Riviersonderend April 1966

Met ‘n toerroep van “lekker vakansie hou”, het die Greenbird met gelukkiges die Akker verlaat, maar Nico het net gebrom: “vakansie hou, 113 harde myle van werk!” Tog was daar in almal se harte die wens dat dit ‘n toer sonder end kan wees.

Die busryers het effens teëspoed opgedoen, maar na ‘n ent van harde stoot waaraan akademiespiere nie gewoond is nie, moes ‘n klompie f… uitvind dat dit maar net die 1ste April was. Op Takkop is al om die bloekoms se stamme en wortels ‘n lêplekkie geskrop waar baie eerstetoeriste moes uitvind dat daar wel nog iets meer knopperigs was as ‘n koshuisklapperhaarmatras. Wonderlik was dit egter om weer die vryheid en stilte van ons velde om en by jou te voel.

Botter en Japie se veelseggende langasem-item het die gewenste uitwerking gehad en voor agt Saterdagoggend was die kampplek verlate. Om te dink jy doen op ‘n Saterdag vakansie-oggend wat jy met baie opoffering vir ‘n agtuur-klas doen – sowaar net malles BTK – sommer net bl… malles! Die asems het nog reeds gejaag, die voete gepyn, maar middagbrood het net oor die volgende helling gebly. Ons kosma het egter heel lewendig vertoon toe ‘n klomp bye die slotte soos van ouds bygedam en ‘n paar pikke toegedien het en Jaap se plekke het al swellende meer geswel soos die Langeberg swel. Groot was die lafenis en verligting met die aankoms by middagbrood waar die koue koudheid die son en brand kon wegbrand.

Met moeite is ons die laaste nekkie oor en toe is daar afgestorm na Greyton se … hotel! As optog van die jaar het die knallende Greenbird die harde rooi en kaki spoedig verwyder om alles te laat in die rus van die eeue gesus.

Op Genadendal is die eerste groot kook ingelei deur drie nuwe kokke wat nieteenstaandie die spottende singery nog drie hoeras kon uitkook. Wat ‘n voorreg was dit om die stilheid van ‘n Sondag op Genadendal te kon ondervind waar die ou watermeul, slawekok en knorrende rampompie jou kon laat vergeet van die woelende wêreld daar buite. Met die lang sit die oggend tydens die diens het menig een gewens dat dit maar liewer net ‘n studentekerk-sit kon wees. Die “Genaden” kon ongelukkig nie laag genoeg “dal” na ‘n ou brakkie wat die besoekers kom bekyk het nie en byna het die koster self die uittog geneem!

Terug by die kampplek het ‘n onverklaarbare verskynsel ons ingewag – varkies met geel pootjies, maar die ete was BTK-blerrilekker toer kos!

Met ete die aand vind Elsabe se sokkie onverklaarbaar sy weg in die Mayonaze – voortreklike kosma staan voorwaar tot oor haar sokkies in die werk! Guillaume wou die aand dan ook meer inligting omtrent die varkies hê – hy hoop net hy word nie as die varksog gesien nie, maar oom Theo sê dis darem te vergesog.

Die aand se uitkenningsparade het ‘n positiewe uitwerking gehad, want Maandagoggend was M.J. soos wafferse M.G. baie vinnig. Na ‘n ondersoek is gevind dat hy reeds na slee klaar aangetrek het vir die volgende dag se stap.

Al langs Rivier-Sonderend het die padstap sonder einde gevoel, maar met ‘n lied is die pad nooit te lank en vir middagbrood is heerlik onder die akkerbome gechila. Die akkers was krakend bekend onder ons voetsole en die stroompie het verkoeling aan menige moeë “kaalvoet” gebied. Ongelukkig vir die slotte het hulle op die verkeerde plek “afgepyl” en toe besluit om die uitsig eers van een van die koppe te besigtig – Duard sê sommer vir die grappie – ons wonder of hy ‘n kykie in die toekoms probeer kry het!

Deur hakia en proteas bult op tot by Boskloof waar die geheimsinnigheid van die bergmis ons die aand om die kampvuur toegevou het. Die misterie van die wraak het uit die komitee-items gespreek tot menige eerstetoeris en die walaaiers kêdens-Bosmandans het Alida laat wonder of Woeni se voorouers waarlik van Nederlandse afkoms was! My ouma het altyd gesê ‘n mens is nooit te oud om te leer nie.

Dinsdagoggend is die swaar bagasie die bult uitgedra. Met die klim vanuit die kloof het die stilte tot diep binne jou ingekruip en met die bergwind om en by jou en sewejaartjies swiepend om jou bene, het jy geweet dat jy BTK. In Villiersdorp het die kafee-snoekerkamer die beskawings weer laat herleef. Die pas se uitstap het teen ‘n stadige pas gegaan en op elke koeltekolletjie was ‘n rooi en kaki kolletjie. Oor die hoogte is stadig afgesak tot by Kaaimansgat waar die kaaimanne gewoel het in die plaaspoel. Stoffie het met sy items die stof laat staan en Bellatjie se laaste klokkie het gelui toe die kar haar skoon onderstebo geauto het.

Woensdag 6 April is drie hoeras aan Van Riebeeck afgestaan waarna ‘n grootskaalse wassery en swemmery, ongelukkig na die groepfoto, die damesskiet voorafgegaan het. Elsabe se vroeë fluitjie het sulke verwarring veroorsaak dat selfs die konings van storm en van wind in die kringetjie bestorm is. Die stem het almal diep in hul slees laat sak en die kaaimanne het verder die dieptes van die wraak gepeil.

Donderdagoggend is almal op weg met ‘n appel in die sak – die dag van vyftien moeilike myle het aangebreek. Na die padstap is ons op, op, op en die wense van menigeen was sewe myl-skoene. Met die afgaanslag het Botter ons laat wegsmelt tussen die bosse deur wat hy steunenderwys weg gepadskraap het. Niks se broek was so haastig dat hy moes “spark” om binne-in te bly.

Op Purgatory het die dames die moerasse ingevaar. Menigeen het toe al begin besef dat “an apple a day keeps not the doctor away!” Toe tone nie die nodige kon verskaf vir dié siekte nie is rooi en geel en groen almara probeer, maar Duard sê net swart sal help.

M.J. se leë sleepilblik was egter ook ‘n leë getuie.

Die nag het almal wakker geword met ‘n aaklige gevoel – reëndruppels op jou gesig. Die dames het wonder bo wonder hulle ingehou maar die manne het laat waai op die tente-komitee van twaalf! Gelukkig was dit net ‘n wakkermakertjie.

Goeie Vrydag het helder aangebreek en almal het onder die indruk van die betekenis van die dag gekom met die sangdiens gelei deur Tinus. Later is daar oral rondgestaan en gelê en luilekker die lewe geniet. Toe Joan en Riaan die aand spin was die kommentaar – een lang aanmekaar item dus vanaand! Almal was tevrede tot die reën ons net tot na sleetyd kans gee, want sulke fantastiese weer het ons nie gehoop om te hê nie.

Saterdag is in mis en reën al singende verder gevorder tot waar ons oor die rivier moes swem. Die dames is bevoorreg om eerste die deurtog te maak – die klere is droogvoets oor, maar sommige dames kaalvoets voordat die mans oor die kranse gestorm het. By die damwal is ons al glyende uit en vir Letteli is tot in Nuweberg-kamp voorsiening gemaak met “Puile” – indien sy hulle nie kon sien nie, kon sy darem seker lees!

Die kunstalent van die ad hoc-komitee het gestalte gevind in allerlei vorms. Wat, vra julle? Ek sit liewer ‘n “vraagteken” daaragter!

Die grysheid en vaalheid van Sondag het winterspanspek en winterreën sinoniem gemaak met Nuweberg, en traandruppels het op die kokke se hare gevorm. Die duisende tjops het almal “taai” gemaak vir die volgende dag se stap en toe is daar agter Marietjie ge-Q. So erg het dit egter gegaan dat Johan Murray uitasem moes sê: “So ‘n vryery maak ‘n man darem moeg!” Letteli wat natuurlik ook ge-Q het, voel sy kry nie genoeg ondervinding nie, want dit gaan dan so vinnig – nes chappies.

Met sleetyd het die sterretjies vir almal ouer as ses begin knipoog en die maan se goue glans het weerkaatsing in almal se harte gevind. Die walaaiers het geheimsinnig uit die ligkring verdwyn waarna Woeni geslaan is tot die ridder van die knoop. Dié tradisie het die volgende môre sy tweede slagoffer geëis wat amper ‘n blabs was, maar gelukkig vir Adelbert was daar ‘n swembroek in die buro!

Die laaste dag is dinge vinnig gedoen en kwart oor tien was ons by middagbrood. Die windjie het egter gesny sodat slegs iemand wat bl… mal is, dit in die water sou waag. Vir Adéle het die son finaal deurgebreek toe Burana stralend by ons aangesluit het.

Alhoewel ons bo-op Dwarsberg weereens moes sing “Ja ou broer dit was – lekker toer”, het Jonkershoek ons Matieharte vinnig laat klop, “want ons kom terug na Matieland net om te BTK.”

Siertske Burema
(Sketsskryfster)

You must be logged in to post a comment