Laat een mistige Woensdagoggend is tien van die bestuurslede die Pieke uit. ‘n Ou tradisie het weer herleef: die nuwe bestuur gaan slaap op Die Pieke! Die swaar rugsakke (gelaai met enigiets van slaapsakke tot aarbeie en sjampanje) het die reeds moeilike tog nog effens bemoeilik, maar die blote gedagte om op Die Pieke te gaan slaap (of om die eerste keer daar te kom), was genoeg aansporing.
Vieruur was ons bo en baie honger. Dit was ook nie lank voor ons aan die middagete gesmul het nie. Die mis het vinnig begin oorkom, so ons moes gou die laaste entjie stap om die uitsig te gaan bewonder.
Terug by die kampplek was dit tyd om aandete voor te berei. En hét ons dit nou nie in styl gedoen nie! Nadat Antonie die prop geskiet het, het ons ‘n glasie sjampanje op oom Jurgens Hendricks se verjaardag gedrink (in oom Jurgens se afwesigheid). Die ete is afgesluit met aarbeie en room wat oom Theo Scheffler saamgestuur het.
Eet was egter nie al item op ons program nie. Hans het ons gou laat verstaan dat hy nie verniet die notuleboek opgedra het nie en ons moes maar vergadering hou. Die feit dat ons byna gesterf het van die koue, het nie verhoed dat daar vele menings gelug en baie besluite geneem is nie.
Vir die nag het elkeen ‘n gaatjie tussen die polle uitgesoek (met uitsondering van die drie meisies wat warm in die tent geslaap het). Almal was bang dat ons sou verslaap en sodoende klas die volgende oggend mis, maar vroeg die oggend is ons deur die koue wakkergemaak. Alles was bedek met ys!
Francois en Hans het besluit dat die vroeg opstaan nie vir hulle is nie en so laat die res van ons hulle agter (saam met die gemors wat ons nie wou saamdra nie) en pak die terugtog aan. Gly-gly is ons Die Pieke af en daarna was dit, met Antonie agter die stuur, stamp-stamp en skuif-skuif terug na Stellenbosch.
So het ‘n heerlike uitstappie op ‘n einde gekom. Saam het ons baie pret gehad en baie koud gekry. Hierdie was ‘n uitstappie wat beslis in die toekoms herhaal moet word!
S van Heerden