Crystal Pools

Sondag se Crystal Pools uitstappie was oudergewoonte baie pret. Hierdie uitstappie was heel moontlik een van die laastes na Crystal Pools aangesien die kloof gesluit gaan word vir ‘n jaar en onder beheerde omstandighede oopgemaak gaan word wat die koste heelwat sal opstoot. Hoewel die meeste BTKners nie baie gretig was om die afspringplekke uit te toets nie, het almal darem ‘n poeletjie of watervalletjie ontdek om die dag in te geniet. Game en ‘n paar ander verversing is verwelkom na die pret in die water. Na die warm stappie terug na die motors, het 10 BTKners nog ‘n draai gaan maak by Bikini-strand vir ‘n yskoue afkoel.

— Anton Kraemer (27/02/2011)

Waterval (Porterville)

Die afgelope naweek se uitstappie was ‘n fees. Agtien BTKners het Vrydagmiddag die akademie agtergelaat vir ‘n wegbreek in die natuur. ‘n Verdere drie wat nog ander verpligtinge gehad het, het eers Saterdagoggend by ons aangesluit. ‘n Hele boks “Oats”-pap is genuttig voordat die pragtige kloof met meer as twintig watervalle aangepak is. Debat is gevoer oor wat nou klassifiseer as ‘n waterval, maar konsensus kon nie bereik word nie. Teen twaalfuur was ons reeds besig om die kloof te verlaat asook die skaduwee van die digte bome. Ons het ‘n ent verder teen die berg opgestap sodat almal darem ‘n idee kan kry van hoe dit nou is om ‘n berg te klim. Nadat Rossouw sowat ‘n kilometer se verkenning gedoen het, het ons weer teruggestap om middagete langs die rivier te geniet. Daar is nie minder nie as ses snye brood deur elke stapper opgeëet. Die sjokolade was in ‘n vloeistofvorm en dit het oorgestaan. Verder in die kloof af het ons onder ‘n waterval geswem terwyl Willem en Sebastian hulle rotsklimtegniek geoefen het. By die kamp het feitelik almal in die dam gaan ontspan met Carike wat gesorg het vir eindelose vermaak. Die aand is afgesluit met die bekende BTK-pasta en die vla-en-“Toppers” poeding asook baie spesiale “hot chocolate”. Vroeg Sondagoggend moes nege BTKners alweer die pad terug aandurf vir persoonlike verpligtinge. Na ontbyt het ons weer opgestap na die tweede waterval wat as outomatiese vryfbedryf gedien het. Terug by die kamp is die tente almal afgeslaan en alles in die motors gepak. Heelwat stappers het ‘n dik uiltjie geknip op die terugpad. As ek die tekens reg gelees het, het almal dit baie geniet en ek glo almal het sommer nuwe energie vir die week wat voorlê.

— Anton Kraemer (20-2-2011)

Twee Riviere Bemarking

Weens die hoe koste van ‘n BTK Outeniqua toer is daar besluit dat die Maart toer die natuurskone Twee Riviere sal wees. Die roete begin in die Klein Karoo op Van Wyksdorp, naby Ladysmith, waar daar vir die eerste paar dae langs die Grootrivier afgestap word en dan vir twee dae langs die Gouritsrivier. Die roete eindig net na die poort van die Gouritsrivier.

Die roete, wat laas in 2008 gedoen is, is ‘n lekker rivierstap waar daar elke dag heerlik geswem kan word. Die roete is nie te uitdagend nie en beloof om boonop baie bekostigbaar te wees!

Botmaskop Sjampanje Ontbyt

Ons het die jaar sommer op ‘n hoë noot afgeskop met die tradisionele sjampanje ontbyt op Botmaskop. Die uitstappie het plaasgevind op Sondag 30 Januarie. Omtrent 30 toeriste het opgedaag vir die ondervinding en almal het dit baie geniet. Dit is ook nie elke dag dat ‘n mens sjampanje, Franse-brood en waatlemoen bo-op ‘n berg kan eet terwyl jy die uitsig bewonder nie. Oomblikke wat onthou sal word is Christiaan wat nie die waatlemoen teen die berg uit kon dra nie en dié taak toe aan ‘n eerste toeris oorhandig het, Jacomien wat haar sjokolade tussen die rotse laat inval het en dit toe tussen die dassiemis moes gaan uitgraw, Charlie wat die oorblywende sjampanjebottel laat verdamp het en laastens ek wat almal ‘n voorsmakie gegee het van hoe ‘n harde toer sal wees deur almal met ‘n ompad deur die bossies te lei.

— Anton Kraemer (11/02/2011)

2011

Die begin van 2011 merk ‘n groot jaar vir die BTK. Van ‘n baie besige uitstappiekalender tot ongelooflike toere is als deel van wat ‘n BTKaner kan verwag.

Nie minder as 28 uitstappies onder leiding van die bekwame uitstappieleiers word beplan nie. Dit sluit in rustige daguitstappies, avontuuruitstappies, naweekuitstappies en amptelik vir die eerste keer bergfietsuitstappies. Daguitstappies wissel hierdie jaar van meer uitdagende stappe tot rustige wandelings. ‘n Paar uitstappies wat uitstaan is Somerset Sneeukop, die hoogste berg in die omgewing, Matroosberg, die Doringrivier witwater roei asook die skilderagtige Oak Valley vir die bergfietsentosiaste.

2011 merk baie eerstes vir die BTK. Maar een wat verseker uitstaan is feit dat lede kan uitsien na 2 toere in die wintervakansie! Maart vakansie besoek ons die Knysna-bos en volg die asemrowende Outeniqua roete. En dan, die veelbesproke Drakensberge maak sy terugkeer tot die BTK kalender en word vir die eerste keer in 10 jaar in die winter aangepak. Spaar solank jou geld vir ‘n donsslaapsak en warm baadjie – dit gaan koud wees! Ook in die wintervakansie word die magtige Oranjerivier te voet besoek op die baie afgesonderde en natuurskone gedeelte tussen Onseepkans en Klein Pella.

Vir die van julle wie se tydjie as student amper klaar is wil ek aanmoedig om nie van Stellenbosch af weg te gaan voor jy nie ten minste op een van ons majestueuse berge gestaan het nie. Maak gebruik van die geleenthede wat die BTK bied en kom deel die goeie tye saam met ons.

Stap nou, werk later