Twee Riviere September 2004

Vrydag 3 September: Eendag in 1969

Op die Neelsieparkeerterrein roep jy uitasem halt en laat sak die skommelende, eiewys rugsak op die teerblad terwyl jy rondkyk vir ’n bekende gesig of dertig. Dis terwyl jy die ding probeer balanseer tussen die obskure versameling plastiekverpakte objekte, wat jy nog “een of ander tyd” daarin gaan stop, dat jy bewus raak van ’n eienaardige gewaarwording. Dan tref dit jou, sodra jy die hoop kratte vol wit, geperforeerde en nie-wit, nie-geperforeerde items sien: die bus is nog nie hier nie. Wél. Voorbodes kom seker nie duideliker as dít nie.

Ja, of nié. Blatant soos die 1969 op die toerlys kon ’n laat bus darem seker ook nou nie wees nie, ek meen: as jy jouself begewe op ‘n toer wat 34 jaar gelede begin is met Brian Adams as die toerleier…

So laat ons nou nie sê ons is nie gewaarsku nie. Dis egter verblydend om te sien dat sulke onvoorbereidheid eerder die uitsondering as die reël is. Jy het nog so met die koue wind wat deur die skrefieruit in jou gesig blaas, getuur deur die vingermerke om te kyk of daardie bos langs die pad nie dalk ’n dorp of ’n Caltex is nie, toe jy die stem van gesag teen die sitplek agter jou hoor vasslaan:

Jy sien, mens moet jou stofie leer kén.

Die stem van gesag is ’n stoker?

Jou stofie is soos jou kar: maar nie ’n outomatiese kar nie, hyt ’n clutch en als.

Ja, dis Charles Hopkins, met Hugo van der Merwe en Katrien Heymann as gewillige gehoor, sy eerste maal as stoker:

Nee, nee, jou stofie is soos ’n vrou. Dít werk vir daai een, en dít werk nie vir daai een nie. Jy moet weet presiés wat dit is wat jou spesifieke stofie laat brand.

Dis natuurlik toe dat jou vriendin, Carla Potgieter, omdraai om ‘n stuiwer in die armbeurs te gooi:

Dit hang af wie dit is wat die stoof aan die brand steek.

So moenie laat ek jou vertel dat die BTK nie voorbereid was nie, eerder… moeg na ‘n lang kwartaal, bly om mekaar weer te sien, senuagtig oor die eerste toer.. en half vrek van die honger.

So raak dit voergeetyd vir die honger menigte en Leon de Wit ,die potstaander, wat terloops opgemerk het dat hy op hierdie toer niks kontroversieel gaan sê nie – en dit toe ook glad nie gedoen het nie – verlaat sy pos as Oom Peter-Jan Randewijk se beskermdwergie om Judith Delport en Annemie du Plessis die nodige te help doen. En jy wonder onderlangs hoekom jy nie so slim soos Suzanne Haumann was om Herman Steyn, sonder sy medewete, te laat aanbied om jou rugsak te dra nie. Nie lank nadat jou vierde worsbroodjie die weg van alle aardse vlees gevolg het nie, doem die onmiskenbare liggies van ‘n Ultra City aan die linkerkant van die pad op. Na ‘n hewige debat van lustelose raaiskote word Riviersonderend geïdentifiseer – Peperduursonderend soos jy later uitvind toe jy in die kil Overbergluggie teug aan jou laaste sigaret en jou laaste gaskoeldrank wat jy met jou laaste geld deur jou nek gekoop het.

Wie weet waar VanWyksdorpers woon? VanWyksdorpers woon waar wiele.. Nou ja, kom ons sê maar net jou oë het nog so oor die grondpad verby die monumentale NG Kerk en telkomhokkie gewip toe jy dit sien. Ja, ‘n kerksaaltjie in die middel van na middernag, in die middel van die berge, in die middel van VanWyksdorp. Sal maar later vanoggend, wanneer hulle weer die strate uitpak en die mall oppomp, kyk of dit in die middel van absoluut niks ook is. Nie dat jy kla nie: plank onder die slaapsak, porselein agter die houtdeur, sinkplaat bokant die kop.

Jys aan die slaap voor jy enige iemand kan nagsê.

Saterdag 4 September : Geel Madeliefies tussen Dorings en Uitkykpunte

Inderdaad Saterdag 4 September. Ek herhaal, Saterdag vier September. Ah, wag… daaaar roer ‘n slaapsak…

So dís nou VanWyksdorp. Die plekkie met die mankoliekerige swart baaisiekel wat leun teen die piepklein poskantoortjie met ’n telefoon, ’n till en ’n tannie. Jy staan daar en pass die nekdoekies tjap-tjap na Lize Joubert aan, of sy na jou – jy’t half vergeet, dis vroeg. Die dat Joyce Marais se nekdoekie amper in die slag gebly het, nou nie dat jy gewoonlik na ’n poskantoor verwys as ’n slag nie. Dit kon die klein dorpie op Koöperasie Stories gewees het: behalwe nou vir die feit dat dit opgekrul lê tussen ’n paar berge met met ’n binneste wat wriemel van ’n kokende, instoppende en, plek-plek, slapende BTK.

En jy het uitgevind wat gebeur indien die bus se knormoer opsluit weier om sy samewerking te verleen: jy gooi nóg knormoer in jou beker en maak gereed om nog ’n bietjie te stap. Jy het al dikwels gewonder wat die langste moontlike afstand tussen ’n slot en ’n toerleier kan wees, nou weet jy: dis drie plaashuisies, vier graspolle en twee uitkykpunte – hierdie vergelyking geld egter slegs indien die slot voor en die toerleier agter stap. Plaaspad, lusernlande en voor jy weet is dit die eerste waterbreek.

Jy sou later terugdink aan dag een as as die dag van dorings, blommetjies en uitkykpunte. Nou nie dat jy toe al kon weet wat op jou wag nie, wag nie… Maar ja, hier is baie blommetjies: sulke daisy-agtige goedjies in al drie skakerings van geel, wit en pers. Met elke tree wat jy neem, stuif die geur van die vroeë lente in jou neusgate op – so wat is fout met hierdie prentjie? O, ja! Dis so warm soos net ’n somersdag in die Klein Karoo kan wees, behalwe nou vir die feit dat dit nie somer is nie en dat die aircon nie werk nie.

Van die dorings sal Hugo meer weet as jy, hy is immers die een wat met rugsak en al in ’n swetterjoel daarvan gaan sit het nadat ’n oulike graspolletjie hom na en om die bos gelei het. Dalk sal jy later wens dat jy ook paddavoete saamgedra het soos dapper George Gerber, maar later is beslis nie vandag nie.

Die rivier maak toe ook sy opwagting so klip vir klip en doring vir doring. Dis hoeka in die smal, klipperige paadjie wat daar toe gestop word vir Oom Peter-Jan en Tannie Marelie Randewijk se ordentlikheidspraatjie – in stereo. Jy het mos nog altyd gewonder wat altyd so vreeslik lank neem om te sê in hulle s’n.. Jou oproep na die beamptes van die Guinness Book of Records het egter nie veel vrugte afgewerp nie, en die nouste Koning ooit moes ongelukkig sonder die medewete van die wêreld daar buite verbygaan.

Vele blomme, dorings en uitkykpunte later bereik die gelui van huweliksklokkies jou ore. Nie dat jy nou al ooit gehoor het van ‘n bruidegom wat soos Leon eers tydens die neem van die troufoto’s wakkerskrik nie – maar dis ook nou nie dat jy ‘n mooi storie en Annemie se stralende verontwaardiging met vrae will bederf nie. Sy’t dit immers swaar genoeg om Leon te oortuig… Jy dink natuurlik hulle moet by Retief Swart en Heleen Marais gaan kersopsteek, Apriltoer (waar die vorige, onbewustelike kitshuwelik plaasgevind het) is immers nie sooo lank gelede nie.

So daar langs die rivier sak die barbaarse hordes toe neer vir middagete vir wat een van baie waterfront maaltye sou word. Die VanWyksdorpbrood is toe nie uitgevote nie, inteendeel… watse brood?

By Kamp Graswal roep Piet le Roux halt vir die nag en na vele plons, pitch en pot word skiet oopgedawer. Sanet Vermeulen se klagte dat Riaan du Toit haar noodlottig gewond het lok ongelukkig nie die gewensde simpatie by Groepie 1 uit nie. En die nimlike Patience (Suné Pieterse) maak ‘n comeback saam met die doodgewaande Apartheid: Groepie 2 het taktvol gesorg dat haar sop in ‘n aparte billie gemaak word.

So nou lê jy heerlik agteroor in jou slee, toe die drie jagters die eerste van vele opwagtings maak. Pablo en Pedro se bacontree, wat toe al die tyd ‘n hambush was, verdien ‘n plek in die geheue van die gehoor. Petrie van der Merwe en Eberhard Steinmann was weereens ook nie links nie, en as jy al ooit gewonder het wat jy moet doen as jou lepel te groot is: soek ‘n piesang!

Nadat Leon en Annemie goed die spit moes afbyt vir hul kitshuwelik en gewaande egskeiding, kom die hekel wat jou altyd sal bybly – die strikvraag van Anni Loots:

Oom Peter-Jan, ek will net graag by Piet weet wat hy bedoel met „Reccé “

Na ’n juweel soos daai, kan jy ook maar net sê: nag dames

Sondag 5 September: Die pelgrimstog van die plaasimplemente

Kamp Opdrifsel is toe die oggend verlaat op ‘n pelgrimstog van plaasimplemente. Net toe Johannes Swart en Doret Jordaan, twee van die locals, begin liries raak oor die omgewing, word hulle toerieë effens omvergewerp deur ‘n VNVVV (Vreemde Nie- vlieende Voorwerp) op die horison. Dis ‘n vliegtuig, dis ‘n voël, dis ‘n plakkershut – nee, dis regte ‘n Claas stroper uit Harsewinkel! ‘n Trekker, ‘n ploeg ‚‘n troppie skattige bergbokkies en etlike, nee dis nié koring nie, lusernlande later stap jy van erdvarkgat tot erdvarkgat tussen die blommetjies deur met een gedagte in jou kop: skooltjie.

So van skool gepraat: jy sal nou nie lekker kan onthou waar die slagspreuk van die toer sy oorsprong gehad het nie, alhoewel jy die hand van die onderwys daarin bespeur. Dit het inslag gevind waar dit die eerste groot epiese rivieroorsteek met ‘n gewankel, geplons en gegil die gamebreak ingelui het: Moet net nie ophou dink nie! Maar hoe kan ‘n mens dink terwyl jy nog in ‘n skoktoestand verkeer omdat jy sowaar Herman (Die toer se verjaarsdagmaatjie) se verjaarsdag vergeet het? Jou futiele rondkyk na waar die skrum nou eintlik gesak het, eindig by Piet se fluitjie, die einde van nog ‘n gamebreak.

So sny jy dan ook kortpad oor die rante, met die entoesiastiese verjaarsdagliedjie wat teen jou voetstappe vasstamp terwyl die twee Nederlandse konsultante, Mark van Ommen en Mattijs Heeren, aan hul paneel eerste toeriste die fynere kunsies van “het Nederlandse uitpraak” van De Machtige Koning voorlê. En toe jy nou uiteindelik op die hoë rand staan, maak jy maar beleefd asof jy ook daar opgeklouter het vir die uitsig en nie omdat jy graag uitkykpuntekspedisie nommer 486 wou join nie. Jy waardeer nietemin die pragtige uitsig, dis immers hoekom jy BTK en nie stap nie.

Maar daar is altyd ‘n waentjie langs die pad as die vrag te swaar word en bosluise en verdwene paadjies om die wegsyferende gespreksonderwerpe aan te vul, so dis nou nie asof jy gaan kla nie.

Jy kry uiteindelik die skoolgeboutjie in die oog: ‘n sink en plank tweevertrekkonstruksie met goeie grondvrye hoogte en ventilasiekapasiteit. Dis mos dan wanneer die koue wind deur jou gebeente begin sny en jy en Elbie Rossouw en Katrien en Minette van der Merwe en wie’s-daar-doooeeer-anderkant julleself afvra: hoe ver agter die sementdam lê die eerste bossie hoër as enkelhoogte? Jy onthou skielik dat die Klein Karoo nie altyd klein is nie, en ook nie altyd warm nie.

So na ‘n onderdakaandete is dit sulke tyd. Jy lag diep uit jou maag vir Dawid Morris se kwinkslag oor die back-to-school slee: maar behalwe vir die skoolgebou en die duisternis laat niks jou aan skool dink nie – veral nie as jy die feit in ag neem dat Eerste Toeris Items baie meer leersaam is as daai ander wiskundeklas waarvan jy net die bordkrytstof en die klok se geskal kan onthou nie.

Hoeveel mense kan byvoorbeeld sê dat hulle al die Nederlandse volkslied eerstehands beleef het op stowwerige planke in die suisende lig van ‘n gaslamp? Om nie te praat van gesing nie. Willie Krige het gewys dat die kosmopolitaanse aspek van die BTK hom geensins afskrik nie en hy het heerlik ge-“Hiep Hiep Holland” saam met Mark en Mattijs, wat flussies nog die dieretuin na Afrika gebring het. Boonop het die latynse Pablo en Pedro (wat met daardie beligting en aksente enigeiemand van Nic Joubert tot Herman S. kon gewees het sonder dat jy dit agterkom)‘n visvang-comeback gemaak nadat die hambush oneetbaar blyk te gewees het. Nie dat dit is waar die Aardrykskundeles geëindig het nie: ook die Republiek van China het die Items binnegeval toe Cherie Crous, Dawid en Hans Heunis ons “Suplaais!” het. Na ‘n voortreflike vertoning van die verpligte liedjies, waar wraakkaptein Pieter Avenant sy stem dikgemaak het, was die akademiese verrigtinge van die aand eers op ‘n end en het die geskarrel na natwordbare klere vir die yskoue vlakte begin. Weens ‘n tekort aan boekies en ‘n oormaat nekdoekies was die geskarrel agter die skerms selfs mooier. Jy’t later maar net gaan staan en saam met die res gegiggel oor Annie-Loots-weet, en gehoop almal is geholpe.

Na die soetheid van die wraak het Leonora (Leon de Wit) haarself in die sewende eendehemel bevind terwyl Hugo sy vlerkies as die beautiful butterfly gesprei het. Oom Tielman Roos, ons weldoener, het ook na sy heerlike aand in herinneringlaan die vereniging wat ouer as die NNP is en heelwat langer gaan hou, gegroet. En jy dink natuurlik die beste hekel van die aand was beslis Thinus Basson wat vir Marianne Heyns die Bassonkant van die lewe wou wys.

Almal slaap vanaand op ‘n hoop, weerskante van ‘n plank – sal nounou die aircon afsit.

Nag Dames.

Maandag 6 September: Geen Tee, Geen Meisies, Geen Kinders

Toe die volgende oggend se forced removal uit die onderdak fasiliteite plaasvind, onthou jy skielik waaraan al die sinkplate jou die vorige aand laat dink het…

Jy vergeet egter jou iesegrimmigheid te midde van die feesgees, dis immers nie elke dag dat iemand min of meer régtig op ‘n toer verjaar nie! Riaan se “bring it on” het die SHD-magte van alle kante op hom laat toesak en ‘n versie of twee later was dit opsaaltyd.

‘n Wyle later grinnik almal vir die vervalle nabankklip-murasie se room with a view terwyl ‘n vervaarde Riaan en Hugo holderstebolder skarrel en duik vir ‘n gaatjie op die groepfoto. En die plaasimplemente maak oudergewoonte hul opwagting tewyl jy jou oopmond vergaap aan die magnetiese houvas wat geel vragmotors op bont BTKners het. Hier en daar tuimel ‘n druppel sporadies uit die lug, maar nou nie so dat jy sal huistoe SMS met ‘n posduif nie.

Jy skaats teen die sloot se wal af in ‘n gamebreak in. Groepie 1 maak ‘n interessante ontdekking rakende die ondeskeid tussen meel en melk: as meel jou probleme gee, is dit skoonveld – as melk jou probleme gee het jy dit steeds. Krete van vreugde styg egter op toe ‘n ander groepie ontdek dat hulle ‘n blikwassak het. Toegegee, daar is slegter dinge wat jou op dag drie kan oorkom.

Jip, en een of ander tyd moet die Grootrivier ons weer vereer met sy teenwoordigheid, en die knars van kluitkloof begin. Gmf, en jyt gedink dis net die wye oop Kalahari wat toegespan is onder die draadheinings? Ons is toe nie so stoksielalleen in die kloof soos ons gedink het nie, Eskom het homself sommer genooi. Dis bo-oor, of onderdeur of om, modder modder modder om…jy tel jou rugsak weer op en wonder hoe lank hierdie elektroniese uitdaging sou voortgeduur het as Hans nie daaraan gedink het om die draad sommer met klip en al op te lig nie.

Middagete langs ons vriend rivier is ‘n kans om weer al die skoen van die modder af te was. So al op die rivierklippe in die vallei van ’n duisend en een rivierkruisings besluit die krukkelys om sy klientebasis uit te brei: Doret maak seker dat Leon hierdie toer ook kan sê dat hy nie heelpad met net een russak hoef te geloop het nie terwyl die son Alex van den Berg lelik bygekom het tot op die vlak van sonsteek. Jy wil nou nie snaaks wees nie, maar Carla lyk ook nie vir jou heeltemal lekker nie…

Toe jy uiteindelik jou tentjie staanmaak op die aanloklike strandjie waar die twee riviere mekaar ontmoet, is die beeskakebeen voor jou tent se deur ook al teken dat die sonnetjie vandag gesorg het dat jy jou vriendin Carla nie voor more-oggend sien nie – en intussen beurtelings met Hamlet en Ockert Brits opgeskeep sit. Marianne, Eberhard en Cherie stel die pleisters en verbande ten tone, Pieter staar net voor hom uit met ‘n veraf uitdrukking in sy oë: “Tone kan niks meer vir my doen nie…”

En die swemwaters word aangedurf. Jy kruip natuurlik op die sand soos jy lag toe Piet op en af in die lug spring en armswaaiend vir Wernard Barnardo beduie dat hy uit die water moet padgee om die “hangglider” te mis – “hanglider” synde die nuwe naam vir ’n dameskamp in ’n rivierpoel. Die pragtige visarende klim ook luidkeels in. Ook Groupe Quatro se stemme deurklief later die aandlug: Marianne, waar de sop is jy?!

Wanneer laas het jy ‘n sleekring met ‘n regte vuur in die middel gesien? Om nie te praat van Marshmallos, soetwyn en ja sowaar, ‘n orgieslee, nie. Maar nou ja, tydens damesskiet ‘n mens ook enigeiets verwag. Soos ’n teleurgestelde Oom Peter-Jan later ontdek toe hy die vis, wat hy vroeër vandag in die riete gevang en diplomaties langs die vuur geplaas het, gaan soek en net op ’n paar verkoolde stokke en grate afkom. Charles se item word gewigtig deur sy aankondiging ingelui: “Okay né, hierdie is ‘n joke…” Ag, give him another chance, dis per slot van rekening die waarheid. Daardie donker nag sal ook altyd onthou word as die wedergeboorte van die ou, grys merrie. Weereens kan jy nie sê dat hierdie toer in die jaar 1969 langs die twee riviere sonder voorbodes verloop het nie.

Piet kondig die volgende dag se planne aan en jy grinnik by die gedagte aan die paar ure slaap wat jy gaan inkry terwyl die ander suckers ‘n ander kloof verken.

Nag Dames

Dinsdag 7 September: So dís ‘n splashcover…

Piet het natuurlik ‘n klein, onbelangrike brokkie inligting weggelaat toe hy die plan van aksie aan sy agtervolgers deurgegee het: dit verbaas jou glad nie dat g’n mens die eerste uitstappie wou aandurf toe Piet deur die tentwande bulder dat ‘n swempie deur die rivier die grootste deel van stap een uitmaak nie. So na ‘n luilekker inpakkery het die swepe eers teen elfuur begin klap.

Ag, jy ken die storie: modder, rotse, kruis en dwars oor die rivier. Altans, jy’t gedínk jy ken die storie tot dokter Steinmann sy stem dikmaak en Petrie sy aandele by die sketsskrywer laat styg deur te sorg dat sy droogvoets oor die rivier kom. Jy’t ook gedink jy ken die storie van die water: knyp oë toe, vergeet van die reeks informele nedersettings waardeur die rivier vloei en slúk, maar blykbaar is daar beter maniere om die saak aan te pak. Hugo het dadelik die potensiaal van Liske Kotzé, ons ekologiese informant, se anti-bacterial sokkies ingesien as filters. Of dit toe so aangewend is, het jou nou effens ontgaan.

Nie lank daarna nie doem die toer se eerste swem op. Dis toe dat daardie veelkleurige seilvoorwerpe van naderby bekyk en ingespan word, altans vir die paar sakke wat hulle toe wel vir die hele dryf-ding beskikbaargestel het. Plan B: jy sit agteroor op die graswal terwyl die manne ‘n sakgee-treintjie oor die rivier maak. Hier en daar het ‘n tekkie ‘n duikslag of wat beleef, maar verder kon jy nou nie enige katastrofes opmerk nie. Dit was nou totdat Doret besluit het sy gaan nie soos Annemie die dokter se raad in die wind slaan en deurloop nie, en ’n halfverdrinkte Petrie en nog ‘n paar moeë mans later het sy haar toe ook sopnat en droogvoet aan die oorkant bevind.

Na klim- en klouter oor rotsblokke en ander hindernisse is dit middagete tyd, waartydens Anni as gevolg van ‘n ingewikkelde maar fynbeplande komplot in die water beland.

Die middag se stap het ook ‘n ingewikkelde reeks rotsblokklouters ingesluit, jy kon jou oë nie glo toe ‘n stukkie beskawing uiteindelik opduik in die vorm van ‘n bruggie oor die rivier nie. Gou is dié illusie egter versteur deur ‘n bakkie, wat bekommerd stilgehou het om te vra waarheen ons oppad is. Een ongemaklike stilte later moes hy maar die stryd gewonne gee.

Jy kletter nog so lekker in die rivierloop af toe Judith se deurpriemende gil die ekspedisie plotseling tot stilstand ruk: “netso groot akkedis” het haar amper aan die arm gebyt. Nou trust jy hierdie rotsblokke nog minder, maar nou ja. Kampplek is seker nie meer…

Hiér?! Ag, wel, moegheid, skuins rivierwalletjie, rugsak.. natuurlik slaap ons vanaand hier. Een ysige windvlaag en ‘n onheilspellende skemer later vermoed die manne onraad toe Tannie Mareli die dames bymekaarroep – Skiet is oop! Ja, canned-lion-skiet as jy nou al ooit een gesien het.

Patience het haar roots verraai vir ‘n Kaapse Meraai en aangesien dit die laaste aand is maak jy jou reg vir laat kuier. Yea, right. Na die eerste Nag Dames is jy weg… tot jy wakkerword van die tip-tip-tip-tip…

Woensdag 8 September: Die ou silwergrysmerrie, is nie want…

So na al die mooi weer op die toer duik die eerste en laaste nat oggend toe op toe jy in die gietende reën onder die tentflappe uitstrompel. Darem nie vaal en grys soos jy reëndae ken nie, nie met Gysbert Muller, Wernard en Anni as die drie geel en oranje sonne nie. Nuwe rekord: omstreeks twintig voor ag gly die BTK uit hul kamp uit. Dis ongehoord stiptelik, maar wat kan jy doen…

Dit word ‘n dag van fynbosvleg en nat klippe klouter soos nog nooit. Anni se val het jou groot laat skrik, so nou loop jy dubbeld so versigtig. En dit kos ‘n reccé en ‘n half om stappie vir stappie die maklikste roete te vind noudat ons swemplannetjies effens gefnuik is. Darem toe nie heeltemal nie, met die hulp van ouens wat drywende sakke oorstoot en sinkende swemmers uitsleep, bereik ons die oorkantste wal.

Goeie verskoning vir ‘n gamebreak as jy nou al ooit een gehad het! Effens droër BTKners met effens natter sakke doen toe weereens die dassie-ding al teen die kante van die Lord of the Rings-agtige kloof uit. Jy kan nie aan ‘n beter plek dink vir ‘n groepfoto, of aan ‘n moeiliker plek om die fotograaf ook in te kry nie. Na ‘n stresvolle paar sekondes slaak jy egter ‘n sug van verligting.

Niemand kon op daardie stadium meer onthou wie dit presies gesê het nie, miskien kan jy onthou:

As jy in hierdie vallei omkyk verander jy in ‘n aalwyn, nes die hele lot van hulle.

Die laaste stuk paadjie was ‘n afdraand uit die boonste, die héél boonste rakke. Maar toe het onheilspellende klanke van die toerleier se kant af al snaakse busgerugte lat verspei: ons kry nie die ding nie… Jy gly weereens op ‘n modderige stomp, Willie reken dat hulle nes Leon se bek is: seepglad en behoort vermy te word sover jy kan. Toe die brug sigbaar raak het Lientjie Avenant ‘n spreekwoordelike traantjie van aandoening weggepink, die toer was verby.

Verby!? Toe jy saam met al die ander gelyktydig jou rugsak afhaal, het die volle impak van wat gebeur het jou nog nie getref nie, of enige iemand anders nie – middagete is immers ‘n beter plan as tob…

Tot Piet en Eberhard na ‘n ekskursie na ‘n foon en sein op ‘n naburige plaas aankondig dat die polisie op Albertinia aan die soek is na die silwergrysmerrie, soos die bus terstond gedoop is. Ja, vir wat sal ‘n BTK bus nou breek as hy kan wegraak? En dit word aand… en busse word verpas.. en ouers raak histeries… en die BTK speel brug.

Hoe dit heeltemal gebeur het en kan jy nie meer so mooi onthou nie, maar na ‘n paar keer se plaasbakkie-pendel met ene Meneer Jordaan, die eienaar van die plaas “Die Poort” en nog ‘n paar verskuiwings van mense is ons toe almal by die plaashuis. Jy voel die pluk aan jou lagspiere toe die baas van die plaas se 1983 Soetwyn uit die kelder te voorskyn kom – surrealisme op sy beste. Maar toe die bakkie van die dorp af stop met vleis, brood en bier en bier en bier, vee jy die grinnik met ’n snak van jou asem weg – Spur? Watse Spur?

‘n Interessante toevoeging tot die aand was die seun des huises se elektriese kitaar wat, in sy eienaar se afwesigheid, soos dit op ‘n toer van 1969 hoort deur Willie bespeel is “till his fingers bled”. Jy het nog so jou kop geskud en gedink dat dit darem net die toppunt van ironie moet wees, toe jy te hore kom dat die braaier, waarop Johannes aan die opereer was, “Terrace” heet. Wél.

Die ou silwergrys merrie het die aand elfuur uiteindelik haar opwagting gemaak na die busbestuurder se rustige uitkamp by die verkeerde Gouritsbrug. Jy en jou maters maak julself maar weer gereed vir ‘n ongemaklike nag se “slaap”. Op Stellenbosch arriveer ons vroeg, Rekenaarwetenskap-projek-moet-more-in-wees vroeg. Vaarwel Toermaters en De Machtige Koning weergalm oudergewoonte oor daardie einste parkeerterrein wat jy laas in 1969 onder oë gehad het en elkeen strompel na sy slaapplekkie terwyl jy dink aan die lekker toer en die Plaaschterraasch.

Want selfs al het jy die ou silwergrysmerrie bestyg en voorbode op voorbode geïgnoreer, het jy jou som klaar gemaak:

Nuwe pen = R5, Nuwe tekkies= R500, ‘n foto waarop Retief stáán=Priceless.

Moet net nie ophou dink nie!

Leave a Reply