Keisie April 1974

04 – 11 April 1974

Moeilikheid, Tys en die wa is al tradisie voor ‘n BTK-toer. In Skuilhoek ondervind die waryers eers opgewonde afwagting en later berustende opwagting. Ter elfder ure is gewoonlik die tyd dat Tys besluit die wa moet ‘n ander enjin kry en dit sal hom blykbaar net ‘n oomblikkie neem. Soos die oomblik langer word gaan opgewondenheid oor in verbasing. Die oorsaak ‘n “civilized” wa wat kampusbeheer terstonds laat besluit om te kom ondersoek instel. Al van walaaiers gehoor wat “geflôr” is? Nooit. Met bagasie binne in en kiste bo-op staan die wa gereed. Die waryers skop nes met groot rumoer. Read More

Noordelike Sederberge September 1973

21 – 29 September 1973

Vrydag:
Dié keer vertrek die wa op die beplande tyd en die bus is ook skaars ‘n kwartier laat – maar dit ten koste van ‘n paar mense wat nog volgens ou BTK-standaarde leef. Ons moed sak saam met die reën wat hoe nader aan die Sederberge, hoe aanhoudender uitsak. Maar van Citrusdal af klaar dit wonderbaarlik op en toe die bus by die kampplek aankom, is alles al gereed en ons kan sommer dadelik eet – ingeval die eerste toeriste nie weet nie, dis nogal ‘n prestasie. Read More

Langeberge April 1973

30 Maart – 7 April 1973

A Chapter of Accidents

Vrydag:
Die beplanning was puik: 01:30nm, vertrek die wa en wanneer die bus dan laataand aankom, hoef die deksels nog net van die kospotte afgehaal te word. Maar daar is alweer ‘n skroef los êrens en op die ou end bedien die busryers aandbrood aan die waryers. Read More

Slot

Om die sketsboek mee af te sluit haal ek graag die volgende aan. Dit is ‘n uittreksel uit ‘n essay van Marié Heese wat in April 1972 in die ‘Sarie Marais’ verskyn het en dit is veral so kosbaar omdat Marié Heese (néé Blignault) self sketsskryfster was en drie sketse in dié boek geskryf het.

“As ‘n mens nou ‘n redelike wese wás, sou niemand seker ooit op ‘n staptoer gegaan het nie. Ek het altyd die lede van die Berg-en-Toerklub op Stellenbosch met verwondering gadegeslaan. Hulle wéét mos wat hulle voorland is: blase op die tone en krampe in die kuite, sonbrand bedags en muskietbyte snags, swaar dra en hard slaap, en bid dat dit nie moet reën nie. Tog – kyk net met hoeveel geesdrif en jolyt val die klomp in die pad – met hul rooi nekdoeke soos vaandels gaan hulle sing-sing die swaarkry tegemoet.”

Uit: By Bekverbrand Verby