Gala 2010 Waenhuiskrans – Pearly Beach

Hierdie skets is nie geskryf volgens amptelike BTK riglyne nie. Die opinies wat hier gedeel word is nie noodwendig dié van die BTK nie. Ons het gevoel, dis nou ek en Gerrie, dat ons die taak as sketskrywers na die beste van ons vermoëns sal kwyt. Juis daarom is alles onpartydig neergepen so na as moontlik aan die waarheid. Geen karakters is fiktief nie en die inhoud mag moontlik sensitiewe luisteraars ontstel. Read More

Botmaskop uitstappie

Op die aand van 23 Oktober het 14 van Stellenbosch se gehardste studente die stemmetjies in hul kop wat hulle aanmoedig om te swot, heeltemal geïgnoreer en eerder Botmaskop gaan klim. Toegerus met 3 bottels wyn, chips, hopeloos te veel crackers en geen haas om terug voor die boeke te kom nie, is die pad op aangepak met ‘n soort rustigheid wat jy nie in die eksamenseisoen sou verwag nie.

Bo gekom is tops en langbroeke aangetrek en is die wyn sommer gougou geskink. In die bibberende windjie het die trop van veertien gesit en wag vir die maan om kop uit te steek.

Na die groepfoto’s is die pad af vinnig gevind het en was die algemene gevoel van die groep dat Botmaskop af in die donker stukke beter as af in die lig is, want dan kan jy mos nie sien hoe ver jy val nie.

— Gerrit Coetzee (26/10/2010 )

 

Haelkop uitstappie

Ons het half agt Saterdag oggend van Paradyskloof af begin stap en was tienuur op Stellenboschberg. Daar het ons ons rugsakke gelos en die lang pad Haelkop toe aangepak. Die afwesigheid van water en ‘n paadjie het dinge nog ‘n bietjie moeiliker gemaak. Uiteindelik op Haelkop aangekom, word die hotdogs aanmekaargeslaan om die innerlike te versterk. Die 360 grade uitsig is ongelooflik en die weer was perfek sodat ons Kaappunt duidelik kon sien. Op die terugpad het ons ‘n pen mishandel sodat ons dit kon gebruik om bietjie water uit ‘n poeletjie op te suig. Terug op Stellenboschberg het ons kamp opgeslaan en toe die sonsondergang met ‘n glasie sjampanje in die hand besigtig. Aandete is gemaak sonder sout of botter, maar dit het heel goed uitgekom. Die res van die aand is gebruik om stories te vertel, grappies te maak en die pragtige liggies te besigtig. Sondag oggend het ons gekyk hoe die son se eerste strale oor die berg uitkom voordat ons ontbyt geëet het. Daarna het ons na die baken gestap om die uitsig vir die laaste keer te waardeer. Na kampafslaan en ‘n vinnige bad in die yskoue water, is ons die berg af en terug na die Neelsie.

— Anton Kraemer (17/10/2010)

Tafelberg uitstappie

Sondag, 3 Oktober het 35 ywerige stappers vroeg opgestaan, in die bussies geklim en vertrek om die ikoon van Suid-Afrika, Tafelberg, te bestyg. Die groep is in twee verdeel. Die eerste groep, gelei deur Daniël Kotzé, is aan Kampsbaai se kant op om die versteekde geelhoutwoud of Tranquility Cracks te soek, terwyl die tweede groep, gelei deur Anton Kraemer, die berg van voor aabgedurf het om die hoogste punt, MacClear’s Beacon, te bereik.

Vir groep 1 was die opstap taamlik maklik by Corridor Ravine, na ons deur van die mooiste klowe in die Kaap gestap het. Ons kon gelukkig maklik die Tranquility Cracks kry en dit was iets besonders! Daar is ou geelhoutbome wat uit 20m diep krake in die berg groei. Die krake het ook gesorg vir interessante doolhof van tonnels en gate waardeur ons geskuur het. Te danke aan ‘n ou veteraan stapper wat ons langs die pad raakgeloop het, kon ons die eerste kabelspoor sien en ook ‘n belaglike foto van Francois du Plessis op die punt van die Kasteelspoort rots neem (sien collage). Middagete was by die Hutchinson-Hely dam bo-op die berg, waar ons ook die klein waterwerke museum besoek het. Hier het die mis ons bietjie begin vang en was dit amper soos ‘n feetjieswoud toe ons by Nursery Ravine tot in Kirstenbosch afgeklim het. Hier het die twee groepe weer bymekaar gekom en kon groep 1 vir groep 2 uithelp na Tinus Laubaschagne hulle bussie se sleutel in die kar vergeet het..

— Daniël Kotze (08/10/10)


Groep 2 het die Platteklip roete opgevat en het stadig tot by die bokant van die kabelkarretjie gevorder. Daar is gamebreak gehou aangesien daar water beskikbaar is en die netjiese badkamer is ook waardeer. Die bestuurders wat die bussie by Kirstenbosch gaan los het, het ook hier weer by ons aangesluit. Vandaar het ons na die beroemde MacLear’s baken gestap waar middagete genuttig. Dit was ook hier waar die tafeldoek oor die berg gekom het en ons het die res van die tyd in die mis gestap. Nadat ons die afdraai na Skeleton Gorge gemis het en byna met Kasteelspoort die berg af is, was daar gelukkig ‘n paar ander stappers wat ons weer op die regte pad gely het. Skeleton Gorge was ongelooflik met sy stroompie en watervalletjies. Onder in Kirstenbosch het sommige stappers die hoë pryse trotseer en ‘n koffietjie aangeskaf terwyl Karen met moeite ‘n sekuriteitsbeampte ontduik het. Hier het ons vir die motor met die bussie se sleutel gewag en ons is terug na Stellenbosch.

— Anton Kraemer (12/10/2010 )

BTK Bestuursnaweek

Oor die naweek van 8-10 Oktober het ons bestuur ‘n vinnige wegbreeknaweek gehad en gaan kamp by die Jamaka kampeerterrein in die Cederberge. Ons het ‘n lekker oggend spandeer by die Malgat waterpoele en ‘n waaghalsige paar van ons het die res van ons vermaak met hul gevaarlike sponge van die hoë rotse rondom die poele. Dit was baie lekker om net rustig te kuier om die kampvuur en nuwe avonture vir die BTK in die volgende termyn te beplan. Ons was ook bevoorreg om ons voorsitter, George Diener, se 21ste saam hom te kon vier en die ouens het tot 2h die oggend nog ‘n touchies game aan die gang gehad onder die motors se ligte. Na hierdie naweek kan alle BTK’ners verseker wees van ‘n goed funksionerende bestuur vir 2010/2011 wat julle nuwe hoogtes sal laat bereik!

— Coreen Robbertze  (11/10/10)