Dokumentesentrumlesing 2019: Hoekom het SA wit skole?

Lesse van ʼn gekompliseerde maatskaplike probleem vir jong navorsers

Op Vrydag, 1 Maart is die tiende jaarlikse Dokumentesentrumlesing as deel van die US Woordfees met groot sukses in die ouditorium van die US Biblioteek aangebied.

Met vanjaar se Woordfeestema, Jonk, in gedagte het die spreker, prof Jonathan Jansen, voormalige rektor van die Universiteit van die Vrystaat en tans uitgelese professor aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Opvoedkunde, op die jong navorser gefokus.

Jansen het sy lesing begin met ʼn treffende illustrasie van die kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse samelewing, veral dié van Kaapstad se suidelike voorstede, en hoe dit skoolgaande kinders beïnvloed. Hy het daarop gewys dat navorsing oor die toekoms van Afrikaans in skole ook indringende ondersoek na verskillende onderwyswetgewing en beleidsrigtings moet insluit. Faktore soos o.a. woongebiede, onderrigkoste en toelatingsvereistes speel ʼn groot rol.

Jansen het uitgewys dat goeie navorsing navorsing is wat ʼn komplekse probleem probeer verstaan, ʼn goeie vraag vra en kennis bevorder.

Na afloop van die lesing moes die spreker heelwat vrae vanuit die gehoor beantwoord. Daar is saamgestem dat die laaste woord oor die lot van Afrikaanse skole in ʼn ingewikkelde gemeenskap nog lank nie gespreek is nie.

ʼn Uitstalling van navorsingsuitsette in die Biblioteek se afdeling Spesiale Versamelings het baie belangstelling uitgelok.

Marieta Buys