Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

Wenke

Kubersekuriteit-bewustheidsmaand: Algemene wagwoorde

Woensdag, Oktober 3rd, 2018

Datasekuriteit wêreldwyd is die afgelope twee jaar ʼn stewige knou toegedien met ʼn groot getal wyd-gepubliseerde kuberkraak-insident, databreuke en afpersing-insidente.

SplashData publiseer jaarliks ʼn lys van die algemeenste wagwoorde. Die lys word saamgestel deur data te gebruik van meer as vyf miljoen wagwoorde wat uitgelek is deur kuberkrakers in 2018. Die enigste gevolgtrekking waartoe ons kan kom as ons na die lys kyk, is dat ons steeds nie leer uit ons foute nie.

Wagwoorde wat maklik is om te raai word steeds deurlopend gebruik om belangrike inligting te beskerm. “123456” en “password” staan steeds sterk in die eerste en tweede plek op die lys — vir die vyfde jaar opeenvolgend. Daarbenewens maak die twee swakste wagwoorde ook deel uit van ses ander wagwoorde op die lys.  

SplashData raai dat ongeveer 10% mense ten minste een van die 25 swakste wagwoorde op dié jaar se lys gebruik en amper 3% gebruik die swakste een — 123456

Hier is die lys van die top 10 wagwoorde vir 2018:

  1. 123456
  2. password
  3. 12345678
  4. qwerty
  5. 12345
  6. 123456789
  7. letmein
  8. 1234567
  9. football
  10. iloveyou

ʼn Ander populêre keuse is 1q2w3e4r5t.Dit mag redelik kripties lyk, maar as jy na jou rekenaar se sleutelbord kyk is dit maklik om te raai.

Not so clever passsword

Die meeste rekenaargebruikers onderskat steeds die belangrikheid van ʼn sterk, veilige wagwoord en gebruik steeds eenvoudige woorde of nommers as hulle wagwoorde. 

“Passwords are the only control you have to secure your data with most systems these days. If your password is easily guessed by someone, then the person essentially becomes you. Use the same password across services and devices, and they can take over your digital identity.” Shaun Murphy, CEO of SNDR.

In die volgende artikel vir Kubersekuriteit-bewustheidsmaand kyk ons hoe om ʼn sterk wagwoord te kies wat jy ook maklik sal onthou. 

 

Voor jy weggaan …

Dinsdag, Julie 31st, 2018

Jou kantoor is leeggemaak, jou kollegas gegroet en jy is reg vir jou nuwe werk of om jou aftrede te begin. Maar wat van jou sun e-posadres, jou data en die ander elektroniese dienste wat jy gebruik het terwyl jy by die Universiteit gewerk het? Ons het `n paar wenke en instruksies.

Sodra jou aktiewe rol as personeel verval, word al jou elektroniese dienste ook beëindig. Hierdie proses is nodig om te verseker dat ons netwerk gesond en veilig bly en om te verseker dat ongebruikte, dormante rekeninge nie misbruik word vir kriminele aktiwiteite nie.

M.a.w. vanaf die datum wat jou diens by Stellenbosch Universiteit beëindig word, het jy nie meer `n aktiewe rol by die universiteit nie en kan jy ook nie meer die universiteit se dienste gebruik nie. Voordat jou gebruikersnaam verval, sal jy `n e-pos ontvang van helpinfo@sun.ac.za.

Om te verseker dat jy vroegtydig voorbereid is, stel ons voor jy doen die volgende ten minste drie maande voordat jy die universiteit verlaat:

  1. Skep vir jou `n nuwe e-posadres (as jy nog nie reeds een het nie) Daar is verskeie opsies, byvoorbeeld Gmail of Yahoo. 
  2. Stel jou Out of Office funksie vir jou sun.ac.za Outlook-posbus en dui in die boodskap aan wat jou nuwe e-posadres is indien iemand jou moet kontak. 
  3. Indien jy jou @sun e-posadres gebruik vir bankdienste, Facebook, DSTV of iCloud rekeninge of enige ander dienste of sosiale media, verander dit na jou nuwe e-posadres. Ons wil ook aanbeveel dat jy jou werksverwante en privaat e-posse apart hou. Skep eerder `n privaat e-posadres vir jou persoonlike korrespondensie. 
  4. Indien jy enige persoonlike data op jou elektroniese werktoestelle of netwerkspasie (G: or H: dryf), verwyder dit en stoor dit op jou eie eksterne hardeskyf of aanlyn stoorspasie (b.v. Google Drive of OneDrive).
  5. Maak seker dat al jou relevante werksverwante data toeganklik is vir jou kollegas vir verdere gebruik. Moet egter nie jou wagwoord vir kollegas gee wanneer jy die universiteit verlaat nie aangesien dit `n sekuriteitsrisiko is.
  6. Indien jy enige hulp benodig, kontak Informasietegnologie en een van ons tegnici sal jou bystaan.

Studente wat gradueer of hulle studies beëindig , kan die nodige inligting op hier die pamflet, saamgestel deur die IT HUB, kry.

Organiseer die rommel

Donderdag, April 26th, 2018

In Junie 2016 is ons bekendgestel aan Office365, maar weet ons regtig hoe al die aanlyn webdiens se funksies werk?

Een so ʼn funksie is die “Clutter” lêer. 

Sommige studente, en soms ook personeel, het aangemeld dat hulle e-posse skielik verdwyn het of dat hulle nie e-posse kry wat vanaf verspreidingslyste gestuur word nie. Aanvanklik het ons gedink gebruikers vee per ongeluk die e-posse uit of dat daar ʼn probleem is met die e-posbedieners. Na verdere ondersoek het ons egter besef dat die Clutter-leêr die skuldige is.

Die Clutter-funksie is oorspronklik ontwerp om gebruikers te help om lae-prioriteit e-posse te filter, sodoende tyd te spaar vir meer belangrike boodskappe. Die bediener hou dan rekord van die e-posse wat gebruikers lees en die wat hulle nie lees nie en plaas dit in die Clutter-lêer. Die funksie word outomaties aangesit vir nuwe studente en personeel. Sodra dit aangeskakel is, werk dit outomaties. 

Wanneer e-posse ongelees bly vir ʼn paar dae, begin Outlook 2016 meer en meer e-pos na die Clutter-leêr stuur. Gebruikers maak gevolglik die afleiding dat e-pos nie afgelewer word nie en belangrike e-pos verdwyn. Gelukkig is al die e-posse steeds beskikbaar, dis net in die Clutter-lêer.

Die beste oplossing is om Clutter heeltemal af te sit sodat ongeleesde e-posse nie daarheen versend word nie. Dis hoe jy dit kan doen: 

  1. Teken aan by Outlook se Webtoegang (http://www.sun.ac.za/webmail)
  2. Kliek op die klein rat-ikoon in die regterhandse hoek. ʼn Sy-staaf sal verskyn.
  3. Naby die onderpunt van die sy-staaf is ʼn opskrif wat sê My App Settings.
  4. Kliek Mail daaronder en dit sal jou herlei na die Mail Options bladsy.
  5. Op die linkerkantse spyskaart, onder Automatic Processing, kliek op Clutter.
  6. Verwyder die merkie in die boksie wat sê Separate items identified as clutter
  7. Kliek die Save-knoppie onderaan die bladsy.

Sodra die Clutter filter afgesit is, kan jy al jou “verlore” e-posse weer terugskuif na jou Inbox. 

[Inligting verskaf deur David Wiles]

 

Beskerm jou persoonlike inligting

Maandag, Januarie 29th, 2018

Data Privacy Day, vind elke jaar op 28 Januarie plaas en is ʼn internasionale poging om individue en besighede te bemagtig om privaatheid te beskerm, respekteer en ook om vertroue te bou.

Verlede jaar was daar verskeie omvangryke databreuke regoor die wêreld en vervolgens is daar ‘n groter bewustheid om informasie te beskerm.

Maar hoekom moet ons omgee oor ons inligting?

Met nuwe verwikkelinge soos die Internet of Things, `n fenomeen wat toestelle by die huis, werk en skool verbind, staan ons op die drumpel van nuwe tegnologie  Hoewel hierdie vooruitgang matelose geleenthede bied, beteken dit ook dat ons as gebruikers moet leer om ons inligting te beskerm en beveilig. Binne ʼn oogwink is jy deesdae verbind aan die res van die wêreld, maar dieselfde toestelle samel terselfdertyd inligting oor jou en jou familie in. 

Hoeveel inligting deel jy daagliks aanlyn? Ons bestee die grootste gedeelte van ons dag op die internet en alles wat ons doen word opgeneem en gedokumenteer deur ons toestelle. Hierdie versamelde data word vir ʼn onbepaalde tyd gestoor en kan enige tyd gebruik word. 

Die National Cyber Security Alliance in Amerika gee die volgende wenke: 

  1. Persoonlike inligting is soos geld: ken die waarde daarvan en pas dit op. 
    Wees bedag op wie jou inligting kry en hoe webwerwe en toepassings dit insamel. Verwyder die toepassings wat jy nie gebruik nie, sorg dat die ander op datum is en kyk gereeld na jou toepassings se verstellings. 
  2. Deel versigtig.
    Dink mooi voor jy iets oor jouself of iemand anders aanlyn plaas. Hersien gereeld jou vriende op sosiale netwerke en kontaklyste. 
  3. Bestuur jou aanlynteenwoordigheid.
    Stel die privaatheid- en sekuriteitsverstellings op webwerwe en toepassings na gelang van jou behoeftes. Jy hoef nie altyd alles met almal te deel nie.  
  4. Beskerm jou aantekenbesonderhede.
    Maak seker jou rekening is sekuur. Moenie slegs ʼn wagwoord gebruik vir bankrekeninge, e-pos en sosiale media nie. Gebruik `n twee-stap bekragtigingsproses, biometrie of sekuriteitsleutels. 
  5. Hou jou toestelle skoon.
    Hou die sagteware, bedryfstelsel, anti-virusprogramme en toepassings op jou selfoon en rekenaar op datum om dataverlies, infeksies en malware te voorkom. 
  6. Pas die goue reël toe. 
    As jy nie jou inligting geplaas wil hê nie, moet ook nie ander se inligting plaas nie. 
  7. Beveilig jou toestelle.
    Elke toestel moet beskerm wees met ʼn wagwoord of sterk bekragtigingsproses – vingervee, gesigherkenning, ens. Tot watter inligting sal iemand toegang hê as hulle jou toestel in die hande kry?
  8. Dink voor jy ʼn toepassing gebruik.
    Inligting oor jou, soos die speletjies wat jy speel, jou kontaklys, waar jy koop en waar jy bly, kan waardevol wees vir iemand anders. Toepassings, soos Strava, samel al hierdie inligting in. 

FEITE EN STATISTIEKE

  • 41% van Amerikaners is al aanlyn bedreig en een in elke 5 (18%) is al ernstig geteistering. 
  • 82% van kuberbekruipers gebruik sosiale media om uit te vind waar hulle potensiële slagoffers bly, waar hulle skool toe gaan, ens.  
  • Vier uit vyf US-dokterpraktyke was al slagoffers van kuberaanvalle.  Hou in gedagte dat mediese en gesondheidsinligting onder die mees sensitiewe en persoonlike inligting van ʼn individu tel.

[SOURCE: https://staysafeonline.org and www.wikipedia.org]

OneDrive: 5TB net vir jou

Maandag, Julie 31st, 2017

Sedert Junie vanjaar het alle personeel volledige toegang tot die aanlyn Office65-toepassings. Buiten Outlook e-pos, toegang tot die MS-toepassings (byvoorbeeld Word, Excel, PowerPoint, ens.) en die aflaaibare Office 2016 programmatuur, is daar een voordeel wat uitstaan bo die res – OneDrive. 

OneDrive gee vir elke personeellid en student 5TB se wolkstoorspasie. Dit beteken dat jy nou oorgenoeg spasie het om jou dokumente te stoor. Jou data sal ook beskikbaar wees vanaf enige plek, enige tyd en met enige toestel wat aan die internet verbind is. 

Wat is die voordele van wolkdienste?

  • Meer stoorspasie beskikbaar – tot 5TB op OneDrive en 50GB op Outlook.
  • Jou data is beskikbaar vanaf enige plek, enige tyd en op enige toestel. Jy sal altyd toegang tot jou data hê as jy `ʼn internetverbinding het. 
  • Jou inligting word veilig gestoor, selfs al verloor jy een van jou toestelle. 

Wat is die nadele van wolkdienste? 

  • Raak vertroud met kopiereg-regulasies. Maak seker jy weet wat jy aanlyn mag stoor en deel. US kopiereg-ooreenkomste sluit nie die stoor en deel van dokumente wat beskerm word onder kopiereg op OneDrive for businessSharePoint online of enige ander publieke stoorspasies in nie.
  • Jy is volledig verantwoordelik vir jou eie inligting.  Wees versigtig vir wie jy regte en toegang gee, aangesien dit jou inligting in gevaar mag stel as dit sigbaar is vir ander mense. 
  • Jy is verantwoordelik vir die sinkronisasie tussen aanlyn en plaaslike data. Sinkronisasie tussen aanlyn en plaaslike data moet korrek opgestel word en op `ʼn gereelde basis uitgevoer word. 
  • Hou in gedagte dat die gebruik van wolkdienste terwyl jy op kampus is, nie enigiets sal kos nie, maar as jy tuis werk sal jou eie datakostes gehef word. 
  • Dit is baie belangrik dat jy jou privaat gebruikersname, wagwoorde en inligting apart hou van jou amptelike werk om te voorkom dat jou data deurmekaar raak. 
  • Digitale identifikasie is kwesbaar as jy toegang tot die wolk het vanaf enige rekenaar. Moenie rekenaars of toestelle wat jy nie vertrou nie, toelaat om jou wolkdienste te gebruik nie. 

Wat as ek OneDrive personal, Dropbox of ander wolkopsies gebruik? 

Jy kan aanhou om dit te gebruik, maar dis baie belangrik dat jy hierdie opsies slegs vir persoonlike data gebruik.

OneDrive for business en SharePoint online is beskikbaar onder die US MS lisensieooreenkoms vir stoor en deel van institusionele data. Stoor en deel van institusionele data word nie toegelaat op Dropbox, OneDrive personal of enige ander wolkstoorspasie nie. 

Hoe kry ek toegang tot my OneDrive spasie?

Alle personeel het reeds outomaties toegang tot OneDrive. Jy hoef net op Office365 aan te teken met jou e-posadres en wagwoord. Dis ook beskikbaar op die portaal deur op die Office365 skakel te kliek of Office365 in die soekveld in te tik.

BELANGRIK:

  • Wanneer jy wolkgebaseerde dienste gebruik, is dit geweldig belangrik dat jy jou privaat-gebruikersname en werk-gebruikersname, wagwoorde en data apart van mekaar gehou word. Moet nooit dieselfde gebruikersnaam vir jou privaat en werk-eposrekeninge, -stoorspasie en -toepassings gebruik nie.
  • US kopiereg-ooreenkomste sluit nie die stoor en deel van dokumente beskerm onder kopiereg op OneDrive for businessSharePoint online of enige ander publieke stoorspasies in nie.

Indien jy enige navrae het, laat weet ons asseblief deur `n versoek aan te meld op ServiceNow of ons Dienstoonbank te kontak by 808 4367. Vir meer inligting oor die Office365 pakket, raadpleeg asseblief ons FAQs of kyk na die Office365 opleidingsvideos.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.