Richtersveld Julie 1990

Die naam Richtersveld is ‘n goeie woord om hierdie wêreld te beskryf. Wat is dit, waar is dit en hoe lyk dit daar? Van baie van die toerlede was dit dan ook ‘n groot misterie oor hoe hierdie deel van ons land daar uitsien.

Dit was egter met groot entoesiasme en afwagting dat die lang pad na Garies aangepak is. Baie van die toerlede het nog nooit vir Garies gesien nie, maar sy kubus-verlede het hom welbekend gemaak.

Sondag het ons dan ook laatmiddag gearriveer en ons tuisgemaak in die munisipale geboue van Garies waar ons sou oornag. Gou-gou is ‘n ete aanmekaar geslaan waarna Kobus Kritzinger, ons toergids, ons trakseer het op ‘n volledige stel skyfies oor die Richtersveld. Daar reeds het ons ‘n voorsmakie gekry van die grootse natuurtonele wat op ons sou wag. Maandagoggend het ons vroeg geroer en was spoedig op pad na Alexanderbaai. Op Port Nolloth het ons die res van die toergeselskap ontmoet – hulle het van Suidwes se kant af gekom.

Op Alexanderbaai het ons by die Oranjeriviermond middagbrood gehou wat maar so staan-staan geniet is. Die bus het ons toe aan die buitewyke van die Richtersveld afgelaai vanwaar ons rugsakke met ‘n “samble” via Helskloof na Paradyskloof geneem is. Intussen het ons solank begin stap en halfpad deur Helskloof is ons dan ook deur die “samble” opgelaai.

Paradyskloof is voorwaar sy naam werd met sy groen gras en waterpoele. Hierdie aand reeds kon ons egter al die koue van die Richtersveld aanvoel. ‘n Vleisie is gebraai en al vyf-en-vyftig die toerlede kon hul koue ledemate probeer warmmaak om die vuurtjie. Tannie Miems het dan ook spoedig lewe geblaas in die dooie bedryf en het ons heerlik gesing onder haar leiding. “Leontjieee, ek kry so kouuud, koud-koud” het ook in hierdie aand sy plekkie gekry. Daardie aand is ons deeglik ingelig oor die baie lang en moeilike stap oor die Vandersterrberg van die volgende dag en elkeen het hom maar vroeg na die bed begewe om uit te rus vir hierdie moeilike taak wat voorlê.

Dinsdagoggend breek aan en met die “Ooooooopstaan! Ons eet oor vyf minute!”, kon ons skaars sien so mistig was dit. Tannie Miems (met haar rooi stapuitrusting) moes dit weereens ontgeld toe haar kosgroepie later wou weet waar die rooi “gorilla in the mist” dan is. Dit het tannie Miems baie vinnig uit die miswolke oor dameskamp te voorskyn laat kom.

Kobus het na heroorweging bekend gemaak dat dit te gevaarlik is om in dié digte mis te probeer om Vandersterrberg te klim en is die vier-dag staproete heeltemal omgeswaai. Dit het dus beteken dat daar ‘n sestien kilometer stap voorlê oor ‘n paar nekke, deur Armmanshoekvallei tot by Armmanshoek waar ons sou oornag.

Dit was ‘n heerlike stap – effens steil aan die begin, maar dit het Janny Bekker gou oortuig om van die 3l water en 12 lemoene in haar rugsak ontslae te raak.

Hier het ons dan ook die baie seldsame kokerbome en aalwynspesie te sien gekry – dit kom slegs in hierdie gedeelte van die land voor. Almal het dan ook probeer om so na as moontlik aan Kobus te stap, want sy ongelooflike kennis oor al wat ‘n plant, klip of berg is, het ons aan sy lippe laat hang.

Teen half-twaalf het ons gestop vir gamebreak en na oorweging is daar besluit om sommer daar ook middagbrood te hou. Ons was nou in Armmanshoekvallei. Na ‘n lekker lang middagbrood, Peanut-gallery en veel gelag is ons toe weer op pad. (Al ooit gewonder wie G. Swanepoel op die toerlys is?)

Dit was nou ‘n maklike stap en teen vieruur se kant stap ons toe Armmanshoek binne. Dit is ‘n kloof met heelwat waterpoele waar die arm Namaboere hul graag vestig. Tussen die ruie bosse het elke tentjie darem sy staanplek gekry en ons het tot lekker laat die aand om ‘n vuurtjie op die klippe in die rivier gekuier.

Woensdag se eindbestemming was die waterval in die Gannakouriep (Oemsberg). Die sowat twaalf kilometer stap het ons in ‘n fyn motreën afgelê. Met gamebreak het almal soos ‘n klomp skape in die reën gestaan – kop omlaag en met die agterkante na die reën. Die reën het ons geesdrif geensins gedemp nie en die mooi natuur kon steeds na waarde geskat word.

Kobus se opgewondenheid het ons almal aangesteek en ons kon kwalik wag om die amfiteater te betree waar ons die nag sou slaap. Dit was seker die mooiste gesig wat enigeen om kan droom toe die groep soos een man die amfiteater binnetree. Omring deur hemelhoë kranse het ‘n groot amfiteater gelê – ‘n waterval teen die een wand en ‘n sandbodem waar al die tentjies opgeslaan sou word. Leon het op ‘n stadium tereg opgemerk dat dit so mooi is dat ‘n mens glad nie daarvandaan wil weggaan nie.

Hierdie aand het ons lank om die vuur gekuier – die reën het gelukkig opgehou – terwyl die eerste toeriste ons vergas het op items.

Donderdagoggend wou ons net aanhou met sing met oggendgodsdiens aangesien die amfiteater so ‘n mooi akoestiek het. Ons moes egter vaarwel sê en hierdie dag se stap aanpak.

Dit was ook van die mooiste natuurtonele wat op ons gewag het. Eerstens is ons Dreunbult uit – dié naam as gevolg van ‘n vorige ervaring met die waterval se swaelwater – pasop maar daarvoor

(dit kan dalk net gebeur dat jy ook die bult met jou broek in die hand uitstap). Aan die bopunt het ons eers gaan kyk na die bopunt van die waterval waar ons die vorige nag geslaap het. Van hier af het ons na Modderwater gestap waar ons gamebreak gehou het. Tannie Miems was in haar element, want hier was genoeg water – sy moes andersins maar spaarsamig wees met die 2l wat ons elke dag moes saamdra. Modderwater was aan die voet van die laaaang bult.

By die venstervalle het ons afgesaal vir middagbrood. Weereens het die prag van die natuur en klipformasies ons getref. Na middagbrood het ons al met die bokpad langs gestap na die Bababaddens waar ons sou oornag. Die uitsig oor die reekse en reekse berge daar in die vertes was onvergeetlik en as bonus het ons ook op plate en plate Namakwalandse blommeprag afgekom.

Deurentyd het die groep na aan mekaar gebly en die slotte het seker gemaak dat hul aantog nie ongesiens geskied nie – die slotbroeke (neongeel) was ‘n seer oog daar in die verte.

Na ‘n heerlike bad by Babbabaddens het ons reggeskuif om die vuur om ‘n heerlike aand van gesels, items en sang deur te bring. Dit was ‘n bitter koue aand, maar daar is tot twaalfuur gekuier en gesing. (Dit was ook die aand van die FFF)

Vrydagoggend het helder aangebreek en Vandersterrberg het voorgelê. Van hierdie kant het hy ook maar hóóg gelyk (dit is die tweede hoogste berg in die Richtersveld). Die klim was toe nie so erg nie, maar toe ons bo kom moes ons klou om op ons voete te bly. Ons het reg op die kruin van die berg gestap en die wind het alles probeer om ons daar af te kry. Ons moes dan ook ver stap om darem ‘n hoekie van stilte te kry vir middagbrood, maar selfs dit was nie te stil nie. Middagbrood moes haastig geskied aangesien daar nog ‘n lang pad voorgelê het (dit was ‘n lang agtien kilometer).

Later het die wind darem bedaar hoe laer ons gesak het en ‘n stywe pas is ingesit.

Toe ons teen kwart voor ses die middag in Paradyskloof by die “samble” kom, was ons voete maar moeg en seer.

Vrydagaand slaap ons op Brandkaros (tussen die Richtersveld en Alexanderbaai). ‘n Heerlike ete het op die vyf-en-vyftig moeë stappers gewag (dit was toe vier-en-twintig kilometer) en die storte was nog lekkerder.

Saterdagoggend is daar vroeg-vroeg geroer en pak ons die lang pad na Stellenbosch toe aan. Deur die hele toer kon ons nie tussen al die mooi plekke besluit op ‘n plek vir die groepfoto nie, maar eindelik moes Garies se blommeweelde maar die agtergrond vul. Hier het ons ook van Kobus afskeid geneem. Dankie Kobus, ons is dit almal eens dat dit ‘n ongelooflike toer was en só mooi sal ons nie gou vergeet nie.

Sketsskryfster

Leave a Reply