Swellendam-Hartenbos Fietstoer

Woensdag 29 Januarie tot Maandag 3 Februarie 1997

Per Fiets deur die Somer

Woensdag, 29 Januarie 1997

‘n Heerlike somersoggend, die tyd van die jaar wat almal traag terugkeer na die roetine van werk en studie. Maar ons kan ons fietse op die geleende sleepwa laai en die grootpad vat Swellendam toe met daarde gevoel van opwinding aan die begin van ‘n toer.

Oom Gerrit van Zyl ry met die kombi agter ons Volvo wat die kosbare vrag van amper-al-die-fietse trek. Twee maal langs die pad beduie hy ons om stil te hou as Jaap se fiets dreig om van die sleepwa af te klim. Om 11 uur is ons op Buffelsjag. Met die orige voertuie gebêre op Rehan van der Merwe-hulle se plaas, vertrek ons daarvandaan: 13 fietse en die kombi en sleepwa met proviant en bagasie agterna.

Binne die eerste 5 km oorleef die voorstes ‘n kettingbotsing sonder skrapie. Sonja Nel het ‘n papperige band, maar die kombi het al die nodige. Op die Rossouwplein in die middel van Suurbraak dam die uitgestrekte groep op vir middagete. Fietsry maak ‘n mens honger en dors het almal reeds proefondervindelik vasgestel. Nico versier sy broodjie met gras. By ‘n vriendelike vroutjie kry ons water wat lyk of dit klaar tee in het. Op Jaap de Lange se voorstel neem ons ‘n groepfoto voor die poskantoor. ‘n Behulpsame oom staan toe met 4 kameras wat hy moet hanteer.

Die beloofde opdraand na middagete realiseer. Jy rat af tot daar nie meer ratte is nie en jy weet dat nog net trap jou bo sal kry. Die beloning is ‘n lekker lang kronkelrige afdraand na die plaas “Goede Hoop” toe. Die naam is vandag heel gepas, want ons het nog nie toestemming gehad om daar te kampeer nie en niemand het kans gesien vir terugdraai, die bult weer op nie – behalwe Koen Geerts wat dit sommer vir die lekkerte gedoen het terwyl ons ander wag dat Nico Holtzhausen van sy onderhandelinge by die plaashuis terugkeer. En die hoop beskaam nie, want hy kom fluit-fluit terug met die besoekersboek. Ons vind daarin die name van twee vorige BTK toere.

Ons kamp in die akkerbos, maar eers ‘n amptelike uitstappie na die swempoel in die bek van Noukranskloof. Net Koen sien nie kans vir die verfrissende water nie.

Op die aandete van varktjops en slaai volg nog ‘n verrassing: roomys. Wel, vanielje melkskommel is op hierdie stadium ‘n beter beskrywing, maar met ‘n paar van Jaap se moerbeie daarby is dit lekker. Nico sluit af en ons gaan kruip maar in ons tente in. Moeg na ‘n lekker dag.

Donderdag, 30 Januarie

Ek word wakker met die plaasgeluide van voëlsang, koeie in die verte …en Nico wat aankondig: “Koffie is reg!”

Na ‘n standaard ontbyt van koffie, beskuit en muesli vertrek ons. Koen het in die duwweltjies van die koeikamp beland en moet eers binneband omruil, maar met die vyfstuks plaashekke wat ons oppad moet oop- en toemaak ry hy ons gou in. Die bultjies op en af toets jou vermoë om vinnig van die hoogste na die laagste rat te skakel. Een lekker afdraand eindig in ‘n skerp draai en Tineke Kraaij beland in die bosse oorkant die pad – maar sonder om te val.

Die bordjie wys “Gysmanshoekpas” en ons durf die steilte aan wat net nie end kry nie. Die paar voorstes ry of dit niks is nie; tannie Anneli rus so nou en dan, maar bly trap; Jaap ry zig-zag; die res volg die ou beproefde metode van afklim en stoot. Bo wag Sonja ‘n mens in met ‘n kamera: “Glimlag!”

Die kombibestuurder ruil om met elke stop soos mense verkies om twee wiele vir vier te verruil met ‘n enjin op die koop toe. Daar is selfs mense soos ek wat verkies om die steil afdraandes te mis. Dit is warm! Met gamebreak verdwyn 12-13 liter water tussen ons 14 mense. Nog ‘n paar bulte verder maak ons middagete onder ‘n groot akkerboom by ‘n plaashuis. Almal is van kop tot tone bedek met ‘n lagie stof. Die vrugterol is bedek met plastiek. Henk Lourens sê hy skrik nie vir polimere nie en eet die eerste stuk plastiek sommer saam – na my waarskuwing.

Na middagete is dit oorwegend afdraand, maar dit sluit nie ‘n paar stywe bulte uit nie. Eindelik sien ons van die laaste bult af die Korentepoortdam onder lê. Daar gekom is daar twee huisies tot ons beskikking met ‘n wonderlike uitsig oor die dam. Almal gaan swem – Koen vandag heel eerste. Ons swem oor na die skiereiland toe – so 250 meter soontoe en seker net so ver terug. Met die stof, sonbrand- en kettingolie afgewas, volg ‘n luilekker middag. Henk se mense van Riversdal het ‘n paar botteltjies bier saamgebring met hulle besoek.

Toe ons reken almal is al honger genoeg, gaan Sonja, Tineke en ek aandete maak. So ‘n kokery het sy oomblike – soos toe die helfte van die noedels in die wasbak beland. Of die ander geweet het waaroor ons in die konbuis so gelag het, het ons liewer nie gevra nie, maar almal het lekker geëet aan die GROOT pot noedels-en-tuna. Ons kon soos gewoonlik op Jaap staatmaak om die laaste uit te krap.

Vanaand is ons uitgerus genoeg vir aitem. Die stoep van die huisie vorm ‘n ideale verhoog. Eerste natuurlik die eerstetoeriste – Jan Kraaij, Hein Hanekom en Edwin Cross – se beurt. Hulle mimiek “B-T-K” en “Hansie Slim” en sing ‘n selfgekomponeerde liedjie: “Ons laaik nie die wind nie, ons laaik nie die son nie, ons laaik nie die reën nie, maar ons laaik die trip!” Maar die aand is nog jonk en ‘n paar ou toeriste jeuk om te aitem. Ons hoor van die nut van “Cool Aid”; Nico maak ‘n skitterende draak met tannie Anneli se rooi grondseil. Ons verwelkom Hein, Edwin en Jan as geWraakte BTK’ners. Hein is aangenaam verras met die afloop van die aand. Na warm sjokolade en koekies sluit Hein vir ons af. Dit reën saggies, maar vir wie pla dit nou as daar ‘n dak oor ons koppe is …en dik matrasse vir al vyf dames.

Vrydag, 31 Januarie

Die van ons wat op die stoepe geslaap het, kon wakker word met die ongelooflikste uitsig oor die spieëlgladde dam en die miswolke nog laag op die berge. Die dames kry vir alle praktiese doeleindes koffie in die bed. Ons haal lekker koue bottels water uit die yskassie. Sonja se plastiek bottel het nie die vrieshokkie oorleef nie. Sy het nou ‘n bottelvormige stuk ys wat Jaap ‘n lang ent saamry tot dit smelt.

Die pad Riversdal toe is lekker afdraand met NET twee bulte soos die verspieder se verslag sê. Die son kom uit en alles blink van die nag se reën. In Riversdal stop ons kortliks by ‘n kafee vir piesangs en nog wat en vat die pad Vermaaklikheid toe, maar draai af na Blombos. Net op spoed na ‘n lekker afdraand, tref ons die eerste stuk sinkplaatpad. Die sanderige skouer is dikwels beter vir jou sitvlak as een van die uitgeryde spore. Bultjie op, bultjie af. Die enigste manier vir my om voor te kom, is om voor te begin na ‘n stop. Maar by die eerste bult, as ek nog besig is om my laagste rat te soek, dan saag Koen in sommer sy middelste rat by my verby. Eindelik gamebreak! Teen daardie tyd het ek al my waterbottel drie maal leeggedrink. Ons vorder goed – is al amper halfpad!

Na gamebreak begin die pad sanderig raak. In ‘n sandkol steek Nico se fiets spreekwoordelik viervoet vas, maar hy kry dit reg om af te klim lank voor die fiets die grond tref. Sonja val later regtig en Hein se voorwiel bars sodat Sonja en Heidi Vogel bus ry terwyl Hein Sonja se voorwiel leen. Dit is goed om agter iemand soos Edwin te ry wat stadig en rustig aanhou trap asof sand nog nooit ‘n probleem was nie. Dan word die pad, sonder aankondiging, weer mooi hard en glad met verspreide slaggate, maar die kan ‘n mens vermy. Middagete in die koelte van ‘n ry dennebome. Jaap wat al halfpad teen die volgende bult uit was moet maar terugdraai. Na ete is hierdie bult ook die eerste ding wat voorlê. Genadiglik is die wind wat opgesteek het van AGTER af! Baie gou is ons by die T-aansluiting wat wys Stilbaai na links en is daar teer onder die fiets se bande. Skielik wonder ‘n mens weer of die fiets nie dalk nog ‘n hoër rat het nie. Jan, Nico en Ewan Conradie stel ‘n nuwe topspoed-rekord van 73 km/h op. Ons bereik die kampeerterrein met so 82 km agter die rug.

Ons gaan swem. Die wind, nou stormsterk, jaag die sandkorrels oor die strand en waai die branders plat, maar die water is heerlik warm; die stortwater is ook sê Heidi wat nie lus was vir die see nie. Die tentjies word in ‘n ry teen die muur, oftenwel uit die wind opgeslaan. Ons rig ons in om kos te maak, maar dit begin reën en ons skuif na die was-en-stryklokaal van die badkamers. Daar sit ons so onder die strykplanke en eet, en aitem. Jaap vra aanwysings Riversdal toe; rooi en groen fietsies se relatiewe padhouermoë word getoets en Joachim kry sy “meat pie”. Toe die energie vir aitem opraak,sluit Ewan af. Dit is nog te vroeg om te gaan slaap, sê tannie Anneli, maar my anatomie voel al lankal of dit rus sal waardeer. Uit Nico en Ewan se tentjie klink nog ‘n paar mondfluitjiedeuntjies.

Saterdag, 1 Februarie

Toe ons wakker word is dit reeds lig… mooi weer… en windstil. Ons ry vandag net 60 km agter die duine langs beduie Nico, maar die gepaardgaande golwende op-en-af handbeweging sê alles omtrent die aard van die pad. Die teerpad word gou gruis-en-sinkplaat. Henk kry ‘n pap band en klim in die kombi wat Edwin nou bestuur om dit sommer in die ry reg te maak. Ek moet stop met ‘n saal wat losgeskud het en het nogal moeite om die ander weer in te haal, veral toe die pad weer skielik lekker hard en glad word. Gelukkig wag hulle ‘n paar bulte verder.

Ons stop lekker lank met gamebreak. Jaap deel appeliefies uit. Nico se saal is seker hard, want hy praat van die sagte klippe waarop hy nou sit. Heidi deel haar handtekening uit aan medetoeriste vir as sy eendag beroemd is, Edwin bou ‘n baken van klippe, Henk stel voor dat ons moet stem oor die verskil tussen ‘n klip en ‘n bult en ek skryf nonsens in my notaboekie. Dalk moet ons ry voor ons heeltemal laf raak.

Na gamebreak volg ‘n lieflike lang afdraand wat net beter raak toe ons skielik teerpad kry. By die afdraai na Gouritsmond word daar eers gedebatteer of ons nie dalk moet aanry Vleesbaai toe nie. Gouritsmond se geriefliker kampeerplek wen op die ou end. Net ‘n vinnige 8 km tot in die kampeerterrein waar ons in die koelte van die rooipitjiebome insak vir middagbrood. Vir die uur of wat daarna is slaap beslis die gewildste aktiwiteit. So teen half drie kom daar weer lewe. Tineke, Jan en Hein durf die see aan. Sonja, Heidi, Nico en ek gaan probeer die rivierswemplek so 2 km buite die dorp.

Daar is nog tyd vir ‘n terrash. Die klein restourantjie is ‘n bietjie te deftig en die baas ‘n bietjie te styf, maar ons leen elkeen ‘n stoel en gaan sit buite op die stoep. Ons sing lekker uit die rooi sangbundeltjie en sluit af met ‘n oordentlike “Koning”.

Ons maak kos in die beskutting van die opwaskombuisie. Later is die helfte van die groep aan die help en roer. Dit is al laterig en almal is honger. Nico is nie die enigste een wat al aan sy muesli begin peusel het nie.

Jaap en Koen steek ‘n gesellige kampvuur aan en na ete skuif ons soontoe. Daar is nog oorgenoeg aitems oor vir ‘n vermaaklike aand. Koen leef homself uit in die rol van Dokter Naaktgeboren. Oom Gerrit hou vir ons aandgodsdiens. Dit is so ‘n mooi aand. Ek sou nog langer wakker gebly het as ek my oë kon oophou…

Sondag, 2 Februarie

Die wekker gaan nie af nie, maar dit is geen krisis nie. Die groot opwinding van die dag – die treinry – is reeds in almal se gedagtes. Oom Gerrit, tannie Anneli en Christine moet met spyt vandag al huis toe gaan – maar meer kos vir die wat oorbly.

Ons steek die Gouritsrivier oor en swem by Boggomsbaai. Groot branders en ‘n sterk stroom gee ons ‘n bietjie eksta oefening. Jaap gebruik sy waterbottel (met gate in) as ‘n stort en maak vir Tineke nat. Jan kry twee papwiele binne ‘n halfuur – vermoedelik omdat hy die oorsaak van die eerste papwiel, ‘n doring, nie verwyder het nie.

Die wind het vandag gedraai en vir ‘n verandering is eerlike trapwerk teen hom nodig. Ons ry so 10 km ver op die besige N2 en is bly dat dit nie langer is nie. Koen ry vooruit en verras ons net soos ons in Mosselbaai kom met piesangs. Hy het sy handskoene verpand daarvoor en met die betaalslag koop hy toe sommer ‘n spanspek vir die middagete in Mosselbaai. Met drie minder mense lê die sjokolade vir die eerste keer lank genoeg om te smelt.

Half drie is ons in Hartenbos, gaan soek eers die stasie en swem daarna nog lank in die see. Jaap ontstel almal met sy “verdrink”slag, maar dit is gelukkig net ‘n illusie. Ons eet aandete in die middel van die ATKV se kulturele parkeerarea. Alle omstanders het ons aandete met lus in hulle oë aanskou. Maar opmerkings soos “Studente kan met moord wegkom” en “Studente is nie mense nie”, het ons laat besef dat versoening nog ‘n lang pad het om te gaan.

Met min vertroue in die spoorweë daag ons ‘n uur en ‘n half voor die vertrektyd by die stasie op. Die perron en ‘n kafee maak die hele stasie uit. Heel verbasend daag die trein betyds op (20:50). Na ‘n groot geskarrel verby die derdeklas-waens kom die fietse in die agterste bagasiewa en kry ons ons twee kompartemente. Met Jan en Tineke wat ook reeds afskeid geneem het en Hein en Edwin in die kombi, pas ons met redelike gemak in een kompartement in . Die ander kompartement raak later die slaapkwartiere van Ewan en Henk terwyl die res van ons in iets tussen ‘n sit en lê-posisie probeer slaap. Net die toerleier bly waak om net nie Swellendam te mis nie.

Teen enige pessimistiese verwagtinge in kom die trein presies om 02:00 op Maandag, 3 Februarie op Swellendam aan. Hein en Edwin wat sommer in die kombi by die stasie geslaap het, wag ons in. Ons lê nou die heel laaste 4 km per fiets na die Van der Merwes se plaas in feitlik ideale (nagtelike) omstandighede af. In hulle ruim sitkamer skrop ons sommer vinnig nes en binne ‘n paar minute heers ‘n doodse rustigheid in die vertrek, net onderbreek deur hulle jong Great Dane wat liggies tjank en aan die deur krap.

So agtuur se kant is weer opstaantyd. Rehan se ma bied vir ons ‘n ontbyt van roereiers en brood aan en dit smaak vorentoe. Om negeuur is ons weer oppad na Stellenbosch.

Dit was lekker!

Namens Sketsskryfster

Christine Steinmann

Leave a Reply