “pouhok” met ‘n uitsig oor die see, maar ook ‘n insig vanaf manskamp.

‘n Gevaarlike stukkie het voorgelê tot by Blombos. Toe ons dink ons was daar het daar nog ‘n styl bult tot bo-op die plato gewag. Hier was geen water nie, wat nog te sê van badkamers (so alle hekels was geldig). Elkeen het maar vir hom ‘n nes saam met die kokorotte en sandvlooie onder ‘n bos gaan skop. Toe dit by skoonmaak kom was die keuse joune – óf nog ‘n laag seewater en sout óf nog ‘n laag Body Mist. Tannie Miems het besluit sy sal maar die see aandurf in haar R12-swembroek. Die mans het hulle nie gesteur aan skoonkom nie. Hulle was meer bekommerd oor die water wat van onder af opgedra moes word.

Dié aand het ons nie amptelik geslee nie, maar daar was beslis nie ‘n gebrek aan vermaak nie – “Berry”, “auntie Miems” en “Pete” met die skrewie het beslis daarvoor gesorg.

Donderdag het ons in ‘n ligte reëntjie begin stap. Gelukkig het dit na ‘n rukkie opgeklaar en Joop kon die res van sy verjaardag in die sonskyn geniet.

Na ‘n lang stap op die sand het ons by Puntjie aangekom. Voordat ons dié keer by die kamp kon kom moes ons deur diep waters.

Party het sommer so met klere en al oor die rivier geswem, terwyl die grootste gros vir die roeibootjie gewag het. Na nog so twintig minute se stap het ons by die kampplek aangekom. Dit was ongelooflik mooi – die omgewing natuurlik!

Die geriewe was onverbeterlik: Francois se haarsalon en Barry se pouhokslootjie was ‘n belewenis.

Die aand het ons eers na donker geëet, vinnig geslee en vroeg in die bed.

Vrydagoggend moes die meisies eers Q om vir Ninkie en Joop geluk te sê met hulle verjaardae – dit was nou regtig. Toe is ons weer bult af om verder te stap. Kort-kort het rotse die uitgestrekte wit strande onderbreek en heelparty se voete gebreek. Maar dit was die pyn werd – die natuurskoon was puik. Tydens gamebreak het Leon met ‘n skok agtergekom hy verjaar toe al die dames op hom afstorm en hom gelukwens en hom gelukwens, en hom gelukwens …. Party moes daarna weer “zink” om die wip in die lip terug te sit.

As ‘n BTKaner eers kamp ruik, is daar geen keer aan hom nie veral as die tyd al so ‘n bietjie verby middagbrood skuif nie. Toe ons op Witsand aankom, het ons gou geëet en gestort. ‘n Hele US-bussie vol dorstiges is net na middagbrood gou terrash toe vir ‘n biertjie. Toe hulle terugkom, was dit al omtrent al weer tyd vir borde bring en Q.

Die mans het sommer ‘n ordentlike aand in die vooruitsig gehad met twee sleemaatjies. Jannie T het vir oulaas ‘n woordjie ingekry toe hy die ongemaklike situasie van Wally en Anine se T-hemde moes hanteer. Die laaste toeriste het ook by die geleentheid afskeid geneem. Na die amptelike slee het sommige nog tot laat geslee totdat die reën hulle om vieruur wreed onderbreek het. Vir oulaas moes ons toe weer dubbeld lê in die tente.

Later Saterdagoggend het ons opgestaan en vinnig reggemaak om te ry. Nadat ons die laaste toeriste weggeblaas het en gekoning het, het ons vertrek: Stellenbosch toe.

‘n Puik toer is op ‘n puik manier afgesluit Sondagaand in die Dros met ongeveer 80 pizzas en 1 kreef.

Ek dink almal sal saamstem: Die toer was jolly lekker!

Ansie Roos

Leave a Reply