Dis Vrydagoggend, 25 November, die akademiese jaar is verby (jammer vir party wat nog moet her) en ‘n lekker bedryf, (soos almal later uitgevind het) lê voor.
Die wa-laaiers het baie fluks gelaai en gou was almal gereed om te vertrek. Met Henry wat vir die sewende jaar die wa bestuur en Jaco Moelich agter die bus se stuur is die pad Knysna toe vol opgewondenheid aangepak.
Op Knysna by Heuwelkruinskool aangekom, was dit groot afpak en bed soek operasie. Die wat op die wa gery het, het gou agtergekom hoe hulle verbrand het en Tone moes sommer voor ons nog begin stap het, oop maak!
Die nag halfeen se kant het nog ‘n groepie hulle aangesluit by die groot groep. Hulle moes maar so voel-voel in die donker ‘n plekkie kry om te slaap.
Saterdagoggend was almal vroeg op en almal het begin gereedmaak vir die eerste dag se stap. Met ‘n stewige ontbyt in die maag en lywe gepantser met sonbrandolies van alle geure, sinksalf van alle kleure en om alles te kroon een of ander bedekking op die kop (van lap tot plein “plastic” ook in verskillende kleure) is die staptog na Buffelsbaai begin. Dit was duidelik dat dit nog ‘n baie warm dag sou word. Almal het redelik goed en met ‘n klomp skrape op die bene by Brenton Hotel aangekom. Ons het die hotel (of moet ek sê terrash) se grasperk en stoep oorgeneem. Daar is lekker gesing en gespeel en party is deur tannie Miems oorreed om te gaan swem. Ons het sommer middagbrood ook daar gehou. Dit was van halfeen tot drie-uur toe. Na middagbrood was daar nog ‘n stuk sandstrand wat voorgelê het in die hittige son.
Net so ‘n entjie anderkant Brenton het ons eers voorstellingsparade gehou met die “peanutgallery” wat plek-plek nogal skerp was. Na voorstellingsparade het ons ‘n ordentlikheidspraatjie gehad en soos die tradisie is, het die mans en dames mekaar gekoning. Ons het die middag so vieruur by Buffelsbaai gekom. Dit was ‘n baie lekker kampterrein. Die meeste van ons het eers gaan swem na die middag se warm stap.
Nommers vir die dames wat gaan stort was die “inding”. As dit later by nommer 25 kom het party maar moedeloos geraak.
Die eerste aand se slee was ‘n laaaang slee, sommiges het gedink dis seker maar vir die eerste toeriste se onthalwe, en hulle was baie dankbaar toe die “Nag Dames” kom.
Sondagoggend het die feetjies en kaboutertjies ons kom bederf. So ‘n rukkie later het Fanie du Toit die oggenddiens gelei. Ook het hy sommer met sy eie ontwerp vir ‘n tru-projektor gesorg.
Na kerk is daar geswem, jukskei, “bats” en frisby gespeel. Daar is ook voorberei vir die GROOT middagete. Na die heerlike middagete is daar natuurlik die gebruiklike pitspoeg kompetisie gehou. Hierdie jaar het die dames ook deelgeneem, maar darem in ‘n ander klas as die mans. Almal het met sy eie tegniek vorendag gekom tot tannie Miems het haar eie tegniek gehad wat die pit nie veel verder as haar groottoon laat val het nie. Sy het gou geleer dit werk nie om te lag terwyl jy spoeg nie. Ansie Roos het vir die dames gewys hoe en Dirkie van der Merwe het vir die mans gewys hoe ‘n mens dit eintlik doen.
Bord spin het ook nie agtergebly nie, maar daar het nuwe woorde vir hol en bol ontstaan toe Christina (die Amerikaner) ook deelgeneem het. Al ooit gehoor van “hollow” en “bollow”? Om plek te maak vir “Joyce” poeding het Knersus eers vir ons ‘n paar oefeninge laat doen.
Ons was net besig met poeding toe die herre bussie daar opdaag. Na ons hulle gekoning het, kon hulle ook darem nog ‘n bietjie van die poeding geniet. Tussendeur is die eerste toeriste ook herinner aan die soetheid van die WRAAK. Die res van die middag het almal rustig verkeer. En verder is nog jukskei, “bats” ensovoorts gespeel.
Die aand het nog sewe-en-dertig eerste toeriste geweet ….
Net na die wraak het dit begin reën. Slee is sommer net so opgebreek. Party het gaan slaap en ander het eers in die kostent sit en gesels en sing.
Maandagoggend was daar nog steeds so ‘n sif reëntjie toe ons opstaan. Dit het darem opgehou toe ons begin kamp afbreek. Maandag se stap was ‘n lang dag se sand stap van Buffelsbaai na Swartvlei. Dit het bietjie korter gevoel, want ons het so al spelende gestap. Die laaste deel was almal se bene nogal moeg want die sand was sag.
Almal het dadelik gehardloop vir die storte en die meisies het weer genommer. Party het ‘n oop venster by ‘n ander kleedkamer gekry en sommer daardeur geklim en gestort. Almal het lekker sit en sing en ook vir Jan Neethling geniet omdat hy so lekker sing terwyl aandete voorberei is.
Die aand het ons net informeel geslee, maar ons het taamlik vroeg gaan slaap, want almal was maar moeg. Party het buite geslaap en twee-uur die oggend is hulle slapie wreed deur ‘n harde bui reën ontwrig. Daar was ‘n stormloop van dames na die tente.
Dinsdagoggend nadat ons opgepak het, het Ben verjaar. Blykbaar sit hy die familie tradisie voort, want sy broer het die vorige George-Knysna gala ook by Swartvlei verjaar. Die dag se stap het baie afwisseling gehad. Eers ‘n lang stuk rotse en toe ‘n stuk sandstap en toe ons binneland toe moes loop, gaan ons verkeerde duin op. Party van ons het geweier om weer al die pad duin af te gaan net om later weer ‘n ander een op te gaan. Ons het toe so al met die duine langs geloop tot ons die teerpad gekry het. Die ander is weer die duin af en het eers weer ‘n stukkie langs die see geloop en toe met ‘n paadjie opgekom na die teerpad.
Ons het middagbrood gehou op ‘n huis se stoep min wetende dat daar nog ‘n lang hittige middag voorlê van teerpad en stofpad stap en ‘n stuk al op die treinspoor langs. Die dag se stap was alles die moeite werd, want Ebb-and-Flow was soos ‘n paradys. ‘n Mooi kampterrein langs die rivier. Baie het eers afgekoel in die rivier na die dag se stap. Die aand het ons baie lekker geëet en toe geslee. Leon en Knersus was weer op hulle stukke toe dit by “items” kom.
Die volgende oggend (dis nou Woensdag wat ons oorgestaan het op Ebb-and-Flow) is ons bederf met vetkoeke vir ontbyt. Die res van die oggend is daar weer “bats”, jukskei, “touchies” en frisby gespeel. Ander het in die rivier op geswem en die rivier so bietjie gaan verken. Party het na die waterval hoër op in die rivier gegaan met die trapbootjies, “paddleski” of met ‘n paadjie al langs die rivier op.
Halfvier die middag het Henry ons met die wa na die terrash geneem. Soos altyd het die BTK weer oorgeneem. Ons het gesing en gesing en weer gesing. ‘n Groepie mans het natuurlik weer vir sekere meisies “Jy’s my beste maatjie” en “Have I told you” gesing. Party het probeer dans, maar hulle moes ook maar hulle ore spits om die musiek te kon hoor. Ander het besluit die singery is nie vir hulle nie en het gaan “volleyball” speel. Sekeres het van oortollige energie op die tennisbaan gaan ontslae raak. Dis net dat hulle amper van hul voete se velle ook ontslae geraak het sodat Tone weer werk gehad het.
Woensdagaand was toe die gevreesde aand vir baie van die dames naamlik damesskiet. Dit was ook die aand vir komitee-items. Dit het nogal goeie items opgelewer en dit was maar moeilik vir tannie Miems en oom Tjaain om te besluit wie moet die blikkie kondens kry. Die volgende dag sou ons hoor dis die tentekomitee.
Saasveld was Donderdag se eindbestemming en sommer die toer s’n ook. Daar was ook genoeg afwisseling om die pad na so lank te laat voel nie. Eers teerpad toe ‘n houtpaadjie langs die rivier af tot by Wildernis. Daar het almal eers omtrent die kafee leeg gekoop. Ons het deur Wildernis tot op die strand gestap, waar ons toe ‘n laaste see swempie uitpak. Met tannie Miems se oorredingsvermoë was baie meer mense in die water as wat beplan het om te swem. Toe stap ons met die N2 langs tot onder ‘n brug waar ons middagbrood gehou en waar ons ‘n baie mooi uitsig gehad het. Die klompie Wilgenhoffers het eers ‘n paar sangitems gelewer voor ons begin smul het aan die kos. Na middagbrood het ons weer ‘n hele ent op die N2 gestap voor ons afgedraai het op ‘n paadjie deur die veld na Saasveld. Ons was baie suur toe ons hoor daar is ‘n swembad, maar ons mag nie swem nie. ‘n Koue stort was toe maar ons troos.
Gou het ons uitgevind ons kampplek is nie sonder bosluise, bosluise, bosluise nie. Die Tabard moes daarvoor troos. Voor aandete is daar eers weer “bats” en “volleyball” gespeel. Volleyball met ons eie net en baan.
Estie en Coert Geldenhuys het die aand by ons kom kuier. Estie was ‘n “hit” met haar Pap en Wors item. Leon was ook weer ‘n wenner met al sy items. Van die dames het besluit die bosluise is nie vir hulle nie en het toe vir die nag op een van die geboue se stoepe gaan parkeer.
Vrydagoggend het ons die Groeneweide wandelpad van omtrent veertien kilometer aangepak. Ek dink nie ons het eers ‘n halfuur gestap nie toe kry ons die eerste waterpoel. Party mense moes eers daar swem. Net verby stap kon ons toe nie. Vir middagbrood het ons afgedraai van die wandelpad op ‘n ander paadjie sodat ons by ‘n rivier kon uitkom. Die swempoele was so diep dat as jy regop staan is jy tot by jou knieë nat (as jy gelukkig is). Na middagbrood het ons verder gestap en ons kon kies of ons wil teruggaan of na Kloof toe gaan met ‘n mooi waterval. Party het teruggegaan omdat hulle moes kos maak en ander was sommer net moeg. Die wat aangegaan het na die Kloof het bietjie verder gestap as wat hulle gedink het hulle gaan, maar volgens hulle was dit heeltemal die moeite werd. Die stuk wat hulle moes swem na die waterval was maar koud, maar oor en oor die moeite werd.
Die laaste-aand-slee was weer diep en lank. Die aand het ook sy mooi, maar hartseer oomblikke gehad toe daar van die laaste toeriste afskeid geneem is. Pieta het onder andere sy leerbroek aan Leon oorhandig.
Saterdag na oggendbrood is die laaste toeriste weggeblaas voordat die bus en wa weer koers gekies het Stellenbosch toe. Daar is baie pittighede en plesiere van die toer wat nog lank onthou sal word!