Botmaskop Sjampanje Ontbyt

Ons het die jaar sommer op ‘n hoë noot afgeskop met die tradisionele sjampanje ontbyt op Botmaskop. Die uitstappie het plaasgevind op Sondag 30 Januarie. Omtrent 30 toeriste het opgedaag vir die ondervinding en almal het dit baie geniet. Dit is ook nie elke dag dat ‘n mens sjampanje, Franse-brood en waatlemoen bo-op ‘n berg kan eet terwyl jy die uitsig bewonder nie. Oomblikke wat onthou sal word is Christiaan wat nie die waatlemoen teen die berg uit kon dra nie en dié taak toe aan ‘n eerste toeris oorhandig het, Jacomien wat haar sjokolade tussen die rotse laat inval het en dit toe tussen die dassiemis moes gaan uitgraw, Charlie wat die oorblywende sjampanjebottel laat verdamp het en laastens ek wat almal ‘n voorsmakie gegee het van hoe ‘n harde toer sal wees deur almal met ‘n ompad deur die bossies te lei.

— Anton Kraemer (11/02/2011)

2011

Die begin van 2011 merk ‘n groot jaar vir die BTK. Van ‘n baie besige uitstappiekalender tot ongelooflike toere is als deel van wat ‘n BTKaner kan verwag.

Nie minder as 28 uitstappies onder leiding van die bekwame uitstappieleiers word beplan nie. Dit sluit in rustige daguitstappies, avontuuruitstappies, naweekuitstappies en amptelik vir die eerste keer bergfietsuitstappies. Daguitstappies wissel hierdie jaar van meer uitdagende stappe tot rustige wandelings. ‘n Paar uitstappies wat uitstaan is Somerset Sneeukop, die hoogste berg in die omgewing, Matroosberg, die Doringrivier witwater roei asook die skilderagtige Oak Valley vir die bergfietsentosiaste.

2011 merk baie eerstes vir die BTK. Maar een wat verseker uitstaan is feit dat lede kan uitsien na 2 toere in die wintervakansie! Maart vakansie besoek ons die Knysna-bos en volg die asemrowende Outeniqua roete. En dan, die veelbesproke Drakensberge maak sy terugkeer tot die BTK kalender en word vir die eerste keer in 10 jaar in die winter aangepak. Spaar solank jou geld vir ‘n donsslaapsak en warm baadjie – dit gaan koud wees! Ook in die wintervakansie word die magtige Oranjerivier te voet besoek op die baie afgesonderde en natuurskone gedeelte tussen Onseepkans en Klein Pella.

Vir die van julle wie se tydjie as student amper klaar is wil ek aanmoedig om nie van Stellenbosch af weg te gaan voor jy nie ten minste op een van ons majestueuse berge gestaan het nie. Maak gebruik van die geleenthede wat die BTK bied en kom deel die goeie tye saam met ons.

Stap nou, werk later

Gala 2010 Waenhuiskrans – Pearly Beach

Hierdie skets is nie geskryf volgens amptelike BTK riglyne nie. Die opinies wat hier gedeel word is nie noodwendig dié van die BTK nie. Ons het gevoel, dis nou ek en Gerrie, dat ons die taak as sketskrywers na die beste van ons vermoëns sal kwyt. Juis daarom is alles onpartydig neergepen so na as moontlik aan die waarheid. Geen karakters is fiktief nie en die inhoud mag moontlik sensitiewe luisteraars ontstel. Read More

Botmaskop uitstappie

Op die aand van 23 Oktober het 14 van Stellenbosch se gehardste studente die stemmetjies in hul kop wat hulle aanmoedig om te swot, heeltemal geïgnoreer en eerder Botmaskop gaan klim. Toegerus met 3 bottels wyn, chips, hopeloos te veel crackers en geen haas om terug voor die boeke te kom nie, is die pad op aangepak met ‘n soort rustigheid wat jy nie in die eksamenseisoen sou verwag nie.

Bo gekom is tops en langbroeke aangetrek en is die wyn sommer gougou geskink. In die bibberende windjie het die trop van veertien gesit en wag vir die maan om kop uit te steek.

Na die groepfoto’s is die pad af vinnig gevind het en was die algemene gevoel van die groep dat Botmaskop af in die donker stukke beter as af in die lig is, want dan kan jy mos nie sien hoe ver jy val nie.

— Gerrit Coetzee (26/10/2010 )

 

Haelkop uitstappie

Ons het half agt Saterdag oggend van Paradyskloof af begin stap en was tienuur op Stellenboschberg. Daar het ons ons rugsakke gelos en die lang pad Haelkop toe aangepak. Die afwesigheid van water en ‘n paadjie het dinge nog ‘n bietjie moeiliker gemaak. Uiteindelik op Haelkop aangekom, word die hotdogs aanmekaargeslaan om die innerlike te versterk. Die 360 grade uitsig is ongelooflik en die weer was perfek sodat ons Kaappunt duidelik kon sien. Op die terugpad het ons ‘n pen mishandel sodat ons dit kon gebruik om bietjie water uit ‘n poeletjie op te suig. Terug op Stellenboschberg het ons kamp opgeslaan en toe die sonsondergang met ‘n glasie sjampanje in die hand besigtig. Aandete is gemaak sonder sout of botter, maar dit het heel goed uitgekom. Die res van die aand is gebruik om stories te vertel, grappies te maak en die pragtige liggies te besigtig. Sondag oggend het ons gekyk hoe die son se eerste strale oor die berg uitkom voordat ons ontbyt geëet het. Daarna het ons na die baken gestap om die uitsig vir die laaste keer te waardeer. Na kampafslaan en ‘n vinnige bad in die yskoue water, is ons die berg af en terug na die Neelsie.

— Anton Kraemer (17/10/2010)