Language:
SEARCH
  • Onlangse bydraes

  • Kategorieë

  • Argiewe

sekuriteit

Hou jou selfoon veilig

Vrydag, Februarie 22nd, 2013

Jou slimfoon is deesdae net so kragtig soos jou skoot- of tafelrekenaar van`n paar jaar gelede. Jy stoor ook meer kosbare persoonlike en werksinligting daarop en is feitlik altyd verbind aan die internet. Dit is egter ook juis hierdie gerieflikheid wat vereis dat jy net soveel sekuriteit toe pas op jou selfoon as wat jy op jou rekenaar sou gebruik.  

Cooltech, iAfrica se tegnologiese afdeling, het `n paar idees om seker te maak dat die inligting op jou foon veilig bewaar word van “malware”, kuberkriminele, toestelfoute en ander sekuriteitsrisikos.

Stel `n wagwoord op 

Die eenvoudigste en eerste stap is om doodeenvoudig `n wagwoord op jou foon te sit. Meeste slimfoonvervaardigers laat jou toe om `n pinnommer of wagwoord in te sleutel elke keer as jy jou toestel aansit of weer gebruik na `n tydperk van onbruik. 

Installeer sekuriteitsagteware

Aangesien slimfone nie meer net telefoonnommers en sms’e stoor nie, maar ook, onder andere, bankinligting, is hulle ook `n maklike en perfekte teiken vir kuberskelms. 

Oorweeg dit om antivirus-sagteware te installeer om jou toestel te beskerm teen “malware”. F-Secure, Norton, en ander groot sekuriteitsagteware-verskaffers bied elk hul eie weergawe vir die hoof slimfoon platforms. 

Aktiveer die afstanduitvee-funksie

Die grootste risiko vir jou as slimfoongebruiker is as jou toestel gesteel of verlore raak. Eerder as jou bekommer oor iemand wat deur jou belangrike inligting snuffel, aktiveer die uitveefunksie wat van `n afstand gedoen kan word. 

Hierdie funksie sal jou toelaat om jou fotos, besigheidskontakte en e-posse uit te vee met die hulp van enige internetverbinding as jou foon weg is en jy vermoed jy gaan dit nie weer terugkry nie. As jy nog nie jou foon wil opgee nie, kan sekere posisiebepalingsfunksies jou help om `n idee te kry van waar jou telefoon hom bevind. 

Sommige vervaardigers soos BlackBerry en Apple bied die afstanduitvee-funksie en opspoortoepassing vir hul nuutste toestelle, terwyl derdeparty toepassings beskikbaar is vir ander platforms.  

Laai veilige, goedgekeurde toepassings af

Die versoeking om gratis, nie-amptelike toepassings op jou iPhone of Android te probeer laai i.p.v. om dit te koop deur die iStore, is nou wel baie groot, maar jy neem `n groot risiko en stel jou foon bloot aan “malware”. Hou eerder by gemagtigde bronne wat streng kwaliteitskontrole toepas op die toepassings wat hulle verskaf en nie met nare ekstras kom nie.

Rugsteun jou data

`n Groot deel van jou lewe is op jou slimfoon – e-pos, telefoonkontakte, dokumente, fotos en baie meer. Net soos jy jou rekenaar (hopelik!) rugsteun, doen dieselfde met jou selfoon sodat alles nie verlore is as jou foon wegraak, gesteel word of beskadig word nie. Baie slimfone laat jou toe om `n deeglike rugsteun te maak na jou rekenaar of ten minste net die belangrikste data en opstellings aanlyn te stoor.

Tygerberg loop deur onder foonswendelary

Vrydag, Februarie 22nd, 2013

Foonswendelary het onlangs die rooi ligte laat aangaan op Tygerberg en die res van kampus mag dalk ook onder dié slim bedrieërs deurloop. Wees asseblief bewus van hierdie foonswendelary wat sommige slagoffers reeds honderde rande gekos het.

Bedriëers gebruik verskeie bekende handelsmerke, byvoorbeeld Microsoft, as ‘n front om mense te oortuig dat iets verkeerd is met hulle rekenaars. Hulle beweer dat hulle werknemers is van die Windows Hulptoonbank, Windows Dienssentrum, Microsoft Tegniese Ondersteuning Microsoft Ondersteuning, Windows Tegniese Afdeling Ondersteuningsgroep en selfs Microsoft se Navorsing- en Ontwikkelingspan. 

Die plan werk as volg: 

Iemand, wat voorgee om ‘n verteenwoordiger van Microsoft, een van sy handelmerke of ‘n derde party gekontrakteer deur Microsoft, te wees, deel die gebruiker mee dat hulle ‘n rekenaarprobleem of virus ondersoek wat Microsoft opgespoor het. Om die “virus” te verwyder word daar sagteware deur die sogenaamde tegnikus installeer en die kwaadwillige sagteware vang sensitiewe data, soos gebruikersname en wagwoorde van jou aanlynbankdienste vas. Jy sal waarskynlik ook later ‘n fooi gevra word om die sagteware te verwyder. 

As die slagoffer die “tegnikus” se instruksies volg, kry sy rekenaar `n verbinding met `n webwerf wat die krimineel toelaat om beheer oor die rekenaar te neem, verstellings te maak en die rekenaar dan juis blootgestel te laat. 

(INLIGTING VERSKAF DEUR DAVID WILES)

Twitter geteiken deur kuberkrakers

Vrydag, Februarie 22nd, 2013

Kuberkrakers gebaseer in China het onlangs toegang tot beide die New York Times en Wall Street Journal se sekuriteitstelsels verkry. Terselfdertyd het Twitter ook aangekondig dat ongeveer 250 000 Twitterrekeninge blootgestel is deur dieselfde krakers. 

Die kuberkrakers kon toegang verkry het tot gebruikersinligting, insluitende gebruikersname, e-posadresse en enkripteerde wagwoorde. 

As voorsorgmaatreël het Twitter die wagwoorde vir die rekeninge verander. Indien joune een van hulle was, sou jy onlangs `n e-pos ontvang het wat versoek het dat jy `n nuwe wagwoord moet kies. Die ou wagwoord sou outomaties nie meer werk nie. Die moontlikheid dat `n groot sosiale platform soos Facebook ook `n slagoffer van `n suksesvolle kuberkraakpoging sal wees, is moontlik, omdat Twitter- en Facebook-gebruikers dikwels dieselfde wagwoorde het. 

Die insident was nie die van amateurs nie en die deskundiges glo dit was nie `n uitsonderlike geval nie. Die aanval was geweldig ingewikkeld en dis moontlik dat ander maatskappye en organisasies ook onlangs op so `n wyse geteiken is.  

Dis egter baie belangrik dat jy nie toegang tot Twitter verkry deur te kliek op enige skakels in enige e-pos wat aan jou gestuur is van Twitter (of wat lyk of dit van Twitter gestuur is) nie, aangesien die kuberkrakers dikwels e-posse opstel sodat dit ooreenstem met die van Twitter, om jou wagwoord te kry. Indien jy so `n e-pos kry, gaan eerder direk na jou webblaaier,  tik die Twitter-adres direk in en verander jou wagwoord. 

(INLIGTING VERSKAF DEUR DAVID WILES)

*  Zendesk het ook vandag aangekondig dat hulle `n slagoffer was van kodebrekers en dat drie van hulle kliënte, Pinterest, Twitter en Tumblr daardeur beinvloed is. Meer hieroor.

 

Nuwe “phishing” e-pos veroorsaak verwarring

Dinsdag, Februarie 19th, 2013

Indien u `n e-pos ontvang met onderstaande inhoud wat lyk of dit deur die US IT-afdeling gestuur is, moet onder geen omstandighede op die skakels kliek of daarop antwoord nie.

Hierdie is `n “phishing” e-pos wat poog om u wagwoord en ander inligting te oes. Verwyder dadelik die e-pos en moenie daarop reageer nie.

IT sal nooit gebruikers vra om hulle gebruikersname, wagwoorde of persoonlike inligting te verskaf deur middel van `n e-pos boodskap nie. Daar is ook `n paar ander tekens dat dit `n “phishing” e-pos is.

  1. As dit `n boodskap van IT was, sou dit sekere identifiseerbare kenmerke gehad het en dit sou in Engels en Afrikaans gewees het.
  2. Die grammatika is buitengewoon sleg. 
  3. Universiteitspersoneel is “users”, nie “subscribers” nie.
  4. Dis e-pos is `n leesbare, onsekure, maklik toeganklike formaat – hoekom sou IT vra dat jy jou wagwoord op so `n onsekure wyse verskaf? 
  5. Daar bestaan geen support@sun.ac.za e-pos adres nie.
  6. As jy wel op die “default reply” adres kliek, sal jy dadelik sien dis eintlik `n vreemde adres.
  7. Die skakels en die versender/bediener se oorsprong is in Korea. 

Meer inligting oor “phishing”.

 

 VOORBEELD VAN “PHISHING” E-POS:

Dear sun.ac.za subscriber,

We are currently carrying out an upgrade on our system due to the fact that it has come to our notice that one or more of our subscribers are introducing a very strong virus into our system and it is affecting our network.We are trying to find out the specific person.

For this reason all subscribers are to provide their USER NAME AND PASSWORD for us to verify and have them cleared against this virus. Failure to comply will lead to the termination of your Account in the next 48 hours.

Information Required:
* User name: (…………….. )(Compulsory)
* Password: (……………………..)(Compulsory)
* Date of Birth: (……………………..) (optional)
* Country Or Territory: (………………) (optional)

http://webmail.sun.ac.za/owa/auth/logon.aspx

Hoping to serve you better. 
Sincerely, Universiteit Stellenbosch University 
********************************************************
This is an Administrative Message from sun.ac.za server. It is not spam. 
From time to time, sun.ac.za server will send you such messages in 
order to communicate important information about your subscription. *********************************************************

 

 

 

 

 

Tyd vir jou rekenaar se kuber-inenting!

Vrydag, November 9th, 2012

Elke jaar gaan jy dokter toe om `n griepinspuiting te kry. Jy moet jaarliks gaan omdat die virus verander en nuwe mutasies ontwikkel. Rekenaarvirusse werk presies dieselfde!

Hier is `n paar handige idees om seker te maak dat die proses so pynloos moontlik verloop. Maar eers vir die belangrikste en mees voor-die-hand-liggendste deel  –

  • Gebruik Anti-virus sagteware – Dis noodsaaklik dat al jou rekenaars een of ander vorm van anti-virus sagteware installeer het. Die sagteware sal alle programme op die rekenaar, leêrs, sowel as e-posse nagaan vir potensiële virusse. Indien die program `n virus ontdek in `n program wat jy besig is om te gebruik, sal dit onmiddellik jou toegang daarheen blok om te voorkom dat die virus versprei.

Vir `n lys van aanlyn, sowel as losstaande anti-virus programme, kyk gerus hier.

  • Dateer jou Anti-virus sagteware op  –  Jou anti-virus sagteware is heeltemal nutteloos as jy dit nie gereeld opdateer en sekermaak dat die nuutste weergawes gelaai en op datum is nie. As jy nie die sagteware opdateer nie, sal dit nie weet van die nuutste virusse, wurms en trojaanse bedreigings wat op gereelde basis in die kuberwêreld vrygestel word nie. As `n nuwe infeksie dus te voorskyn kom, sal die sagteware nie weet dat dit kwaadwillig is nie en jou nie waarsku wanneer dit op jou rekenaar installeer en dit besmet nie.
     
    Dit is dus nodig dat jy ten minste eenmaal `n week jou anti-virus sagteware opdateer (selfs meer as jy verkies) sodat jy beskerm is teen die nuutste bedreigings.  As jy gelukkig is, sal jou anti-virus produk self outomaties opdateer vanaf die internet, maar dis nie wys om dit net blindelings te vertrou nie. Maak eerder self seker dat jou sagteware op datum is. Baie van die gevaarliker virusse en “trojans” kan selfs jou anti-virus sagteware se opdateringsfunksie deaktiveer.
     
  • Installeer `n Anti-Spyware program – Net soos dit nodig is dat jy `n anti-virus program installeer, is dit ook nodig om `n anti-“spyware” program te installeer.
    Hierdie tipe programme word gebruik om jou rekenaar te beskerm teen “spyware”, “dialers”, sagteware wat jou webblaaier oorneem, sowel as enige ander kwaadaardige sagteware.
     
    Die vier aanbevole programme is SuperAnti-SpywareSpybot – Search and DestroyLavasoft se Ad-Aware, en Windows Defender. Tutoriale vir sommige van hierdie programme kan hier onder gevind word:

Hoe om Spybot te gebruik – Search & Destroy vir die verwydering van Spyware , Malware, en Hijackers

 Hoe om Ad-aware te gebruik om Spyware, Malware, & Hijackers van jou rekenaar te verwyder

  • Kommersiële Spyware verwydering- en beskermingsprogramme – As jy meer gemaklik is met `n kommersiële Spyware verwyderingsprogram, gebruik WebRoot se Spysweeper of Lavasoft se  Ad-Aware Professional. Beide is goeie produkte wat waardige toevoegings is tot die arsenaal vir die beskerming van jou rekenaar. (Spysweeper-inligting)
  • Loop af en toe aanlyn `n virusskandering – Ongelukkig is nie alle anti-virusprogramme ewe goed nie. Elke program mag ander infeksies optel wat die ander moontlik nie kan nie. Daarom is dit wenslik dat jy sporadies ook gratis aanlyn anti-virus skandeerders gebruik om seker te maak jou rekenaar is nie besmet met iets wat jou eie anti-virus sagteware nie kan optel nie.  Die drie handigste programme hiervoor is:

Gebruik so elke twee weke een of albei hierdie programme om te sien of jou anti-virus sagteware iets gemis het. Jy sal nie spyt wees nie!

ARTIKEL deur David Wiles, GERGA

Vir gereelde nuus oor die nuutste spam, malware en ransomware, kyk gerus op ons blog.

 

© 2013-2024 Disclaimer: The views and opinions expressed in this page are strictly those of the page author(s) and content contributor(s). The contents of this page have not been reviewed or approved by Stellenbosch University.