Want we zijn de heersers der aard!
En willen’t ook zijn in Gamkaskloof!
Die lied het dwarsoor Stellenbosch, in elke voornemende toeris se hart weerklink!
30 September het ons swerwe begin. Die bus het gewone BTK-tyd (1½ uur te laat) die Bluebird se spore gesoek, en ons het al jillende en gillende, sommige proberende singenede!, vertrek.
Na aandbrood het elkeen vir hom ‘n knopperige skouer, of sagter maag gesoek om op te slaap. M.J. het die bus van voor af met sy kombersie deursoek na die lekkerste, of sal ons sê “mooiste en geselligste” lêplek. Ten einde rade moes hy maar tevrede wees met die harde vloer, sonder enige geselskap.
Gou het die silhouët van die tentjie in die lig van die kampvuur op Amalienstein dus gegroet. Ons almal het by die bus uitgewors, en Piet het met ‘n duik deur die lug vir mejuffrou X (Wiene-Mari) ontdek! wat besluit het om maar saam met Piet Varkse Geskiedenis te kom toer!!
Na die koffie en geselsie om ons eerste kampvuur, het ons baie deur die mis vir ons ‘n lêplekkie reggekrap.
Al die Harmonie-dames wat streng opdrag gekry het om ‘n wakende oog oor Japie-Pyp te hou het hom wonderlik gaan nag sê. Hulle moes egter uitvind dat die walaaiers hulle weer nodig gehad het, en die moeders het benoude oomblikke in die nag-sê-kring gehad!
Amalienstein het ons die nag “Op wieke van ‘n tarentaal” laat slaap.
Botter se “Opst-a-a-an” die volgende môre het ons koes-koes in ons slaapsakke agter yl-verspreide bome laat aantrek. Louisa T. het ook vroeg op die toer, toe sy so effens uitgepaas het, aan die Eerste Toeriste ‘n demonstrasie van hulle toestand Dinsdagaand gegee.
Na Souna se kis ook opgelaai is, is ons weg! Elsabe se krom Mary Poppens sambreeltjie wat blykbaar as “Good Luck Charm” saam gekom het, het dit net tot by Amalienstein se poskantoortjie gemaak. Daarna het die “Op Zoek” geraak.
Op Zoek se gemeenskap was blykbaar verdeeld oor ons koms. By die winkeltjie is ons onthaal met yswater uit glase, terwyl ‘n ander Op Zoeker ‘n entjie verder ons na “den duiwel wou stuurdt” omdat ons oor sy drade ge..(neik) klim” het. (Het die oom by die winkel dalk vir ons water gegee na aanleiding van Flip se item waarin bewys is dat lig en droë vrugte nooit kan kersvashou met water nie!)
Bergplaas se pampoene op die dak, en vriendelike mense met koeldrank was ‘n lawende “smoke-break” plekkie! Ai, ‘n paraffienblik is darem ‘n handige ding! Wat sou ons BT-kaners sonder hulle gedoen het.
Van Bergplaas het ons al met ‘n geselspassie middagbrood toe gevorder. Die slotte het intussen Duard se vergete Bottersak saamgedra – en ‘n goeie slot is altyd sy loon werd!
‘n Entjie van middagbrood het hulle toe dus vir ‘n rukkie asem geskep en ondersoek ingestel na die inhoud van sekere bottels en blikke in die slotsak. Toe die uitgeputte Duard hulle ‘n ruk later kry, was sy verligting so groot dat die slotsak hom ook moes lawe!
Middagbrood was in ‘n geselsende populierbos. Lente het ookal daar sy draai gegooi en die lig-groen babablaartjies het aan menige warm gesig en kloppende voet ‘n koelte geskenk. Net hier het die pedagoë, deeglik bewus van hul roeping, begin filosofeer. Guillaume, bygestaan deur Uhla, Riana, en al die ander “meesters” het aan ons geleer dat ‘n BTK volwassene ‘n dinamiese bestaanswyse van menswees is – dit is ‘n eksistensiële wyse van verantwoordelike en verantwoordbare omgang van die reeds wetende toeris met sy ingewikkelde en veelvormige toeromgewing.
Internasionale opvoeding van die eerste toeriste is dus ‘n bewuste, doelbewuste, planmatige, opsetlike, verantwoordelike en verantwoordbare handeling, dit is, ‘n bemoeinis met, bearbeiding van, en hulpverlening en leiding aan ‘n hulpbehouende en hulpverlangende eerste toeris, of onwetende, deur ‘n volwasse toeris, en is gerig op die kanalisering van eersgenoemde se natuurlike groei sodat sy toer-bestaan ‘n behoorlike loop sal neem en hy geleidelik sal vorder op die pad tot ‘n BTK-volwasse toeris, en sal beantwoord aan die eise wat deur die ou toeriste aan hom gestel word.
Na middagbrood is ons deur lokkende waterstrome met duisende lokkende rusplekke en met die kloof langs waar ons soos bokke teen ‘n rant al skeef-skeef getrap het. Ons is toe met ‘n knoetsige lastige steil steil-steil afdraentjie af en verder met die waterkanaal langs wat ons op Matjiesvlei gebring het.
Matjiesvlei, wat na ons kamp verdoop is tot Worteltjiesvlei sou vir die dag volgende twee dae ons blyplek wees! M.J. het blykbaar so groot geskrik vir Stoffie wat so pas toe by ons aangesluit het, dat die gedagte aan hom met sy groot wit tekkies en rooi sweetpak hom netjies laat kantel het met die groenteskillers se sware arbeid van die middag. Al die wat ‘n behoefte aan krulhare en gloeiende wange gehad het, het na aanleiding van die vurige etende voorbeeld van Japie op die grond om die wortels gepan. Of dit om die wortels of om die botter gegaan het, bly nou nog die vraag!
Die maan het met ons eerste slee aand neergekyk op bloedbevlekte wraak items – en bleker geword!
Sondagmôre is ons gewek met die geskarrel en geklingel van kabouter Johan Buis se koffieblik!
Na die derde geblaas is kerk, nie ver van die kampplek onder ‘n koelteboom gehou. Tokkelok Hennie Krit. het uit Psalm 73 vir ons geleer dat dit God is wat ons lewe ook na sy hoogtes lei vanwaar ons vergesigte mag hê. En, al het ons voete byna gestruikel op die pad van gister, en as wat nog vir ons voorlê ons voetstappe mag laat uitgly, is die Heer nogtans altyd deur by ons. Hy neem ons Regterhande. Met die velddiertjies om ons, en die wind wat om ons gewaai het, het ons almal saamgestem dat buiten God het ons niks in die Hemel nie, en begeer ons niks op aarde nie – God is die rots van ons harte en ons deel tot in ewigheid!
Na Kerk het ons gou uit die D.K.W. sy-gallery vir vader Duard en moeder Joan ‘n kind gekry. Die nodige doopfoto’s is geneem, teryl die res van die gesin vir moeder en vader van die nodige ordentlike klere decor voorsien het vir die plegtigheid.
Van die Sondagmiddagete sal ons nie veel sê nie. Ek dink ons het almal genoeg opgehoopte herinnerings daarvan!!
Ai, die listigheid van die vrou! Dat Cotie en Joan dit kon regkry om vir soveel slagoffers die dag ‘n mosterdbek kon toedien. Ek moet sê dit was Piet de Waal wat die goeie voorbeeld gestel het om die gedokterde slaaisous so uit te deel. Die “moral” van die storie, is – “moenie jou mond vir almal uitleen nie.”
Maandag het die groot “army” toe opgetrek om die hel te bestorm. Chief Indoena Flip bygestaan deur Ommadant Elsa het met sy modderige hande ons al in die kloof opgelei. By Blinde Willem se Geut het Romeo en Juliet, die gekamofleerde Duard en Jaap, vir ons ‘n uitstekende klip-wip dansvertoning gegee.
Toe M.J. vassit by Boud a Bauk gil hy net. Al is ek ook hoe moeg, haar lipstick “gee my moed” en toe laat vat na Koningsgat, ons middagbroodplek.
Na soet- en soutbrode vinnig verslind is, het Coert en Hendrik Andrag besluit dat “after dinner milk” glad nie sleg sou proe nie. Die arme bokke! Bettie Fourie was so bang dat hulle sy boeties ook sou melk, en hoe kon die mans hom so wreed behandel. Na elkeen sy dop bokmelk weggeslaan het, het ons al ‘kwassie swaaiende’ na ons volgende oorstaanplek gestap.
So ‘n ietsie van al die stories wat ons van die plek gehoor het, het vir ons waarheid geword toe ‘n omie op ‘n hink-’n-pink donkiekarretjie by ons verby gesukkel het, en ‘n tannie met die duiwel se vurk op haar kop ons langs die pad gegroet het.
Erika was die briljante brein agter die idee van rookafleiers. Later het dit in ewige ding ontaard wat nie wenslik naby jou slee is nie. Hier op oom Lewies se plaas het elkeen gewens dat hy ‘n reeks, stofafleiers voor, om en oor sy slee kon plant! Veral toe die famous serialitem toe van Stoffie, M.J. en Cotie en J.G. kom wat eintlik ‘n massa stofskop aan die hand (en in die tand!) gewerk het.
Ons wraakdag was ‘n sonnige en vrolike dag in Gamkaskloof.
Die gehysde dooie bok se geraamte was egter simbolies van veel tragedies wat die dag sou afspeel. Die oggendbroders het ‘n koffiebad by Pieter le Roux, Koosie Delport en pelle gekry – sommige dames het by sommige mans “the long and the short and the tall of it all” by ‘n kaalvoet swemmery geleer, – al die toeriste se lepels het verdwyn, of (in kamera geraak!) en buitendien was dit WRAAKdag, die dag van vergelding en pyn.
In die loop van die oggend het al die dapper skorriemorries gaan ry op die lorry. Elke nuwe draai wat Herman du Plessis in die pad gegooi het, het ons ‘n nuwe kykie in die kloof gegee. Die rit is afgesluit met ‘n stormloop en koning van ‘n Volksie, en ‘n ontvoeringspoging van Wille-Ina.
Terwyl die spanning die middag vir damesskiet begin hooglaai het, het nog drie splinternuwe spinnies opgedaag! Hulle was bleek gepoeier in die gesig, blou om die oë, elkeen voorsien met ‘n tamaai rooi bloedbek, en ‘n wulpse strikkie in die hare. “Ja hoe – Dippedido o o ee!! Jou hierjy sheila” (ook die mans se) Johan B., Piet de Waal en Stoffie en M.J., julle het darem sowaar die dames se skietlysie omver gegooi!!
Die inlywing was ‘n regte “Gush blood Gush” affêre. Stoffie se lang uitgerekte hanekraai het al die eerste toeris uit hul onkunde laat opstaan! Na oom Flip “nag dames” gesê het, moes party nog ver gaan soek voor hulle die aand kon inkruip.
Woensdagoggend moes die walaaiers ‘n heel paar maal herinner dat daar werklik baie spasie vir bagasie op die BTK se lorrie is.
Ons is die kloof uit, en reg bo, vanwaar ons die hele kloof – die doel van ons toer – kon sien, is die groepfoto geneem. Elke bobbejaan het ‘n rots gesoek en gekry en Piet de Waal het die hêppy fêmelie snêppie gekiek!
By oom Koos Uiltjie se klip het lede van die ou Safari vir ons ge-item, en African Mirror, met regisseur Johan du Plessis het dit op film vasgelê. Dit het die ou Safari moed gegee dat hulle, as deel van die slotte op gellings/myl mag loop, en kon hulle weer die kronkelpad van die Du Plessispas aandurf.
By middagbrood het “witbaaibroekies” skielik weer mode geword om daarin jou ‘radiator’ af te koel en die 2 3/4 water.
Toe die waryers die middag op Kliphuisvlei, ons kampplek kom, kon ‘n mens die leeus in hulle hoor brul. Werner, is dit jy wat die dames swek oomblikke gee?
Komitee-items het volgens tradisie die aand almal baie vaak gevind. Ons wonder of die walaaiers nie vir ons ‘n ondersoek in dié saak kan stel nie, en ‘n paar sielkundige voorstelle aan die hand kan gee nie?! Elsa de Wet, was só uitgeput na haar veeleisende rol in die veeleisender ‘Faust’ dat sy Japie se afsluitingsgebed met ‘n lang ‘sela-snork’ be-amen het.
Gou daarna het almal hulle slaapsokkies onder die dennebome gaan soek, en is deur nagwindjie se gefluister tot slaap en tot drome gesus!
Van vroegmôre Donderdag moes ons ons hoede sambreeltjies oor ons oë trek weens die son en het die laaste deel van die Otto du Plessispad ons bene onder ons laat tikkel-tokkel-wikkel.
Voor ons Swartbergpas gehaal het, het Toffie die hoenderhaan vir ons ‘n Dippidi-Dippidi Dubbeldoor!! gelê.
Wat ‘n kontras was die vallei aan die anderkant van die pas nie vir ons nie. Groen bewerkte lande, met die duidelike tekens van ‘n hoër reënval was vir ons verrassend.
Op die stukkie pad het M.J. se sumppie gebars, en omdat al sy adrenalien uitgeloop het, het sy byniere soos twee leë ou sokkies gehang.
In die kampplek aangekom, mag ons nie in die stroompie gewas het nie. Al oplossing egter was, was in jou blik – gooi die water so uit dat dit slegs ‘n bietjie laer in die stroompie loop, en bad weer verder in jou blik. Dié oom het tog sekerlik al die teorie van die sewe klippe gehoor!
Donderdagaand en Vrydag het Natie en Salie, Coenraad en sy motor met Siertske, Etienne en Dieter aan ons gebring. Dieselfde seremonies wat ons die eerste aand tussen Piet en Wina moes aanskou, het ons weer vermaak. Ai! die moeilikheid is liefde!!
By die Grotte gekom het Maretha H verklaar dat sekere mans haar aan die Verlieftonnel laat dink. Hoe het die oom nou weer gesê toe hy sy stem terug gekry het – Dit druk mos van alle kante! In die Grotte self het ons soms darem amper lelik vasgesit, en teen die end maar net sit-sit broekskeur deurgekom!
Hoe ironies was dit toe Toffie deur die skoorsteen klim en Dieter begin ewe weemoedig “Ich hat ein Kameraden” te sing.
Op Schoemanskloof was die kampplek ‘n “luxury” en kon almal vir oulaas hulle beste voetjie voorsit vir die laaste aand se slee. Tot die ere-lede van die M.S.K. naamlik Uhla, Riana en Souna is geskiet, en Etienne het verklaar dat hulle sy tande skoon bros maak!
Steeds het die aand gerol. Fiefie, Poopy en Droopy en oom Lewies die Waarsêer het almal kom kuier, en Elsabé moes net keer of die maan het ook nog opgekom!
Die Dapper Muis item van Toffie en Joan wat die Konka van die toer weggedra het, word glo deur Guillaume vir die walaaiers aanbeveel as ‘n 100% verbetering op enige vorm van motorbike om sleës uit hul slaap wakker te kry.
Nog lank na oom Flip “nag dames” gesê het, het ons nog bymekaar gebly, en wou ons ons nie uit ons slee kombersies loswikkel nie.
Maar, Saterdag moes ook kom! Die Gamkaskloof toer het aan ons baie gegee. Herinneringe, gebrande neuse met ‘n boere-omie ‘tan’, vriendskappe – ongelukkig geen kyse nie, behalwe Cotie, Erika en Joan (Kokke van die toere) wat twee maal aan ‘n paal verbind is! en “ons het geswerven eer ons swerven jiel kon rusten, ons het ons gesterken met natuur en berglucht.”
Ons het vir Flip en Elsa, ons chaparones gevuurpyl, vir Botter wat ons toerleier was, en ook daarmee saam die Gamkaskloof, September 1966, met alles wat dit aan ons gegee het, die hoogtes in geskiet.
Joan Clark
(vir Sketsskryfster)