Sederberge 1987

Half-vier het almal, behalwe party, so stuk-stuk opgedaag en langs hulle rugsakke neergeplof om te wag vir verdere instruksies. Nadat Barry gou “rol-kol” gehou het was almal in die bus en op pad! Of ons het gedink ons was op pad – die sleepwaentjie moes eers afgelaai word, maar dit was net die begin van die “busare” affêre!

Alles het voorspoedig gegaan tot op dáárdie draai. Hier uit die bloute strand die bus sommer en almal was te gretig om uit te klim. Nadat Gustav byna die heuweltjie plat geploeg het, het hy die draai wyer gevat en almal kon weer ywerig inklim.

Ten aanmoediging van wat geklink het soos die honde van die hele distrik het ons by tannie Kotzé se plaas (lees en neem kennis) aangekom waar ons die eerste aand sou slaap. Toe ons later die aand Q vir ons hot dogs was Leon Verster heel verleë oor sy bes-potlike eetgerei. Na aandgodsdiens het almal geduik vir hulle slaapsakke want ‘n uitputtende kwartaal was verby en ‘n meer uitputtende stap het vir die volgende dag voorgelê.

Tradisioneel was dit weer vroeg “oooooooooop-staan, los-al-julle-goed-en-kom-eet!” Na ‘n lekker gelyk stappie op die plaaspad het ‘n lekker ongelyk stappie teen die hellings en in die kloop op gevolg. Daarna het ons op dieselfde hoogte gebly, maar die rotsformasies het verwarrend baie verander – geen wonder Tannie T het die vorige week tydens die rekkie min of meer in dié omgewing weggeraak nie! En geen wonder Ernst is as ‘n klip aangesien nie.

Ons het middagbrood by die boog gehou: ‘n onvergeetlike gesig. Om Tjaain en Joyce het die ordentlikheidspraatjies gelei en daarna het die mans die gekoning. Daarna was dit weer oor en om die rotse tot by die gamebreak. (Ons het mos game gedrink, nie water nie.) en ook voorstellingsparade. Nou ja dit is maar vinnig en saaklik afgehandel. Barry het sommer op ‘n vlaktetjie gestop en gesê ons kamp net daar. Dameskamp hier, manskamp min of meer ook hier maar die enkele stroompie water ver van hier – oor ‘n klein donga en deur ‘n klomp misrabele gate (watter gate?). Dit was dus flits skyn, mooi mik, spring en “cochroach”. Die dat die wraak toe maar baie droog was.

Sondagoggend was daar nie feetjies en kaboutertjies om ons wakker te maak nie (seker ook maar verdwaal). Ons het ‘n bietjie later opgestaan en toe net ‘n kort entjie gestap – min of meer net om ‘n punt tot in die volgende vallei. Daar het ons gamebreak gehou en middagbrood gehou én geswem (as jy dit swem wil noem) én hare gewas én geslaap. Omdat die terrein so ‘n bietjie ongelyk was, moes ons noodgedwonge die kampplek ‘n bietjie laer in die vallei af verskuif. Joyce en Sonja het die seker gevoel asof hulle wil opstyg, nadat die middagbrood se vars produkte uit hulle rugsakke gehaal is. Buig of bars (die arme tamaties of Joyce-hulle wat dit gedra het?) maar Sondagmiddag sal daar slaai gemaak word!

Ons het Sondagmiddag rustig verkeer, uitgesonder die teekamers wat tot aandete toe druk besig was. Na ete het Ernst die preek gelei en toe het ons begin slee en item. Leon Starker was miskien net ‘n bietjie te oorhaastig om by die “punch-line” uit te kom, want toe is dit sommer 51% van die toeskouers by die lugskou wat wat nou weer gedoen het, Leon? Petronellatjie en haar familie het ook nie agter gebly nie. Hulle is entoesiasties besing deur Barry en Leon S.

Die volgende dag het ‘n heerlike daguitstappie gewag. Marietjie se verkoue het haar platgetrek (gelukkig die verkoue en nie die luiperd nie!) so Wim was maar Bachie vir die dag. Ons het tot bo-op ‘n plato geklim en van daar en oor en deur duisende rotsformasies. Kort-kort het Ernst en ‘n gevolg op nóg ‘n klip gestaan en gesing dat niemand weet wat hulle mis nie. Nou ja, kry vir julle! By game-break het elkeen sy eie koers ingeslaan, meestal in die rigting van die boog. Tot onder die boog was nie genoeg nie, nee bo-op was die “in-ding” (totdat jy besef jy moet weer al die pad onder toe!)

‘n Entjie verder aan het ons middagbrood gehou en toe was daar nog tyd vir ‘n skoonheidslapie voor die amptelike fotosessie. Die was byna rampspoedig toe Swannie ‘n bietjie té ver terug tree om beter te korrel. Ernst wou nog lank nie omdraai nie en moedig toe ‘n paar aan om saam Breekkrans te gaan klim. Die res het maar besluit die vinnigste pad tot by die kamp sal doen. Met Wim aan die spits het ons toe weer tot onder in die vallei gestap en die sirkel voltooi. Ons was al lankal klaar skoon en besig om sop te maak, toe daar weer ‘n geskree van ver af kom. Die Breekkransgeselskap was pas bo en het volgens oorlewering ‘n puik uitsig gehad. Hulle was net betyds onder vir sop en verder kosmaak! So asof gestuur (veral toe Erika by Ansie moes oorvat).

Dié aand is daar in die kosgroepie geslee. “Petronellatjie” het almal weer aan die lag gehad veral toe Barry nog so ongeërg die vlieg wegjaag met die een hand. Barry en Leon moes baie beledigd gevoel het toe hulle orkes afgeskiet was, maar toe beledig hulle die “flerrie” terug. Foei tog, sy het ook ‘n binneste!

Die laaste dag van stap het aangebreek: ‘n Rugsakstappie tot by die groot klip en van daar af sonder rugsakke Apex-peak op! Dit was ‘n rustige klim met baie interessante rotse en skeure. Hier by die laaste stukkie het party se entoesiasme om bo te kom heel afgeneem. Daar was genoeg aanmoediging en stote van onder af sodat almal uiteindelik bo was, en weer is daar ‘n groepfoto geneem. Dis seker die meer amptelike een. Swannie het wyslik besluit om nie weer as fotograaf op te tree nie want dié keer was sy lewe op die spel. Die oppervlak was maar so, by so! Net Emma het dit gewaag om doodsveragtend oor die diep skeure te spring. Asof dit nie genoeg was nie moes sy nog die interfloraposisie inneem vir ‘n foto met Sneeuberg op die agtergrond.

Ons het eers ‘n entjie af gesukkel tot op ‘n groter area waar jy weer kon asemhaal – ek praat nie eers van sluk nie – vir middagbrood! So op die laaste dag het ons nog volkspele ook gedoen.

Van die eerste toeriste was verbasend ywerig. Van middagbrood af tot by die klip waar ons rugsakke gewag het, was dit net ‘n gesingery van ‘n ander wêreld. Van Beethovenstukke (waar Leon S maar meestal ‘n sob gesing het en homself begelei het) dwarsdeur tot by “Hansie Slim” en “Eendjies-eendjies”.

By die eikeboom waar daar vrot planke van wie nou weer Ernst? gelê het, het ons eers verkiesing gehou: óf die dames in die boonste dam en die mans in die onderste dam, óf die mans en dames in die onderste dam óf dames in die onderste dam óf mans en dames in die boonste dam …. Nee wat, toe gaan bad ons sommer in die spruit onderkant die dennebos.

Dis in dié dennebos waar ons vir oulaas gekamp het – byna terug in die beskawing met skoon hare, vars artappels en die bus wat reg gestaan het (om gestoot te word?). Marlize het nog vir oulaas siek geword. Leon S het gou oorgevat en haar sommer die hele middag ongevraagd opgepas – dan is hy die een wat die hardste saamsing van ‘n flerrie.

Van die lang – laaste-aand-slee het daar toe niks gekom nie, want na “nag dames”, het almal verder gaan slaap. Al wat ek van daardie aand se items kan onthou was iets van ‘n padda en Wim en Pippelotta.

Woensdagoggend het ons rustig opgestaan en uitgesien na ‘n dag van terugsit, maar Barry het ons vinnig weer in gelid gehad om die bus te stoot. Dit was bult op en weer bult af voordat die bus wou vat. Van daar af het alles darem vlot verloop tot op Stellenbosch.

En tot in Mama Roma waar ons Sondagaand pizza’s geëet het. ‘n Stilte soos daar nog nooit in ‘n begraafplaas was nie het neergedaal toe die BTKaners vrolik lostrek met “Heut’ geht es an Bord”.

Nog ‘n toer is verstreke van die ou BTK …. en nog vyftien Maties weet opreg.

Ansie Roos

Leave a Reply