Uitstappie na die Pieke (2) Des 1934

Die eksamens was verby en op Maandag, 3 Desember het omtrent dertig van ons van die “Uitspan” vertrek na die Pieke op die eerste van die “Gala”-toertjies onder leiding van dr Eiselen.

Dit was ’n vrolike geselskap wat die agtermiddag omtrent sesuur bo in Jonkershoek op die Watermeyers se plaas aangekom het, waar ons vir die nag sou uitkamp. Nadat ons ons aandete geniet het met koffie uit die gebruiklike BTK-koffiekan, het ons speletjies gespeel totdat die donker ons kom bekruip het. Toe het ons in ’n groot kring rondom die kampvuur vergader waar die aand gesellig deurgebring is onder die sing van liedjies, die lewer van voordragte en grappige vertellinge, wat afgesluit is met ’n interessante legende deur dr Eiselen vertel. En toe na bed – na die BTK-bed onder groen akkerbome van ’n bloue hemel.

Die volgende oggend was ons vroeg op die been en brekfistyd was ons reeds bo in Langkloof. Tienuur was ons amper bo toe die uitstappie skielik beëindig is deur wat seker die afgryslikste gebeurtenis is wat die BTK nog ooit beleef het. – Wie van ons wat dit gesien het, sal dit ooit kan vergeet hoedat ’n stuk rots, per ongeluk aangeroer deur een van ons lede, skielik losgly, vir Jannie Retief teen die kop tref en haar in ’n vormlose massa hals oor kop teen die steil bergrant af die ewigheid inslinger? In haar val, het sy vir Lettie Basson saamgeruk wat ook ’n ent afgerol het, en ’n gebreekte been en heelwat kneuse opgedoen het.

Met die beseerde en die lyk op twee haastig gemaakte draagbare is hierna die moeilike treurige terugtog aanvaar. Dit was ’n uiters moeilike afmattende taak, sodat ons om twee-uur eers die motorkarre, wat ons ingewag het by die Munisipale waterwerke aan die Eersterivier bereik het. Lettie is na die hospitaal vervoer, terwyl Jannie die volgende dag op Moorreesburg begrawe is. Op hierdie tragiese wyse het nie alleen ons uitstappie nie, maar die hele galaprogram in 1934 geëindig.

Sketsskrywer
L J Retief

Leave a Reply