Die Blommekyk Toer September 1995

Terwyl ek reg maak vir nog ‘n BTK toer, wonder ek wat hierdie een gaan oplewer – ‘n nuwe wêreld saam met nuwe mense. Tog vertrek ek met ‘n geruste hart, want ‘n toer saam met die BTK is nooit dieselfde nie, maar altyd ‘n heerlike ervaring.

SATERDAG 23 SEPTEMBER

Al 24 van ons is stiptelik BTK tyd ( m.a.w 8h05 i.p.v 7h30 ) op pad na die blommewereld. Ons reis almal gemiddeld gemaklik in die 2 motors en 2 kombi’s ( sommiges meer gemaklik as die ander – met spesifieke verwysing na Gerrit van Niekerk, Willie Schoeman, Jaco Loubser, Tessa van der Walt en Gayle Ross almal in 1 motor )

Almal is heel dankbaar oor die koel weer om in te ry ( die vorige dag se temperature was in die hoe dertigs! ) min wetend presies hoe donker die wolke oor Kamieskroon, ons bestemming, lyk. Alles verloop glad totdat die insittendes van Nico Holtzhausen se motor die ander voertuie se aandag trek langs die pad naby Clanwilliam.

Die probleem : ons bekwame voorsitter en toerleier se sleutel vir sy motor se petroltenk le by die huis, wat nogal lastig is as ‘n mens wil petrol ingooi. Gelukkig kom ons toervader, oom Dieter Steinmann tot die redding met ‘n skroewedraaier en die res van die +- 500km kan weer aangepak word.

Ons kry mekaar weer vir middagete in Van Rhynsdorp en teen die tyd reen dit so ietwat. Skuiling word gesoek in die restaurant by die vulstasie waar ons, ons eie toebroodjies eet ( koffie word darem bestel om die eienaars gelukkig te hou. )

Uiteindelik is ons almal by ons bestemming – Kamieskroon, maar daar eindig die goeie nuus want die verbygaande reenbui het toe nie verbygegaan nie – dit SOUS behoorlik teen hierdie tyd. Die beplande kampeerrerrein vir die aand word deur nat vensters met min entoesiasme beskou. Oom Dieter, Nico H en Jac Wilsenach verken die area op soek na slaapplek en daar maak ons die eerste keer kennis met die hartlike gasvryheid van die Manakwalanners. Ons konvooi verskuif na die plaas Arkoep waar heerlike onderdak geriewe gevind word. Die modderpad op pad soontoe is eers ‘n bron van kommer, maar almal kom darem sonder te veel moeite daardeur.

Die gemoedere is in ‘n baie beter toestand met aandete van heerlike gebraaide wors en braaibroodjies in ‘n droe gebou en ons begin mekaar uitkyk om te sien wie die mense is met wie ons vir die 4 dae moet oorleef. Daar word ‘n bietjie gesing, oom Dieter spreek ons toe oor “bedagsaamheid” waarna die berugte hekelsessie plaasvind en Willie loop al reeds goed deur. Gerrit is ook bygekom, maar die res is nog versigtig met hul se en doengoed ( of nog net nie uitgevang nie! ) Willie behartig die aandgodsdiens waarna ons in die skuur gaan slaapplek soek.

SONDAG 24 SEPTEMBER

Teen 6h30 is almal uit die vere en die weer lyk beter – daar is ‘n kans van opklaar, maar dit enige kant toe. Na godsdiens deur Gerrit word die boer dankie toegesing asook ” Ken jy die land waar die boervolk woon?” – wat toe later die temalied van die toer geword het.

Die groep word afgelaai naby Kamieskroon op die pad na Gamoep / Leliefontein. Die motors is aangery na die slaapplek en die bestuurders sluit weer by die res van die groep aan bo-op die Kamiesberg pas. Gamebreak word gehou op ‘n area wat toe al die tyd ‘n miernes is met die ongelooflikste miere wat meeste al gesien het.

Ons draai in by Modderfontein en is van daar af teen Sneeukop uit met Nico H aan die voorpunt, terwyl Jac slot stap. Weens ‘n tekort aan tyd deur die reen veroorsaak, klim ons net klein Sneeukop ( 120m laer as bo ) uit. Die weer het toe uiteindelik oopgetrek en middagete is genuttig in helder sonskyn – met die gevolg dat heelwat eintlik sonbrand opdoen! Weens ‘n gebrek aan ‘n padjie af en die paar gevalle van sonbrand is die plantegroei nie te alle tye waardeer nie – maar die mooi blommetjies het heelwat gehelp om die gedagtes op beter dinge te hou! Reeds op die eerste dag maak ons dan ook kennis met die kenmerk van die toer – naamlik plaasheinings wat oorgeklim moes word ( sommiges beslis meer gebruikersvriendelik as ander!!! )

Laatmiddag is ons by die slaapplek en is tente opgeslaan in die skaapkamp – die meisies het nogal gemengde gevoelens oor dameskamp besoek tussen die skape!!

Wim Morris word al van vroeg af ‘n gereelde besoeker by die tonerol met hakke wat pla en Bronwyn Gush maak ook ‘n draai met ‘n erge geval van sonbrand.

Die eerstetoeriste werk aan hulle aaitems terwyl kos gemaak word – groep 2 maak naam as die groep wat net nie al hul kos kan opeet nie, maar Gerrit en Jaap kom tot die redding om die oorskiet te verorber. ( die groep 2 blikwassers is heel ingenome met die reeling aangesien die blikke omtrent uitgelek terugkom! )

Kampvuur word gemaak en die eerstetoeriste lewer hulle aaitem konsert. Eerstens aan die beurt is ‘n vliegtuig aaitem met Willie en Gerrit as vlieeniers en Christa Bruwer as aanbieder. Die skilpad aaitem word opgevoer deur Anel Gerber en Christa. Daarna kuier Gerrit en Willie by die boer met sy mooi dogter en Cathy Gush en Annelie maak ‘n draai in die brein winkel. Carryn Bredenkamp sing vir ons haar Rabbit- Foofoo storie, Bronwyn vertel ‘n wurmpie grap en Willie verduidelik die gebruik van tenses

( Belowe my julle sal nie lag nie… ). Die seerowerlied is deur die eerstetoeriste gesing – ‘n minder suksesvolle poging ( Hoe gaan die wysie nou weer? )

Die eerstetoeriste word gewraak met die troos van Hot Chocolate en koekies daarna voor die hekelsessie plaasvind ( waar die gewones deurloop ) en Christine die aandgodsdiens behartig.

MAANDAG 25 SEPTEMBER

Na ontbyt vertek die bestuurders en ‘n paar hekoopmakers om die voertuie weg te bring na die eindpunt ( Ezelsfontein – Dr J Dreyer se plaas). Dr Dreyer bring hulle terug in Nico H se motor en JP du Plessis ry ‘n ent saam met hom terug om ‘n paar lastige hekke oop te maak en sluit later by ons aan. Ons stap padlangs – die perfekte terrein om blasies te ontwikkel en die sonbrand van die vorige dag is net vererger t.s.v voorsorg. Die besienswaardighede sluit darem plate blomme en ‘n bergadder in.

Die groepfoto is naby die bestemming tussen die blomme geneem en by die slaapplek is daar tot groot verblyding ontdek dat badgeriewe in die vorm van rotspoele bestaan. Wim en Gerrit laat nie op hulle wag nie en JP en Nico H volg kort op hulle hakke. Die vroulike geslag is verteenwoordig deur Christine en tannie Maretha Steinmann.

Die blomme is oral pragtig ( tot in Jaap se baard ) en foto’s woord uit elke hoek geneem. Fenella Boshof en Carryn word beslis die blomme tussen die blomme – in aanvraag as voorgrond.

Die sonsondergang is pragtig, maar met die ondergang kom ‘n snerpende windjie op en warmte word eers gesoek in aandete en later word ‘n kampvuur deur Jaap gepraktiseer ( dit was ‘n bietjie van ‘n gesukkel om dit aan die gang te kry, maar toe dit eers vlam vat was dit baie welkom.) Jac en Wim toon groot aaitem gees en hou almal aan die lag. Die hekelsessie bring maar min hekels- almal is moontlik te moeg en na aandgodsdiens deur Darienne Rossouw word die beddens opgesoek.

DINSDAG 26 SEPTEMBER

Die groot stap dag! Na ‘n demonstrasie deur oom Dieter – ” Hoe om iets in die veld te begrawe ” is ons die steiltes uit. Bo-op die eerste steilte word gamebreak gehou en enkeles in die groep is nie baie positief oor Ezelskop uitklim nie. Net voor die laaste steilte kom ons op ‘n variasie op die tema af : ‘n draadheining waar ons ONDERDEUR is!

Ezelskop is toe nogal ‘n tawwe een : Gayle bied ‘n bietjie teenstand en Jaco Loubser kom tot die redding deur haar rugsak tesame met syne te dra – een van agter en een van voor!! Ook Jac en Wim ruil rugsakke. Tog maak almal dit tot bo waar ‘n ongelooflike sterk wind waai – Carryn se stuk toiletpapier het nogal ‘n skouspelagtige vlug onderneem en van bo af op die wind se rug gery!

Die afdraende is in twee groepe aangepak weens die steilte daarvan :

Nico H se groep kies ‘n pad bestaande uit ‘n kombinasie van klipstap en veldstap. Oom Dieter se groep bly net by die veld. Almal is weer bymekaar by die tweede grootste eikeboom in die land – ‘n welkome gesig met sagte groen blare en wye skaduwee. Daar kom ons agter dat Gerrit ‘n ou wond op sy hand oopgemaak het en die bloed STROOM behoorlik daaruit ( Darienne, het jy dalk ‘n pleistertjie – my hand bloei so bietjie…)

Kamp word opgeslaan by die murasie by die vierde dam op Dr Dreyer se plaas. Terwyl sommiges die murasie in gereedheid bring vir koskook gaan swem ‘n paar malles in die dam t.s.v die yskoue wind. Dr Dreyer kom maak ‘n draai en ‘n fotosessie by die murasie volg.

Wim en Gerrit wag onheilspellend vir sonsondergang om mekaar by die dam aan te vat. ( Wat was die uiteinde toe?) Die sonsondergang agter ‘Die weeskind’ is werklik iets besonders en daarna probeer almal maar ‘n plekkie uit die wind soek en wend verskillende pogings aan om warm te word. ( Vir eens eet groep 2 AL hul kos op !! )

Ons loop almal oor na Dr Dreyer se huis om daar hot chocolate te maak. Weer eens is ons met fantastiese gasvryheid ontvang en al 24 bibberende BTKaners is ingenooi. Ons is behoorlik bederf – sagte rusbanke, ‘n knetterende vuurtjie en tot ‘n Charlie Chaplin fliek. ( Ongelukkig was die dag vir sommiges net te lank en het hulle deur lg geslaap! )

Dalk het Anel ‘n voorgevoel gehad oor hoe die aand gaan uitdraai en daarom haar slaapsak saamgeneem, want terwyl hot chocolate gemaak is het ons tot die besef gekom dat dit reen! Oom Dieter, Annelie, Nico Boshof , Jac en Willie keer terug na die kamp om te red wat te redde is. Hulle keer terug met die slaapsakke en vinnig word die sitkamer omskep in ‘n slaapsaal. Teen hierdie tyd is dit 1h00 en almal is maar dankbaar om in te kruip. ( Vroeër is pogings aangewend om te sing om die vaakheid te keer en die oom het geesdriftig saamgespeel op sy klawerbord. )

WOENSDAG 27 SEPTEMBER

Uiteindelik LAAT SLAAP en boonop koffie in die bed!!! ( verskaf deur tannie Maretha, Christine en Nico H ) Rooiberg is toe onder die mis en ons planne om te stap val deur. Buitendien lê ‘n sopnat kamp en wag op opruim so heelwat van die groep is nie spyt nie.

Die ouens gaan slaan kamp af terwyl die res die luuksheid van die Dreyerhuis geniet. Daar word ontspan, boeke bestudeer en ‘n interessante gesprek met Dr Dreyer gevoer. Die ouens keer terug met nat tente en besittings en chaos heers vir ‘n ruk op die stoep soos almal hulle besittings soek en ander s’n uitdeel. Nadat alles opgepak is word nog ‘n groepfoto ( die hoeveelste nou-al? ) op die stoep geneem. Die Dreyers word ” Ken jy die land” en “Baie dankie” toegesing waarna Riaan op die tradisionele BTK manier geluk gewens word met sy verjaarsdag.

Tessa doen godsdiens en ons vertrek na Garies waar die nekdoekies gestempel word en koeldrank / bier vir die terasj gekoop word. Middagete word by die kampeerterrein geëet waarna die lang rit terug aangepak word.

Ons arriveer tussen 18h30 en 20h00 ( sommiges ry sommer ander draaie ) terug op die Bos en die vuil BTKaners ( behalwe vir Gayle, Jaco en die Steinmanns wat teen tradisie gaan stort het!) val Panarotti’s binne om die toer op ‘n hoe noot af te sluit.

“Nog ‘n toer is verstreke…” Nog ‘n toer waar ‘n verskeidenheid mense hegte bande gevorm het, gebind deur ‘n liefde vir stap, die natuur en die ongekunstelde dinge in die lewe!

Darienne Rossouw

Leave a Reply