Dit is nogal merkwaardig hoedat ‘n BTK-toer die vermoë het om ‘n mens se natuurlike wekker te reguleer. Reeds ‘n halfuur voor die beplande wakkerwordtyd lê ‘n mens half-sluimerend – eers vaagweg en later intens bewus van ‘n heerlike gevoel van opwinding.
Dit is met hierdie gevoel van opwinding wat 36 BTKners Saterdagoggend, 1 Oktober, tussen 5.45 en 6.00 by die Luckhoffskool vergader. Oom Bethel en Kalie Pauw kan ongelukkig nie meer die toer meemaak nie, en Annemarie Olivier sal oppad by ons aansluit. Die bus word gelaai en ek samel nekdoekies in aangesien ons dit sommer vooraf wil stempel. Ons toerleier, Pieter Theron, het ons staproete vooraf gereccie en weet dus dat ons die Woensdag met die terugkomslag nie baie oop poskantore sal vind nie. Read More