Uitstappies 1934

Muizenberg – Kalkbaai – Vishoek – Uitstappie 17 Maart 1934

Om betyds te wees vir die twintig-oor-agt trein was glad nie te vroeg vir die vrolike vyftigtal BT-Kaners, waarvan meer as helfte eerstejaars was. Mooi so! julle begin reg, het die ou ingeburgerdes gedink.

Op Muizenberg aangekom, het almal rondgeloop en die frisse seelug geniet. En gou-gou, nadat die leiers so ‘n bietjie kom onderhandel, is ‘n baaikamertjie gehuur vir die gereedmaak vir ‘n speletjie met die see. En het die klomp nie baljaar en gevroetel en gebaai nie!

Eindelik moes ons verder. Met die boonste bergpad langs stap ons tot by Kalkbaai waar mnr Meyer en Perold Gous aansluit as gidse.

‘n Ent teen die berg het ons ons middagete gesmul – en aangehou totdat Grové se verantwoordelikheidsgevoel hom dwing om halt te roep. Nog ‘n endjie op – op hierdie stadium soos te begrype is, – kon steune en kreune nie meer gedemp word nie – en ons is by die eerste grot. Gewapen met ‘n paar flitsligte en kersies kruip ons in. Maar sjoe! dit word later te erg. Die donkerte kon elkeen voel “hang” in die lug. Johanna het begin bang word dus moes ons maar terugdraai. Na nuwe moed geskep is in die buitelug “bekruip” ons die tweede grot.

Dan aanvaar ons die terugtog na Kalkbaai, neem afskeid van ons gidse en stap na Vishoek vir nog ‘n swemmetjie. Vandaar kom ons per trein terug.

Almal sê: “Volgende keer gaan ek weer!”

R Steyn

Tweeling Pieke – Uitstappie 28 April 1934

Saterdag

Vroeg-vroeg vertrek ons. Reep se motor is so vriendelik om die meisies tot by die plaas te neem. Pas aangekom, begin ons ons tog met die voetpaadjie wat al hoe digter en digter begroei is. Eers was die Pieke dynserig blou, maar weldra het die son hul koppe bestreel. Al na gelang die paadjie steiler begin word het, het die baie nuweling-BT-Kaners begin hyg na asem. Gelukkig was daar nie oortollige asem om mee te kla nie. Dr Eiselen stap voor en ons moet bybly.

Eindelik om tienuur, kom ons in Langkloof by die brekfis-plek aan. En was ons nie bly nie! Drie van die dames was so bly dat hulle besluit het om maar heeldag daar te bly en nie die Pieke te klim nie.

Maar nou het die mooiste deel gekom, op in Langkloof. En toe die steil hange uit. So elke nou en dan sing een: sal ek ooit bo kom? Maar die “tone” vanaf Reep-blikdraer se rug spoor weer aan. Kêrles kom ons beskou nou eer die wêreld, want
What is this life, if full of care
We have no time to stand and stare?

Na lang-lange laas kom ons op die nekkie by die middagete plek. Ongelukkig was daar g’n water nie. Hardlines Reep! Na ons ete en ‘n seer waardeerde middagrus aanvaar ons die laaste skof.

Bo! Wie sal ooit kon beskryf die strelende oorwinnaarsvreugde en bewondering wat elkeen ondervind as hy vir die eerste maal ‘bo’ is. Ongelukkig is dit effe misterig en dynserig gewees sodat ons uitsig nie so baie goed was nie.

Met een weinig bewens en een weinig glyens en seilens is ons af en terug na die plaas.

“Ou maat, sien jy dáár, daar bo was ek.”

Rita Steyn

Banhoek-Berge-Uitstappie 31 Mei 1934

…. ook maar goed dat ons na BTK-gewoonte ‘n halfuur laat vertrek – as ‘n mens nou maar kan staatmaak op die gewoonte en jou liewe, liefste, allerliefste nagrus nie onnodig hoef kort te sny om betyds te wees nie – en so dou voor dag! G’n een van die komiteelede was seker ooit so vroeg op dat hul kon weet dat die maan en die sterretjies nog waghou oor ‘n slapende sonnetjie om seweuur op ‘n wintersmôre nie! Maar so was dit, en dis daarom dat dit maar goed was van die halfuur laat vertrek want die Helshoogte herfskleure en bergreekse vertoon voordeliger in dag as in nagbeligting.

Heerlik gloei die môrerooi op ou Tafelberg daar in die verte as die lorrie Helshoogte uitseil met ‘n ses-en-twintigtal bibberende BT-Kaners al singende van “As die son se strale, oor die berge gly ….”

Spoedig is ons op die plaas en al dans-springende van kon val ons in die pad want dit duur nog lang eer die son die hoë berggevaartes uitklim. Maar was die kloof nie ‘n ontdekking vir almal wat daarmee vir die eerste keer kennisgemaak het nie! Werklik ‘n sterk mededinger vir Jonkershoek! Sowaar verloëning voor die Pieke want hulle was opgeneem in die skoonheid, al was dit dan met hulle rugkant wat ‘n hele paar entoesiaste uitgedaag het en gedwing het om hul te bestyg sover as die tyd toegelaat het terwyl die ander die kloof verderop “ontdek” het.

Met ‘n gesonde vermoeidheid en die tevrede wete dat ‘n dag van sonskyn vir hulle nie verlore was nie, met die beeld van die berge teen die blouste blou hemel in hul harte keer ‘n tal singende BT-Kaners die aand terug na Stellenbosch ….

A.D.

Leave a Reply