Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Ons mense

Ontmoet die techies: Wendy

Vrydag, Oktober 24th, 2014

As jy verby IT stap en `n donderende getoeter vanaf die grondvloer hoor, moenie skrik nie, dis net Wendy Robyn wat `n projek afgesluit het en dit een van die dae gaan begin aankondig met `n vuvuzela. Ja, dinge gaan soms so bedrywig by IT se netwerkafdeling dat daar oomblikke vir stresverligting gemaak moet word.

Wendy is verantwoordelik vir projekfinansiering binne IT se netwerkafdeling. Dit sluit onder andere die insameling van inligting vir kosteberamings, fondse aanvra, bestellings hanteer, fakture betaal en projekstate opdatum hou vir die suksesvolle afsluiting van projekte. Sy hanteer ook alle navrae rondom projekte se finansies. Nie sleg vir iemand wat Duits bo Rekeningkunde op skool gekies het nie.

wendy2

Na matriek by Immaculata High meisieskool, het haar Nasionale Diploma in Menslike Hulpbronne voltooi. Kort daarna aanvaar sy `n pos by Pierre Cronje, `n meubelvervaardiger wat al op Top Billing gebruik is. Sy werk eers as ontvangsdame, maar kort voor lank word sy aangestel as Payroll administrator. Dis ook hier waar haar liefde vir dekor saad geskiet het – `n passie wat baie handig te pas kom noudat sy en haar man, na 9 jaar, hul eie huis het.

Intussen het sy vlak 3 van AAT Rekeningkunde voltooi en sy sal binnekort voortgaan met die vierde.Dit was wel uitdagend om te leer met twee kinders van onderskeidelik 6 maande en 5 jaar, waarvan die oudste haar beveel het om haar boeke neer te sit. “Ek het maar 4 uur in die oggend begin swot.”

“Ek hou van struktuur en finansies.”

“Die beste deel van my werk is om `n projek te kan afsluit en die satisfaksie wat dit meebring.” Sy geniet dit om met finansies te werk, omdat dit so presies is en sy `n projek kan balanseer teen die einde daarvan. “Die laaste sent wat uit is, sal my pla!” Aan die ander kant is projekte wat lank oopbly weens verskeie probleme en vertragings, `n groot frustrasie.

Maar sy het amper binne die eerste week bedank by IT.”Die kombinasie van Afrikaans probeer verstaan en die vreemdheid van die tegniese omgewing was vir my `n groot  uitdaging.” En nou, na 7 jaar by IT is daar is nie eers `n sweempie van `n Engelse aksent nie en het sy beide die tegnologie en Afrikaans onder die knie.

“As Lynn, Albrecht en ek eers so sit en begin gesels oor die “ou dae” en allerhande stories vertel, moet jy weet, almal is alweer gestres. Ons drie lag baie.”

“Werk is nie alles nie, familie en `n jou lewe buite werk is wat op die ou end saakmaak.”

Met twee kinders onder 5 jaar, is ander tydverdrywe nie altyd `n opsie nie. Maar retail theraphy is definitief een. “O, ek is lief vir shop, maar ek gee nie baie geld uit nie. Dit gaan meer oor die lekkerte van soek en`n bargain kry!” Gelukkig is sy is baie gedissiplineerd wat geld betref – by die werk en met haar eie finansies.

By die gym sal jy haar maklik op die roeimasjien kry, maar nie op `n trapmeul nie. “Dit maak my te duiselig.” “Ek is nie mal oor sport nie, maar gaan darem gym toe en probeer gesond eet. Enigiets met saadjies!” Sy hou ook van stap en sal maklik erens heen stap in plaas van om in die kar te spring.

“Jy sê nie ‘nee’ vir liefdadigheid nie.”

Liefdadigheid is vir Wendy nie onderhandelbaar nie en sy en`n vriendin, begin om elke jaar Kersfees geskenkpakkies in te samel vir organisasies wat reeds min befondsing ontvang soos soos Sunrise Educare in Bishop Lavis en die CHOC House (Children fighting Cancer). “Omdat ek self kinders het, is behoeftige kinders ook my hooffokus.Dis my manier van teruggee, omdat ek self so geseënd is”.

Tussendeur is daar af en toe tyd vir `n vakansie by Club Mykonos, maar eendag as die kinders groter is, sal die plaaslike Mykonos verruil word vir die regte een! Ook Australië en Frankryk is op die lys vir `n trip in die toekoms. Maar vir nou hou haar 2 kinders, 1 hond en haar man haar besig genoeg.

As jy meer van Wendy se liefdadigheidsprojek, Christmas Smiles, wil weet, stuur vir haar e-pos by wrobyn@sun.ac.za.

Ontmoet die techies: Marinka

Vrydag, Oktober 10th, 2014

Marinka-webTeen Marinka Naudé se kantoormuur hang `n swartraam foto met die volgende aanhaling:

“Service excellence can be attained
if we constantly strive to perfection
and care enough to do our very best in every day”

Diegene wat haar ken, sal weet dat sy voortdurend aan die rondhardloop is, in `n vergadering of omring deur `n hoop dokumente. Daar is geen twyfel dat sy soveel moontlik probeer uitrig in een dag nie. Op papier is sy die Hoof: IT Finansies en Administrasie en verantwoordelik vir die bestuur, toepassing van finansiële beleid, koördinering, beplanning, begrotings, bestuur en administrasie van personeel-, bedryf- en kapitaalfondse. Maar op die ou end strek dit veel wyer.

`n Gefaalde poging weens verwarring oor die sperdatum, om by die Kaapse Technikon in te skryf vir Voedseldiensbestuur, het, op aanbeveling van `n studente-adviseur,  gelei tot`n splinternuwe kursus, Maatskappyadministrasie. Standerd 6 Rekeningkunde moes vinnig afgestof word en haar loopbaan het onwillekeurig begin. Een van haar gunsteling tydverdrywe is steeds om deur resepteboeke te blaai en natuurlik ook kosmaak – al het syfers destyds die oorhand gekry.

Oor die jare het sy waardevolle ondervinding by `n geoktrooieerde rekenmeester in die suidelike voorstede, `n ouditeursfirma in Worcester waar sakrekenaars soms vlerke gekry het in hete oomblikke en later by `n eiendomsagentskap in die stad, opgedoen. Na hierdie omswerwinge, het sy in 1998 `n pos onder die toe Direkteur Administratiewe Inligtingstelsels, JJJ du Plessis, aanvaar.

Na drie jaar bedank hy en Marinka, ten spyte van noodgedwonge swem in die diepkant, neem die leisels oor van die finansiële deel van sy portefeulje.

“Alles is transaksiegedrewe en `n koste by betrokke.”

Om hierdie rede word sy betrek by feitlik alles wat binne IT aangaan – van die HR-stelsel, personeelplanne en evaluerings tot die bestuur van die telefoonstelsels en alles wat `n finansiele strekking het. Hierdie verskeidenheid van funksies is vir haar die mees vervullende deel van haar werk, omdat dit `n geheelbeeld van die afdeling bied en sy werking daarvan perfek verstaan.

Deeltyds voltooi sy in 2008 haar BTech graad in Besigheidsadministrasie by CPUT en in Maart 2013 ook `n MBA by die US Bestuurskool. Sy baseer haar tesis op die universiteit se menslike hulpbronne-stelsel, met die titel  “An Evaluation of the Oracle HRMS System at the University of Stellenbosch from a User’s Perspective”.

Siende dat Marinka grootgeword het op die plaas, is dit nie verbasend dat sy soveel gelyktydig en  soms onder druk, kan hanteer nie. Sy onthou al die verskeie bedrywighede op die plaas duskant Worcester  – trekkerry tydens parstye, vroegoggend uitstappies mark toe om kortgewasse soos blaarslaai te gaan verkoop en hoe algemeen vloede in die omgewing was vir plaasgemeenskappe.

“Dis `n ander lewe – iets wat vandag se kinders nie ken nie.”

Aanvanklik was sy in `n plaasskool met net 12 kinders – van Sub A tot Standerd 5, met net een onderwyseres. “Ons het almal pouses saamgespeel, want ons was so min.” Later op hoërskool moes sy 6:15 soggens opstaan en na drie verskillende busritte het jy eers by die skool op die dorp uitgekom.

Winkelsentrums en skares is nie haar gunsteling tydverdryf nie. Sy sal veel eerder erens gaan kamp, “white water rafting” doen of met `n mikrovliegtuig die lug in. Selfs duik saam met die haaie is op haar agenda.

Duidelik hou sy van adrenalien – en ook van kleins af as jy na die stories oor temperamentele bulkalfies luister. Op die plaas is hulle stuk-stuk in sessies van tien grootgemaak en moes twee maal `n dag handgevoer word met poeiermelk.

Maar hoe groter, hoe stouter! Keer op keer moes hulle in die middel van die nag uit die tuin gejaag word nadat daar uit die kamp gebreek is. Marinka se broer, Willie, wat destyds in die lugmag was, was `n bietjie meer versigtig vir een oproerige bulkalfie en het eerder maar op `n afstand gestaan en “shoo, shoo!” sonder veel effek. Dalk maar beter so, want Marinka self is al dwarsdeur `n riviertjie gejaag.

Deesdae het sy die bulkalfies verruil vir twee meer rustige en beheerbare katte, Asjas en Trensie.

As kind moes sy op skool Noord-Sotho leer toe hulle in Elsburg vir `n tyd gebly het, maar deesdae is sy voeg sy ook Xhosa by haar lys van tale.

“Ek het so pas my eerste Xhosa kursus klaargemaak by die Taalsentrum) en begin volgende week met die 2de kursus.” Sy het ook al drie Argus wedrenne voltooi, vele massa-stappe soos die Big Walk en hou van muurbal speel.

Een ding is seker, as jy iets vinnig en effektief gedoen wil hê, kan jy maar net tot onder in die gang van IT se tweede vloer drentel, en jy sal gou regkom. “Service excellence” inderdaad.

Ontmoet die techies: Die kopers

Vrydag, September 26th, 2014

aankopeJacky November, Anthea Davids en Jenny Watson is die formidabele trio wat Informasietegnologie se Aankoop-afdeling uitmaak.

Dié drie vrolik vinkies het verlede Vrydagmiddag `n halfuur opsy gesit sodat ek met hulle kan gesels. En alhoewel hulle vas oortuig was dat hulle lewens hopeloos te vervelig is om oor te praat, het die resultate van ons gesprek die teendeel bewys.

In totaal werk die drie reeds 25 jaar by IT. Jy kan daarom verseker wees jy is in goeie hande as jy `n navraag het oor enigiets van skootrekenaars tot netwerkkabels.

Die hooffunksie van die Aankope-afdeling is om telefoniese en e-pos navrae oor hardeware, en bestellings te beantwoord en kwotasies vir verskeie komponente, skootrekenaars, drukkers, drukkercartridges en tafelrekenaars by verskaffers te kry. Rekenaars wat herstel moet word, word ook deur dié afdeling ontvang.

Die verskeidenheid mense waarmee hulle te doen kry en soms eienaardige navrae verskaf oorgenoeg materiaal vir ligter oomblikke. Ongelukkig kan hulle nie te veel uitbrei nie, anders beland hulle dalk net in die kookwater. Maar volgens Jenny beskryf die sêding ,”Never a dull moment”, hul werksomgewing die beste. Sy glo ook die 25 jaar wat sy in die meubelbedryf spandeer het, het haar baie geleer oor kliëntediens.

Jacky het haar kwota van moeilike kliënte hanteer toe sy voorheen by `n versekeringsmaatskappy se dienssentrum gewerk het. Tog hou sy daarvan om met mense te werk en te help met navrae of probleme. In so `n mate dat sy tans besig is met ekstra opleiding as tegnikus twee keer per week. Beide sy en Anthea het die N+ en A+ kwalfikasies agter hulle naam, sowel as finansiële diplomas.

Die feit dat Jacky lief is vir “stand-up” komedie, veral die van Trevor Noah, sê dalk ook iets van haar eie sin vir humor en vermoeë om dinge met `n knippie sout te vat indien nodig.

“Ek hou van grappies en om te lag.”

Humor en grappies maak is `n deurlopende eienskap in hierdie kantoor. En as daar `n verskoning is vir snaaks aantrek, is Anthea heel eerste met `n goeie uitrusting – hiervan kan haar kollegas op Loslitdag elke jaar getuig. En sy doen dit met entoesiasme. Enigiets wat pret en oefening insluit, sal sy probeer.
“Ek is game vir alles”. Binne perke natuurlik, las sy vinnig by.

“By Ratanga Junction is ek die een wat die hardste skree”.

So hard, dat hulle haar uit die ry trek eerste op te klim omdat sy so opgewonde raak. Blykbaar gesels sy soms net so entoesiasties met haar rekenaarskerm – amper net so erg soos wanneer sy rugby kyk.

Sy sien selfs kans om “foefie-slide” te ry, maar vir “paintball” sien sy nie kans nie. “Dis te seer!”

Maar moenie dink Anthea is die enigste avontuurlustige nie. Jenny het self met `n onlangse vakansie by Stormsrivier tussen die bome rondgeswaai. Sy moes wel die video koop om haar kinders te oortuig dat sy dit wel gedoen het. Heel indrukwekkend vir iemand wat nie eers op `n swaai kan ry sonder om duidelig te raak nie.

Buiten vir dié meer aksiebelaaide deel van die vakansie, het sy `n behoorlike geskiedkundige toer dwarsoor die land onderneem oppad Kruger Wildtuin toe. Haar belangstelling in geskiedenis kom van kleins af.

“As ek in `n ander tyd gebore was, sou ek graag `n argeoloog wou gewees het.”

Besienswaardighede en museums op Matjiesfontein en Graaff-Reinet, die Uniegebou en die Voortrekkermonument is stuk-stuk deurgewerk en selfs die Vallei van Verlatenheid is besoek.

Ook Anthea gaan binnekort die langpad vat na Barkley-Oos as deel van haar kerk se VGK-brigade. En as jy dink “brigade” het iets met marsjeer te doen, is jy heeltemal reg. Maar dis meer as net dit. Anthea se rol as offisier beteken dat sy nou saamwerk met kinders van alle ouderdomme en baie nuwe mense ontmoet wanneer daar gereis word vir kompetisies.

Terwyl Anthea met haar skerm praat, vermaak Jacky blykbaar haar twee kollegas deur te sing – iets wat sy voorheen in haar kerk se gospel-groep gedoen het. Die telefoon weerklank elke paar minute, maar die navrae word soomloos korte mette van gemaak tussen `n giggel en noot deur. “Never a dull moment” inderdaad.

Vir meer inligting, kontak hulle by quotes@sun.ac.za.

Ontmoet die techies: Pietie Traut

Vrydag, September 5th, 2014

Die eerste ding wat ek op Pietie Traut se boekrak raakkyk, is `n stewige Sosiologie-handboek, vasgepen tussen allerlei tegniese handleidings. Dit maak sin dat `n vakgebied wat sosiale optrede, ontwikkeling, organisasie en instansies hom interesseer.

Hier het ons met iemand te doen wat soveel stories het om te vertel dat my pen se ink na `n uur en 45 minute begin opraak het. Hy’s lief vir mense, maar sy deeglikheid en konsekwentheid kry stewige vastrapplek in sy huidige posisie as Bestuurshoof van IT se Portefeulje- en Projekkantoor.

Mense moet die geleentheid gegee word om `n toekoms te bou by `n organisasie en ruimte vir ontwikkeling gegun word.

“They must be given the opportunity to contend. Keep the dream alive!”. Sy eie loopbaan is die toonbeeld hiervan.

Hy’s op `n jong ouderdom skool toe – “Ek is te woelig, my ma wou my seker maar uit die huis uit hê.”  Op 19 begin hy reeds klasgee in Datakommunikasie nadat hy 3 jaar tevore in matriek was.

Sy eerste rekenaar was `n ZX Spectrum met net 1k geheue en toe reeds toe was hy vas oortuig dat alles eendag met knoppies gaan werk.

Die voorliefde vir tegnologie lei tot `n tegniese diploma, onderwysdiploma (met tegnologie as spesialisgebied) en ‘n diploma in Datametrie en kry gestalte by verskeie besighede, onder andere die destydse Poskantoor, vandag Telkom SA.

“Ek is eintlik maar `n elektriese ou.”

Hy onthou toe die eerste modem in Kaapstad  destyds geïnstalleer is en modems nog uitmekaargehaal en reggemaak is. Die eerste modems het teen 200 bisse per sekonde geloop, daarna 600 bps, 1200bps, 2400bps, ens. Nuusfotos vir koerante, of té wel landlynfotos, is via koper landlyne versend en dan op fotopapier gedruk met die woorde “Foto per landlyn” onderaan.

Morsekode was natuurlik een van die voorlopers van elektriese telekommunikasie en later die teledrukker – `n stukkie ongelooflike elektromeganika wat teen 50bps karakters, van 7.5bisse lank, kon stuur oor ‘n koper landlyn – ook oorsee.

Destyds kon jy nie binne 6 maande nadat jy bedank het ‘n aanstelling by sekere ander privaatinstansies kry as jy by die Poskantoor gewerk het nie. Maar Pietie se uithouvermoeë het op die ou end vir hom `n pos by Saambou se rekenaarafdeling laat kry. Dit het `n skuif na Sunnyside in Pretoria beteken, waar hy aanvanklik `n woonstel van `n boer van die Vrystaat gehuur het met koerantpapier vir gordyne. Hy werk hy vir 7 maande as Netwerkhoof, terwyl Estelle, sy beterhelfte, droewiglik verlang na die Kaap.

“Elke keer as Tafelberg op die televisie gekom het, het sy begin huil.”

Dit was rondom dié tyd, in 1983, toe die eerste referendum, die driekamer parlement referendum, plaasgevind het wat hy met sy jongste met stootwaentjie en al gaan stem het in Sunnyside.
Pietie-webSy geluk het gedraai toe`n neef van `n mede-kollega, `n bestuurder by R&R in die Paarl (toe Rupert & Rupert), eendag opdaag vir `n toer van Saambou se hoofraamkamer.  Sonder om te skroom, vra hy of hulle werk vir hom in die Paarl het.

`n Week later kry hy `n oproep van die hoof van R&R se Inligtingsafdeling. Na armdraai oor verhuisingskoste en 3 maande se meubelstoring, is Pietie en Estelle terug in die Kaap en by Tafelberg.

In 1984 begin hy by Stellenbosch Universiteit se IT-afdeling werk saam met Kobus Meij, Nick Lubbe, Helmi Dreijer, Johann Kistner en ook Herman Heunis, stigter van Mxit.

Kort voor lank bied Boland Bank hom die geleentheid om sy toekoms te verbreed met `n splinternuwe pos. Hy onthou dié tyd as een van baie harde werk. Dit was nie net `n kwessie van 8 tot 5 nie.

“Na gewone werksure het ek huistoe gegaan en allerhande goedjies rondom die huis gedoen wat mans maar moet doen, aandete geëet en 9 uur se kant die tweede skof ingesit tot 2 uur die oggend.”

Met tyd verander die dinamika by die bank, soos met die meeste banke gedurende die 80′s en 90′s. Bolank Bank word NBS Boland, toe Boland PKS en daarna BoE Bank. PEP Bank is hieruit gebore en later ook Capitec.

Teen dié tyd rook hy 40 sigarette `n dag en beland Kersfees 1999 in die hospitaal om hy `n stent kry. Hierna besluit hy dat die onstuimigheid by die bank nie meer lekker vir hom werk nie  en sluit, ter wille van ‘n meer stabiele omgewing, `n tweede keer in Oktober 2000 by die Universiteit aan. Dié keer as Internet- en Telekommunikasiebestuurder.

Onder sy bestuur word die 3-vlak internet tariefstruktuur in werking gestel, groter bandwydte onderhandel en die eerste Siemens IP spraak-telefoonstelsel geïmplementeer.

“Ek was ook verantwoordelik vir die ondersoeke na en beskikbaarstelling van die groter video-konferensiestelsels op kampus.” Die hoogtepunt hiervan was Prof Russel Botman se video-gesprek met die rektor van die Rensselaer Polytechnic Institute in New York, intyds kampuswyd uitgesaai vanuit die Endlersaal via ‘n “geleende” 15Mbps verbinding.

“Ek onthou hoe Mohamed Shaikh my na die tyd tydens die cocktail party kom omhels het van blydskap dat alles probleemvry verloop het.” Joe Smit en Barry Sauermann het darem ook `n groot rol gespeel in die sukses van hierdie tegnies-senutergende gebeurtenis.

Tussendeur word massa sms’e geimplementeer, die tradisionele skakelbord uitfasseer en ons huidige US Dienssentrum skakelbord gevestig.

In 2011 vind grootskaalse herorganisasie binne IT plaas en Pietie beland voor `n vurk in sy pad.

“Ek moes `n leap of faith vat.”

Die leap of faith is vandag IT se Projekkantoor, bestaande uit Pietie, Marius Vorster en Camen Petersen. Hierdie span sorg dat alle projekte van die afdeling IT gedokumenteer en die regte projekbestuursprosesse gevolg word. Tans is daar in die orde van 83 projekte in ontwikkeling en gereelde projekraadvergaderings word gehou om te verseker dat projekte waarde toevoeg tot besigheid in die drie strategies belangrike areas van die US, naamlik Akademie, Navorsing en Gemeenskapsinteraksie.

Dis egter verseker nie `n maklike, soomlose oefening nie – kopskuiwe moet gemaak word in `n omgewing waar mense gewoond is aan hul eie vaste metodes.

Success breeds success. As ons kan wys dat die prosesse werk, kan ons denke verander.” Dis alles deel van die uitdaging.

As dit tyd is vir vakansie, pak Pietie en Estelle hul nuwe teardrop-sleepwaentjie en gaan kamp in Kenhardt in die winter en Dwarskersbos in die somer.

“Tent opslaan is `n toets vir enige huwelik. Dis hoekom Estelle dit doen en ek liewer maar wegloop”.

Dit gaan ook maar bars, siende dat `n Bul en Leeu altwee ewe hardkoppig en eiesinnig kan wees.

So af en toe vat hulle die motorfiets, `n stewige BMW R1200R padfiets en verken die land. Hy het al 3 Buffalo Rallies agter die blad en ry maklik op sy eie na vêr bestemmings.

Van hierdie ritte sluit een van 4700km oor 7 dae Phalaborwa toe vir `n pel se troue, 2700 km in 5 dae na ‘n plaas op die Botswana-grens, 90km oos van Aranos in Namibië en vanjaar ook sowat 2400 km in 6 dae na sy geboortedorp, Kenhardt. Tydens laasgenoemde rit het hy in Elandsbaai gebackpack en met `n besoek aan die Wit Mossel Pot te heerlik gesing en kitaar gespeel. Die plan was nog om Route 66 in die VSA aan te pak, maar op die stadium sal hy dit liewer verruil vir `n besoek aan Nashville vir die Country Music Awards.

Na amper 2 ure se stories (en `n droë pen) was ek oppad na `n volgende vergadering, tevrede dat daar oorgenoeg materiaal is om iets met `n bietjie vleis saam te stel. Maar Pietie, soos `n storieverteller betaam, moes nog `n laaste lyn gooi om my nuuskierig te maak.

“Daai tyd wat ek so hard gewerk het, het ek elke naweek ook in die band gespeel … saam met Clive Bruce, Bles Bridges, Hennie van Egoli en Gene Rockwell. ”

“Het julle hulle liedjies gespeel”, vra ek ewe.

“Nee man, ek was saam met hulle op die stage! En dan is daar nog daai bekende neef van my. Hy sing van drie pikkewyne, maar ek sing beter as hy!”, spot hy.

Ontmoet die techies: Quinton Luiters

Vrydag, Augustus 22nd, 2014

Quinton-web“IT Hulplyn, goeiemiddag!” Feitlik almal op kampus is al op dié manier begroet as hulle IT se Dienstoonbank geskakel het. Maar vir Quinton Luiters is dit al so `n outomatiese reaksie dat hy soms selfs die telefoon by die huis ook op dieselfde wyse antwoord – tot groot vermaak van sy vrou.

En as `n mens dit al vir 8 jaar doen is dit ook geen wonder nie. Benewens foonoproepe vang, is Quinton daarvoor verantwoordelik dat almal se e-posbusse en netwerkspasie werk soos dit moet. As Outlook jou kwaai aanspreek oor jou spasie, is hy die ou wat jou gaan red uit jou penarie.

Hy is gewoond aan vele balle in die lug hou. By die hulplyn moet jy veelvuldige take gelyktydig kan doen.

“Diegene wat sê mans kan nie “multitask” nie, moet kom kyk hoeveel dinge ons sewe ouens by die hulplyn gelyktydig doen!”

Quinton “multitask” al lank voordat hy by die hulplyn-miernes aangesluit het. Hy was destyds by UWK `n punteadministreerder en verantwoordelik vir, onder andere, die administrasie van tutors, tutoriale en ook eerste en tweedejaarspunte.

Maar hy het eers na UWK, toe hy hom by IT aangesluit het, dat daar `n geleentheid was om uiteindelik in die veld te werk waarin hy vier jaar studeer het. Met `n Nasionale Diploma in Informasietegnologie kon hy hom met die intrapslag goed van sy taak kwyt.

As hy egter nie destyds die kans gewaag en Informasietegnologie bo Siviele Ingenieurswese gekies het nie, was dit ons verlies en Ingenieurswese se wins.

In 1996 was Informasietegnologie nog `n nuutjie en is dit by PENTECH (nou CPUT) aangebied. Die internet, soos ons dit ken, was skaars twee jaar oud en nog maar `n lammetjie.

“Ek moes kies tussen iets onbekend en elke dag pendel stad toe of op my tuisdorp, Stellenbosch, Siviel swot”.

Vandag maak die diverse span mense saam met wie hy werk, dit vir hom ekstra lekker.

“Almal het hul eie maniertjies en snaaksighede, maar die positiewe gesindheid en behulpsaamheid maak werk ‘n plesier”.

As jy in `n stresvolle situasie gegooi word, kry jy vinnig maniere om die spanning te verlig, soos met `n grappie af en toe.

Druk tye sal daar altyd wees, maar Quiton se grootste satisfaksie is as hy iemand kan help en die waardering wat mense daarvoor wys. Om situasies te hanteer wat buite sy beheer is, is aansienlik moeiliker juis omdat `n mens so graag iemand wil help en jy kan nie.

Gelukkig is daar buite die werk dinge om die stresvlakke weer `n bietjie te stabiliseer. Reis en nuwe plekke ontdek is hoog op sy lysie.

“Soos hulle sê, “Life’s a journey, enjoy the ride!””

“`n Paar jaar gelede was ons gelukkig om Washington, Virginia te besoek vir my swaer se troue – ek was een van die strooijonkers. Ek sal definitief weer wil gaan as die Here ons spaar.”

Terug by die huis werk hy en Alicia, volgens Quinton, die eintlike wyn connoisseur, so af en toe `n wyntoertjie deur. Van hul gunstelingplase in die omgewing is DevonValley en JC le Roux op Stellenbosch en Haute Cabriere, Leopard’s Leap en Solms-Delta in Franschhoek.

En natuurlik, wie het dan nie tyd vir `n braaitjie, biertjie en goeie geselskap nie? As `n mens elke dag hard werk, moet jy hard speel ook, sê hy.

IT DIENSTOONBANK KONTAKDETAILS

Foon: +27 21 808 4367
E-pos: helpinfo@sun.ac.za (enquiries)
help@sun.ac.za (to log an error)
Skype: handle = ITStellenUni
Twitter: handle = ITStellenUni
Web: www.sun.ac.za/itselfhelp
Blog: www.sun.ac.za/infoteg

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.