Toerliedjies

Dit was op die Knysna-toer, September 1930, terwyl ons in twee motorbote tussen die bosse en bome aan die walle van Keurboomsrivier deurgly, dat die eerste fondamentsteen vir ‘n versameling van ons eie toerliedjies gelê is. Die wanklinkende geluide van “Intervarsity”-liedjies in hierdie omgewing van natuurskoon en -prag het gemaak dat ons ou voorsitter en staatmaker, Jan Klopper, sy misnoeë oor sulke misplaatste voetbalentoesiasme duidelik te kenne gegee het. Na aanleiding hiervan het dr Eiselen een aand aan die hand gegee dat verskillende groepies, of kore, onder mekaar meedring om op ‘n bepaalde aand van ons mooiste Afrikaanse, Nederlandse, Engelse en Duitse liedjies voor te dra. Die Afrikaanse koor kry toe die inval om ‘n eie lied te dig, en die Vaarwellied van “Marxie” – dit was aan die end van die toer – wat op hierdie manier ontstaan het, beskou ons vandag nog as een van ons uitstaande toerliedjies.

Onder leiding veral van dr Eiselen het hierdie nuwe rigting in ons toerlewe vinnig toegeneem, sodat ons vandag die versekering het dat die dag lankal aangebreek het, te pas en te onpas, heeltemal vervang sal wees deur gepaste toerliedere. (Sien bladsy 6)

Die volgende is ‘n lys van liedere, wat, met die uitsondering van een, naamlik “O vra my nie my liefde nie”, deur toeriste self gedig is. Die wysies is dié van bekende Arikaans, Nederland, Engels, Duitse, ensovoorts liedere.

Knysna-Toer September 1930

I
O vra my nie my liefde nie,
Ek het dit weggegee.
Aan ‘n klein blou koringblommetjie,
En aan die groot blou see.

Ek ken van bloue blomme.
‘K aanbid die hemel blou;
Jou oë vermy dit kan ek nie,
Want ‘k min hul meer dan jou.

A G Visser

“Ingevoer” as toerlied deur Villebois van der Spuy

******************************

II
Wysie: Das Mandern ist des Müllers Lust

Met rugsak en met wandelstok (bis)
En seiltjie
In berg en woud en langs rivier
Daar vind die Matie sy plesier (bis)
Die Matie.
Die water stort by kranse af (bis)
By kranse.
Dit stroom by Stellenbosch verby
En roep: Kom saam, kom saam met my (bis)
O Matie!

Die water het vir ons geleer (bis)
Die water.
Dit het geen rus by dag en nag
Is steeds op verdertrek bedag (bis)
Die water.

Dr W Eiselen

III
Wysie: Will Galt mir reckte Gunst erweisen

Wil God my ware guns bewys,
Stuur Hy my uit in berg en dal;
Sy wonderwerke wil Hy wys
In bos en kloof en waterval.

Die windjie speel sy vrolik lied
Op reuseboom en tenger riet;
Die branders breek op steile rots
En bulder uit die grootheid Gods.

Die stroompie van die berge spring,
Die voëltjies algar juis vol lus;
Kom laat ons saam met hulle sing,
Van God se goedheid wel bewus!

Dr W Eiselen

*******************************

IV
Wysie: Das Lieben bringt gross’ Freud

Die liefde maak so bly,
Ons weet dit nou albei.
Jy is die allerliefste nooi,
Met oë blou en wange rooi,
Hoe lyk die hele wêreld nou so mooi.

As saand die kampvuur brand
Aan Grootrivier se strand,
Hoe blink jou ogies helder rein
Hoe klop my hart van vreugdepyn
Die liefde is so soet soos Kaapse wyn.

O liefde maak so bly
Van smarter maak dit vry
Al blus die reën die vuur se gloed,
Jou liefde die verwarm my bloed.
En ek vergeet die blare aan my voet.

Die liefde maak so bly
Nooit sal ons twee weer skei
Jy word my allerliefste vrou
Met wange rooi en oë blou
Jou liefde bly ek steeds, na steeds getrou.

Dr Eiselen

V
Oh, You’ll never, never, never thrive
Lying in your bed
Rising when the whistle blows
Protect your drowsy head
Even if you’re fised and cold
Your committee work not very kind
Just remember you’re on tour
And leave your troubles behind.

CHORUS:

Oh, it’s nice to get up in the morning,
When the tents begin to fall
Or softly in the distance
You hear the coffee call
But when there is no porridge
And it’s murky overhead
Oh, it’s nice to get up in the morning,
But is’t nicer to lie in your bed.

When your feet are full of blisters
And around the fire at night
You sit and hear the whispers
In the glow of the flickering light
But when all this is ended
For the folic and fun cannot last
You run once more to your groundsheet.
To dream of the things that are past.

Gussy Cluver

*******************************

VI
VAARWELLIED

Vaarwel, o see, oneindig groots!
Vaarwel, vaarwel, vaarwel.
O branders brekend op die strand!
Vaarwel, vaarwel, vaarwel.
Jou geur verfrissend skoon en rein
Jou ruisend slaaplied sal ek mis.
Vaarwel, vaarwel, vaarwel, vaarwel, vaarwel.

Vaarwel, o rotsbekruinde berg!
Vaarwel, vaarwel, vaarwel.

Vaarwel, o varens wuifend groen!
Vaarwel, vaarwel, vaarwel.
Bestrelend steeds die woud’laars oog,
Wat smagtend van jul skoonheid drink.
Vaarwel, vaarwel, vaarwel, vaarwel, vaarwel.

Vaarwel, o digbegroeide bos!
O blomme in jul kleureprag!
Vir my is dit so droef te dink
Dat ek jul nou verlaas moet groet
Vaarwel, vaarwel, vaarwel, vaarwel, vaarwel.

Mej H Marx (Marxie)

*******************************

Op die Franschhoek-Elgin-Gordonsbaai-Toer is geen nuwe liedjies gemaak nie.

Ceres-Tulbagh-Toer September 1934

VII
Wysie: Gaudeaumus Igitur

Matieland se toeriste
Stig ‘n Berg- en Toerklub.
Toer oor berge en deur dale
In die reën en sonnestrale
Om die lewe te geniet. (bis)

Om die kampvuur, in die tent
Is ons almal vriende
Bou ons sleetjies, sing ons liedjies
Ons is almal vriende
Is ons voete wel vol blare
Is ons somtyds baie vroeg
Ons bly altyd vriendelik. (bis)

Lank lewe, o BTK
Ons geniet jou toertjies.
Lewe lank, o toeriste!
Ons geniet jul vriendskap.
In die jare wat nog kom
Sal ons altyd aan jul dink

In ons liefde en ons leed
Sal ons julle nooit vergeet!

Afrikaanse Koor
A Louw, E Lutz, V vd Spuy

*******************************

Swellendam-Barrydale-Montagu-Toer April 1932

VIII
Wysie: Annie Lawrie

O, die blou van hoogste hemel,
En die dieptes van die see,
En die grootsheid van die vlaktes,
Hul roep my, trek my mee.
Ek aanbid die groene lower,
Die gemurmel van die rivier,
Want hul roep: My seun, my dogter!
Kom aanbid in die natuur!

Tertius van Huyssteen

*******************************

IX
Wysie: Uit dem Pfeil, deur Bogen

As die son se strale,
Oor die berge gly
Klim ons uit die dale
Na die hoogtes vry.

Aan die helder strome,
Wat uit rotse spring;
Aan die oerwoudbome,
Gaan ons hulde bring.

In die berg se vrede,
Daar is ons gebied;
Ver van dorp en stede
Daar weergalm ons lied.

Dr W Eiselen

*******************************

X
Die Wysie

Oor die bloue bloue berge,
Rys die eerste môregloed.
Uit die deinserige verte,
Kom die son ons tegemoet.

Onder lowerryke bome
Sal ons kampie sawends staan.
Langs die kabbelende strome
Sal die Maties samegaan.

Tommie Coertze

*******************************

XI
Wysie: In die Ferme möcht’ ich ziehen

Kom nou vriende, staak jul drome;
Laat ons opstaan en gaan toer.
Van die kranse en die strome,
Van die velde en die bome,
Kom ‘n stem wat sê: Gaan toer!

Oor die berge, deur die klowe,
Gaan ons reis steeds verder voort.
Val die reën ook soms van bome
Kan dit ooit ons gees uitdowe?
Nee! is altyd dan ons woord.

Sit ons saands rondom die kampvuur,
Staar ons in die kolegloed,
Luister na die sing van kore,
Sag en strelend op ons ore;
O, wat is ons lewe soet!

Theo Scheffler

*******************************

XII
Wysie: De gilde viert, de gilde juicht

Die Maties stap, die BT-kaners toer
Wie dink dan nog om nou te boer
In droë muwwe boeke?
Die lewe is maar in die veld,
Waar alles vry is, alles wild,
Laat ander anders dink.

KOOR:

Die hardste grond is ons gemak,
Die grofste spys ons koningsmaal,
Die guurste weer gee ons plesier,
Ons kan sing, ons kan lag, ons kan leef!

Om die kampvuur sit die vriendekring,
Een van hart en een van sin.
Vergeet is al ons sware
Wat gee ons om ‘n moeë lyf
Of voete seer en bene styf
Ons gun almal hul besware.

Toeriste dan, kom laat ons juig
Laat ons vergeet ons boeketuig.
En lewe in ons vryheid
Laat almal ons geluk begeer
Laat ander van ons vriendskap leer
Of vrugtloos elders soek.

Piet Koorts

XIII
Wysie: Viktoriahuis Huislied

Kom laat ons droom die drome
Kom laat ons sing ‘n lied
Van vryheid in die velde
Van wat d’ natuur ons bied
Van berge en van bome
En winde ruisend sag
Waar fluisterende strane
Gedemp vloei deur die nag.

Ons is natuur se kinders
Ons sien haar in haar prag
Van wisselende skoonheid
En songekleurde drag
Dis maanlig in die berge
Orkane striemend vel
Wat dan aan ons, haar kinders
Haar groot geheim vertel.

Tertius van Huyssteen

*******************************

XIV

KAMPVUURLIED:

Wysie: Brüder, reicht die Hand zum Bunde

Vriende, reik mekaar die hande!
Laat ons vriendskap hier ontbrande,
‘Wyl die vlamme opwaarts styg.
Laat die vuur ons vriendskap louter,
Dat die aardse van ons wyk!
Hegter groei ons geestesband,
Warmer laat ons liefde brand!

Theo Scheffler

Die prys van £1-1/1 deur dr Eiselen uitgeloof vir die beste lied gedurende die Swellendam-Barrydale-Montagu-toer is toegeken aan No XI: Kom nou vriende, staak jul drome by geleentheid van die reunie van April-toeriste.

Prof. Dr Wilcocks en dr Hoge het opgetree as beoordelaars.

Leave a Reply