George – Knysna Gala 1995

VRYDAG 1 DESEMBER

Dis die einde van nog ‘n deurmekaar eksamen en daar is nog soveel dinge wat roep om voltooiing. Ek begin twyfel of dit die regte besluit was om te kom gala… Maar dan land ek half verstrooid laat by die Neelsie aan net om te sien hoe mense luilekker in die son sit en rustig wag vir die wa om klaar gelaai te word. Dit lyk dan soos ‘n vakansie – ‘n vakansie wat ek bitter nodig het en skielik besef ek daar le 9 onvergeetlike dae voor.

Teen 12h00 is die wa uiteindelik klaar gelaai en reelings word getref oor wie waar ry : enkeles ry op die wa en die res word verdeel tussen die kombies en die bus. Dis ‘n lang pad wat ons moet afle om George te bereik en dus het almal genoeg tyd om hier en daar die vreemde gesigte minder vreemd te maak. Daar word ook gepoog om ‘n bietjie te slaap ( tot groot vermaak van die steelfotograwe!! )

Almal kom weer bymekaar by die Carmel Kampeerterrein naby George ( die wat deurgery het van die Transvaal sluit ook by ons aan.) Terwyl ons wag vir die wa om ook by te kom word elkeen bekendgestel aan sy plig vir die res van die toer. Sodoende kan almal dadelik aan die werk spring sodra die wa uiteindelik kom – daar word ywerig kos gemaak en tente opgeslaan terwyl die wie se skofte eers die volgende dag begin om die vuur staan en kuier. Aandete is eers 22h00 reg en teen die tyd is almal maar lekker honger, maar ook redelik vaak en alhoewel sommiges nog sit en gesels gaan slaap die res na aandgodsdiens deur Wim Kotze.

SATERDAG 2 DESEMBER

Behalwe vir enkele drawwers wat al 5h00 op is, is meeste eers 7h00 uit die vere. Na ontbyt word die wa binne ‘n rekord tyd van 1 uur gelaai! Die wat nog nie voorheen met tannie Miems kennis gemaak het nie vind gou uit hoekom sy so beroemd ( berug?? ) onder die BTKaners is – dis sing en volkspele en slangetjie maak oor die hele kampterrein en gou-gou besef almal hierdie toer is ‘n “lekker-lekker” bedryf.

Na oggendgodsdiens deur JP du Plessis begin ons al langs die treinspoor Wilderness se kant toe loop. Voor ons egter die spoor bereik is ons al klaar die pad byster wanneer Nico Holtzhausen ons in die verkeerde rigting lei. Die meeste mense is egter glad nie hieroor ontstoke nie want dit bied die geleentheid om te klouter oor stompe en om heen en weer oor ‘n stroompie water te swaai ( alhoewel ‘n paar met die taktiek gesukkel het en IN die water beland het .)

Die stap langs die treinspoor neem ons deur tonnels en oor die indrukwekkende Kaaimansrivierbrug. Die geluk om die George/Knysna stoomtrein te sien verbykom was aan ons kant, maar vir ‘n klomp wat dit nie verwag het nie was dit ietwat van ‘n noue ontkoming.

Die eerste swemplek is die Wilderness strand, waar die see angedurf is t.s.v die gevaarlike systrome. Fenella Boshof is amper haar handdoek en horlosie kwyt toe dit deur die see meegesleur is. Die man met die roomyskarretjie was ietwat verbouereerd aangesien hy nie verwag het dat soveel mense in een dag op hom sou toesak nie.

Ons stap deur Wilderness en met die “boardwalk” op langs die lagune. Daar word vir middagete gestop langs die Touw rivier waar almal rustig verkeer, swem en krieket speel. Tannie Miems en oom Jurgens spreek veral die nuwelinge toe oor die werking van die BTK, bedagsaamheid en die belangrike tradisie van slee.

Ons stap langs die rivier op deur die pragtige digte, groen plantegroei kenmerkend van die area. ‘n Padwyser gerig aan die “Bere Tiere en Katte” help ons op die regte pad wat ons tog op ‘n manier byster raak terwyl ons deur die bos teen die steilte op swoeg. Bo wag daar egter iets wat moeilik is om as ‘n werklikheid te aanvaar. ‘n Pragtige huis met ‘n sagte groen grasperk en ‘n swembad gelee bo-op ‘n krans!!! Die arme eienaars het nie geweet wat hulle getref het toe 110 BTKaners uit die bos verskyn en hul tuin en swembad oorneem nie!

Gelukkig kon hulle ons die regte pad beduie en gou-gou is ons by die NG kerk op Hoekwil waar daar uitgespan en ontspan word. Maar nie vir lank nie, want tannie Miems het almal gou betrokke gehad in ‘n skree en rondhardloop spel! Die mededingende, mobiele kafeetjie van die BTK tree ook in werking en “Kom koop, kom koop want Koos is oop!” word gou ‘n welkome rympie.

Ons stortgeriewe vir die volgende twee dae is heel romanties gelee in die kerk se roostuin waar ‘n seil om twee sproeiers gespan is. Die uitsig van die begrafplaas is nou nie heeltemal inspirerend nie, maar die hele ervaring was nietemin iets besonders.

Na aandete is die eerste sleesessie gehou waar aaitems opgevoer is – ongelukkig was die meisies in die meerderheid en hulle het hul eie “spinnie- hoekie” gehad. Na aandgodsdiens en die gebruiklike hekelsessie is die beddens opgesoek en die slaap het maklik gekom ( t.s.v die paddakoor konsert wat aan die gang was in die dammetjie langs die tente.)

SONDAG 3 DESEMBER

Ons kon ‘n bietjie later slaap, maar almal is darem op en klaar geeet voor ons die kerk binneval. Dit neem ‘n rukkie vir almal om hul sit te kry aangesien 3 verskillende groepe van ons op dieselfde gereserveerde sitplekke gaan sit en gevra word om te skuif. Na die kerkdiens ( lank weens die kategese afsluiting ) maak ons van die uitnodiging gebruik om tee en koeldrank te drink saam met die gemeente.

Na middagete is die twee opsies van of see toe gaan of na Groot boom stap voorgele. Intussen ontstaan ‘n watergeveg tussen Rykie Lombard en tannie Miems wat vinnig versprei onder die res van die groep.

Die wa vertrek see toe en die wat nie weens take of ander redes agterbly nie stap Groot boom toe – op die ou einde 6 uitputtende km langs ‘n teerpad EEN rigting! Die boom is indrukwekkend en ‘n vinnige sirkelroete deur die bos maak dit die moeite van die lang stap werd. Op pad terug waag enkeles dit deur die kampe waar die hoof gevare hopies beesmis en drie doringdrade is! Ander raak lekker lui ( slim? ) en organiseer om saam met verbygaande voertuie terug te ry.

Aandete bestaan uit potjiekos en ‘n donderstorm veroorsaak dat almal onderdak moet skuiling soek. ‘n Groot weerligstraal en donderweer in die nabye omgewing laat enkeles groot skrik!!

Die kerssangdiens in die aand by die kerk word bygewoon en na poeding ( verrassing! ) is daar geslee, in die saal weens die reen, waar die spinnies ‘n opspraakwekkende vertoning lewer. Francois Retief se nabootsing van ‘n reëndruppel en koeel is noemenswaardig. Gelukkig hou die reën op, maar die meeste slaap tog in die saal.

MAANDAG 4 DESEMBER

Nog ‘n aanstap dag en na oggendgodsdiens bedank ons vir ds Hansie vir die gasvryheid voor ons deur die bosse afstap na die vleie toe. Die pad bestaan uit ‘n paar rivierkruisings en ons sien die tekens van die hewige reen wat die afgelope maand in die area geval het – ‘n brug wat parallel met die rivier le help nou nie heeltemal om droogvoets oor die rivier te gaan nie, maar het darem ‘n sitplek verskaf om weer skoene aan te trek na die kaalvoet deurstap!

Vir gamebreak klop ons aan by die eerste huis wat ‘n kraan het en mev Adams is so gaaf om vir ons van water te voorsien. Daarna laat ons die bosse en paaie agter en begin die strandstap. Die sand is baie sag en vordering verg moeite. Die vog in die lug laat die kus egter baie misterieus en pragtig lyk.

Ons bereik net betyds die kampterrein – almal het skaars goed neergesit of die reen begin neersak. Almal span saam om die wa afgelaai te kry voor alles nat word. Ons sit onder die afdakkie en wonder hoe nou gemaak. Gelukkig veskaf JP troos in die vorm van biertjies wat te koop is bo en behalwe Koos se gewone voorraad.Die reen gaan vinnig verby en ‘n pragtige sonsondergang sluit die dag af terwyl ‘n frisbee spel oor die kampterrein ontstaan.

Die eerstetoeriste bied hulle aaitem konsert aan met Reenen Barry as seremonie meester. Ds Hansie en die kinders van sy gemeente sluit by ons aan, maar met hulle vertrek word ” die soetheid van die wraak gesmaak!”

DINSDAG 5 DESEMBER

Die see word deur enkeles aangedurf voor ontbyt en daarna is almal vry om hul eie agenda vir die dag op te stel. Die wat wil stap is met die wa weg om die area te verken. Die ander verkeer net rustig – slaap ‘n bietjie, maak ‘n bietjie musiek of sit verdiep in hul eie gedagtes. Met die stappers se terugkoms word “haai-haai” en “lekker-lekker” gehoor en almal binne gryp afstand is betrokke in ‘n spel van Derdemannetjie en Ellie Rose.

Die reen keer weer terug met aandete en daar word onder die afdak geslee – ietwat beknop, maar ‘n slee is mos maar ‘n snoesige bedryf!

WOENSDAG 6 DESEMBER

Daar word die oggend weer eens ‘n opsie aan gestel : ons kan of strandlangs stap en deur ‘n rivier swem of met die wa aangery word. Skrikwekkende stories van ‘n diep rivier met ‘n sterk stroom doen die rondte wat die minder sterk swemmers ietwat onseker maak – slegs die brawes vertrek see langs. Die rivier is toe nie ‘n bron van vrees nie, maar eerder groot pret en ons dryf heerlik in die stroom af – ‘n binneband verskyn van iewers en word ook ingespan!

Die hele groep stap verder strand langs en die sand is darem harder as voorheen. Die stap verloop ook makliker aangesien die verbeterde tegniek van in mekaar se voetspore stap uitgeoefen word.

Die see is mooi helder, maar die son brand vel en ons moet na middagete maar weer in die hitte vort. Net toe ons begin wonder waar die einde nou eintlik is draai ons links oor ‘n duin en aanskou verlig absolute lafenis in die vorm van ‘n koel strandmeer : ons bestemming.

Ons moet noodgedwonge deur die water swem met dagstapsakke op die kop, maar die water is fantasties en niemand gee regtig om nie! Nadat al die bagasie anderkant neergesit is draai almal om, om eers ‘n rukkie te swem en ‘n spel met Annelien Moore se hoed ontstaan tussen die ouens en die meisies.

By die kampeerterrein aangekom vind ons egter uit dat dit slegs ‘n dagkampplek is en dus nie die nodige fasiliteite het nie. Daar is wel ‘n ablusieblok sonder storte, maar ons word meegedeel dat ons nie aan daardie kant van die terrein tente mag opslaan nie. Op die ou end moet ons maar die ongeveer 400m oor onvriendelike terrein afle om te was en water te haal – dit is vir die waterdraers voordelig aangesien die nodige water met die wa aangery word.

Ons is naby Buffelsbaai en enkeles gaan soontoe om familie en vriende op te soek en miskien daar te stort! Oom Bethel Muller, wie se vakansiehuis ook in die omgewing is, sluit by ons aan.

Die wolke begin egter opsteek en met die slee sessie reen dit saggies neer wat geleidelik harder word totdat dit stortreen terwyl ons slaap.

DONDERDAG 7 DESEMBER

Die oorstaandag word met min entoesiasme begroet aangesien dit koud en nat is en niemand regtig lus is om in die reen tou te staan vir ontbyt nie. Die situasie is bitter ironies – dit is die kampplek met die beste swemgeriewe van almal! Die feit dat die ablusieblok so ver is, is ook nie ‘n hulp nie.

Die gemoedere is maar laag en tannie Miems is ook nie meer by ons nie – die oomblik wat haar geesdrif die meeste nodig is. Enkeles kom tog met “Haai-haai’s” en “Lekker-lekker’s” vorendag wat ‘n glimlag hier en daar optower.

Daar word besluit om almal maar eerder vir die dag na Buffelsbaai te neem waar ‘n droe kerksaal vir ons wag. Na 3 keer se heen en weer ry is almal tesame met die nodige bagasie in die saal. Sommiges slaap, ander raak betrokke in ‘n groot kaartspel terwyl die wat die area gaan verken het van die pool tafel in die restaurant gebruik maak.

Asof die reen nie genoeg is kry ons nog met ‘n baie kwaai omie te doen. Hy blyk vies te wees oor ons in die saal is sonder sy medewete en oor stranddiensspanlede by die huise gaan kollekteer het sonder dat dit hulle area is. Ons kry dit egter reg om hom te kalmeer en kan aanbly in die saal.

Die arme kokke, groenteskillers, houthakers en stokers moet terug kamp toe om vir aandete voor te berei, terwyl die res van ons die restaurant binneval vir ‘n goeie terasj – neem die plek op horings.

Na aandete by die kamp hou ons ‘n pitspoeg kompetisie wat Gerrit van Niekerk ver wen – niemand kan sy afstand ewenaar nie. Die tente word afgeslaan in die reen en ons keer maar weer terug na die saal vir die aand – dit verg groot organisasie om al die stoele op die verhoog te kry en slaapplek te organiseer.

Dit is komitee slee en dit blyk voordelig te wees om eerste te aaitem, veral in gevalle waar groepe dieselfde aaitem in gedagte het. Dis ‘n harde slaap wat volg, maar immers droog.

VRYDAG 8 DESEMBER

Na ontbyt kom tannie Miems en kie aan om vir Jan Uys op te laai. Daar is ‘n ekstra plek oop in hulle groep en ewe spontaan besluit Albert van Jaarsveld na ‘n oomblik se wik en weeg om ons te verlaat en saam te gaan.

Ons stap strandlangs na Brenton-on-sea. Die sand is hard, maar die wind waai sterk van voor wat die see onstuimig mooi maak.

Na Brenton-on-sea le daar vir ons ‘n lang ompad voor wanneer Nico ons op ‘n kortpad probeer lei wat die een doodloop na die ander oplewer. Oral waar ons gaan word ons begroet deur “NO ENTRY” en “PRIVATE” bordjies. ( Die mense van Knysna blyk baie gesteld op hul privaatheid te wees. )

Teen die tyd wat ons die wa aan die anderkant van die heuwel moet ontmoet kom ons eers weer by Brenton-on-sea aan. Ons stap maar moedeloos teen die pad af en groot is die opgewondenheid wanneer ‘n motor van voor aankom met ons mense in wat vir ons kom soek. Dit is goed vir moraal – die teerpad het ‘n bietjie lank begin lyk!

Ons stap tot by die Featherbed Natuurreservaat waar ons uiteindelik ( 15h00!) middagete kan eet. Sommiges verdwaal egter weer en sluit eers by ons aan wanneer middagete verby is.

Die wa ry aan tot by die slaapplek en ons stap eers ‘n draai deur die natuurreservaat. Ons stap bo-op die kranse en aanskou ‘n prag uitsig van die Heads en Knysna. Ons tyd is egter beperk en ons moet maar ‘n nadere ondersoek van die grotte by die water laat vaar. Die “NO ENTRY” bordjies is weer oral en die kersie op die koek is: “IS THERE LIFE AFTER DEATH? TRESPASS HERE AND FIND OUT!”

Ons slaapplek is aan die ander kant van die Knysna meer en ons moet met die treinbrug oorstap. Die kaart moet egter nader getrek word om daar uit te kom – gelukkig suksesvol! Die stap oor die brug is pret, maar verg van tyd tot tyd konsentrasie aangesien van die planke weg is.

Aan die anderkant van die meer wag die wa om ons die laaste ent aan te ry, maar die voorstes voel dat hulle so ver gekom het dat hulle maar die hele ent kan stap – op die ou einde ‘n lywige 23 km!!!

Ons kampeer op ‘n skool se rugbyveld en daar is slegs 2 storte vir al 110 van ons! Aandete is heerlik en die verrassing van roomys en sjokolade sous is ‘n bonus!

Met die slee sessie is almal maar lekker moeg en ek wonder hoeveel deur alles kon wakker bly. Daar word van die laaste toeriste afskeid geneem. Anders as die wat uit die slee wakker word om in die tente verder te gaan slaap, is daar die met besondere stamina wat nog kans sien om dorp toe te gaan en sommer die hele aand uit bly!

SATERDAG 9 DESEMBER

Met ontbyt word al die oorblywende kos op ‘n verskeidenheid maniere geeet : koffie en roomys, oats en roomys, oats en sous ens.

Terwyl daar opgepak word en die wa vir die laaste keer gelaai word, word adresse uitgeruil. Voor ons vertrek hou ons eers terasj by die Saddles in Knysna terwyl die wa solank vooruit ry. Ons vang die mense heel onkant : so baie, so vroeg!

Op pad terug vertoef ons eers by die Gouritz rivier brug sodat enkeles “bridge jumping” kan probeer.

Ja, dit was ‘n heerlike vakansie by die see – die jaar is beslis goed afgesluit : die res van die vakansie kan maar kom!

Darienne Rossouw

Leave a Reply